30 DAE: BESLISSINGSTYD

Ons lees vandag Markus 1:9-11 as deel van ons Desember Bybelleesprogram. Johannes die Doper was nog altyd vir my een van die besonder interessante mense in die tyd van Jesus. Hy het mense in die Jordaan gedoop en hy het vir Jesus ook gedoop.

Jesus se doop laat my nogals met vrae. Hoekom moes Jesus deur Johannes gedoop gewees het? Johannes se doop was ‘n bekeringsdoop. Hy het mense gedoop wat daarvan bewus geraak het dat hulle sondaars is en wat dan wou klaar maak met daardie sonde. Hoekom moes Jesus wat sonder sonde was gedoop word?

Dit lyk vir my Jesus se doop het vir Hom vier dinge beteken:

(i) Beslissingstyd: Vir dertig jaar het Jesus in sy ouerhuis getrou sy dagtake verrig en sy pa gehelp waar hy kon. Hy moes êrens bewus gewees het van die feit dat Hy een of ander tyd sy ouerhuis sal moet verlaat en begin doen wat Hy moes doen. Hy het heel waarskynlik vir ‘n teken gewag – Johannes se optrede en prediking was daardie teken. Hierdie was die beslissingsmoment vir Jesus.

Ek het al ‘n paar uitstaande beslissingsmomente in my lewe gehad. Die dag van my bekering het ek geweet hierdie besluit gaan my lewe radikaal, drasties en dramaties verander.  Die dag toe ek besluit het dat ek ‘n predikant wil wees, was ‘n beslissingsmoment in my lewe. Ek het geweet niks sou ooit weer dieselfde wees nie. So ook die dag toe ek besluit het om te skei en om drie kinders alleen groot te maak, was so ‘n beslissingsmoment in my lewe. Dan natuurlik ook die dag toe ek besluit het om met Renate te trou – alhoewel ek dink dit was meer van ‘n beslissingsmoment vir haar om as ‘n vrou wat nooit voorheen getroud was, skielik ‘n ma van drie kinders te wees. So was daar in elkeen van ons se lewens beslissingsmomente wat ons lewens radikaal en dramaties verander.

Die lewe sonder beslssings is ‘n gemorsde lewe. John Oxenham het geskryf: “To every man there openeneth/ A way and ways and a way/ The high soul treads the high way,/ And the low soul gropes the low,/ And in between on the misty flats,/ the rest drift to and fro.”

Toe Johannes op die toneel verskyn, toe weet Jesus – dit is tyd. Nasaret was kalm en rustig en mooi, maar met hierdie beslissing antwoord Jesus die roepstem en die uitdaging van God – sy Vader.

(ii) Identifikasiemoment:  Dit is wel waar dat Jesus nie nodig gehad het om tot bekering te kom nie, maar daar was ‘n beweging waar mense terugbeweeg na God toe. Jesus wou identifiseer met daardie beweging. Dit is moontlik om in ‘n lugversorgde kantoor te sit en al die moontlike luukses te hê en steeds te identifiseer met die saak van die armes, en die dakloses, en die oorwerktes, en die onderbetaaldes. Daar is ook die identifikase waar mens met die armes, dakloses, hongeres, oorwerktes, onderbetaaldes, sterwendes identifiseer ter wille van hulle en nie ter wille van jouself nie.

In 2004 het die Christen gemeenskap van Rustenburg ‘n projek geloods waar ons in ‘n week se tyd 14 000 groentetuine by huise in informele woongebiede geplant het. Ek was aangenaam, verras met die aantal sakemanne en bestuurders wat vir daardie week hulle lugversorgde kantore en gemaklike omstandighede gelos het, om meestal saam met hulle kinders vir ‘n week lank groentetuine te plant. Mark was die man wat die projek vir ons gekoördineer het, hy was senior projekbestuurder by een van die myngroepe en hy het toesig gehou oor die bou van al die smelters in en om Rustenburg. Nie ter wille van hulleself nie, maar alles net ter wille van ander.

Toe Jesus gedoop is, het Hy gesê: Ek sal gaan!

(iii) Goedkeuringsmoment: ‘n Mens moet seker wees jy is reg voordat jy jou rug op jou huis draai en ‘n onbekende pad begin loop. Jesus het ‘n besluit geneem en nou wag Hy op die  goedkeuring van sy Vader.

As ‘n mens Markus lees dan wil dit voorkom asof hierdie ‘n baie persoonlike oomblik was. “Dadelik toe Jesus uit die water opstaan, sien Hy hoe die hemel oopgaan en die Heilige Gees soos ‘n duif na Hom toe afkom. En ‘n stem uit die hemel het gesê: ‘Jy is my geliefde Seun. Jy is ‘n kind so na my hart.'” (Markus 1:10-11 Nuwe Lewende Vertaling) Net Jesus het die duif gesien en die stem gehoor. Matteus het dit anders, maar Markus skryf asof net Jesus die stem gehoor en die duif gesien het.

Ek het twee gedagtes hieroor. Die een gedagte dink Jesus het die hele tyd geweet wie Hy was en wat Hy moes doen. Die ander gedagte is dat Hy net soos ons ook maar gekonfronteer word met keuse oomblikke en momente en ook die risiko geloop het om verkeerde keuses en besluite te neem. Hier is een van daardie oomblikke waar Jesus nodig het om te weet dat Hy die regte keuse maak om met hierdie beweging te identifiseer.

Ek kies om in my geloofslewe te lewe met sekere dinge wat ek nie kan verklaar nie. Een van die is die gedagte dat Jesus volledig God en volledig mens was. Ek kies om iets te glo wat ek nie kan verklaar nie en nie heeltemal verstaan nie. Dit is vir my wonderlik om so daaraan herinner te word dat God veel groter is as wat ek met my klein breintjie kan verstaan.

(iv) Toerustingsoomblik: Die Heilige Gees wat soos ‘n duif na Jesus toe afkom is ‘n stukkie simboliek. Die duif is die simbool van sagtheid – “gentleness”. Johannes se boodskap was die boodskap van ‘n byl wat teen die wortel van die boom lê gereed om uit te kap, van die siftingsproses en die verskriklike oordeel. Dit was ‘n boodskap van oordeel en nie goeie nuus nie. Die duif is die sagte boodskap. Jesus sou oorwin, maar sy oorwinning sou ‘n oorwinning van liefde wees.

Elke Christen behoort daarna te strewe om in hierdie gesindheid van oorwinning deur die liefde te oorwin. Weereens, kom ons waak daarteen om ons woorde te hanteer as skerp dolkies waarmee ons elke keer die laaste doodsteek toedien. Twee “bloggers” het hulle “blogs” gesluit omdat hulle net nie meer kans gesien het om die seer woorde te hanteer nie. Verseker is dit vir sommige ‘n oorwinning dat hulle nie meer daar is nie, maar in die proses het hulle met dolkstekies stadig doodgebloei. Ons kan ook in liefde van mekaar verskil en mekaar terregwys. Oorwinning wat nie in die sagte kant van die duif wys nie, is geen oorwinning nie.

Hier kan jy ‘n daaglikse gebed lees.

4 Kommentaar

Filed under 30 Dae met Jesus, Basiese Bybelse Beginsels, Kersfeesgedagtes., Nagedink

4 responses to “30 DAE: BESLISSINGSTYD

  1. Attie, ek hou baie van hierdie woorde:
    “Ek kies om iets te glo wat ek nie kan verklaar nie en nie heeltemal verstaan nie.”
    Jy raak baie waarhede in hierdie inskrywing aan.

    NS: Oxenham se woorde is pragtig!

  2. Babette

    Attie,
    So gestel is daar mos meriete in die groot doop ook!

  3. kandas

    Ek het ‘n keuse gemaak om te glo terwyl iemand anders weer ‘n keuse moet maak om nie te glo nie. Beide bly ‘n keuse. Ek het geleer dat as ‘n mens net glo wat jy kan verstaan, is dit nie meer geloof nie.

  4. BiB: Geloof is mos om die onsienlike te sien.
    Babette: Ek dink dit is twee verskillende dope – die doop van Johannes en die groot doop soos dit vandag beoefen word.
    kandas: Dit bly ‘n keuse, soos jy skryf.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s