GELYKENIS 16: DIE GOEIE VERRUIL VIR DIE BESTE

Ek het gisteraand gelyktydig twee jaar-eindfunksies gehad. Ek het vanaand nog een. Gisteraand moes ek ‘n keuse maak. Ek moes besluit watter een gaan ek bywoon en watter een gaan ek nie bywoon nie. Die een was afsluiting van die Beheerliggaam van die hoërskool waar ons kinders is en die ander een was die byeenkoms van al die NG Predikante van Rustenburg en hulle vrouens. Aangesien ek die voorsitter is van die groep van predikante, kon ek nie anders nie, ek moes die geleentheid bywoon. Daarmee saam is die geleentheid vir die predikante en hulle vrouens eerste genooi. So neem almal van ons besluite om sekere uitnodigings aan te neem en ander nie. Vandag se voorbeeld gaan oor mense wat God se uitnodiging gekry het, maar dit nie aanvaar het nie.

“Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. Hy het gesê: ‘Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n koning wat vir sy seun ‘n bruilofsfees voorberei het. Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’

Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en ‘n ander een na sy werkplek toe gegaan. En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek.

Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe. Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword.

Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy hy daar ‘n man wat nie bruilofsklere aanhet nie, en hy sê vir hom: “Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie. Toe sê die man vir sy dienaars: ‘Bind sy sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.

Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.” (Matteus 22:1-14)

In verse 1-14 is eintlik twee voorbeelde en nie net een nie. Verse 1-10 is die eerste voorbeeld en verse 11-14 is die tweede voorbeeld.

Die gebeure in die eerste gelykenis is ‘n voorbeeld van hoe dit werklik was in die tyd toe Jesus op aarde gelewe het. Wanneer mense na ‘n groot bruilofsfees genooi is, was die tyd nooit op die uitnodiging aangedui nie. Wanneer alles gereed was, is die slawe met ‘n laaste boodskap uitgestuur dat die fees nou gereed is en dit nou tyd is om te kom. Dit was ‘n belediging om so ‘n uitnodiging van die hand te wys.

Eerstens verwys hierdie voorbeeld na die Jode wat as volk van die verbond reeds die uitnodiging ontvang het. Nou word hulle genooi om die Seun van God te volg, en hulle weier. Die gevolg was dat die uitnodiging na alle ander mense uitgegaan het wat nie ‘n uitnodiging verwag het nie.

Tweedens het die voorbeeld ook wyer betekenis:

(i) God se uitnodiging is ‘n uitnodiging na ‘n fees toe. Mense word uitgenooi na vreugde, dit is vreugde wat hulle mis as hulle nie die uitnodiging aanvaar nie.

(ii) Die dinge wat mens doof maak vir God se uitnodiging is nie noodwendig slegte dinge nie. Die een het na sy stuk grond toe gegaan en die ander een na sy werkplek toe.Dit is heel moontlik dat ons so besig kan raak met die dinge in die tyd dat ons heeltemal van die ewigheid vergeet; so besig met die sienlike dinge, dat ons die onsienlike dinge heeltemal mis kyk; so besig om te luister na die oorverdowende uitnodigings van hierdie wêreld, dat hulle nie die sagte uitnodigings van die stem van die Here Jesus hoor nie. Tragies dat die dinge wat ons weghou van die beste dikwels die goeie is.

(iii) Hierdie uitnodiging herinner ons nie aan wat ons straf gaan wees as ons nie die uitnodiging aanvaar nie, maar wat ons alles gaan mis. As ons die uitnodiging nie aanvaar nie, sal ons grootste pyn eendag nie wees die straf wat ons moet verduur nie, maar die besef van die vreugde en feestelikheid waarin ons nie deel nie.

(iv) God se uitnodiging is ‘n uitnodiging van genade. Die mense wat op die ou end genooi word het absoluut geen verbintenis met die koning nie. Daar was hoegenaamd geen verwagting dat hulle ‘n uitnodiging na die bruilof sou kry nie. Die uitnodiging was ‘n handeling in genade deur ‘n koning met oop arms en ‘n oop hart.

Die tweede voorbeeld is die van ‘n man wat toe by die bruilof opdaag en nie die regte klere aanhet nie. Hierdie tweede voorbeeld maak ten minste twee belangrike punte:

(i) Dit is waar dat die uitnodiging na die bruilofsmaal van God se genade uitgaan na alle mense, maar wanneer hulle kom, moet hule ‘n lewe bring wat die liefde en genade wat aan hulle gegee is, komplimenteer. God se genade is aangebied en gegee vanuit die vrye hart van God, maar die aanvaarding van die genade het ook ‘n verantwoordelikheid. ‘n Mens kan nie aangaan om te lewe soos hy gelewe het voordat hy Jesus Christus ontmoet het nie. Die mens wat Christus Jesus as Verlosser leer ken het, moet aangetrek word in ‘n nuwe lewe van reinheid, heiligheid en gehoorsaamheid. Die deur is oop, maar die deur is nie oop vir die sondaar om in te stap en ‘n sondaar te bly nie. Die deur is oop vir die sondaar om in te stap en ‘n heilige mens te word.

(ii) Die manier waarop ‘n mens aantrek na ‘n funksie, wys jou gesindheid. As ek vir my vriend gaan kuier, dan daag ek nie op met my oudste en vuilste klere waarmee ek die dag in die tuin gewerk het nie. Natuurlik weet ek dat dit nie vir my vriend oor my klere gaan nie. My kleredrag het wel te make met respek vir my vriend en vir ons vriendskap. Omdat ek respek het vir my vriend en vir ons vriendskap, daag ek so netjies as moontlik by my vriend se huis op.

Hierdie voorbeeld het niks te sê oor die klere wat ons aantrek wanneer ons kerk toe gaan nie. Die vraag is watter gesindheid trek ek aan wanneer ek kerk toe gaan om die Here te gaan ontmoet. Die regte gesindheid om in die teenwoordigheid mee op te daag, is positiewe verwagting, nederige verootmoediging, opregte geloof, heilige eerbied. Al te dikwels gaan ons om die Here saam met ander gelowiges te ontmoet sonder enige voorbereiding hoegenaamd. As elke persoon wat ‘n erediens of ‘n kleingroep byeenkoms gaan bywoon voorbereid kom om te aanbid, sal elke geleentheid ‘n aanbiddings-geleentheid by uitstek wees. Voorbereiding deur ‘n kort gebed, ‘n eenvoudige fokus van die gedagtes, ‘n klein bietjie self ondersoek. Dan sal die erediens ‘n aanbiddings-moment wees waar dinge in mense gebeur terwyl hulle in die kerk is; deur mense gebeur terwyl hulle in die wêreld besig is en die lewe van die kerk en die gemeente sal meer en meer God-verheerlikend word.

Hoe dink jy oor die gedagte dat God se uitnodiging ‘n uitnodiging na vreugde en feestelikheid is? Hoe het jy hierdie uitnodiging beleef?

Wat is jou mening oor die gedagte van die regte of verkeerde klere?

Stem jy saam? Hoekom stem jy saam?

Stem jy nie saam nie? Hoekom stem jy nie saam nie?

Wat dink jy kan ‘n mens doen om te verseker dat jy die bruilofsfees bywoon en die regte klere aanhet?

5 thoughts on “GELYKENIS 16: DIE GOEIE VERRUIL VIR DIE BESTE

Add yours

  1. “Tragies dat die dinge wat ons weghou van die beste dikwels die goeie is.”

    Ding worstel met hierdie ene – maar mos al geruime tyd. Hoe weet jy? Dominee, HOE weet jy watter is die goeie en watter is die beste?

    Maar gaaf, oorwegend is daar darem die verskil, ne, dat manman nou nie juis ‘n uitnodiging na sy werkplek ontvang nie – so, gewoonlik is daar darem ‘n redelike aanduiding van watter is die beste en watter is die goeie.

    Ding wil raaksien dat die uitnodiging inderdaad na vreugde en feestelikheid is, maar daar is ook die proviso: die regte gesindheid; opregtheid; dankbaarheid; respek (die klere gedeelte). Ja, dit is so, jy word genooi, en dit is ‘n uitnodiging na vreugde en feestelikheid, maar onthou, niks het net regte nie – elke reg bring ‘n verpligting/ ‘n verantwoordelikheid. Ding hou mos maar eintlik baie, baie van hierdie spesifieke gelykenis.

    Ligter, tog ernstige, meer aardse toon: Dankie, Doom, nou weet ding hoekom ding nie vriende het nie. Daar is nie ‘n manier dat ding hom laat voorskryf deur etiket wat om aan te trek nie. (.) Ding reken ding se vriende kan goed voel as ding hulle hoegenaamd besoek – nevermind in watse klere hy daar opdaag! hehe. Maar nee, regtig, hoor – ding het ‘n broertjie dood aan die persepsie dat klere ‘n bepaalde boodskap uitstuur. Wie so vlak wil kyk, verdien om mislei te word.

    Wat manman moet doen om bywoning van die bruilofsfees te verseker en die regte klere?
    LUISTER na die stem in jou siel. Wees gehoorsaam aan die stem in jou siel. Dit is die uitnodiging wat jy ontvang en aanneem. Wees opreg in jou geloof en bely in jou woorde en dade dat jy lewe volgens die oortuiging dat jy nie aan jouself behoort nie, maar aan God. Dit is die bruilofskleed.
    Vir ding in elk geval.

    Dankie Doom! Was DIT nou aangenaam om saam met Doom my sonopkoffietjie te drink en dagbreek rokie te rook!

  2. Ding: Juis praat hierdie gelykenis van klere maar eintlik nie van klere nie. Die Here kyk mos by al die “suits” en goete-dinge verby. Hy kyk mos hoe ek my hart net vir Hom aangetrek het. En daardie stem van jou siel, dit sê ons moes nou is die werk van die Heilige Gees in jou. ‘n Naby verhouding met die Here, help dat ek die goeie van die beste kan onderskei.
    Ek sien jy is ‘n vroeë man. Lekker om so saam te kuier. Dit voel amper of ons mekaar ken. Daardie rokie moet sekerlik ‘n pyp wees?

  3. Yep, ja, daai ene, Doom. Oor alles wat Doom nou gesê het. En ook die pyp, ja. Kyk, ding doen mos vroegmôre die pyp ene op die trappies met die eerste koffie, kompleet uit ding se rooi blikbeker uit. Maar dis by die trappies by die agterdeur. Pyprook is vir lekker rook. Maar ding stook ook maar die kameeltjies, hehe. Ja, is nogals vreemd – die dat manman vir Doom hier in die kurberruim raakgeloop het, terwyl dit eintlik maar vir ding voel asof hy vir Doom al met die hand groet wanneer ons gesels. Siele – gawe goete.

  4. Tog verbasend dat mens voel jy leer mekaar so oor die kuberruim ken. Die sakie oor die regte klere is vir my ‘nworsteling. Ek verstaan nou vanoggend dat dit die manier is waarop ek my vir die Bruidegom se onthaal aantrek en net die Pa van die Bruidegom sal besluit of ek reg aangetrek is of nie. Vir my is dit belangrik, want ek voldoen so dikwels nie aan mense se standaarde nie, terwyl ek in my verhouding met die Here nie skuldig voel nie. Die Here ken my hart. Die Here sien dat ek nie by Hom skynheilig probeer wees nie.

  5. ding: Ek was in die “army”. Daardie jare. As mens “oorlog” toe gaan is die goedkoopste manier mos maar ‘n pyp en twakkies wat gestook word en dan met groot behaaglikheid gerook word. Maar toe die Here my binnekant buitekant toe kom omdop het, was twakkies een van die eerste dingetjies waarvan ek met groot vreugde afstand gedoen het. Min dinge ruik so lekker as wanneer iemand ‘n pyp aansteek.
    dissipel: Mense meet ons dikwels aan hulle eie swakpunte sodat hulle kan weet dat hulle nie regtig so sleg is nie. Ons mag egter nooit ooit die grootheid van God se genade misbruik om aan te hou met sondig nie. Een van die redes waarom ons in ‘n naby verhouding met God moet leef, is sodat ons ons optrede kan toets aan ons gewete.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: