VREDE TER WILLE VAN DIE VREDE

Een van my kollegas (Jan van Breda) het gisteraand gepreek. Ek kom deur ‘n tyd waar ek begin het om te aanvaar dat ek nie alles weet nie en dat ek gerus maar minder onbuigsaam kan wees in wat ek dink en waarvan ek dan nou so verskriklik oortuig is. Een van die gevolge van die benadering is dat ek nou nie meer ‘n boek lees om bevestiging te kry vir iets wat ek reeds glo en weet nie, maar ek lees ‘n boek in die hoop dat ek iets beter sal verstaan of selfs sal ontdek dat ek iets verkeerd verstaan. Ek gaan sit dan ook in elke erediens met dieselfde ingesteldheid – Wat kan ek leer?

Jan se vraag was: Vrede ter wille van vrede? Sy antwoord was: Nee. Ons kan nie vrede te alle koste najaag nie, dan aanbid ons vrede en nie vir God nie. Maar, vir te veel van ons Christene het dit geword: Konflik te alle koste! Daarmee het ek ‘n probleem!

Hy preek toe uit Lukas 2 en sy kernteks was vers 14: “Ere aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het.” Hy haal toe ook Lukas 12:49 aan maar die Matteus weergawe van dieselfde teks is: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.” (10:34)

Jan se boodskap was dat ons vrede ter wille van die vrede najaag, dan gaan Christene ‘n lewe van die een kompromie na die ander beleef omdat die Christelike boodskap nie orals welkom is nie. Christene kan nie leef met die gedagte van vrede te alle koste nie, daarom die ander teks (Lukas 12: 52 en Matteus 10:34) ook. Groot waarheid in Jan se woorde.

Jan se preek het my aan die dink gesit. My probleem is: Sommige mense het nou daardie beginsel verstaan as dat indien ‘n Christen nie in konflik met iets of iemand is nie, dan is hy nie ‘n goeie Christen nie. Met ander woorde: Konflik te alle koste. Dan geld dieselfde: Indien ons met hierdie ingesteldheid so leef, dan aanbid ons mos eintlik konflik.

Tot my skande moet ek dan sê die Deon Maas en Garreth Cliff en Pulmann sms’e en e-posse dra iets van hierdie “konflik te alle koste” ingesteldheid. Die gevolgtrekking wat ek maak is: Ons skep met hierdie optrede by meer en meer mense ‘n afsku in Christene alhoewel hulle dalk nog vir Christus sou (kon) lief wees.

Ek wil eerder sê” Kom ons “pick ons battles”.

Ek gaan bv. binnekort iets hier “post” oor aardverwarming. Ek is nuuskierig om te sien hoeveel van ons Christene sou kans sien om hulle lewensstyl aan te pas ten einde saam te werk om die aardverwarmingsproses teen te werk en dit dan ook met ‘n sms veldtog steun. Aardverwarming is iets wat Christene baie nader aan die hart behoort te lê as enige van die ander genoemde drie.

Maar nie net aardverwarming nie: Bv.: Sal jy saamgaan en my met ‘n sms veldtog steun as ek ‘n toer reël (Die tieners in ons gemeente se droom) om vir ou-mense in ‘n Zimbabwe ouetehuis kos en medisyne en beddegoed te vat wat hulle nie het nie omdat hulle pensioen as gevolg van die geweldige inflasie in Zimbabwe die ekwivalent van 50 sent is?

Die punt is: Kom ons fokus ons aandag op die dinge wat regtig ‘n verskil kan maak en ‘n positiewe boodskap na ons samelewing uitdra?

Ek wou net sê.

16 thoughts on “VREDE TER WILLE VAN DIE VREDE

Add yours

  1. Liewe Attie

    Mag ek iets se wat moontlik teenstrydig is met die Christelike geloof op hierdie blog, ek wil graag op ‘n vreedsame manier verskil en dalk tot beter insig kom, maar ek wil nie aanstoot gee nie, as jul dit eerder nie verkies nie sal ek verstaan.

    Thinus

  2. Ek sien nou die doel van die blog is om hoop en vertroue te bevorder ek sal nie my radikale sieninge kan openbaar hier nie, omdat dit nie ‘n debat blog is nie.

    Groete
    Thinus

  3. Thinus:
    “Christian bashing” is hoogmode op sommige plekke en dit bevorder nie gesprek nie, maar het eerder die teendeel tot gevolg. Indien jy verwag dat ek of enige iemand anders op die blog jou vrae kan antwoord of standpunte kan weerle, dan sal jy teleurgesteld wees. Die meeste van die ouens wat hier kom kuier erken openlik: Ons ken ten dele.

  4. Attie

    Ek wil niemand bash nie, maar soos baie van tyd genote leef ons in ‘n tyd van onsekerheid, ek is opsoek na ‘n forum waar ek openlik vrae en stellings kan maak waar iemand met kennis my help, ek wil glad nie christene veroordeel nie blood omdat ek nie die antwoorde het nie dus sal dit arrogant van my wees om sekere stellings te maak.

    Weereens wil ek glad nie aanstoot gee nie, ek is maar net baie deurmekaar op die oomblik.

    Dankie vir jou antwoord

    Groete

    Thinus

  5. Ek is van meening dat jy ‘n leeraar is, ek dink jy kan my e-pos sien van waar jy is, kan ek persoonlik korrespondeer met jou? die vrae wat ek het is die van baie mense vandag, ek dink dit sal vir ‘n groot uitdaging vir jou bediening wees.

    Thinus

  6. Attie,ek steun jou 100% oor die aardverwarming en oor die toer om vir ou mense in Zimbabwe te gaan help. Se net hoe, waar en wat kan ek doen. Ten minste is dit iets wat mens kan doen om dinge BETER te maak vir ander!

  7. Thinus: Ek tel by jou ‘n mooi gersindheid op. jy kan my persoonlik per e-pos kontak. Bo aan die blad is daar ‘n “kontak my persoonlik” kolom, of https://attie.wordpress.com/kontak-my/.
    Sonkind: Jy is ‘n ster. Ek sal beslis bietjie hier skryf oor die dinge wat ons beplan. Ons beplan nou reeds om volgende jaar in een van die swart woongebiede ‘n kleuterskool en ‘n klein kerkie te bou in samewerking met ‘n span Amerikaners. Soos hulle se: Watch this space!

  8. Hi Attie, Ek kry nie aldag kans om al jou interessante inskrywings te lees nie, sal een van die dae ‘n hele dag hier moet kom spandeer. Ek dink die Zimbabwe-gebaar is oulik, maar, moet mens nie eers in jou eie “huis” begin nie. Ek glo en weet dat die behoefte in SA groot is en dat daar baie soortgelyke plekke is (en organisasies) wat hierdie tipe hulp verskriklik gaan waardeer. Ons wil altyd baie graag ander help, maar ons moet ook ons “self” eers help ook. Ek besef dat die nood in Zimbabwe verskriklik hoog is, mens moet daar ook gaan help – met die gedagte in jou agterkop dat daar ook in SA dieselfde hulp nodig is. Dan, as mens buite SA se grense gaan begin kyk, dan gaan jy ook verder as Zim moet gaan, die nood is oral in Afrika hoog. Dus, waar begin mens en waar stop jy? Weet jy van ‘n spesifieke nood, dan help jy daar uit, dis menslik, mens kan hulle ook nie aan hul eie lot oorlaat nie, Jesus verwag dit van ons as Christene. Ek voel net dat mens ook nie verby die nood moet kyk in SA nie.

  9. Nikita: Ons as gemeente fokus plaaslik ook. Ons het bv. ‘n paar jaar gelede 10 tentgemeentes in die swart woongebiede wat aan Rustenburg grens gevestig en aanvanklik by elkeen ‘n kleuterskool ook gevestig. Die kleuterskole was dikwels ook ‘n bron van inkomste vir ‘n paar vroeusn uit daardie gemeenskap.
    Die kleuterskole wat volhoubaar was, het voortgegaan en is uitgebrei tot werkskeppingsprojekte waar die werklose mammas van die kleuters nou gehelp word om ‘n ‘n inkomste te verdien.
    Ons het ook ‘n aansienlike bedrag wat ons maandeliks spandeer om gesinne wat nie kos het nie kos te gee . Juliemaand het ons bv. van die kinders in ons omgewing wat in ‘n baie arm buurt woon vir ‘n vakansie see toe geneem.
    Die Zimbabwe saak is ‘n saak wat deur ‘n groep tieners geinisieer is. Daar is ‘n paar ouetehuise in Zimbabwe wat deur ons kerk begin is en waarvan die ou-mense baie swaar kry. Mense wat graag na Suid Afrika toe sou skuif as hulle jonger was en die geld gehad het. Tieners het ook ‘n effense “wanderlust”. Ons wil nie hulle insiatief demp nie en terwyl ons dan uitdrukking gee aan hulle “wanderlust”, leer hulle sommer die vreugde van omgee en versorging van ander.
    Ek dink veel eerder dit is nie ‘n geval van of die en of die ander nie, maar eerder hierdie een en ook die ander een.

  10. Hi Attie,

    ek is nou wel ver van Rustenburg af maar laat weet as daar iets is wat ek kan doen! Dankie ook vir die draai daar by my, wik en weeg ook maar nog wat ek regtig daar wil doen maar ek weet die Here gaan my lei oor ietsie wat lankal in my kop broei, probeer net uitfigure hoe!!

  11. Ek is verras maar nie verbaas oor die ouens wat almal bereid is om iets prakties te doen. Die geleerde ouens praat van die verskil tussen ortodoksie (die regte leer) en ortopraksie (die regte lewe of praktyk). Vandag se mense is minder daaroor begaan om die regte dinge te weet, maar hulle is meer as gewillig om die regte dinge te doen.

  12. Attie
    Ek is saam opgewonde oor die uiteikgeleenthede wat beplan word. Ek wil egter terugkom na die eintlike saak in jou #1 skrywe. Die saak:”Sommige mense het nou daardie beginsel verstaan as dat indien ‘n Christen nie in konflik met iets of iemand is nie, dan is hy nie ‘n goeie Christen nie.” Ek wens so ons kon die sake vs verskeie mense wat hulself uitspreek vs sekere godsdienstige waarhede met meer liefde behandel het. Dit blyk uit verskeie persberigte dat vele van die sake met byna geen liefde hanteer is nie. Daarom wonder ek oor die vraag: wat is die verband tussen konflikhantering en die liefdesgebod – “jy moet jou naaste liefhe soos jouself.” Ek het self ook na ds. Jan se preek geluister. Ek meen die mensdom jaag eerder vrede na met ‘n menslike siening en haal soms God uit vrede uit. God se manier van konflikhantering (sonde vd mens) was glad nie om te vergeld nie (vgl die profete Miga, Hosea, Habakuk) asook die Psalms 32, 51. Christene moet eerder seker maak dat hulle probeer om God se liefdesverstaan (Joh 3:16, 1 Joh 2, 4) in die regte plek te kry. God het met sy Goddelikheid, om sonde te oordeel en die mens te verdelg tot die ewige hel, ‘n ander kant van Hom gewys – dit is om sy Seun te stuur. God se verstaan van konflik is dus om deur ‘n offerende liefde van sy Seun mense te red. Die liefdesgebod vra dan van elke christen om oor konflk te dink soos God (as ons liefdevolle Vader) aan ons ‘n voorbeld gestel het. Ek meen ‘n kind volg dikwels sy ouer se voetspore en voorbeeld – as ek dit so menslik mag stel.
    Groete

  13. Aan Thinus, as christene op ‘n weldeurdagte blog soos hierdie nie met mekaar mag verskil oor sake of alternatiewelik vrae vra nie, dan meen ek mag die funksionaliteit van hierdie blog gedoem wees. Ek self het ook baie vrae en onsekerhede. Ekself hou van uitdagende vrae en gesprekke – dus ek sien daarna uit om soos ander saam met jou te dink.

  14. Hi Attie…dankie vir jou reaksie, ek het nie ‘n probleem daarmee nie, dis hoe die tieners ook leer, om die nood raak te sien. Dit laat hulle ook “buitekant toe” dink, amper se ek “buite die kassie”… maar soos jy genoem het, daar is ook baie binne-in SA se grense wat gedoen word en gedoen kan word, die nood hou nooit op nie en as ek eers my lysie gaan begin maak van die paar organisasies in Pretoria waarvan ek weet…en so ook in die res van Afrika, sal daar nooit ‘n einde wees nie. As mens ‘n website kan kry waar mens kan donasies gee waardeur jy kan werk. Laat weet maar van die planne en sterkte daarmee! (So tussen hakies…mense wat belangstel…PEN-Aksie in Pretoria…hulle werk met die middestad-kinders en dan het ek ook al op Danville-kinderhuis se webbladsy afgekom… dink die nood daar is ook hoog!)
    Groete! N

  15. Nikita: EK dink dit is dalk ‘n goeie plan dat mens so ‘n webblad of self ‘n blog begin waar mense kan vertel van die verskillende dinge wat hulle doen. Terloops Pen en Danville kinderhuis doen beide reuse werk.

Lewer kommentaar

Blog at WordPress.com.

Up ↑