Die naweek was net te besig om oor gelykenis 17 en 18 te skryf. Vrydagaand ‘n personeelfunksie waar ons eers half twee die oggend byhuis instap. Vrydag Pretoria toe om Elane aanlegtoetse en sulke dinge te laat skryf en Saterdag-oggend weer terug om die uitslae te gaan aanhoor. Sondag ons gemeente se veertigste verjaarsdag wat ons gisteraand afgesluit het met aand van lof en aanbidding wat selfs vir my wat dit gelei het na my asem laat snak het. Ek het gisteraand op ‘n stadium gedink ek staan in die hemel met ‘n skare van engele rondom my wat almal saam sing: Heilig, heilig, is die Heer God almagtig.
“Verder gaan dit soos met ‘n man wat op reis wou gaan . Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir ‘n ander twee, en vir ‘n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan.
Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en ‘n wins gemaak van nog vyf. So ook die een wat twee gekry het: hy het ‘n wins gemaak van nog twee. Maar die slaaf wat een gekry het, het ‘n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.
Na ‘n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra. Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, kom toe en bring die ander vyf saam, en sê: ‘Meneer, vyf goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met vyf ander wat ek wins gemaak het.’ Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’
Toe kom die een met die twee muntstukke en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met twee ander wat ek wins gemaak het.’ Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’
Toe kom die een wat een goue muntstuk ontvang het en sê: ‘Meneer, ek ken u en weet dat u ‘n harde man is, wat oes wat u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie. Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug. Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Jy is ‘n slegte en lui slaaf! Jy het geweet dat ek oes waar ek nie gesaai het nie en pluk waar ek nie geplant het nie. Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit met my koms met rente teruggekry het. Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat tien het. Aan elkeen wat het. sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê, maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het weggevat word. En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.” (Matteus 25:14-30)
Daar is geen twyfel dat die fokus hier geplaas word op die man met die enkele talent. Die nuttelose (useless) slaaf het die talent begrawe sodat hy dit presies net so aan die eienaar kan teruggee. Die Fariseërs en die skrifgeleerdes het die wet presies tot op die letter gehoorsaam. Hulle het dit self beskryf as dat hulle ‘n muur rondom die wet bou. Enige verandering was vir hulle ondenkbaar en sou met alle mag beveg moes word. Soos die slaaf met die enkele talent was hulle begeerte om alles te hou net soos dit is. In hierdie gelykenis leer ons dat daar geen godsdiens sonder waagmoed kan wees nie en dat ‘n verstokte onveranderlikheid nie baie vir die koninkryk kan beteken nie.
Maar die gelykenis beklemtoon ook die volgende:
(i) Verskillende mense kry verskillende gawes. Elkeen van die drie kry talente volgens sy bekwaamheid. (Vers 15) Dit is nie die hoeveelheid talente wat regtig saak maak nie, maar hoe ‘n mens die wat jy het gebruik. Die Here verwag nooit by ons vermoëns wat ons nie het nie, maar hy verwag wel dat ons ten volle sal gebruik dit wat ons het. “Men are not equal in talent; but men can be equal in effort.” Watter talent ons ookal het, ek moet daardie talent in God se diens gebruik.
(ii) Die loon van werk wat goed gedoen is, is nog werk om te doen. Die eerste twee slawe word nie nou togelaat om terug te sit en te rus nie. Oor min was hulle getrou oor nog meer word hulle aangestel.
(iii) Die een wat gestraf word, is die een wat nie probeer het nie. Te veel kere dink ons dat ons talente te min en dat dit nie regtig ‘n groot verskil sal kan maak nie, maar die doel van die gelykenis is duidelik: Waag met dit wat jy het.
(iv) In rugby is daar ‘n reël wat sê: “Use it or lose it.”Iemand wat nie met die gawes wat die Here vir hom/haar gegee het in die koninkryk werk nie, gaan agterkom dat die gawe of talent van hom/haar weggeneem word. Dink mooi – dit is waar van enige vaardigheid wat ‘n mens het. As jy dit nie beoefen nie, dan verloor jy die vermoë om dit te kan doen.
Dink bietjie hieroor:
- Daar kan nie godsdiens sonder waagmoed wees nie.
- Wat dink jy was die man wat op reis gegaan het se verwagting van die slawe wat hy gelos het?
- Wat met die twee slawe wat met hulle talente gewoeker het?
- Hoe sou jy daaroor voel as jy meer verantwoordelikheid kry omdat jy iets goed gedoen het?
- As ons Meester vandag sou terugkom, wat sou sy reaksie wees wanneer jy voor Hom staan?
- Wat dink jy beteken dit om te deel in die vreugde van die Eienaar?
Ek is dankbaar vir elke gawe wat die Here vir my gegee het. Ek probeer om aan hom al die eer te gee wanneer ek eerstens sê dat ek meer as een gawe gekry het. Maar ook, wanneer ek terugkyk op my lewe dan sien ek hoe die Here talente en gawes bygegee het na die mate waarin die situasie dit vereis het, maar dan ook omdat ek bereid was om te waag met dit wat ek gehad het. Die vrees vir mislukking is altyd daar wanneer ‘n mens waag, maar niks vergelyk met die staan voor die Meester met die woorde: U het vir my twee gegee, hier is nog twee terug.
Hierdie is een van my gunsteling gelykenisse omdat dit my soveel vrae laat vra en laat dink.
1) Hier word van geld gepraat en almal kry geld. Dus, nie verskillende artikels nie maar dieselfde ding –net meer of minder daarvan.
2) Dis reg om te woeker met geld en tot 100% wins te maak oor n kort tyd.
3) Dit is moeiliker om n groot hoeveelheid te verdubbel as n kleintjie.
4) Dit sou baie maklik gewees het om net die geld te bank.
5) Die 2 slawe het alles terug gegee en nie vir hulle self n deel van die geld gehou nie, hulle is ook nie n deel van die wins betaal as hulle loon nie.
6) Ons verstaan nie die verhouding tussen slaaf en eienaar nie. Dit lyk of hierdie slawe gehou het van hulle omstandighede. Dit was n groot bedrag en die slaaf kon daarmee gevlug het en ‘n beter lewe elders begin het met al die geld.
7) Die groot vraag is: wat sou gebeur as die slaaf misluk het al het hy sy bes probeer, of die geld verloor het, of as iemand dit gesteel het?
8) Die slaaf kry nou meer verantwoordelikhede en die risiko om te misluk word groter, so hoekom wil hy dit doen. (onthou hy word nie betaal nie, op die beste kry hy ‘n gratis ete)
Die gelykenis #19 plaas die klem en waarskuwing wat Jesus rig is dat almal wat gawe/s ontvang het, dit voluit in geloofsgehoosaamheid moet gebruik. Oor my 17 jaar bedieningtyd kan ek talle mense opnoem wat op my lewe afgevryf het “soos mos”. Gawes in gelykenis 19 is nie geldwaarde nie. Die metafoor wat Jesus in die gelykenis gebruik fokus juis op die groter prentjie – die waarskuwing tot verantwoordelike dissipelskap – wat ‘n leeftyd aanhou. Onthou die gelykenis in Matt 25 is deel van die wederkoms gelykenisse.
Die Nuwe Lewende Vertaling praat nie van ‘n gelykenis nie, maar van ‘n voorbeeld. Wanneer Jesus ‘n gelykenis vertel of ‘n voorbeeld gebruik dan gebruik hy die bekende (In hierdie geval talente of muntstukke of geld.) om die mense wat luister te help om die onbekende (In hierdie geval die gawes, vaardighede, vermoens, ens. wat ons in diens van die koninkryk moet aanwend. Ek dink dit is ‘n risiko om uit hierdie voorbeeld afleidings te maak oor hoe ‘n mens geld hanteer.
Waarom word die eienaar beskryf as ” iemand wat oes waar hy nie gesaai het nie, pluk waar ek niegeplant het nie” In konteks het dit tog ‘n invloed op die die een gehad wat net een muntstuk gekry het.
Andre
Dit was die boodskap wat die “REVERENT” wat Mandela se begrafnis gelei het ook gehad het. Teenstrydig met die idee wat ek gevorm het van die geleikenis, is Mandela as die slaaf beskryf wat sy talent begrawe het omrede hy die eienaar ken en weet hoe hy besigheid doen.. As hy dan nou nie van die eienaar gesteel het nie….hoekom uitgegooi omdat hy geregtigheid in ag geneem het?