30 DAE MET JESUS: GOEIE NUUS AAN DIE ARMES.

Ons lees vandag Lukas 4:16-30.

Wanneer laas was jy in jou tuisdorp? Hoe ontvang die mense in jou tuisdorp jou? Ek dink mense se antwoord op hierdie vrae sal verskil. Ek het twee keer ‘n beroep gehad na die ghemeente in my tuisdorp. Ek het twee keer nie aanvaar nie. Oor die redes sal ek liefs nie uitbrei nie. Jesus is ook terug na sy tuisdorp, Nasaret, toe. Ek dink nie Jesus ou ‘n beroep gekry het na die gemeente in sy tuisdorp nie.

Dit was Jesus se gewoonte om kerk (sinagoge) toe te gaan. (Lukas 4:16) Ek wonder hoeveel keer het “christen-mense” al vir my gesê dat hulle nie elke Sondag kerk toe gaan nie, omdat hulle dit nie uit gewoonte wil doen nie, maar wanneer hulle regtig ‘n behoefte het. Verbasend hoe min sulke “christen-mense” dan die behoefte ontwikkel om te gaan. Waarskynlik het dit daarmee te make dat as mens nie in die gewoonte is om te gaan nie, kom jy baie vinnig in die gewoonte om nie te gaan nie. In elk geval is daar slegter gewoontes wat ‘n mens kan hê as om kerk toe te gaan.

Jesus se gewoonte was egter anders. Hy het die gewoonte “aangeleer” omdat Hy die sinagoge gesien het as deel van sy strategie of plan om God die Vader se doel met sy lewe te verwesenlik. Ek wonder darem as ons al ons gewoontes met hierdie maatstaf meet: Hierdie gewoonte is die manier waarop ek God die Vader se doel en plan met my lewe verwesenlik.

Op hierdie dag was Jesus in sy tuisdorp – Nasaret. Volgens my bronne het daar ongeveer 20 000 mense in Nasaret gewoon. Vanaf die rand van die berg waar hierdie mense Jesus wou afstoot kon jy verskillende bakens in Israel se geskiedenis raaksien. Daar was die Kedron Vallei waar Debora en Barak geveg het; waar Gideon sy oorwinnings behaal het; waar Saul tot sy einde gekom het en waar koning Josia doodgemaak is; waar Nabot se wingerd was en die plek waar Jehu vir Jesebel doodgemaak het; Sigem waar Elisa gebly het; Karmel waar Elia die geveg met die profete van Baäl gewen het en ver op die horison die Medtireense see.

Drie groot paaie het by Nasaret by mekaar gekom. Die pad van die suide het die reisigers na en van Jerusalem gedra. Daar was die groot see-pad vanaf Egipte na Damaskus waar vele karavane van swaar gelaaide kamele heen en weer beweeg het. Daar was die groot pad na die ooste waarop karavane van Arabië en Romeinse soldate wat na die oostelike front van die Romeinse Ryk beweeg beweeg het. Die dorpie waarin in Jesus groot geword het, was ‘n groot dorp en op Sy voorstoep het die volke van die wêreld verby beweeg.

In ‘n sinagoge in sy tuisdorp lees Jesus uit Jesaja 61. Toe Hy klaar gelees het, het Jesus gaan sit. Dit was die gewoonte dat die persoon wat die ander geleer het sit terwyl hy praat. Jesus het met gesag geleer. Almal het eers mooi dinge oor Jesus gesê en was verwonderd oor die mooi woorde uit sy mond.

Jesus maak toe ‘n fout. Hy gee ‘n kompliment vir die ander volke. Hy sê dat die nie-Jode Hom meer en beter aanvaar het as wat die Jode in sy eie tuisdorp Hom aanvaar het. Die Jode was van mening dat aangesien hulle die uitverkore volk is, het hulle die reg om alle ander volke te haat en te verag. Volgens die Jode was die enigste rede waarom daar nie-Jode is, sodat daar brandhout vir die hel kan wees. Nou beweer Jesus dat hierdie “brandhout” Hom eerder aanvaar het as die mense in sy eie tuisdorp. Nou hoor hulle by hierdie Jesus wat so mooi kon praat en sulke wonderlike dinge kon sê dat ook die nie-Jode spesiaal is vir God – dit kan nie verdra word nie.

Hulle woede teenoor Jesus het waarskynlik daarmee te make gehad dat hulle begin besef dat die inhoud van Jesus se boodskap van hulle ‘n verandering gaan vra in hoe hulle dink, voel en optree. In plaas daarvan is dit beter om die boodskapper se mond te snoer, stoot hom teen ‘n krans af.

Jesus se gewoonte om sinagoge toe te gaan was met die doel om God se doel en plan met sy lewe te verwesenlik. Die mense met wie Jesus praat het ook die gewoonte gehad om na die sinagoge te gaan. Die motivering agter hulle gewoonte was egter om te hoor wat hulle wil hoor. Hulle wou die dinge hoor wat hulle spesiaal laat voel en wat hulle tevrede sal laat voel. Intussen was dit van die begin af God se doel met die uitverkore volk dat hulle ‘n seën vir die nasies sou wees. God wou al die volke van die wêreld deur die Jode seën. Dit het nie gebeur nie. Hulle het net gehoor dat hulle meer spesiaal is as ander. Ek wonder hoeveel gelowiges het vergeet dat hulle eintlik bedoel is as ‘n seën vir ander. My doel is nie om die swakhede van Christene uit te lig nie, my gebed is eenvoudig: Dat die Christene in hierdie wêreld se oë sal oopgaan vir hulle roeping en taak in hierdie wêreld. Christene is bedoel as die beste ding wat ooit met hierdie wêreld gebeur het.

In hierdie gedeelte sien ek die verskil tussen Jesus en Johannes die Doper. Johannes was die een wat oordeel gepreek het en by die aanhoor van sy boodskap moes mense gesidder het van vrees. Jesus lees uit Jesaja 61 – Jesus bring goeie nuus. Goeie Nuus aan die armes; gevangenes sal vrygelaat word; blindes sal sien; onderdruktes sal bevry word van hulle verdrukkers – in kort: die tyd van die goedheid van die Here het aangebreek. (Sien Lukas 4:18 en 19) Christene moet hierdie Goeie Nuus leef.

Ek wonder watter rol speel die kerk van ons dag se onvermoë om “Goeie Nuus” vir ons arm gemeenskappe te wees, in die feit dat die kerk hom dikwels moet wend tot Johannes se werkwyse van oordeel en vrees om mense te bereik.

2 thoughts on “30 DAE MET JESUS: GOEIE NUUS AAN DIE ARMES.

Add yours

  1. Was lanklaas hier. Ek het in die laaste tyd op hierdie blog besef dat ons as Christene meer op ons gemak is met konfrontasie-evangelisasie as Goeie Nuus evangelisasie. Ons maak mense kwaad, en dan dink ons ons het die Here ‘n guns gedoen. Jesus het die mense in sy tuisdorp kwaad gemaak, maar omdat hy te veel liefde gehad het vir die mense vir wie die mense in die sinagoge nie kon verdra nie. Hoe sou die lewe wees as Christene daaraan skuldig moet wees dat hulle te verdraagsaam was teenoor sondaars en te goed was vir die mense wat op die kantlyn van die samelewing sukkel om te oorleef?

  2. Ek het my geestelike voete gevind in ‘n omgewing waar Johannes die Doper se werkswyse gevolg is. Ek het die Here Jesus as my Verlosser aangeneem omdat ek vrek bang was ek beland in die hel. Vandag het ek Hom lief en is dit my lewenswens om Hom met alles wat ek is en alles wat ek het te dien, maar ek sou graag ook mense wou oortuig om Jesus as Verlosser te aanvaar met Goeie Nuus as die nuus van oordeel en vrees. Dalk is die antwoord om Goeie Nuus te wees en Goeie Nuus te bring.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: