GELYKENIS 20: GEREED VIR OESTYD

“Verder het Hy gesê: ‘Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort , eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.'” (Markus 5:26-29)

Net Markus het hierdie voorbeeld wat Jesus gebruik het neergeskryf. Hierdie is ‘n kort gelykenis met besondere betekenis.

(i) Die hulpeloosheid van die mens. Die boer laat nie die saad groei nie. Hy weet nie eers presies waarom die saad groei nie. Die saad het geheim van groei binne in homself. Geen mens het ooit enige iets geskep nie. Ons as mense ontdek baie dinge ; ons herrangskik baie dinge; ons organiseer baie dinge; ons ontwikkel baie dinge, maar die mens skep niks nie. Ons is ook nie die skeppers van die koninkryk van God nie. Ons kan wel dinge doen om die koms van die koninkryk te bevorder of te vertraag, maar einde laaste is dit die wil van God en die krag van God wat die koninkryk van God laat kom.

(ii) Dit is tog interessant dat Jesus so baie kere die groei in die natuur gebruik om met die groei van die Koninkryk te vergelyk.

(a) Groei in die natuur kan dikwels nie eens waargeneem word nie. As ek ‘n boom in my tuin plant en ek sien elke dag die boom, dan lyk dit vir my asof daar geen groei is nie. Maar iemand wat vandag die boom sien en oor ‘n jaar weer dieselfde boom sien, sal beïndruk wees met die groei. Ons kan ook nie vandag die Koninkryk met gister vergelyk nie, maar eerder een jaar met ‘n volgende jaar of een eeu met ‘n volgende eeu.

(b) Groei in die natuur is konstant. Nag en dag, terwyl mens slaap gaan die groei voort. Die groei wat God bewerk is nie sporadies nie. Die groei wat ons bewerk is sporadies. Vandag gee ons twee treetjies vorentoe, more gee ons weer een tree terug en bly dan vir ‘n lang ruk daar staan. God se werk gaan rustig en amper ongestoord voort, onkeerbaar ontvou God se plan met hierdie wêreld.

(c) Die natuur se groei is onvermydelik. Niks kan groei keer nie. ‘n Boom se wortels sal ‘n huis se fondasies binnedring en die hele huis laat bars. ‘n Klein plantjie kan deur ‘n plaveisel groei. Niks kan groei stop nie. So is dit ook met die Koninkryk, ten spyte van ons opstand, rebellie en ongehoorsaamheid, gaan God se werk voort en op die ou end kan niks God se doel en plan stop nie.

(iii) Die oestyd kom verseker. Op die oesdag gebeur twee dinge, wat eintlik twee kante van dieselfde saak is. Die goeie vrug word ingesamel en die onkruid word vernietig. Oestyd en oordeel gaan hand aan hand. Wanneer ons aan hierdie oesdag dink, kom drie dinge in ons gedagtes op:

(a) Geduld. Een van die nuwe liedere wat ons in die kerk sing sê dit so: “Ons is ‘n oomblik. U is vir ewig.” (Sien ook Psalm 90:4) Ons moet die geduld aanleer wat ons nodig het om op die Here te wag sodat dinge in sy volmaakte tydsberekening kan gebeur.

(b) Hoop. Rondom ons is daar moedeloosheid. Moedeloosheid oor die kerk; moedeloosheid oor die wêreld; moedeloosheid oor die toekoms. Ons hoop is gerig op hierdie wete – Jesus kom weer en dan sal Hy ons volkome vrymaak.

(c) Voorbereiding. As die oesdag kom is dit te laat om voor te berei. Ons moet voorberei om ons Here te ontmoet. Indien ons met geduld lewe wat deur niks oorwin kan word nie, hoop wat nie moedeloosheid ken nie en voorbereiding wat in elke donkerte die lig van die ewigheid sien skyn, dan sal ons gereed wees vir die dag waarop Jesus weer gaan kom.

Ek is vanoggend dankbaar om te hoor dat die groei in die koninkryk en dan ook in my lewe baie kere half onsigbaar is. Mens voel soms jy doen alles wat jy kan doen, maar daar gebeur niks nie, maar tog as mens oor ‘n langer tydperk kyk, dan was daar tog groei.

Wanneer ek dink aan die oestyd sukkel ek dikwels met twee van drie. Geduld en moedeloosheid. Ek wens dikwels dinge kon vinniger na ‘n punt toe gaan. Ek verstaan ook nie alles wat gebeur nie. En as daar nie vinnige antwoorde is nie, dan wonder ek…

Wat haal jy uit hierdie gelykenis uit?

3 thoughts on “GELYKENIS 20: GEREED VIR OESTYD

Add yours

  1. Dit is goed om te weet dat groei wel plaasvind, al voel dit of niks gebeur nie. Dankie Attie dat jy ons help om te groei. Dankie vir al die kos wat jy ons gee. Meeste van die tyd wens ek ek was ‘n beter plantjie, raak ek moedeloos oor ek soveel tree agteruit neem of stil staan. Ek is so dankbaar dat God my liefhet en dat Jesus gaan kom en my vrymaak.

  2. Hoekom sukkel n mens so, indien jy n tree agteruit geneem het, om weer momentum te kry om vorentoe te beweeg? Dit is asof n wintertyd alles ingooi om jou in sy greep te hou, tewyl geestelike hongerpyne al hoe erger word. Wat gebeur wanneer die oestyd daar is en die winter is nog nie verby nie? Volharding is seker n antwoord, want soos jy se God sorg vir die groei en dit is nie altyd waarneembaar nie.

  3. Lady: Die groei gebeur sonder twyfel. Neem tyd en dink ‘n bietjie terug aan waar jy vyf jaar gelede was, en waar jy vandag is en jy sal teenoor jouself moet erken: Ek het gegroei.
    Winter: Ek dink mens sukkel om weer momentum te kry omdat mens nie God se vergifnis so vinnig aanvaar as wat Hy dit gee nie. Oestyd in wintertyd sal geen verskil maak nie. Mens moenie die voorbeeld so ver vat nie. Vir mense wat swaarkry in die tyd wanneer Jesus weer kom sal die wederkoms ‘n wonderlike uitkoms wees. Maranata – Kom Here Jesus.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: