NG BERGSIG 40ste VERJAARSDAG

Ons gemeente het hierdie naweek haar veertigste verjaarsdag gevier. Ons het al die vorige leraars na gisteroggend se erediens genooi. Net vier kon kom. Een is reeds oorlede, die ander een kon nie wegkom by sy eie gemeente nie en die ander een is oorsee. Na die erediens het ons ‘n gemeente-ete gehad. Elkeen het sy eie mandjie met eetgoedjies gebring en ons het heerlik onder die bome en onder sambrele gekuier.

Gisteraand was ‘n aand van lof en aanbidding. Die aand het basies bestaan uit skrifgedeeltes van lof en dank en aanbidding wat gelees is en dan liedere wat daardie skrifgedeeltes verwoord. Elkeen van ons vier huidige leraars het kans gekry om iets te sê oor sy bedieningstyd in die gemeente.

Daar is eintlik twee dinge wat my altyd sal bybly van NG Bergsig. Die eerste is dat dit ‘n gemeente is wat geleenthede skep vir ‘n nuwe begin. Toe ek en Renate getroud is was ek nie ‘n predikant nie. Ek was geskei en het op daardie stadium by die stadsraad gewerk en die behuisingsafdeling bestuur. Ek is nogal trots op dit wat daardie afdeling vermag het. Op ‘n dag het ek egter die oortuiging gekry dat die Here graag wil hê dat ek moet teruggaan bediening toe. Ek het aansoek gedoen. En die gemeente het my ondersteun. Dieselfde gemeente waar ek en my eerste vrou lidmate was, het my as geskeide man wat weer getroud is, terug verwelkom en my aansoek gesteun. ‘n Paar jaar later het ek ‘n deeltydse pos in die gemeente gekry en in 2003 het ek weer ‘n voltydse pos gekry. Ek sal die gemeente onthou as ‘n gemeente wat graag ‘n nuwe begin moontlik maak.

Die ander saak waarvoor ek die gemeente sal onthou is sonder twyfel hulle waagmoed. In 2003 het ons as gemeente ‘n groot waagstuk aangepak. My kollega Coenie Swart het die droom gehad dat ons tien tentgemeentes in ons buurdorp Tlhabane vestig. Dit sou ons R100 000.00 kos. Tydens ‘n sendingweek het ons die uitdaging aan die gemeente gerig en aan die einde van die week het ons die R100 000.00 gehad om tien tentgemeentes te vestig. Die gemeentes funksioneer steeds en volgende jaar gaan een van hulle begin om ‘n permanente struktuur op te sit.

Ek het daardie week besef dat hierdie gemeente ‘n saak waarin hulle glo sal ondersteun en enduit sal voer. Na die 10 tentgemeentes, het ons die een reuse uitdaging na die ander aangepak. Die gemeente het ons nie een keer teleurgestel nie. Elke keer het hulle ons stoutste verwagtinge oortref. Wanneer ons as die geestelike leiers in die gemeente die saak aan hulle kan oordra en hulle daarvan kan oortuig dat dit is wat die Here op hierdie stadium van ons as gemeente vra, dan was hulle betrokkenheid en deelname oorweldigend.

Sedert 2003 het ons gemeente se lidmaattal verdubbel. Die meeste lidmate wat bygekom het, het deel geword van hierdie kultuur. Einde verlede jaar het ons ‘n diensbaarheidsfees gehou. Ons het almal wat as vrywilligers by een of ander aksie van ons gemeente betrokke is genooi en meer as 1000 vrywilligers het opgedaag.

Ek gee graag al die eer aan die Here en erkenning aan ‘n gemeente wat bereid is om in gehoorsaamheid aan die Here te waag.

11 thoughts on “NG BERGSIG 40ste VERJAARSDAG

Add yours

  1. Ds. Ek is ‘n trotse lidmaat van NG Bergsig en sê dit vir almal wat wil hoor. Dit gaan nie vir my oor wat ek het daar nie maar wat ek elke week ontvang en dan kan uitgee in die week. Ek stem ook soos ander dat 2004 natuurlik vir my ‘n hoogtepunt was met Bruce Wilkinson en die groei wat ek daarna in 2005 ontvang het.
    Ek wil graag die vir Ding aanhaal. “jy is net die herder van die Herder se kudde… – Jy lei net die kudde en beskerm hulle…. ” Hiermee wil elkeen van julle ds. as geestelikke leiers dankie sê op die wyse waarmee julle voorgaan en die kudde lei. Elkeen van julle is ook uniek en dit maak dit ook anders – mag ons dit nooit verloor nie.
    Gisteraand was fantasties en om te luister na elke ds. se bediening in die gemeente het weer vir my bevestig hoe elkeen sy rol vervul. Dankie ook aan die gemeente wat dit spesiaal maak.

  2. Baie geluk met julle gemeente se 40ste verjaarsdag! Dis wonderlik om te lees hoe die Here ‘n gemeente gebruik om Sy koninkryk uit te brei. Seën en voorspoed met alles wat julle nog beplan!

  3. Dit is ‘n groot vreugde om deel van die leraarsspan van Bergsig te wees. Dankie vir talle lidmate soos helo en onnoembares wat in oordaad hul gehoorsaamheid uitleef. Die gelykenis #19 is natuurlik dadelik op die tafel. Die klem en waarskuwing wat Jesus rig is dat almal wat gawe/s ontvang het, dit voluit in geloofsgehoosaamheid moet gebruik. Oor my 17 jaar bedieningtyd kan ek talle mense opnoem wat op my lewe afgevryf het “soos mos”. Gawes in gelykenis 19 is nie geldwaarde nie. Die metafoor wat Jesus in die gelykenis gebruik fokus juis op die groter prentjie – die waarskuwing tot verantwoordelike dissipelskap – wat ‘n leeftyd aanhou. Onthou die gelykenis in Matt 25 is deel van die wederkoms gelykenisse. My bediening in die gemente bied soveel uitdagigs en geleenthede. Ek beleef dikwels bewondering dat die gemeente deur die jare verdraagsaamheid geleer het om ook vir my wat 8 jaar terug van depressie (chemiese anbalans) herstel het, te kon ruimte bied om voluit vir Hom te dien. Dit was inderdaad net genade tyd.
    Attie, ek wonder al lankal of daar nie oorweging geskenk moet word om op die blog ruimte te maak aan mense met verskillende seer of probleme waar ons mekaar kan bemoedig of versterk nie.

  4. Ag dis lekker om vir ‘n slag die mooi stories van gemeentes te hoor, ons hoor dit heeltemal te min! Gee ons voornemende dominees hoop. Ek bid dat God julle sal aanhou seen en dat julle gemeente Hom op ‘n besondere wyse sal ervaar!

  5. Dankie vir almal se goeie wense.
    HeLo: ons waardeer jou ook darem in die gemeente en dit is lidmate soos jy wat daartoe bydra dat die gemeente is wat die gemeente is.
    kaalvoetkind: Dankie vir jou mooi wense.
    herman: Ek sal bietjie dink oor hoe ons mekaar kan bystaan wanneer ons seer het. Wat ek van tyd tot tyd doen is om vrae wat mense vir my stuur op die “blog” te plaas om te kyk hoe die ouens reageer.
    BiB: Ek moet darem ook noem dat ek baie gelukkig is om in ‘n gemeente soos hierdie te kan dien. Die gemeente is vir my baie goed. Van tyd tot tyd moet ek hard stry teen moedeloosheid wanneer daardie onnodige en onregverdige negatiewe inligting oor my pad kom. Ek gee nie om vir billike en regverdige kritiek nie. Wat my my kop laat optel is die oorweldigende positiewe en opbouende ondersteuning wat ek van baie mense af kry. Dit is wat die gemeente ‘n wonderlike gemeente maak.

  6. Agapé Gemeente (Rustenburg) wens julle van harte geluk met 40 jaar van getroue Getuienis vir die Meester, Attie! Dis lekker om saam met manne soos jy en Herman, asook Oom Jan en Coenie te werk. Soos Rick Warren sê: “You need all kinds of churches to reach all kinds op people”. Ek is SO dankbaar vir die reuse werk wat Bergsig in Rustenburg doen. Keep it up, guys! Julle is ‘n seën vir die Liggaam van die Here. Voorspoed! Ds Dawie de Koker

  7. Dit was ook my en my gesin se voorreg om 35jaar reeds in hierdie gemeente te wees van die skoolsaal se byeenkomste,en die motorhuis se Kerkraadsvegaderings waar ons “ge suit en ge tie “gesit het in die pastorie se motorhuis.In hierdie gemeente kon ons leer ,en groei in die geloof en geborge kon voel.Die Here het verskeie leraars gestuur,en by almal het ons geleer.Ons kon ook beskeie bydraes maak,soos Gerda wat altyd pannekoek bak,soos om rou grond in tuin te omskep voor die eerste dienste begin het voor die kerkinwyding ,ons was tog so bang dat die reenwaters van die pad af die kerkgebou gaan oorstroom,of dat die mense klei op die matte gaan intrap.
    Laat ek met my “ramblings of an old man”ophou.
    Ons dank die Here vir 40 jaar,en vetrou die Here vir die toekoms.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: