Iemand het my gevra om ‘n paar sinne te skryf oor geestelike volwassenheid. Ek skryf graag ‘n paar gedagtes daaroor neer.
Geestelike volwassenheid is ‘n proses wat begin by geloof in Jesus Christus as verlosser. Die Heilige Gees werk weergeboorte in ‘n mens en die weergebore mens kies dan om sy lewe in Christus te lewe. Volgens Fil. 3:12-14 verstaan Paulus geestelike volwassenheid as ‘n proses en nie as iets wat hy reeds bereik het nie. Hoeveel te meer is dit dan nie waar van ons nie.
Romeine 12:1-2 beklemtoon dat elkeen wat strewe na geestelike volwassenheid ‘n keuse moet maak om God se Woord te ken, toe te laat dat die Woord ons anders en nuut laat dink en dan dit wat ons geleer het in die praktyk toepas deur gehoorsaamheid.
Wat is die kenmerke van geestelike volwassenheid? Geestelike volwassenheid is om in gehoorsaamheid aan God te wandel. Die gedagte kom uit Gal 5:16 en 25. In vers 16 word die Griekse woord peripateo gebruik. Die woord beteken om te loop met ‘n spesifieke doel in gedagte. Met ander woorde: Doelgerigte stap. Die kind van God is doelgerig besig om in die rigting van geestelike volwassenheid te beweeg.
Die woord in vers 25 is stoicheo wat weer beteken om tree vir tree, een treetjie op ‘n slag te gee. Dit is die woord wat gebruik word wanneer iemand onder iemand anders se leiding leer loop. Aangesien die Heilige Gees in elke gelowige woon, beteken geestelike volwassenheid dat ons leer om van oomblik tot oomblik onder die leiding en beheer van die Heilige Gees te lewe. Doelgerig oppad na geestelike volwassenheid, maar een treetjie op ‘n slag onder die leiding van die heilige Gees.
Hoe leer mens om onder die beheer van die Heilige Gees te lewe? Volgens 2 Timoteus 2:15; 3:16-17 bestudeer mens God se Woord. Geestelike volwassenheid is ‘n keuse om God se Woord toe te pas en mens se alledaagse omstandighede. Die rede waarom daar ‘n gebrek aan geestelike volwassenheid is, omdat die bestudering van die Woord van God nie tot uitdrukking kom in oomblik tot oomblik gehoorsaamheid aan die beginsels van die Woord nie. Geestelike groei na volwassenheid kom wanneer mens treetjie vir treetjie God se Woord toepas in elke aspek van jou lewe.
Geestelike groei behoort ‘n prioriteit te wees in elke kind van God se lewe. Hebreers 5:13-14 leer ons dat ons nie op melk geestelik kan groei nie. Vaste kos help die kind van God om te onderskei tussen reg en verkeerd. Ons moet die Woord van God bestudeer en dit wat ons leer toepas in ons alledaagse lewe terwyl ons van oomblik tot oomblik, treetjie vir treetjie onder die leiding van die Heilige Gees lewe.
2 Petrus 1:3-9 herinner ons daaraan dat God self die bron van ons geestelike groei is. By weergeboorte gee Hy vir ons alles wat ons nodig het om tot geestelike volwassenheid te groei. Alhoewel elke weergebore kind van God alles het wat hy/sy nodig het om geestelik te groei, bly dit steeds ‘n keuse wat elkeen moet maak. geestelike volwassenheid kom nie vanself nie. Die persoon wat die Here die langste dien is nie noodwendig die geestelik meer volwasse persoon nie. Die persoon wat die Woord die beste ken is nie noodwendig die geestelike meer volwasse persoon nie. Die persoon wat in gehoorsaamheid aan die beginsels van die Woord lewe is die geestelik meer volwasse persoon.
Die vraag is: Sal jy die keuse maak om die beginsels van God se Woord toe te pas in jou lewe? Die wonderlike resultaat van ‘n keuse om onderdanig en gehoorsaam aan God te lewe is dat jy gaan verander. God self is besig om elkeen van ons te verander om volgens 2 Korintiërs 3:18 al hoe meer soos Jesus te wees. Die eindresultaat van geestelike groei is ‘n Jesus-gelykvormige lewe en dit gebeur wanneer ‘n kind van God kies om onder die beheer van die heilige Gees in gehoorsaamheid aan die Woord van God te lewe.
Geestelike volwassenheid is ‘n lewenslange proses en die gevlolg van ‘n keuse – ‘n daaglikse keuse om in gehoorsaamheid aan die Woord van God te lewe.
More-more, Doom!
Doom, ding moet bieg, ding sal later vandag in meer besonderhede lees – ding het nou vinnig ‘n oog gegooi – net ‘n vinnige wakkermakertjie kom sluk, sommer so staan-staan – die lande roep.
Doom, vir ding om die kennis te he van geestelike volwassenheid is goed en gaaf, ja – soos vir ‘n kind om te leer en te weet dat daar sekere veranderinge op pad is omdat hy groei en groter word, ne. Maar ai, Doom, daai groeipyne… Doom, watter kant kies jy as altwee kante vir jou teksverse uit die Bybel skree en elke kant sy bestaan regverdig met ‘n inleidende “Dit is God se wil, hier staan dit in die Skrif…”? Ai Doom, kan die Heilige Gees dan nie maar net partykeer met so ‘n bietjie harder as ‘n fluisterstem praat nie, eh?
Ding: Jong, dit is ‘n moeilike vraag. Ek weet nie of dit gaan help nie, maar ek dink dit het te make met hoe ‘n mens oor die Bybel dink en voel. Ons het groot geword met die gedagte: Ken die Bybel. Die Bybel gee vir jou net eenvoudig ‘n antwoord op al jou probleme en as jy die Bybel ken, dan sal jy nooit twyfel oor wat om te doen nie. As mens klein bietjie eerlik wil wees, dan moet jy sê: Dit werk nie altyd so nie. En dit is wat jy nou sê. Daarom skuif die klem na ‘n persoonlike verhouding toe. Geestelike volwassenheid en die nabyheid van my verhouding met God gaan hand aan hand. In ‘n intiem persoonlike verhouding met God is die Bybel openbaring van God – met ander woorde, ek leer God beter ken. Ek begin verstaan hoe Hy dink en hoe Hy voel en wat Hy wil. Vanuit daardie intimiteit kom die leiding dikwels makliker.
Dit is maar hoe ek vir my hierdie moeilike saak bedink. Lewer asseblief kommentaar.
Doom, ding het nou rustiger loop lees (reën nou hier; so, werk oppie lande is uit). In beginsel stem ding saam met alles wat Doom sê hierbo. Dit is logies deurdenk, sistematies, eenvoudig en kompak beredeneer en uiteengesit.
Wat Doom sê van die geestelike groei in ‘n persoonlike verhouding met God, eggo ding ook. Dit IS mos net so. Maar Doom, ding vra alweer – knaend soos die Klein Prinsie, ne 🙂 – Doom, nou wil ding hier in ‘n rigting in loop, maar dit beteken noodwendig dat ding iemand gaan seermaak/teleurstel … ag wat, makie sakie, die woorde wil net nie regval nie. Wat Doom sê, is waar. Hierdie geestelike tiener moet seker maar net ‘n slag die ore behoorlik skoonmaak dat ding die rigting beter kan hoor.
Dankie vir ‘n sinvolle inskrywing, Doom.
Ding: Ek wens ek kon sê mens kom in jou geestelike volwassenheid op daardie punt waar jy net nooit meer oor enige iets onseker is nie en waar jy elke keer presies weet wat die regte ding is om te doen, maar dit gebeur nie. Juis daarom is die klem in die kerk besig om weg te skuif van die fokus op die individu na die fokus op die geloofsgemeenskap. ‘n Groep gelowiges saam het baie beter insig as enige individu op sy eie. Hierdie “blog” word vir my so ‘n geloofsgemeenskap waar ons by mekaar leer. Saam luister en na mekaar luister – maar met daardie ding sukkel ons Afrikaners nog erg. Elkeen van ons dink ons het al die insig en kennis en al die ander moet luister.
Maar ek dink ek praat te veel.
Attie, hierdie is ‘n belangrike saak wat ons gelowiges so min van verstaan. Ek voel ook soms soos ding dat mnes die ore moet skoon maak vir die Gees om waarlik sy woorde te kan fluiser. Een saak wat nog nie genoem is by jou bespreking in #4 by geloofsgemeenskap nie, is huwelke en gesinne. Vir my is die geloofsgemeenskap nie net die kleingroepe of kerkganers nie, maar ook my huweliksmaat of gesinslede. Geestelike volwassenheid se grootste uitdaging blyk te wees om teenoor mense wat die naaste aan my leef – huweliksmaat en gesinslede- juis so op te tree dat die koninkryk gebou kan word. Die uitdaging blyk te wees om hulle te betrek by my groeiproses. Die ewebeeld van Christus wat ek daagiks uitleef moet aan my gesinslede die sekuriteit bied om in my voetspore die Here te volg. ‘n Seun of dogter sal ‘n ouer wat gees- gehoorsaam leef, deurgaans volg – dalk is ek naief hier? Geestelike volwasse mens, kan net deur die Woord en Gees wat gesamentlik werksaam is, vrugte dra.
Herman: Inderdaad,: “Charity begins at home.” As ek nie ‘n Christen in my huis kan wees nie, gaan ek sonder twyfel nie ‘n Christen by die werkplek wees nie. Alhoewel die gesin die kleinste vorm van ‘n geloofsgemeenskap is, mag dit nie die laaste wees nie. Ek begin al hoe meer die gedagte kry dat dit Christene se taak en verantwoordelikheid is om die koninkryk van Jesus Christus aanwesig te stel hier op aarde. Brian McClaren stel dit so: “If our theolgies make us focus only on the eternal and the individual (i.e. getting my soul into heaven) so that we avoid God’s concern for the historic and global (i.e. God’s will being done on earth as well as in hevaen) then the more people we win over to our theologies, the fewer people will care about God’s world here and now.”
Ek is tog bekommerd oor die tipiese “evangelical” klem wat ek meer en meer hoor – en wat my ook selfs beinvloed, waar hierdie lewe net ‘n oorgangstyd is en nie regtig belangrik is nie. As ek Openbaring 21:3-5 reg verstaan, gaan God se woonplek hier by ons wees: “Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor se: ‘Kyk die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volk wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oe afdroog. Die dood sal daar nie wees nie. Ook leed, smart en pyn, sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeer het verbygegaan.’ Toe se Hy wat op die troon sit: ‘Kyk ek maak alles nuut.'”
‘n Langerige reaksie op jou opmerking. Eintlik net om te se dat dit in die huise en in die gesin begin, maar gelyktydig ook die wereld moet bereik. Die kerk met al sy gebreke en stukkende verhoudings sal nooit alles kan wees, wat Jesus bedoel het die koninkryk moet wees nie, maar totdat Jesus kom is dit al wat die wereld het.
Ek dink geestelike volwassenheid het ten doel om Christene in hierdie wêreld los te laat wat Jesus gelykvormig lewe. Die persoon wat alles weet, maar niks gehoorsaam nie, beteken vir die koninkryk minder as die laerskool kind wat ‘n klein bietjie weet, maar dit wat sy weet sy moed doen, doen! Ons word mislei deur te dink dat die mense met baie kennis geestelike volwassenes is.