30 DAE: GEROEP OM TE…

Ek weet nie hoe jy dink oor Jesus se roeping van sy dissipels nie. Ek het groot geword in ‘n era waar alles vergeestelik is. Elke ding wat met Jesus en met sy dissipels gebeur het, het so ‘n “wasige” wonderwerk verklaring gekry. Neem nou maar die gedeelte wat ons vandag lees, Markus 1:16-20. In hierdie paar verse roep Jesus die eerste vier dissipels.

Met die eerste oogopslag is hierdie ‘n wonderwerk. Kan jy jou indink, Jesus loop langs die strand. Hy sien vir Simon en sy broer Andreas en daarna vir Johannes en sy broer Jakobus. Hy sê vir hulle: “Kom word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak.’ En hulle het dadelik hulle nette gelos en Hom gevolg.” (Markus 1:17) Is dit nie wonderlik watter uitwerking Jesus op sy dissipels gehad het nie?

Ek onthou ‘n preek hieroor toe ek op hoërskool was. Die tema was eerste indrukke. Jesus se eerste indrukke op hierdie vier manne was so groot dat hulle dadelik alles gelos het en Hom gevolg het. Dit is een van die basiese foute wat ons maak met die lees van die Bybel – ons vergeet dat elke teks eintlik deel is van ‘n groter verhaal of gebeure. ‘n Teks is deel van ‘n hoofstuk, en ‘n hoofstuk is deel van ‘n bepaalde boek en ‘n boek is deel van ‘n bepaalde Testament wat deel is van die Bybel. Ons vergeet alte dikwels die groter prentjie en die wyer verhaal.

Mens lees sommer maklik in drie minute tot hier in die Evangelie van Markus, dan vergeet ‘n mens dat daar al ‘n hele paar dinge gebeur het. Jesus is al deur Johannes gedoop, Hy is al vir 40 dae in die woestyn deur die duiwel versoek en Hy het alreeds die Goeie Nuus in Galilea begin verkondig.

Tydens sy 40 dae in die woestyn moes Jesus sy strategie bedink het en besluit het dat hy met dissipels gaan werk, soos ander leermeesters (Onder wie Johannes) gedoen het. Hy moes besluit het dat hy die mense wat na Hom kom luister het, sou dophou en dan uit mense se reaksie ens. sou besluit wie sy dissipels sou wees. Die moontlikheid dat Jesus alreeds met hulle gesels het is nie uitgesluit nie. Hulle het waarskynlik reeds daar rondom die sinagoge rond gestaan en geselsies aangeknoop. Daar in die sinagoge moes elkeen van hierdie vier manne reeds die gevoel gekry het dat hierdie man  ‘n spesiale man is en dat Hy die Woord anders en nuut en vars hanteer. Daar in die sinagoges moes Jesus reeds gesien het, hierdie vier manne het potensiaal om sy dissipels te wees.

Hierdie dag langs die meer van Galilea was heel waarskynlik nie die eerste keer dat Petrus, Andreas, Johannes en Jakobus vir Jesus gesien het nie.

Jesus roep hulle op ‘n spesifieke manier. Jesus roep hulle nie deur hulle uit te nooi om ‘n teologiese denkwyse te ondersoek nie; Jesus roep hulle nie om saam met Hom sekere teorië te kom bedink nie; Jesus roep hulle nie om saam met Hom ‘n etiese kode te ontwikkel nie. Jesus roep hulle deur te sê: “Kom word my dissipels.”

Dissipels was vir ‘n leermeester ‘n baie intieme groep mense. ‘n Leermeester het sy dissipels alles geleer wat Hy hulle kon leer. ‘n Leermeester het sy diepste menswees met sy dissipels gedeel. Hulle moes nie net weet wat hy weet nie, hulle moes ook weet hoe hy oor dinge voel en hoe hy oor dinge dink en redeneer. ‘n Leermeester het sy hartseer en sy vreugde en sy angs en sy oorwinnings met sy dissipels gedeel. Dissipelskap was ‘n baie intieme verhouding tussen ‘n leermeester en sy dissipels en die dissipels onderling. Die ideaal was dat dissipels meer en meer soos hulle leermeester sou wees.

Jesus roep sy dissipels om in ‘n intieme en baie persoonlike verhouding met Hom te leef.
Dissipel is ‘n verhoudingswoord. Ek dink partykeer dit is soos om verlief te raak. Iemand het by geleentheid gesê: “We admire people for reasons; we love them without reasons.” Mense volg Jesus gewoonlik nie vir die dinge wat Hy gesê het nie, maar vir wie Hy was.

Ek moet iets sê  oor wat Jesus hulle aangebied het. Jesus roep vir Petrus en Andreas met die woorde “… en Ek sal julle vissers van mense maak.” (Markus 1:17) Jesus bied vir hulle ‘n taak, ‘n werk aan. Jesus roep hulle nie met die belofte van sondes wat vergewe gaan word en die ewige lewe wat hulle gaan kry en die hel waarvan hulle verlos gaan word nie. Jesus roep hulle om te kom werk.

Wanneer laas het jy in ‘n preek gehoor dat jy geroep word om te kom werk en hoeveel keer het jy al gehoor dat Jesus jou sonde wil vergewe en vir jou die ewige lewe wil gee en vir jou van die ewige hel wil verlos? Natuurlik is hierdie dinge belangrik, maar dit is nie die totale inhoud van die evangelie nie. Die evangelie gaan oor ‘n verhouding van dissipelskap waartoe ‘n mens geroep word, ‘n dissipelskapverhouding waarin mens mens lewe met die veronderstelling dat jy vir die Here moet werk.

Christenskap word so maklik gereduseer tot iets waroor mens praat en dink en redeneer. Christenskap is ‘n roeping tot ‘n lewe waar ‘n mens bereid moet wees om jouself te gee en selfs van tyd tot tyd uit te brand en in hierdie vier manne se geval selfs dalk jou lewe te gee. Petrus is waarskynlik gekruisig en Johannes is ‘n ou man verban tot die eiland Patmos wanneer hy die boek Openbaring skryf.

Wat is die belangrikste redes waarom jy in Jesus glo?

Hoe maklik of hoe moeilik is dit vir jou om dissipel van Jesus Christus te wees?

Advertisements

6 Kommentaar

Filed under 30 Dae met Jesus, Die Christelike Lewe, Nagedink

6 responses to “30 DAE: GEROEP OM TE…

  1. kleinswemmertjie

    Doom Attie ek lees hier by jou vanoggend:
    “Jesus roep hulle nie deur hulle uit te nooi om ‘n teologiese denkwyse te ondersoek nie; Jesus roep hulle nie om saam met Hom sekere teorië te kom bedink nie; Jesus roep hulle nie om saam met Hom ‘n etiese kode te ontwikkel nie. Jesus roep hulle deur te sê: “Kom word my dissipels.’”
    Net gisteraand lees ek die stukkie deur ‘n onbekende skrywer:
    “I was hungry and you formed a humanities club and discussed my hunger, thank you.
    I was imprisoned and your crept off quietly to to your chapel and prayed for my release.
    I was naked and in your mind, you debated the morality of my appearnce.
    I was sick and you knelt and thanked God for your health.
    I was homeless and your preached to me of the love of God.
    I was lonely and you left me alone to pray for me.
    You seem so holy, so very, close to God, but I am still very hungry and lonely and cold – thank you.”
    Wonderlike “toeval”!

  2. Ek dink jy omskryf hierdie stuk baie goed! Dankie ook vir die feite dat jy mense soos ek konfronteer met sulke indringende vrae. So dwing jy mense om weer ernstig oor hulle geloof te dink.

    Die belangrikste rede waarom ek in Jesus glo, is inderdaad dat ek (met genade!) ek in Sy woorde in die Bybel glo. Hy het gese Hy is die Seun en het gese Hy is die Weg, Waarheid en die Lewe. Ek kies om Hom te glo. As Hy gelieg het (of – met respek gese – versteurd was), dan ondermyn dit in elk geval alles waarvoor Hy gestaan het en Wie Hy in werklikheid was. Dis my persoonlike keuse om te glo dat Jesus was wie Hy gese het Hy was. Ek glo nie dat die hier-en-nou al is wat daar is nie. Ek het ‘n behoefte aan ‘n verhouding met God. Jesus skep vir my die geleentheid om daardie verhouding te he.
    Oor jou 2de vraag: Dis nie maklik om dissipel te wees nie en ek glo nie dit sal ooit maklik wees vir my nie. Die ewige stryd tussen dit wat ek is en dit wat ek na streef om te wees, duur voort.

  3. BiB: Ek worstel in die laaste tyd daarmee dat die mens wat ek bedoel is om te wees ‘n mens is wat aan ‘n sekere etiese kode moet voldoen. Ek wil in die laaste tyd al hoe meer eerder daarop fokus dat ek in die eerste plek geroep is sodat die boodskap van die evangelie van God se liefde weer in my lewe vlees moet word (gestalte moet kry; tot uitdrukking moet kom; sigbaar word.) Die voldoening aan die etiese kode, raak dan sekonder tot die uitleef van die evangelie en nie ‘n doel op sigself nie. Die gedagtes is eintlik nog so ongeformuleer dat ek nie weet of ek baie sin maak nie. Maar nou, ja, so al skrywende dink ons en formuleer ons en so al dinkende skryf ons.

  4. kleinswemmertjie: Daardie woorde van die onbekende skrywer gaan ek onthou en verseker een of ander tyd gebruik. Ek dink dit is presies wat besig is om te gebeur. Ons praat en praat en praat en mense wat ons nodig het….. nou ja.

  5. rightsaidreverend

    attie skryf: ons vergeet dat elke teks eintlik deel is van ‘n groter verhaal of gebeure. ‘n Teks is deel van ‘n hoofstuk, en ‘n hoofstuk is deel van ‘n bepaalde boek en ‘n boek is deel van ‘n bepaalde Testament wat deel is van die Bybel.

    reverend: en dat die Bybel deel is van ‘n groter vreemde konteks? Maar meer nog, deel is van groter en talle vreemde kontekste. Wat ek bedoel is dat die Bybel al vir goed 2000 jaar deur verskillende groepe en kontekste geïnterpreteer is. Dit is vir my amazing om so daaraan te dink. Ons lees en ons dink oor die Bybel vandag verbind ons met duisende ander mense en groepe en denkwyses oor duisende jare heen.

  6. reverend: Wat my skrikkerig maak is dat daar soveel “interpreteerders” was wie se “interpretasie” as die laaste woord geneem is. Ek waag om te se: Kerke en denominasies loop die gevaar om volgelinge van “intepreteerders” te word (Ek wonder in hoe ‘n mate het dit al gebeur?) Dit klink my jy se geen leser van die Bybel kan hom/haar losmaak van al die mense wat voor hom/haar die Bybel geintrepreteer het nie.
    Ek wonder: Hoe belangrik is dit om te weet wat die omstandighede was waarin die verskillende rolspelers in die Bybel geleef het vir ons om die boodskap van die Bybel vandag reg te verstaan?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s