30 DAE: VIR ELKE DAG EN ELKE PLEK

Ons lees vandag Markus 1:32 -39.

Die Joodse dag het geduur van 06:00 tot 18:00. In Jesus se tyd was daar nie horlosies nie en die Joodse wette het bepaal dat die Sabbat verby was wanneer die son gesak het en die eerste drie sterre verskyn. Teen die aand, het hulle die mense wat genees moes word na Jesus toe gebring, want as hulle iemand wat siek was voor die einde van die sabbat sou help om by Jesus te kom, dan werk hulle op die sabbat en dit mag nie.

Die wonderlike dinge wat Jesus in Kapernaum gedoen het, kon nie ‘n geheim bly nie. Op hierdie Sabbatsaand is Jesus in Petrus se huis met skares mense wat op soek was na Jesus se genesende aanraking. En Jesus het hulle nie teleurgestel nie. Hy het hulle siekes genees en duiwels uit die mense gedryf.

JESUS GENEES ELKE DAG EN ELKE PLEK

Net in die eerste hoofstuk van Markus het ons Jesus al drie keer wonderwerke sien doen. Die eerste keer het Hy mense in die singagoge gesond gemaak. (1:21-28) Die tweede keer het Hy aan die huis van sy vriende (Petrus se skoonma) iemand gesond gemaak. (1:29-31) Die derde keer het mense van die strate gesond gemaak. (1:32-34)

Jesus het nie sy wonderwerke en genesings beperk tot sekere omstandighede en sekere plekke nie. Waar daar nood, was daar was Jesus gereed en bereid om te help. (Daarmee probeer ek nie sê dat Jesus al die siekes gesond gemaak het nie.) Dissipelskap is om agter Jesus aan te stap kerk toe, vriende toe, strate toe.

In hoe ‘n mate strek ons dissipelskap verder as die kerk?

In hoe ‘n mate strek ons dissipelskap tot in ons vriende se huise en tot in die alledaagse lewe?

JESUS WAS EFFEKTIEF

Die mense het na Jesus toe gestroom omdat hulle in Hom iemand gesien het wat dinge kan doen. Daar was baie mense wat kon praat en wat mense kon leer en wat kon preek. In Jesus sien hulle iemand wat kan praat, leer en preek en dit wat Hy gesê het, was in sy optrede ook sigbaar.

Iemand sê: “If a man can build a better mousetrap than his neighbours, the public will beat a path to his house even if he lives in the middle of the woods. The person people want is the effective person.” Jesus was hierdie persoon – Jesus was effektief, Jesus het dinge gedoen en dit wat Hy verkondig het, het Hy geleef.

Tog is hier ‘n tikkie tragedie en hasrtseer in hierdie gebeure. Die skares het gekom, want hulle wou iets by Jesus gehad het. Jesus moes iets vir hulle doen. Die mense het nie gekom omdat hulle Jesus lief gehad het nie; die mense het nie na Jesus toe gekom omdat hulle opgewonde was oor die boodskap van die koms van die koninkryk van God nie. Die mense het gekom omdat hulle Jesus wou gebruik.

Ons sien dit nog steeds vandag, mense wil God die Vader en die Seun en die Heilige Gees gebruik. Wat kan die Here vir my doen? Vir elke 1 gebed wat gebid word in ‘n tyd van voorspoed, is daar 10 000 wat gebid word in ‘n tyd van nood. Menige mens wat nog nooit ‘n enkele woord gebid het wanneer die son skyn nie, doen dit sonder huiwering wanneer die donker en koue van die nag op hom toeslaan.

Baie mense sien godsdiens as ‘n ambulansdiens en nie as ‘n weermag nie. Godsdiens is daar vir krisisse en traumas en rampe – wanneer jou lewe ‘n onverwagse draai neem wat jy nie verwag het nie, en nie kan hanteer nie, dan kan godsdiens vir jou waarde hê, maar solank dit goed gaan is my vertroue in myself eintlik al wat ek nodig het. Ek is verantwoordelik vir my voorspoed, God is verantwoordelik vir my teenspoed.

Ons moet na Hom toe kom, want Hy is die Een wat alles voorsien wat ons nodig het, maar as daardie voorsiening van die Here Jesus nie oorloop in ‘n allesoorheersende liefde en dankbaarheid nie, dan leef ons ‘n tragiese lewe. Wat my verstom is hoe die Here mense toelaat om Hom so te gebruik. Ek wonder of Hy dalk elke keer vertrou dat hierdie mens hierdie keer Sy allesoorheersende liefde en genade en voorsiening sal raaksien en hierdie keer sal reageer met liefde en dankbaarheid.

God is bedoel vir elke dag se lewe. In die kerk, by my vriende, in die strate. Hy wil orals en altyd deel wees van my hele lewe.

GESELS SAAM
In hoe ‘n mate is hierdie opmerking ook waar van ‘n kerk of gemeente vandag: “If a man can build a better mousetrap than his neighbours, the public will beat a path to his house even if he lives in the middle of the woods. The person people want is the effective person.” Dink jy dit is wat vandag se mense kerk toe sal trek? Dink jy dit is hoe die Here dit wil hê?

Watter gebeure in jou lewe het gemaak dat jou hart gevul was met liefde en dankbaarheid teenoor die Here? Wat het jou oë oopgemaak vir God se besondere goedheid?

6 thoughts on “30 DAE: VIR ELKE DAG EN ELKE PLEK

Add yours

  1. Attie, diekern van jou argu,ment word gevind in die woorde: “mense wil God die Vader en die Seun en die Heilige Gees gebruik. Wat kan die Here vir my doen?” Die invloed van sekularisasie en materialisme wat al groter klem kry veroorsaak dat mense oor hulle godsdiens ook met ‘n verbruikersmentaliteit dink. God word net “ingeroep”, of word verkwalik as Hy nie antwoorde gee soos ons gevar het nie. Ek dink die gedagte word reeds by Petrus gevind wat sy onkunde oor die ware identiteit van Jesus luidkeels te kenne gee wanneer hy in vers 37 vir Jesus onderbreek waar Hy in gebed verkeer om vir Hom te sê, “Almal soek U.” Hierdie woorde van Petrus impliseer ‘n vermaning (vgl 8:32). Hier is reeds ‘n vroeë aanduiding daarvan dat Petrus (en die dissipels) dink, “nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê” (8:33). Die wonders moet in die breër samehang van die verhale waarvan hulle deel vorm, verstaan word. Jesus verkeer alleen in gebed (vers 35). Sy dissipels verstaan die nodigheid hiervan glad nie. Hulle verstaan nie waarom sy reis na populariteit onderbreek moet word met afsondering en gebed nie. Jesus beweeg verder om sy bediening voort te sit aan diegene wat sy boodskap (in verkondigde woord en daad) nog nie gehoor het nie, eerder as om terug te keer na die roem en erkenning van sy vorige bedienings (vers 38). Die implikasies is duidelik: Almal word nie genees nie en almal word nie van bose geeste bevry nie. Maar Jesus wil met die tyd tot sy beskikking, soveel as moontlik mense bereik met die evangelie: Die koninkryk van God het naby gekom (1:15). Graag sluit ek af met die gedagte van ISteven Covey wat in sy invloedryke boek, Seven habits of highly effective people: powerful lessons in personal change, skryf dat ons meer behoefte het aan ‘n helder visie van ons bestemming as aan ‘n padkaart. Dit is ons einddoel wat ons deurtrek. Dit is omdat ons weet waarheen ons oppad is, dat ons, êrens tussen Jesus se hemelvaart en sy wederkoms, getroue volgelinge van Jesus kan wees. Dikwels word ons aandag van hierdie einddoel afgetrek deur die onmiddellike behoeftes en krisisse van elke dag. Ons raak dalk só besig met die dinge wat vir ons meer materiële voorspoed en sukses inhou, dat ons in die proses ons groter roeping versaak. Ons kry dit nie reg om ons onmiddellike lewe en ons groter, oorkoepelende roeping as dissipels van Christus te integreer nie.

  2. Doom Attie: Ek gaan eerder probeer om oor een van jou vrae ‘n opmerking te maak. “If a man can build a better mousetrap than his neighbours, the public will beat a path to his house even if he lives in the middle of the woods. The person people want is the effective person.”
    Ek dink mens moet net seker maak ‘n kerk is effektief in die regte dinge. Effektief in die vervulling van die taak waarvoor die kerk hier op aarde geplaas is. My vraag is: Weet ons presies waarvoor die kerk hier op aarde geplaas is? Hoe sal ons weet as ons effetkief is in dit waarin ons effektief moet wees?

  3. Attie ek gaan ook probeer om by die vraag te hou. Wat het my oe oopgemaak vir God se liefde en genade en grootheid en sy besondere goedheid?
    Ek dink die uitstaande gebeure was toe ek deur ‘n moeilike tyd lewe gegaan het. Ek het in my onnoselheid dinge gedoen wat ander Christene woedend kwaad gemaak het. Een Christen het met die liefde van die Here Jesus my nie veroordeel nie en ook nie dit wat ek gedoen het goedgekeur nie, hy was net daar. In hom het ek die wonderlike goedheid van die Here Jesus beleef.
    Wat my aan betref was daardie man effektief – hy het die liefde van die Here Jesus teenoor my uitgeleef. My lewe was daarna nooit weer dieselfde nie.

  4. Ek kom maak gereeld ‘n draai hier by jou en ek kry altyd iets om saam met my weg te vat – iets moois. Ek los nie altyd kommentaar nie, want my godsdiens was nog altyd vir my ‘n redelike privaat saak. Nie dat ek nie daaroor kan of wil praat nie. Maar ek praat nie sommer as ek nie voel ek het regtig iets om by te dra nie. Tog geniet ek al die kommentaar hier.

    Attie, my hart is elke dag gevul met liefde en dankbaarheid teenoor God, nie net sommige dae of met sommige geleenthede nie. Net die feit dat ek weet Hy is altyd daar vir my, maak my dankbaar. God is elke dag goed vir my. En ek weet, ek sondig elke dag en soms is ek kwaai met God omdat Hy nie wil maak soos ek wil hê Hy moet maak nie, omdat Hy my nie altyd gee wat ek wil hê nie.

    Maar ‘deep down’ weet ek met ‘n vaste sekerheid dat Hy my gee wat ek nodig het, al is dit nie noodwendig wat ek WIL hê nie. Dat Hy nog altyd daar was toe ek Hom nodig gehad het, al was ek nie altyd daar waar Hy my dalk nodig gehad het nie.

    Ek lees al die blogs en als wat gesê word oor die kerke en godsdiens en ek verwonder my daaraan dat als so ingewikkeld gemaak word. Ek weet dis seker naief om net te sê ek glo in God en ek glo in Jesus en al glo ek nie als letterlik wat in die Bybel staan nie, glo ek dat Jesus vir my sonde gesterf het en dat ek, sondig soos wat ek is en al, ook glo dat ek een dag by God sal wees. Ek breek nie my kop oor waar die hemel en waar die hel is nie, want dit sal nie een jota of tittel aan my saligheid verander nie. Ek breek nie my kop oor Deon Maas en oor Golden Compass nie, want die oordeel kom my nie toe nie.

    Ek het my kinders grootgemaak om in God en Jesus te glo en nou is hulle groot en ek sien ek het nie te sleg gevaar nie. Ek gaan kerk toe omdat ek behoefte het om te luister na God se woord. Ek is verby die stadium wat ek sal wegbly van die kerk af omdat die dominee of die gemeente my nie aanstaan nie. Ek het gesoek en ‘n kerk gekry waar ek welkom voel en waar ek padkos kry. Daar IS nog sulke kerke. Ek glo joune is een van hulle.

    En nou het ek seker meer oor godsdiens gesê in hierdie een ‘comment’ as die hele jaar deur. Dankie vir hierdie blog en Geseënde Kersfees en ‘n veilige 2008 vir jou en almal hier.

  5. Herman: Ek dink ook daar gebeur dinge wat ons aandag aftrek van ons eintlike roeping en taak. Wat ek uit hierdie gedeelte gahaal het was dat Jesus Here was in die singagoge, tussen sy vriende en op straat. Ek worstel op hierdie stadium met die vraag: Hoe sal ek as dissipel van Jesus in navolging van Jesus (as dissipel van Jesus) vandag in hierdie voetspore volg? Wat moet ek doen om as dissipel van Jesus in die kerk, tussen my vriende en vir die mense op straat iets van Jesus te wys?
    kleinswemmertjie: Ek sou vinnig vir jou ‘n teoreties/teologiese antwoord kon gee oor wat dit is wat die kerk eintlik hier op aarde moet doen, maar ek kies op hierdie stadium om toe te laat dat ander my denke hieroor help vorm. Ek wonder of iemand anders dalk ‘n antwoord gaan probeer gee.
    Kandas: Jy is gelukkig om so ‘n man in jou lewe te gehad het. Ek wonder of sy optrede ons help om te verstaan waarin die kerk hier op aarde effektief moet wees?
    Sonkind: Jou koppie koffie hier by my koffietfafel was vir my lekker. Ek is elke keer bly as ek hoor iemand het ‘n gemeente gekry wat in sy/haar behoeftes voorsien. Wonderlik as ‘n mens jou vingerafdrukke so in jou kinders se lewens kan kom sien.
    Onthou dat hierdie “blog” my manier is om in kontak te kom met die menings en gedagtes van die mense wat dalk Sondag voor my in die kerk sit, EN die mense wat dalk nie daar sit nie. Ek wil graag weet hoe dink beide daardie groepe. Jy sou dalk in my kerk gesit, maar jy sou waarskynlik nie baie met my gesels het nie. Jou insette en die ander ouens op hierdie “blog” laat my die mense rondom my en die wereld waarin ek lewe beter verstaan. Julle vorm my denke. Dankie.

  6. Ek wonder baie wat my as christen se hoof taak is, of dan op ‘n manier my gemeente se kern waarde moet wees, maar elke keer as ek iets as “bysaak” beskou sien ek iemand anders beskou dit as die heel belangrikste of anders om. Dis seker hoekom daar verskillende kerke moet wees. Ek dink ‘n mens, of dan ‘n gemeente moet ten minste op een waarheid konsentreer en daarop gefokus bly.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: