30 DAE: GESEËNDE …

Ek sou darem baie graag wou weet hoeveel keer word die woord “Geseënde Kersfees” op kersdag en die tyd voor kersfees gebruik. Daar is nou reeds ‘n paar mense wat hier in die kuberruim vir mekaar geseënde kersfees toewens.

Afrikaansse mense gebruik die woordjie geseënd, terwyl Engelse mense die woordjie “happy” gebruik. Ek vermoed die geseënd van Kersfees het sy oorsprong in die Bybel en die bedoeling was dat kersdag vir ons ‘n dag sal wees waarop ons die geseënd-wees van God sal beleef.

Sou dit nie wonderlik wees as ons as Christene hierdie jaar in ons wense vir die mense rondom ons baie spesifiek kon wees en vir elkeen een van ons naby-mense een van die “geseënd-is-jy” uitsprake van Jesus neem en dit vir hom/haar toewens nie.

Jesus se uitsprake in Matteus 6:1-12 is bedoel vir Christene, mense wat in Jesus glo.
Hierdie “saligsprekinge” is nie sommer net uitsprake wat gemaak is nie. In die oorspronklike taal (Jesus het waarskynlik Aramees gepraat) is daar geen werkwoord nie. Die saligsprekinge is elke keer ‘n uitroep. Die saligsprekinge is nie vroom mense se hoop op dinge wat eendag sal wees nie, die saligsprekinge is eerder ‘n gelukwensing oor iets wat reeds daar is. Dit is nie iets wat die Christen in die verre toekoms sal beleef nie, dit is iets wat die Christen hier en nou reeds beleef. Om hierdie seën rondom kersfees vir iemand anders te gee is tog om hom/haar bewus te maak van die werklikheid waarin hy/sy as Christen en volgelinge van Jesus Christus nou reeds leef.

‘n Gelukwensing wat sê: “Geluk, wat ek in jou lewe sien is…”

‘n Vreugdeuitroep wat sê: “Jou veugde behoort geen perke te ken nie, want kyk wat sien ek in jou lewe…”

Natuurlik sal dit alles volmaak en volkome beleef word in die teenwoordigheid van God wanneer sy Seun Jesus Christus die nuwe hemel en die nuwe aarde hier by ons kom vestig, maar dit is ook bedoel as ‘n huidige werklikheid wat ons hier en nou moet beleef. Die saligsprekinge sê in effek: O die blydskap van Christen wees!; O die vreugde van ‘n volgeling van die Here Jesus!; O die onuitspreeklike geluk van die mens wat Jesus Christus as Here en Meester ken!.

In die lig van die saligsprekinge, is ‘n neerslagtige en gedempte Christen-wees amper nie denkbaar nie.

Die Griekse woord is makarios. Die Grieke het die eiland Siprus met die woord makarios beskryf, want hulle het geglo dat Siprus so ‘n wonderlike eiland was, so mooi, so vrugbraar, so ryk dat ‘n mens nooit nodig sal hê om die eiland te verlaat om ware en volkome geluk en vreugde te vind nie. Die eiland se klimaat, plantegroei, minerale en ander natuurlike hulpbronne was alles wat ‘n mens nodig gehad het vir ‘n lewe van volkome geluk, vreugde en blydskap. Om in Christus ‘n geseënde te wees, is om te besef dat jy in Hom alles het wat ‘n mens nodig het vir volkome geluk, vreugde en blydskap.

Makarios beskryf dan daardie vreugde waarvan die geheim in homself gevind word. Dit is ‘n onaantasbare vreugde; ‘n onafhanklike vreugde – onafhanklik van die geleenthede en die veranderinge van hierdie lewe en wêreld.

Menslike, tydelike, wêreldse vreugde en geluk is afhanklik van die geleenthede en die veranderinge van hierdie lewe. Menslike, tydelike, wêreldse geluk is iets wat hierdie lewe kan gee, of wat hierdie lewe kan neem.

Die Christen se geluk is onaantasbaar en onafhanklik en daarom het Jesus ook in Johannes 16:22 gesê dat niemand die Christen se blydskap sal kan wegneem nie.

Die geseëndes van die Vader van wie Jesus in die saligsprekinge praat beleef vreugde te midde van erge pyn en onbeskryfbare verlies en hartseer. Al hierdie dinge is magteloos en kan die Christen nie skei van die liefde van God wat daar vir hom/haar in Christus Jesus is nie.

Die Christen het ‘n onaantasbare vreugde en blydskap as gevolg van die feit dat hy/sy elke oomblik van elke dag in die teenwoordigheid en die “geselskap” van die opgestane Here Jesus leef. Die saligsprekinge is nie ‘n belofte nie, dit is die werklikheid van die nuwe lewe hier en nou.

Ek gaan met my seënwense hierdie kersfees mense naby aan my bewus maak van die werklikheid van die vreugde van God waarin hulle reeds lewe. Ek gaan oor elkeen dink en vir elkeen sê: Dit sien ek in jou lewe. My wens vir die mense naby aan my hierdie kersfees is dat hulle intens bewus sal wees daarvan dat hulle in hierdie jaar gevorder het in hulle geestelike lewe en dat hulle aan die einde van die jaar meer die mens is wat God bedoel het hulle moet wees, as wat hulle aan die begin van die jaar was.

My kersfeeswoorde aan my naby mense sal so begin: Geseënde kersfees. Hierdie woorde beskryf hoe ek jou sien:
Dan gaan ek een van die volgende uitsprake van Jesus (my eie verwerking) gebruik:

Die HULPELOSE.

O die vreugde van die mens wat sy eie hulpeloosheid besef en wat as gevolg van sy eie hulpeloosheid reserweloos op God vertrou en en in alles en vir alles van God afhanklik leef, want jy kan in jou afhanklikheid van en vertroue op God so gehoorsaam aan God wees dat jy hier en nou reeds sal beleef wat dit is om in die koninkryk van God te leef.

Die mens met die STUKKENDE HART.

O die vreugde van die mense wie se hart stukkend is vir die nood en lyding in hierdie wêreld en ook vir sy eie sonde, want juis in jou gebrokenheid sal jy beleef hoe vol vreugde God oor jou is en hoe God jou stukkende hart weer heel maak.

Die GOD-BEHEERDE-LEWE.

O die vreugde van die mens wat altyd op die regte tyd kwaad is en nooit op die verkeerde tyd kwaad word nie, die mens wat elke instink en passie en begeerte onder beheer het omdat hy/sy self onder God se beheer is, die mens wat nederig genoeg is om sy eie onkunde en eie swakheid te ken, want jy sal ‘n koning, ‘n leier vir ander mense wees.

Die mens wat honger is vir REGVERDIGHEID.

O die vreugde van die mens wat te alle koste wil sien dat dit met alle mense goed gaan en dat alle mense billik en regverdig behandel word, soos ‘n sterwende mens honger is vir kos om te eet en ‘n mens wat in die woestyn verdwaal het dors is vir water, want jy sal regtig beleef dat die Here elke een van jou behoeftes bevredig.

Die mens wat MET ANDER SE OË KAN KYK.

O die vreugde van die mens wat dit regkry om in ‘n ander een se lewe in te klim totdat hy/sy met die ander een se oë kyk en sien wat die ander een sien; met die ander een se kop dink tot hy/sy dink soos die ander een dink; met die ander een se hart voel totdat hy/sy voel wat die ander een voel, omdat jy dit doen sal jy vind dat ander dieselfde vir jou doen en jy sal beter as baie ander verstaan dat dit presies is wat God in Christus Jesus ook gedoen het.
Die mens met SUIWER MOTIEWE.

O die vreugde van die mens wie se motiewe altyd volkome suiwer is, en wat nooit enige bybedoelings het wanneer hy praat of optree nie, want jy sal eendag in staat wees om God van aangesig tot aangesig te sien.

Die mens wat MENSE BYMEKAAR BRING.

O die vreugde van die mens wat dit regkry om gesonde en mooi verhoudings tussen verskillende mense tot stand te bring en in stand te hou, want jy doen ‘n goddelike werk en God sal vir ander mense laat weet dat jy een van die kosbare kinders van God is.

Die mens wat LY TER WILLE VAN SY GELOOF.

O die vreugde van die mens wat die haat en die nyd en die venyn van ander mense se woorde en optrede moet beleef omdat hy/sy ‘n opregte en toegewyde volgeling van Jesus Christus is, want deur daardie lyding en swaarkry loop jy in die voetspore van profete en apostels en helde in die geskiedenis, maar jy maak dit ook makliker vir ander wat na jou sal kom, maar meeste van alles, is dit in tye van lyding en swaarkry dat die teenwoordigheid van God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees ‘n tasbare werklikheid in jou lewe word – ‘n werklikheid vir jou om te beleef en vir ander om te sien.

Gesels saam:
Watter een van hierdie vreugde uitroepe van Jesus sou jy wou hê mense met volgende jaar se kersfees vir jou moet sê?

Wie is die mens die naaste aan jou? Watter een van hierdie vreugde uitroepe van Jesus sou hierdie kersfees vir daardie persoon sê?

Watter vreugde uitroep sou jy vir watter een van jou “blogger” vriende wou sê? (“Copy” en “paste” dit op sy/haar “blog”)

1 Kommentaar

Filed under 30 Dae met Jesus

One response to “30 DAE: GESEËNDE …

  1. kleinswemmertjie

    Doom Attie ek sien jy het mooi woordie by rightsaidreverend gelos. Ek het paar woorde by Ding gaan los. Die man is effens omgesukkel vanoggend.
    Einde 2008 hoop ek iemand se oor my:
    O die vreugde van die mens wat dit regkry om gesonde en mooi verhoudings tussen verskillende mense tot stand te bring en in stand te hou, want jy doen ‘n goddelike werk en God sal vir ander mense laat weet dat jy een van die kosbare kinders van God is.

    Doom ek speel mos so bietjie onder ‘n ander naam as my eie naam hier in ide kuberruimte, so ek moet versigtig wees om nie mmense te laat agterkom wie ek is nie, maar vir die een naaste aan my gaan ek kersdag laat weet:
    “O die vreugde van die mens wie se motiewe altyd volkome suiwer is, en wat nooit enige bybedoelings het wanneer hy praat of optree nie, want jy sal eendag in staat wees om God van aangesig tot aangesig te sien.”
    Hierdie was ‘n lekker stukkie lees.
    Dankie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s