30 DAE MET JESUS: DIE ABSOLUTE GESAG VAN JESUS

Die duiwel is ‘n werklikheid. In die gedeelte wat ons vandag lees (Lukas 4:31-37) konfronteer Jesus vir die eerste keer in Lukas se weergawe, die duiwel – ‘n onrein duiwel. Die Bybel is in die heel eerste plek die openbaring van God – van wie God is. Ons moet ook nie vandag se gedeelte lees as openbaring van die duiwel nie, maar as openbaring van die karakter en die persoon van Jesus Christus, die mens geworde Seun van God.
In die tyd waarin Jesus gelewe het, het die mense geglo dat daar geweldig baie duiwel aktiwiteit was. Daar was ‘n bose gees van doofheid, blindheid, wellus, ens. Alle siektes was die oorsaak van onrein geeste of duiwels. Die Egiptenare het geglo daar is 36 verskillende dele van ‘n mens se liggaam is en dat enige een van daardie dele deur ‘n duiwel of ‘n bose gees oorgeneem of beheer kon word.  Dan was ‘n mens duiwel besete.

Vir baie moderne denkers is die gedagte aan ‘n duiwel ‘n probleem. Die gedagte aan ‘n duiwel word gesien as ‘n stuk primitiewe bygeloof wat deur die moderne mens ontgroei is. Tog het Jesus geglo dat duiwels wel bestaan en die lewe vir mense moeilik kan maak.

Daar is drie moontlikhede.

(i) Aangesien Jesus volledig mens was, was Hy volledig kind van sy tyd en het Hy nie meer wetenskaplike kennis en insig gehad as die ander mense van sy tyd nie. Hierdie moontlikheid hoef nie heeltemal buite rekening gelaat word nie. Wanneer ‘n mens Jesus se mensheid ten volle raaksien, raak sy lydensweg net al hoe meer aangrypend.

(ii) Jesus het glad nie in duiwels geglo nie, maar die persoon wat ly het in hulle geglo en Jesus kon net mense gesond maak indien Hy veronderstel dat dit wat die mense van hulleself glo wel waar is. Jesus moes eers die man se eie diagnose aanvaar voordat Hy die man kon gesond maak.

(iii) Moderne gedagtegang begin al hoe meer swaai in die rigting dat die duiwel wel ‘n werklikheid is. Daar is sekere probleme waarvoor daar geen liggaamlike oorsaak bepaal kan word nie. Moderne denke begin dan nou al hoe meer die vraag vra of daar dan tog nie wel iets soos die duiwel is en dat bose geeste wel bestaan nie.

Die belangrikste punt in hierdie gebeure is egter nie die bestaan van duiwels of nie. Die punt is dat die mense geweldig verbaas was oor Jesus se optrede. Die Nuwe Lewende Vertaling stel dit mooi. Eers sê die duiwel: “Gaan weg! Waarom pla jy ons, Jesus van Nasaret? Het jy gekom om ons te vernietig? Ek weet wie jy is: Jy is die Heilige wat deur God gestuur is!” (Lukas 4:34) Enige mens sou goed doen om hierdie geloofsbelydenis uit die duiwel se mond sy geloofsbelydenis te maak. Inderdaad het die duiwels ook geglo.
En dan hierdie woorde: “Jesus het hom kortgevat‘Bly stil!’ het Hy vir die duiwel gesê. ‘Kom uit die man uit!’ (Lukas 4:35) Oor hierdie gesag waarmee Jesus die duiwels hanteer het was die mense verbaas. In hulle tyd was “duiwel-uitdrywing” ‘n baie dramatiese, raserige en uitgerekte storie.

Ek was in hierdie jaar weer ‘n gedwonge toeskouer by so ‘n “duiwel-uitdrywing” of bevrydingsessie. Ek moet sê dat ek nie die organiseerder of ‘n leier by die geleentheid was nie, en dat ek wel rustig vir die persoon probeer bid het, maar die “spesialiste” het my met beslistheid eenkant toe gestoot sodat hulle die duiwel kon hanteer. Wanneer ek lees hoe die mense in Jesus se tyd “bevryding” hanteer het en ek sien hoe sommige mense in ons tyd bevryding hanteer, dan sal mens nie sê dat Jesus reeds gekom het nie en dat dieselfde Gees wat hier in hierdie gedeelte in Jesus werksaam was, nou ook in ons werksaam is nie. Jesus stuur dan juis sy dissipels die wêreld in met dieselfde gesag as wat Hy gehad het.
Jesus het die duiwel stilgemaak en hom beveel om uit die persoon uit te kom en die duiwel kon nie met die gesag en die outoriteit van Jesus stry of redeneer nie, hy moes gehoorsaam.

Dit gaan in hierdie gedeelte oor die gesag van Jesus. Wanneer die Rabbis of Leermeesters met gesag wou praat, het hulle gewoonlik gesê:”Hierdie en daardie rabbi sê so of so.” Wanneer die profete gepraat het, het hulle gesê: “So sê die Here.” Wanneer Jesus gepraat het, het Hy gesê: “Ek sê vir julle.” Jesus se gesag en outoriteit was nie ‘n gedelegeerde gesag of outoriteit nie. Aan Hom is alle mag en gesag in die hemel en op die aarde gegee. Hier was ‘n Man wat gepraat het soos iemand wat geweet het waarvan Hy praat.

Om te erken en te bely: Jesus is die Here is om voor hierdie absolute gesag te buig.

Gebruik bietjie hierdie geleentheid om jou persoonlike geloof in Christus Jesus te bely. Om te bely jy glo in Jesus as die Here, is om te erken dat Hy die hoogste gesag in jou lewe is. Dit beteken nie dat jy die inhoud van enige iemand ander se geloof aanvaar nie, dit beteken net jy erken Jesus se gesag en outoriteit in jou lewe. “Jesus is die Here.”

Doen dit deur hierdie woorde as kommentaar te tik:  “Jesus is die Here.”

Advertisements

4 Kommentaar

Filed under 30 Dae met Jesus, Basiese Bybelse Beginsels, Die Christelike Lewe, Nagedink

4 responses to “30 DAE MET JESUS: DIE ABSOLUTE GESAG VAN JESUS

  1. kleinvissie

    Jesus is die Here – my Here.

  2. Ek glo in God die Vader… en In Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here…

  3. Nuuskierig

    Jesus is my Here en my Koning.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s