GELYKENIS 23: GAAN MAAK JY OOK SO

‘n Laerskool seuntjie kom van die kerk af . Soos sy ma se gewoonte is, vra sy hom wat hy by die Sondagskool geleer het. Hy vertel toe vir haar dat hulle van die barmhartige Samaritaan geleer het. Omdat hy geweet het sy gaan in elk geval vra, het hy die voorbeeld wat Jesus gebruik het in die fynste besonderhede oorvertel, al die karakters was in die regte rolle en alles was in die regte volgorde. Toe hy klaar vertel het, vra sy ma wat dit alles vir hulle in hulle daaglikse lewe beteken. Die seuntjie se antwoord was: As ons in die moeilikheid is sal daar iemand kom om ons te kom help.

Die pad van Jerusalem na Jerigo is tradisioneel ‘n gevaarlike pad. Wanneer Jesus hierdie voorbeeld aan mense voorhou, sou hulle dadelik geweet het dat mense op die pad tussen Jerusalem en Jerigo dikwels aangeval word. Die volgende is interessante waarnemings:

(i) Die reisiger is hardkoppig. Dit is dom om alleen te reis op daardie baie gevaarlike pad. Dit was hierdie reisiger se eie skuld dat hy in die moeilikheid beland het.

(ii) Die priester gaan vinnig verby want as die man dood is en hy raak aan hom (Num. 19:11) is hy self onrein en dan verloor hy sy diensbeurt in die tempel. Sy diens in die tempel het vir hom meer beteken as die pyn van ‘n mens.

(iii) Die Leviete se lewensleuse was – veiligheid eerste. Die man wat daar lê kon dalk ‘n strik gewees het. Dit kon ‘n rower wees wat daar lê en as hy nader gaan, spring die ander dalk uit die bosse uit en oorrompel hom.

(iv) Die Jode het Samaritane gehaat. Hulle het Jesus by geleentheid ‘n Samaritaan genoem en daarmee het hulle probeer sê dat Hy iemand is wat die seremoniële wette gebreek het en ‘n ketter is. Toe Jesus die Samaritaan in die voorbeeld inbring moes die hoorders gedink het dat die eintlike rower nou op die toneel verskyn. Twee dinge van die Samaritaan verdien om genoem te word:

(a) Sy kredietwaardigheid was goed. Die eienaar van die herberg was bereid om sy woord te aanvaar dat hy enige onkoste sal betaal wanneer hy weer daar verby kom. Hy was dalk teologies bietjie verward, maar hy was ‘n eerlike man.

(b) Net hy was bereid om te help. Hierdie Samaritaan was dalk ‘n ketter, maar die liefde van God was in sy hart. Dit is nie net in ons dag dat die mense meer bekommerd is oor die regte leer as oor die mens in nood nie. Dit was deel van Jesus se probleem met die kerkleiers van sy tyd dat hulle soveel tyd gegee het vir die beskrywing van die regte leer, dat die praktyk soos God dit bedoel het heeltemal by hulle verby gegaan het. Aan die einde van die tyd sal ons nie geoordeel word aan hoe reg en goed ons teologie en ons belydenisse was nie, maar aan die lewe wat ons geleef het.

Die wetgeleerde was baie opreg in sy vraag wat hy aan die begin van hierdie gesprek gevra het. Hy wou baie graag weet wat hy kan doen om die ewige lewe te kry. Hy haal toe Deuteronomium 6:4 en Levitikus 19:18 aan. Jy moet God meer liefhê as enige iets of enige iemand anders en jou naaste soos jouself. Die fout wat die wetgeleerdes gemaak het, was om hulle naaste op ‘n diskriminerende manier te definieer. Vir die Jode was ‘n mens se naaste die mede-Jood. Bv. was dit teen die “wette” van die Fariseërs en Skrifgeleerdes om ‘n nie-Joodse vrou te help wanneer sy in kraam is omdat jy help dat nog ‘n ongelowige in die wêreld inkom. Daarom was die wetgeleerde se vraag: “Wie is my naaste?” ‘n belangrike vraag. Diskriminerende liefde is om my liefde te beperk tot die mense wat soos ek dink en lyk en voel. Ons diskrimineer nie meer teen mense wat ‘n ander velkleur as ons het nie, maar ons reserveer ons liefde vir mense wat soos ons dink en voel.

Drie beginsels:

(i) Help ‘n man selfs al is hy self die oorsaak van sy ellende.

(ii) Enige mens in nood is my naaste. Ons hulp aan mense moet net so ver strek as wat God se liefde strek.

(iii) Die hulp moet prakties wees en nie net bestaan uit ‘n gevoel van simpatie nie. Geen twyfel dat die priester en die leviet jammer gevoel het vir die man wat daar gelê het nie, maar omdat hulle niks gedoen het nie, beteken hulle simpatie ook niks nie. Wanneer mens regtig omgee, dan help jy in dade.

Terug by die seuntjie wat vir sy ma hierdie voorbeeld vertel het. Hoe maklik is dit nie om die kere te beskryf toe niemand opgedaag het om my in my tyd van nood te help nie. Mens kan mos van Christene verwag dat hulle dit sal doen, hulle ken mos hierdie voorbeeld van Jesus. Hoeveel keer loop ons nie die pad van die leviet en die priester nie? Ons ky mense jammer, maar hopelik is daar iemand anders wat sal help.

Jesus sluit die voorbeeld aan die wetgeleerde af met hierdie woorde: “Gaan maak jy ook so.” (Lukas 10:37)

5 thoughts on “GELYKENIS 23: GAAN MAAK JY OOK SO

Add yours

  1. Ek lees op ‘n ander plek dat die fout wat die kerk gemaak het was om in die (wan)hoop te lewe dat die regte leer vanselfsprekend sou uitloop op die regte lewe. Die geskiedenis van die kerk wys ons dit het nie gebeur nie. Eintlik sê Jesus vir hierdie wetgeleerde: Jy weet eintlik wat die regte ding is om te doen, gaan doen dit net.

    Eintlik sê Jesus deur hierdie gelykenis vandag vir my: Jy weet eintlik wat die regte ding is om te doen, gaan doen dit net. Ek weet die mens in nood is my naaste. Ek sal vandag probeer om vir die mens in nood ‘n naaste te wees.

  2. Ek het al soveel keer in my lewe ervaar dat dit die “Samaritane” is wat ‘n helpende hand na mense in nood uitsteek en nie jou ‘eie’ mense nie. Mag ek nooit vergeet om Lukas 10:37 na te kom nie.

  3. kleinvissie: “As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.” (Jakobus 4:17)
    sonkind: Een vir een kan ons ‘n groot verskil maak. Laat ons net nie op mekaar wag nie. Soms lê die grootste seën (en dikwels ook seer) daarin dat jy die enigste een is wat die helpende hand verleen.

  4. Vir my is daar ‘n kwalifikasie om ‘n “naaste” te kan wees. Jy moet iemand help wat in nood is en nie in staat is om homself te help nie. Dit is nie maklik nie, jy kry dit ook nie altyd reg nie en partykeer is dit ook nie eers lekker nie maar die kere wat ek dit al reg gekry het, was die dankbaarheid genoeg om vir alles te vergoed.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: