Markus se eerste hoofstuk laat ‘n mens sommer gou-gou besef dat Jesus nie baie tyd vir Homself gehad het nie. Jesus was volledig mens en daarom het Hy ‘n paar dinge besef:
– Hy kan nie sonder God lewe nie.
– As Hy die hele tyd gaan gee en gee en gee, moet daar tye wees wat Hy inneem.
– As Hy Homself so ten volle vir ander gaan gee, dan moet Hy van tyd tot tyd geestelike versterkings inroep.
AD Belden het ‘n paar definisies van gebed:
– “Prayer may be defined as the appeal of the soul to God.”
– “Not to pray is to be guilty of the incredible folly of ignoring the possibility of adding God to our resources.”
– In prayer we give the perfect mind of God the opportunity to feed our mental powers.”
– “Jesus knew this: He knew that if he was to meet men he must first meet God.”
As hierdie tyd alleen met God vir Jesus so belangrik was, hoe belangrik behoort dit nie vir ons te wees nie.
Ons lees vandag Markus 1:35-45.
Selfs in sy tyd alleen met God, het sy dissipels Hom opgespoor en Hom daaraan herinner dat die mense op soek is na Hom. Toe sy dissipels Hom opspoor, het Hy dadelik opgestaan en geleenthede gaan soek om besig te wees met dit waarvoor sy Vader Hom gestuur het, om God die Vader te gehoorsaam en sy stiltetyd na sy werkplek toe te vat.
Jesus se antwoord aan sy dissipels was dat Hy ook nog verder moes gaan na die ander dorpies toe – onder andere Galilea. Markus beskryf dit so: “So het Hy dan deur die hele Galielea in hulle singagoges gepreek en bose geeste uitgedryf.” (Markus 1:39) Net een vers, maar dit moes Jesus ‘n hele paar weke geneem het om deur die hele Galilea te gaan. Terwyl Hy gepreek het, het Jesus bose geeste uitgedryf.
In Jesus se lewe sien ons hoe klowe oorbrug word. Hy het nie toegelaat dat drie dinge van mekaar geskei word nie.
(i) Jesus het nooit WOORDE en DADE van mekaar geskei nie.
Jesus het nooit gedink ‘n werk was gedoen wanneer daar gesê is dit gaan gedoen word nie. Intensies en goeie bedoeling verander niks aan die lewe en lot van mense nie. Jesus het gesê dat Hy die goeie nuus ook aan ander mense moet verkondig en dadelik na Galilea toe gegaan waar Hy dit gaan doen het. Jesus se OPMERKINGS het gelei tot OPTREDE. Fosdick het by geleentheid vertel van jong man wat universiteit is. Hy het vir hom ‘n lekker lessenaar en al die regte boeke en ‘n gemaklike lessenaarstoel gekoop. Toe hy gaan sit om te studeer, was hy binne 10 minute aan die slaap. Iemand wat WOORDE en DADE van mekaar skei en OPMERKINGS maak wat nie tot OPTREDE lei nie, is soos daardie student.
(ii) Jesus het nooit LIGGAAM en SIEL van mekaar geskei nie.
Daar is die Christene wat wil voorgee dat die liggaam van geen of baie min betekenis is en dat al wat regtig saak maak, is die mens se siel. Die mens se siel moet gered word. Vir die Christen is beide LIGGAAM en SIEL baie belangrik. Vir God gaan dit oor die hele mens.
Dit is inderdaad moontlik dat ‘n man wat elke dag honger is terwyl hy siek en in pyn op straat bly wonderlike stiltetye saam met God kan hê, maar dit beteken nie dat daardie man in sy omstandighede gelos moet word nie. Wie die siel voed, moet ook die liggaam voed.
Missionêre aksies deur die eeue het nie net die Bybel na ander volke toe geneem nie, maar ook medisyne en opvoeding; hospitale en skole. Die goeie nuus van Jesus skei nie LIGGAAM en SIEL nie, maar werk vir die mens se SIEL (Jesus het gepreek. (Mk. 1:39) en die mens se LIGGAAM . (Jesus het bose geeste uitgedryf en mense gesond gemaak. Mk. 1:39-45)
(iii) Jesus het nooit HEMEL en AARDE van mekaar geskei nie.
Sommige mense is so begaan oor die hemel hulle vergeet dat hulle op aarde moet lewe. Die gevolg is baie keer onpraktiese drome. Daar is die wat so begaan is oor die aarde dat hulle van die hemel vergeet en die gevolg is baie kere dat hulle God se seën en goedheid net meet aan materiële en aardse goed. Jesus se droom was dat God se wil op aarde gedoen sal word net soos in die hemel. (Matteus 6:10)
Natuurlik ontmoet hemel en aarde in ‘n mens se stiltetyd waar jy soos Jesus tyd alleen met God deurbring. Maar, daardie stiltetyd moet oorgaan in werktyd waar hemel en aarde mekaar tasbaar en sigbaar en vertelbaar ontmoet. Wanneer God se kinders sy wil hier op aarde gehoorsaam, het ons iets om te sien en te voel en te vertel.
Dit is juis hierdie gehoorsaamheid wat sal verseker dat OPMERKINGS oorgaan in OPTREDE en dat mense sal besef dat die LIGGAAM en die SIEL van die mens vir God se kinders ewe belangrik is en dat kinders van die Here nie so begaan is oor die HEMEL dat hulle vir niks op AARDE goed is nie.
Gesels saam:
In hoe ‘n mate het Christene hierdie dinge van mekaar geskei?
Waar het jy gesien dat Christene die kloof oorbrug sodat of OPMERKINGS oorgaan in OPTREDE; of LIGGAAM en SIEL belangrik is; of HEMEL en AARDE mekaar ontmoet?
Waar kon jy al hierdie klowe oorbrug?
Laat 'n boodskap