Ek onthou die dag toe ek haar die eerste keer gesien het. Dit was in Augustus 2005. Sy het die afspraak gemaak. Sy het met ‘n baie ou karretjie by die kerk gestop. Toe sy by die spreekkamer instap was haar gesig vir my bekend. Later sou ek onthou ek sien haar gereeld in die kerk. Sy sit in die middel regs op die gallery. Toe ek die volgende Sondag op die kansel staan en weer na die gallery kyk toe sien ek haar weer, toe besef ek dat sy elke week dieselfde rokkie aanhet.
Sy het die dag in die spreekkamer oor baie dinge gepraat. Sy het verduidelik hoe haar man sy werk op die myn in Welkom verloor het en hulle in geloof Rustenburg toe gekom het. Sy het verduidelik hoe die tyd sonder salaris elke stukkie spaargeld op gebruik het en hulle selfs hulle tweede karretjie moes verkoop en geld by die familie moes leen. Met die een kar ry haar man werk toe. Hy werk lang ure, en daarom is sy elke Sondag alleen in die kerk. Hulle bly gelukkig loop afstand van die kerk af so sy en die kinders kan elke Sondag darem kerk toe kom. Sy loop maar saam met die twee kinders skool toe in die oggend – gelukkig net ‘n halfuur se loop – en dan gaan haal sy hulle weer in die middag. Wat sy eintlik wou sê – en sy het gehoop ek lees dit tussen die lyne – is dat hulle baie swaar kry.
Sy het bloedrooi gebloos toe ek vra wat hulle die vorige aand geëet het. Sy het na haar skoene gekyk en vertel hoe sy en haar man bitter swart koffie gedrink het sodat die twee kinders elkeen ‘n stukkie droë brood kon eet. Sy het juis die afspraak gemaak omdat sy nie geweet het wat hulle die aand sou eet nie. Maar sy het ook nie geweet hoe om dit vir hierdie man te sê vir wie sy vir die eerste keer so van naby sien. Die vrou se trots het my aangegryp. Sy was trots, maar haar moederinstink het haar laat vra. Ek het besef: As ek die vroutjie wil knak moet ek haar soos ‘n bedelaar laat voel. Ek het haar huistoe gestuur en belowe dat daar daardie aand kos op die tafel sal wees.
Toe sy weg is het ek my vrou Renate gebel. Ons was besig met ‘n groot veldtog in ons gemeente en gemeenskap en Renate het op daardie stadium die kosgeeprojek in ons gemeente gekoördineer. Ek het haar van die trotse vroutjie vertel en Renate het onmiddelik gesê: Ons sal kos vat. Dit sou ons twee se praktiese uitleef wees van die veldtog in ons gemeenskap. Omdat ons ter wille van kontrole ons self moet vergewis van die omstandighede het ons ‘n week se kospakkie gevat en na haar huis toe gery. Netjiese en skoon huis. Toe ons daar kom sit die kinders by die tafel met hulle huiswerk.
Toe ek Renate aan haar voorstel, kon ek sien hoe die vroutjie skrik. Ons het verduidelik dat Renate elke keer kos sal bring en niemand anders gaan weet nie. Sy was dankbaar, meer as dankbaar. Net vir ‘n maand het sy ons verseker. Die maand het amper ‘n jaar geword. Elke week het ons haar gesien. Elke week kon ons sien hoe die omstandighede bietjie vir bietjie verbeter. Op ‘n dag sê sy: “Julle hoef nie meer te bring nie.” Al hulle skuld (Geld wat hulle by familie geleen het is nou betaal) hulle kan self regkom. Ons het haar nog ‘n paar maande gehelp.
Op ‘n dag het sy ‘n sms gestuur en gesê dat ons regtig nou dalk die kos vir iemand anders kan gee aangesien dit baie beter met hulle gaan. Vroeër hierdie jaar sien ons haar met haar eie karretjie ry. Elke Sondag sit sy op haar plek. Ek moet mooi kyk want die rokkies is nie meer elke Sondag dieselfde nie en sy het ‘n bietjie gewig opgetel en sy lag nou meer gereeld. Steeds alleen. Haar man werk lang ure.
Toe kom gisteraand. Ek staan by die deur en wag vir die mense wat deel is van die optog om in die kerk in te stap. Ek sien haar aangestap kom. Haar oog vang my oog en haar hele gesig helder op. Aan haar sy hand aan hand is haar man. Aan elkeen van hulle se hand is een van die kinders. “Dominee, hy het hierdie maand bevordering gekry. Vanaand is die eerste keer dat hy saam met ons kan kerk toe kom. Ons is vanaand almal hier.”
Ons eerste lied was “Ere aan God.” Toe ons begin het my oog hare gevang, omdat hulle bietjie laat was was daar net heel voor plek. Sy het skaam geglimlag en met haar mond vir my die woorde gevorm: “Baie dankie!”
“Ere aan God in die hoogste!” Sy en haar gesin het die volle sirkel geloop.
Dankie vir julle gehoorsaamheid aan die Heilige Gees. Nie net is ‘n gesin fisies versorg nie maar kom ‘n hele gesin huis toe. Al die Eer aan God!
Ek dink hierdie is vir my die mooiste kersboodskap wat ek hierdie jaar sal lees!
Dankie.
Halleluja!!
Ek lees deesdae baie oor kerk in die Postmoderne tyd. Dit wat ek lees en ook wat ek hier in hierdie gebeure beleef het laat my dink dat dissipelskap nie kitsresepte het nie, maar dat dissipelskap geduld en tyd en opoffering en diensbaarheid vra. Dis maklik om die kerk vol te kry. Die uitdaging is om kerk te wees.
ek het nie woorde nie. net ‘n traantjie in die hoek van my oog. dis mooi hierdie.
Johan: Hierdie verhaal het geduld ‘n nuwe betekenis gegee. Mens wil soms die Here aanjaag, maar Hy weet wanneer die regte tyd is.