LOUW HET KOM KUIER

Ek en Louw was boesem vriende op Universiteit. Ons het saam teologie geswot, twee keer saam graad en saam ons diplomas gekry. Saam deur van ons kinders se geboortes, saam karre gekoop en saam nagte deur gewerk. Toe ons klaar geswot het in 1986 is elkeen van ons in ‘n ander rigting. Ek het na die Noorde toe gekom en hy het in die Wes-Kaap ‘n beroep gekry. Ons het mekaar nooit weer gesien nie en ook nie weer kontak gehad nie. Toe maak Louw ‘n paar maande terug kontak. Hy kom na hierdie omgewing toe en dalk kan ons mekaar sien. Ongelukkig werk dit toe nie so uit nie. Hierdie week bel hy weer, ons maak ‘n afspraak en Saterdag-oggend ry hy en Susan al die pad van Pretoria af net om by my en Renate koffie te drink.

Die kuier was lekker en dit het ons nie lank gevat om op te tel waar ons vriendskap gestop het nie. Lekker gekuier en ek sien uit daarna om weer die vriendskapsbande op te tel. Maar, Louw se besoek was asof van die Here. Sien, ek sien myself as “in transito”. My werk met tieners en ander jong mense het my oor die laaste paar maande bewus gemaak van ‘n onverklaarbare… kom ons noem dit onvergenoegdheid. Ek kry die gevoel iets in my bediening is net nie lekker nie. Ek geniet wat ek doen, maar ek mis iets waarop ek nie my vinger kan lê nie. Louw se kuier het my ‘n klein bietjie gehelp.

Dit is juis daardie onvergenoegdheid wat my die “blog”-wêreld laat betree het. Ek wou hier kom leer. Ek is produk van my tyd, maar ook produk van die Here se werk. Ek glo die onvergenoegdheid kom van die Here af, maar as produk van my tyd het ek in die laaste tyd besef dat ek waarskynlik eers ‘n paar dinge sal moet ontleer. Wat 20 jaar terug ‘n groot impak gehad het, het vandag geen impak nie. ‘n Werkswyse wat 20 jaar terug rasend effektief sou wees, is vandag teen produktief. Met ander woorde, terwyl ek leer, sal ek ook moet ontleer. My tyd op die “blog” het my klaar laat besef dat daar minder absolute waarhede is as wat ek dink.

Die ontleer is nie maklik nie. Ons kom uit ‘n geslag waar dit moeilik en selfs onmoontlik is en ook nog ‘n teken van swakheid is, om te sê: Ek het hierdie saak verkeerd gehad. Ek kan nie anders nie, ek moet anders dink oor hierdie saak. Wat meer is, om net te dink dat sekere waarhede nie so absoluut is as wat ek geleer is nie, klink vir my amper ketters.

Nou leer ek onder andere by Scot McKnight hierdie waarheid oor die post-moderne mens en ‘n moontlike post-moderne bediening: Wanneer ons praat behoort ons te sê: Dit is hoe ek dink. Ek mag verkeerd wees. Hoe dink jy daaroor? Daardie woorde het my aan die dink gesit. Dit is waar ek nou is.

Toe kom Louw. Louw  is uit die bediening uit en uit die kerk uit, maar Louw het nie opgehou om ‘n Christen te wees nie. Net om hierdie sin te skryf is vir iemand uit my omgewing ‘n reuse sprong. Ons is geleer en ons het ander geleer: As jy nie in die kerk is nie, kan jy nie ‘n Christen wees nie. Ek het na Louw geluister en ek het gedink aan die tyd toe ek self uit die bediening uit is, en ek het gedink dat wat hy sê waar kan wees: Mens kan ‘n Christen wees sonder om kerk toe te gaan. Ek het selfs vir ‘n oomblik gedink dat ons juis ‘n valse geloofsekerheid kan kweek deur mense te laat dink dat hulle verhouding met die Here reg is as hulle elke Sondag in die kerk is. Ek sal nog bietjie daaroor dink…

Maar Louw maak toe hierdie opmerking wat my baie laat dink het. Hy sê: “Ek sê vir mense, ‘qoute’ my as jy wil, maar as jy my ‘qoute’ noem net die datum ook, want vandat ek dit vir jou gesê het, mag ek dalk my mening oor die saak verander het.” Hy sê toe dieselfde as wat Scor McKnight sê, net op ‘n ander manier. Binne die konteks van my eie belewenisse op die “blog”. Vir my is dit die werk van die Here.

Ek het ‘n waarneming gemaak: As ek nie meer anders kan begin dink en ander oortuigings kan hê  as wat ek in die verlede gehad het nie, dan gaan ek nie meer groei nie. As ek wil groei sal ek elke mens wat oor my pad kom moet sien as ‘n leer en ‘n groei geleentheid. Dit gaan beteken dat ek sekere dinge en oortuigings sal moet ontleer sodat ek nuwe dinge kan aanleer. Dit is waar ek wil wees – in ‘n proses van nimmereindigende verandering en groei.

Ek is ‘n kind van God, deur die genadewerk van sy Seun Jesus Christus en die Heilige Gees van God is aan’t werk in my lewe. ‘n gelowige in transito.

Soos die klei in die hand van die pottebakker, so is ek in die hand van die Heer.

As jy op my blog met my gesels, is jy dalk in daardie dinge wat jy sê die hand van die Here wat my vorm.

8 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

8 responses to “LOUW HET KOM KUIER

  1. Attie, ek is bly jy’t met hierdie blog begin en dat hier ruimte geskep word vir almal se sienings. Ek glo ons kan almal by mekaar iets leer. Ekself het hier al waarhede raakgelees, dinge wat ek al baie gelees en gehoor het vantevore, maar wat my skielik tussen die oë getref het en laat besef het dat daar dinge is wat my geestelike groei gestrem het. Ek kan maar net beaam dat ek ook net klei is in die hande van die Pottebakker en dat ek ook die begeerte het dat Hy my sal vorm en maak net soos Hy wil.

  2. Alec

    Ek dink dis belangrik om in die toekoms te probeer kyk wanneer mens oor die kerk dink. Ons gemeente is nou 40 jaar oud en ek weet net dat oor 40 jaar ons dinge baie anders sal doen. Ek is oortuig dat daar steeds Christene sal wees, maar ek weet nie op hoe manier ons ons Christenskap gaan uitleef nie. Die probleem is dat ons nou besluite moet neem wat langtermyn gevolge gaan he, soos ons aanbouings wat baie duur is en wat ons nie sommer net weer kan kanseleer nie. Ek dink ook dat mense in die toekoms baie meer krieties gaan wees oor die kerk en dis nog meer belangrik om die regte besluite te neem. Ongelukkig gaan ons eers later die vrugte pluk van wat ons nou plant.

  3. kalvoetkind: Dankie vir jou terugvoer. Ek is nog nie een dag spyt dat ek die “blog” begin het nie. Die “blog” het my laat raaksien hoe mense oor dinge dink. My daaglikse inskrywings oor bv. die gelykenisse is maar my manier om my eie Bybelstudie vir my sinvol te maak. Wanneer ek daaroor skryf, dan kry dit vastrapplek in my eie lewe. As dit vir iemand anders iets beteken is dit ‘n bonus.
    Alec: Ek het in die laaste tyd geleer dat ‘n mens nie moet veronderstel jy weet hoe mense dink nie. Ek reken dat as ons as kerk effektief kerk wil wees, sal ons twee dinge moet doen: Ons sal die hele tyd besig moet wees om te vra of die ding waarmee ek nou besig is die kern van my geloof raak. As dit nie die kern van my geloofslewe en die lewe van die kerk raak nie, sal ek meer van ‘n luister benadering moet gebruik en altyd vra of die Here nie deur hierdie ander persoon aan my iets wil oordra nie. Dit is egter makliker geskryf as gedoen.

  4. Volharding

    Attie, jy moet nooit met die blog ophou. Dit beteken baie vir my, dus ‘n BONUS vir jou! Ek het dit altyd nodig, ek is seker daarvan die andere ook – dis ‘n soort van bemoediging onder mekaar. Meer as twee weke terug was ek in karongeluk. Nie lekker ervaring gehad nie. Hiedie blog laat my skok “herstel”.

  5. Attie, ek het baie waardering vir sulke eerlike inskrywings. Moontlik kom mens juis baie verder in die bediening met ‘n houding soos joune, eerder as ‘n houding van alwetenheid.

  6. Volharding: Ek dink nie ek sal sommer ophou nie, maar Louw se besoek het my dinge in ‘n ander perspektief laat sien. Ek glo die Here bring mense uit alle oorde oor my pad sodat Hy my kan aanhou vorm. Selektiewe blootstelling gee mens tonnelvisie.
    BiB: Ek wil niks anders doen as om die Here voltyds te dien nie. Ek wil net weet waarmee is die Here besig en dan wil ek daarby inval. Die enigste manier is om telkens te bely: Here, U gee die pas aan. Ek volg.

  7. Attie: Ek plaas hierdie (bietjie laat) want ek is seker daar is ander mense wat dalk dieselfde voel. “Mens kan ’n Christen wees sonder om kerk toe te gaan“ , ek ag myself nog steeds ‘n Christen alhoewel ek nie meer in ‘n kerkgebou sit Sondae nie (heir is geen Afrikaanse kerke in ons omgewing nie) en soms oordeel mense te gou as iemand nie meer kerk toe gaan nie, maar ek weet in my binneste en leef ek ook in voorbeeld dat ek ‘n Christen is en die Here is my alles, my anker, my redding en dat as Christen mag ek ook soms moedeloos raak en ook daardie “menslike-emosies” ervaar, dit maak my nie ‘n atheist of ongelowige nie, dit maak my “menswees”. Ek is 99% van my lewe positief, ek het al probeer vir 100% en ek soek altyd ‘n positiewe om ‘n negatiewe dood te druk, maar soms is dit net nie moontlik om daai 1% by te bring nie en ek is seker die Here verwag nie van my om ‘n “robot” te wees en geen emosies te hê nie. Om Christen te wees hoef nie altyd gemeet te word aan kerk-bywoning of 100% positiwiteit nie en ek is bly die Here het Louw weer op jou pad gebring, want ek is seker dit gaan jou leiding gee met jou “transito” proses.

  8. Kiwi: Ek waardeer jou opmerking oor kerk toe gaan omdat jy sê daar is nie ‘n kerk waarheen jy gaan nie. Sien Louw se opmerking binne die konteks van ons gesprek was dat hulle as ‘n groep Christene so leef dat hulle in hulle daaglikse lewe deel vorm van dit waarmee God in hierdie wêreld besig is. Ek dink ook daar is baie mense wat Louw se opmerking sou kon gebruik as ‘n verskoning om nie kerk toe te gaan nie, maar dan eintlik net “geheime agent” Christene sal weet. Net hulle en niemand anders vermoed hulle is Christene. Ek lees juis raak dat jy nie ‘n geheime-agent-Christen wil wees nie.

    My “in transito” proses het te make met die ontleer van sekere dinge en die aanleer van nuwe dinge wat sal uitloop op ‘n nuwe lewensstyl. Ek wil nie net inligting versamel nie, ek wil as volgeling van Christus Jesus lewe.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s