GELYKENIS 22: VERGIFNIS VIR ‘N NAAMLOSE VROU

Voor ek die Here Jesus geken het was my lewe redelik rof. Ek het alles gedoen wat ek kon doen en alles gedoen wat ek wou doen, en dan het ek nog ‘n paar dinge uitgedink wat ‘n mens sou kon doen om aan jou wilde begeertes en drang na losbandigheid uiting te gee. Toe leer ek die Here ken en ek ontdek die wonderlike waarheid dat Hy my sondes vergewe. Ek begin ‘n nuwe lewe.

As kind van God het ek op ‘n stadium verval in oormatige geloofsekerheid. Daardie gedagte van eenmaal gered altyd gered, het my arrogant teenoor God gemaak. Ek het die formule geken. Sonde gedoen + vergifnis gevra = asof geen sonde gedoen is nie. God vergeet mos my sonde en dink nooit weer daaraan nie. Hy sal my weer en weer vergewe. Ek kan maar sonde doen, ek is ‘n kind van God, ek weet ek gaan hemel toe, niks kan my skei van die liefde van God nie. As ek my sonde bely, en ek doen dit weer dan is dit die volgende keer vir God asof ek dit vir die eerste keer gedoen het. Vandag weet ek dat ek met hierdie dinge met God se genade gemors het. Ek weet ek het die reg gehad het om al daardie dinge op daardie manier te glo nie. Die dinge wat ek gedoen het terwyl ek geweet het dat dit nie God se goedkeuring wegdra nie, het my verhouding met God baie skade gedoen.

My leefstyl het tot gevolg gehad dat ek op ‘n stadium uit die bediening uit geskop is. Vir tien jaar lank moes ek met die gevolge van my misbruik van God se genade saamleef. Tien jaar waarin die Here my weer treetjie vir treetjie teruggetrek het na Hom toe. Ek het in die sekulêre wêreld (Eers by die destydse Transvaalse Provinsiale Administrasie en daarna by die Rustenburg Stadsraad) my brood verdien voordat die Here self weer vir my ‘n deur oopgemaak het om eers deeltyds (1999) en toe weer voltyds (2003) vir Hom te kan werk.

Vandag se gedeelte het my weer laat besef dat omdat ek vir baie vergewe is, wil ek altyd groei in my liefde vir die Here.

“Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem.

‘n Sekere vrou in die dorp, wat ‘n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe ‘n albaste flessie met reukolie en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete gedrup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met reukolie gesalf.

Toe die Fariseëer wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: ‘Hy, as hy ‘n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ‘n sondares is.’

Maar Jesus spreek hom aan en sê: Simon, Ek het iets om vir jou te sê: ‘Meneer, sê dit maar!’ antwoord hy.

“Jesus sê toe: ‘Twee mense was in die skuld by ‘n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir altwee kwytgeskel. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?

Simon antwoord: ‘Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste kwytgeskel het.’

‘Jou antwoord is heeltemal reg,’ sê Jesus , en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: ‘Sien jy hierdie vrou?’ Ek het in jou huis gekom – en jy, water vir my voete het jy my nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. ‘n Soen het jy My nie gegee , maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.’

En Jesus sê vir haar: ‘Jou sondes is vergewe.’

Toe begin die wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: ‘Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?’

Maar Jesus sê vir die vrou: ‘Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.’ (Lukas 7:41-40)

(i) Hierdie gebeure speel af in die binnehof van die huis van Simon die Farisëer. In daardie tyd het hulle huise rondom ‘n oop binnehof gebou. Wanneer dit baie warm was, is daar gewoonlik in die binnehof geëet. Wanneer ‘n belangrike persoon soos ‘n Rabbi daar kom eet het, het mense van die strate af gewoonlik ook ingekom om na die wyshede van die Rabbi te luister. Dit is waarom hierdie vrou kon inkom toe sy hoor dat Jesus by Simon se huis gekuier het.

Wanneer iemand by ‘n huis ingegaan het, het daar gewoonlik drie dinge gebeur. Die gasheer het sy hand op die persoon se skouer gesit en hom gesoen. Die soen was ‘n teken van respek en dit is nooit nagelaat in die geval van ‘n gerespekteerde Rabbi nie. Die tweede ding wat gewoonlik gebeur het, is water is oor die gas se voete gegooi wat vuil was van die stof en die oop sandale wat hulle gedra het. Die derde gebaar van gasvryheid en respek was ‘n druppel van een of ander reukolie is op die gas se voorkop gesit. Goeie maniere het vereis dat hierdie dinge gebeur. In hierdie geval het nie een van die drie dinge gebeur nie.

In Jesus se tyd in Palestina het die mense ook nie by tafels gesit nie. Hulle het op die lae banke op die linker elmboog by die tafel aangelê. Die voete was meer na agter en dit verduidelik waarom die vrou by Jesus se voete gestaan en huil het.

(ii) Waarom het Simon wat ‘n Fariseër was Jesus in sy huis ingenooi? Daar is drie moontlike redes:

a. Nie al die Fariseërs was Jesus se vyand nie. Hy was dalk een van hulle. Vers 39 laat mens egter twyfel of sit so was, want hy bevraagteken Jesus se optrede teenoor hierdie vrou.

b. Dit kan wees dat Simon Jesus wou uitlok om iets verkeerds te sê of te doen, maar dit is onwaarskynlik aangesien hy in vers 40 aan hom die titel “Rabbi” gee.

c. Heel waarskynlik was hierdie man iemand wat graag gespog het met al die bekende persone wat hy al in sy huis onthaal het. Daarom die uitnodiging maar die gebrek aan die normale gebare van gasvryheid en respek wat so ‘n mens toekom.

(iii) Die vrou was ‘n slegte vrou – ‘n prostituut. Sy het waarskynlik altyd op ‘n afstand geluister wanner Jesus gepraat het. In hierdie Man sien hierdie prostituut die Een wat haar sou kon help om haar rug te draai op haar leefstyl. Waarskynlik het sy toe reeds ‘n besluit geneem om een van sy volgelinge te word en dit lyk na die rede waarom sy saam met Jesus in die Fariseër se huis is.

Rondom haar nek het sy – soos alle Joodse vroue – ‘n klein albasterflessie met reukolie gedra. Hierdie reukolie was as ‘n reël baie duur. Sy wou dit graag oor sy voete gooi, want dit was al wat sy gehad het om Hom aan te bied, maar toe sy naby aan Hom kom het sy skielik begin huil en haar trane het op sy voete geval. Toe sy dit sien, het sy sy voete met haar lang los hare afgedroog. Vir ‘n Joodse vrou was dit ‘n onbeskaamde ding om te doen om met haar los hare in die openbaar te verskyn. ‘n Joodse vrou het op die dag van haar troue haar hare vasgemaak en nooit weer met los hare in die openbaar verskyn nie. Hierdie vrou se los hare in die openbaar wys dat sy op daardie oomblik heeltemal van alle ander mense vergeet het. Dit was net sy en Jesus.

Ek lees in hierdie gebeure ‘n stuk intimiteit en nabyheid tussen hierdie vrou en Jesus wat my jaloers maak. Ons leef in ‘n kultuur wat nie verdra dat sonde uitgewys of beklemtoon word nie. Ek verstaan die oorreaksie. Die oorreaksie is ‘n regstelling omdat te veel mense nie verder kom as vergifnis van sonde nie. Vir te veel mense is die wete dat my sonde vergewe is die einde van die pad, terwyl dit volgens die Woord die begin van dissipelskap beteken. Ek beny hierdie prostituut haar nabyheid en openheid by die Here.

Hierdie gebeure illustreer ‘n kontras tussen twee gesindhede.

(1) Simon was bewus van geen behoefte wat hy gehad het nie, en daarom voel hy geen liefde nie, en ontvang hy geen vergifnis nie. Simon se indruk van homself was dat hy in die oë van mense en in die oë van God ‘n goeie mens was. Dis waar ek was. Kind van God wie se sonde vergewe is, in die oë van mense ‘n goeie mens. Ek het selfs gedink dat God nogal met tye dankbaar was dat ek aan Sy kant is.

(2) Die vrou was van niks anders bewus as haar behoefte om opgelig te word uit haar omstandighede nie, en sy was oorweldig met liefde vir die Een wat dit vir haar kon doen en daarom ontvang sy vergifnis.

Jesus weet wie die vrou is maar hy weet ook wie Simon is. Jesus sien hierdie vrou se behoefte aan vergifnis raak. Jesus sien die afwesigheid van die normale gebare van gasvryheid en respek by Simon en Jesus weet wat gaan in Simon se hart aan.

Die een ding wat God uitsluit uit ‘n mens se lewe uit, is die gevoel van self-voldaanheid – ek kan self in al my behoeftes voorsien. Nou wil dit ook voorkom asof die wat die naaste aan die Here lewe dikwels ook die is wat meeste bewus is van hoe groot en hoe baie die sonde is waarvoor hulle vergewe is en watter groot prys betaal moes gewees het om weer in ‘n verhouding met die lewende God te kan leef. Jesus vergelyk dit met R500 skuld teenoor R50 skuld.

Dit is reg om te sê: Die ergste van alles sondes is om van geen sonde bewus te wees nie. Net die geringste behoefte aan vergifnis en herstel van die verhouding met God sal vir enige mens die deur oopmaak na God se oorvloedige genade.
Simon wou spog met almal al by hom geëet het, die naamlose vrou wou opstaan uit die stof-lewe wat sy geleef het.

Liefde vir God is ‘n keuse. Jy kan kies om God lief te hê en om in sy Koninkryk (Dit beteken onder Sy heerskappy) te lewe. Die naamlose vrou het gekies.

5 Kommentaar

Filed under Basiese Bybelse Beginsels, Die Christelike Lewe, Geloofsekerheid., Gelykenisse, Nagedink

5 responses to “GELYKENIS 22: VERGIFNIS VIR ‘N NAAMLOSE VROU

  1. HeLo

    Hi, ds. nog iets. Miskien ‘n vraag waaroor van ons dink. Hoekom kon God ook nie net al ons sondes vergewe het nie? Hoekom was dit nodig dat Jesus moes sterf daarvoor?

  2. dissipel

    HeLo: Ek wonder of hierdie aanhaling van CS Lewis bietjie kan help?

    “We are told that Christ was killed for us, that His death has washed out our sins, and that by dying He disabled death itself. That is the formula. That is Christianity. That is what has to be believed. Any theories we build up as to how Christ’s death did all this are, in my view, quite secondary: mere plans or diagrams to be left alone if they do not help us, and, even if they do help us, not to be confused with the thing itself. All the same, some of these theories are worth looking at.

    “The one most people have heard is the one about our being let off because Christ volunteered to bear a punishment instead of us. Now on the face of it that is a very silly theory. If God was prepared to let us off, why on earth did He not do so? And what possible point could there be in punishing an innocent person instead? None at all that I can see, if you are thinking of punishment in the police-court sense. On the other hand, if you think of a debt, there is plenty of point in a person who has some assets paying it on behalf of someone who has not. Or if you take “paying the penalty,” not in the sense of being punished, but in the more general sense of “footing the bill,” then, of course, it is a matter of common experience that, when one person has got himself into a hole, the trouble of getting him out usually falls on a kind friend.”

  3. kleinvissie

    Attie het my geleer om Scot McKnight se blog ook te lees. Hy sê weer so in antwoord op die vraag waarom Jesus juis die Vrydag van Paasfees gekies het. Onthou die Vrydag van Paasfees in die Joodse kultuur herdenk daardie verskriklike nag van die tiende plaag in Egipte toe al die eersgeborenes gesterf het en net die huise waar die bloed van ‘n lam aan die deurkosyn was, het die eersgeborene nie gesterf nie. Nou skryf McKnight so:
    “No one would argue that this is all there is to the death of Jesus — there are many other images one could explore, but one must begin right here: Jesus’ act at the Last Supper declares that his death is atoning, that his blood is like the Passover blood, that his death will save his followers from their sins, and that his death will create the new covenant community around him.”
    Ek sal later terugkom en ietsie sê oor hierdie naamlose vrou met wie ek vandag vir die eerste keer sterk identifiseer.

  4. Beide CS Lewis en Scot McKnight se aanhalings is waardevol. Jesus se sterwe aan die kruis kom maak reg wat sonde hier geskend het (Woorde van ‘n lied wat ons van tyd tot tyd sing.)

    Die vraag is: Wat is geskend? Ons verhouding met God is geskend deur sonde.

    Volgende vraag: Is daar ‘n kort antwoord op sonde? Waarskynlik nie, maar as ek moet waag sou dit wees sonde is ‘n totale gebrek aan vertroue in God. Waar daar nie meer vertroue is nie, is daar nie meer verhouding nie. Met ander woorde, ek vertrou God nie dat Hy sal doen wat Hy gesê het Hy sal doen nie. Ek gaan nou probeer doen wat God gesê het Hy gaan doen, maar ek vertrou Hom nie meer om dit te doen nie, en daarom gaan ek dit self probeer doen.

    Die sonde van wantroue in God realiseer aan die eenkant deurdat mense God wil wees (Adam en Eva en die slang In die tuin) en/of dat mense nie alles word wat God bedoel het hulle moet wees nie: Beeld van God. Mense gee eenvoudig net nie meer om wat van hulle word en van die mense rondom hulle en van die skepping waarin hulle leef nie.

    Jesus het gekom om te wys dat God vertrou kan word. God doen wat Hy belowe het. Hy herstel stukkende verhoudings en stel ons in staat om alles te word wat Hy bedoel het ons moet wees – mense wat na die beeld van God geskape is.

    Sonder Jesus se sterwe aan die kruis sou mense dalk nog vergewe kon word, maar sou die verhouding met God herstel gewees het? Waarskynlik nie.

  5. kleinvissie

    Ek was al daar. Ek was al op daardie punt waar die enigste ding wat vir my belangrik was, was om uit daardie diep donker gat waar ek myself ingegrawe het uitgehelp te word. Vir my het Jesus by my in die gat ingeklim en my uitgetel. Hy het my verseker dat my sonde vergewe is en dat ek vir Hom mag lewe. Ek probeer my bes…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s