‘N WONDERWERK NA KERK

My dag op ‘n Sondag begin gewoonlik baie vroeg. Ek staan vier-uur op en gebruik 2 ure om my hart en my gedagtes gefokus te kry op dit wat die oggend en die res van die dag moet gebeur. Ek gee baie tyd vir stil wees en gesprek met die Here. Teen ses-uur maak ek vir Renate wakker en sewe-uur is ons oppad kerk toe. Agt-uur die eerste erediens en tien-uur die tweede een. Half-twaalf is ons by die huis en twaalf-uur eet ons. Half-twee begin my middag se voorbereiding met die oog op die aand se tienerdiens. As jy nou erns in daardie dag van my verwag om ‘n sieke te gaan besoek of ‘n vinnige pastorale gesprek in te werk, dan sal dit net eenvoudig een te veel wees.

Meeste dominees voel so oor Sondag.
Jesus was anders. (Ons lees vandag Lukas 4:38-39)

“Nadat Hy die sinagoge verlaat het, is Jesus na Simon se huis waar Simon se skoonma baie siek met ‘n hoë koors was.” (Lukas 4:38) Jesus het Simon se skoonma gesond gemaak. Die volgende drie dinge trek my aandag in hierdie gedeelte:

(i) Jesus was altyd gereed om te dien.

Enige iemand wat op ‘n Sondag ‘n erediens gelei het weet na so ‘n erediens smag mens die meeste na stilte en rus en vrede. Jesus was anders. Jesus was altyd gereed om te dien. Onmiddelik nadat Hy die mense in die sinagoge geleer het, kom daar weer iemand na Hom toe met ‘n versoek om iemand gesond te maak. Hierdie keer is dit Petrus, sy skoonma is siek. Jesus doen wat Petrus van Hom vra.

Jesus was altyd gereed om te help, moet ons as sy volgelinge nie dieselfde wees nie?

(ii) Jesus het nie net wonderwerke gedoen as daar ‘n skare toeskouers en getuies was nie.

Ek was onlangs by ‘n geleentheid waar die prediker daarop aanspraak maak dat hy wonderwerke doen. Hy het die een kind na die ander vorentoe geroep en hulle bene laat groei sodat albei ewe lank is en hulle arms ewe lank laat word. Langs my het ‘n seuntjie met sistiese fibrose gesit. Na die tyd het die seuntjie na die prediker toe gegaan en gevra dat hy asseblief vir hom ook moet bid sodat die Here hom sal genees van sistiese fibrose soos hy nou daardie kinders se arms en bene langer laat word het. Die prediker kon nie nee sê nie, maar die gebed was nie ‘n kwart van die passie of tyd wat hy gegee het om te bid dat ‘n ander een genees word van ‘n gebrek wat hy nie geweet het hy het nie.

Onnodig om te sê die kind leef nog steeds met sy sistiese fibrose. Dalk was daar net nie genoeg toeskouers nie. Dalk is dit daardie prediker se spesialiteit om bene en arms te laat groei. Dalk was daar net nie genoeg tyd nie, en moes hy vinnig vertrek om op ‘n ander plek te wees. Dalk …. ek dink nie ek moet dit sê nie.

Wanneer Jesus Petrus se versoek kry, is daar net ‘n paar mense saam met Hom by Petrus se shuis. Tog maak Hy Petrus se skoonma gesond. Christene behoort in hulle huise dieselfde mense te wees wat hulle Sondag by die kerk is. Christene behoort in alle een-tot-een verhoudings dieselfde mense te wees wat hulle is wanneer hulle tussen groot groepe mense is. Christene behoort hulp aan mense te verleen selfs al weet niemand daarvan nie. Hulpverlening moet in ons aard en deel van ons Christelike natuur wees.

(iii) Onmiddelik nadat Petrus se skoonma genees is, het sy ‘n maaltyd begin voorberei. Sy is genees om te kan dien.

Ek onthou toe ek ‘n baie jong dominee was, was daar ‘n man wat na drie (ek dink dit was drie) operasies besig was om agteruit te gaan en waarskynlik te sterf. Die dokters was raadop en kon nie vasstel wat met hom fout was nie. In my naïwiteit het ek gedink dat die Bybel sê dat ek die ouderlinge van die gemeente moet kry om vir die sieke te bid. Ek het ‘n ouderling gaan oplaai en ons het vir die man gebid. Niemand was meer verbaas as ek toe die man twee weke later die Sondag-oggend in die kerk instap nie, genees. Onverklaarbaar genees. Ek was oortuig daarvan dat daardie man die res van sy lewe daaraan gaan wy om dankbaar teenoor die Here te lewe. Dit het nie gebeur nie.

Petrus se skoonma het haar genesing verstaan as dat sy genadetyd gekry het om ander te dien.

As gevolg van my egskeiding moes ek uit die bediening uit. (Dit was die regte ding en die tyd uit die bediening uit het my baie goed gedoen.) Terwyl ek eers vir die destydse Transvaalse Provinsiale Administrasie en daarna vir die Rustenburg Stadsraad gewerk het, was daar altyd in my hart ‘n brandende passie en verlange om weer in die bediening te wees, selfs al was dit net op ‘n deeltydse basis. Ek het gedink as ek net deeltyds in die bediening kan wees, sal dit genoeg wees, maar dit was nie die geval nie. Toe ek deeltyds in die bediening was het ek verlang om voltyds in die bediening te wees. Nou is ek voltyds in die bediening, en dit is wat ek wil doen en waar ek wil wees.

Juis die tyd wat ek nie in die bediening was nie, is nou my dryfkrag om die Here en die Here se mense, met alles wat ek is en alles wat ek het te dien. Ek is dalk nie van ‘n siekste genees soos Petrus se skoonma nie, maar een ding weet ek en dit is soos Petrus se skoonma het ek nog ‘n genade-kans gekry om Hom te dien. Ek wil dit met oorgawe doen.

Die Here gee aan mense gesondheid en krag met die doel dat hulle Hom en sy mense moet dien.

Wat maak jy met jou gesondheid en krag?

Lees ‘n GEBED vir vandag.

Advertisements

1 Kommentaar

Filed under 30 Dae met Jesus, Basiese Bybelse Beginsels, Die Christelike Lewe, Nagedink

One response to “‘N WONDERWERK NA KERK

  1. kleinvissie

    Ek wens ek kon getuig dat ek my gesondheid en krag voluit gebruik om vir die Here te werk, maar ek is een van daardie mense wat minder gawes of talente het. Ek doen wat ek kan, maar ek voel altyd dit is nie genoeg nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s