DEON MAAS AFGEDANK

Gisteraand oppad huistoe van ‘n jaareindfunksie luister ons nuus. Groot was my verbasing om te hoor dat Tim du Plessis aankondig dat Deon Maas se dienste by Rapport beëindig is. Dit alles omdat Deon Maas in sy rubriek gereken het dat satanisme die reg het om as ‘n godsdiens beoefen te word. Natuurlik is Deon Maas se werk om reaksie uit te lok. Nou het hy dit gekry, en nou moet hy nie huil nie. Hy kan skryf wat hy wil, die lesers kan mobiliseer as hulle wil. Dit het nou gebeur.

Ek hoor oor die nuus dat Deon Maas sê dat die ouens wat die WSJD (Wat Sal Jesus Doen) armbandjies dra hier nie gemaak het soos Jesus sou gemaak het nie. Ek wonder of Deon Maas vir een enkele oomblik dink dat Jesus sou stilgebly het as iemand probeer om satanisme ‘n godsdiens met bestaansreg te laat wees.

Ek is opgewonde daaroor dat Christene hierdie ding kon regkry. Dat ons met dreigemente van ‘n boikot hierdie ding kon laat gebeur. By ‘n vorige geleentheid het ons in Rustenburg op hierdie manier standpunt ingeneem teen ‘n popgroep wat later landswyd uitgekring het en volgens ons wonderlike gevolge gehad het.

Ek wil ook maar waarsku soos Prof Hennie Stander dat ons nie nou hierdie vermoë wat ons ontdek het vir elke liewe ding moet gebruik nie, maar dat ons as Christene mooi moet kies wanneer ons op hierdie manier ‘n geveg wil aanknoop.
Hy gebruik die voorbeeld van Daniël en sy vriende. Daniël en sy vriende het toegelaat  dat hulle na Nebukadnesar se paleis geneem word, dat hulle op ‘n Babiloniese onderwysprogram gesit word en dat hulle Joodse name weggeneem word en dat hulle Babiloniese name kry. Maar die koning het te ver gegaan toe hy van hulle verwag om die Bybelse voorskrifte oor kos te verontagsaam. Hulle het standpunt ingeneem en gesê: Ver genoeg. Doen wat julle moet doen, maar hierdie keer gaan ons nie toegee nie.

34 thoughts on “DEON MAAS AFGEDANK

Add yours

  1. Ek het gewonder of ons as Christene iets gaan regkry met die veldtog. Ek is bly ons het. Dalk kan ons weer vir sulke dinge wat regtig belangrik is begin saamstaan. Ek hoop ook net dat ons nie nou weer vir elke dingetjie wat gaan gebeur met sms’e oorlaai gaan word nie. Miskien moet iemand ‘n sms veldtog begin wat sê: Koop Sondag rapport al het jy hom nog nooit gekoop nie, en wys jou ondersteuning aan Tim du Plessis wat ‘n moeilike maar dapper besluit geneem het.

  2. Soos ek nou reeds op 3 (of meer) ander blogs gese het: Die hartseer van die Maas-aangeleentheid, is dat ‘n baie middelmatige “denker” soos Maas, soveel publisiteit kry. Maas se mening is vir my so irrelevant soos die van my goudvis wat oopmond-toemond in die bak rondswem! Ignoreer die man! Hy is ‘n grap!

  3. Is die lesers se ekwivalente reg (aan Maas se reg om te skryf wat hy wil) nie juis om te antwoord en die debat te wen nie? Nou het hulle hom afgedank gekry. Maar het hulle die argument gewen?
    Ek dink nie so nie – inteendeel, hulle het maar net bewys dat Afrikaanse Christene nie kan debat voer nie, en as iemand hulle sienings uitdaag tree hulle kragdadig op.

  4. Ek wil bysê dat ek eintlik met Boer saamstem dat Maas se mening(s) irrelevant is.
    As iemand se opinies irrelevant is hoef mens hom nie te lees of op sy skrywes te reageer nie.

  5. Ek dink dit is gedeeltelik waar dat Afrikaners nie graag debat voer nie, maar dit is ook waar dat Maas uiters ongeskik en verkleinerend reageer en dit is waarom hy dit nooit naby Steve Hofmeyer sal waag nie. Ek dink darem ons leer al hoe meer om met mekaar te praat.

  6. Bly dat Christene saam iets reg gekry het. Verstaan ook ds. Attie se punt dat ons nie vir alles moet opstaan nie. Hou ook niks van Maas nie, MAAR is hierdie Maas se skuld, hy word dan aangestel om kontroversieel te wees. Word die koerant nie ook gebruik vir ander propaganda en skinder nuus nie. Hoekom kla ons as Christene nie ook oor die sagte pornografie op die Rapport se agter blad nie. Dit le ons huise vol en ons kinders sien dit en word meer beinvloed as deur Maas. Niemand se iets oor Maas op RSG nie!

  7. Dit is vir my wonderlik dat ons as Christene so kan saamstaan.Mens kry sommer weer moed vir die toekoms.Volgens my is Deon Maas n deurmekaar mens in sy eie deurmekaar wereldjie.Persvryheid en joernalistieke kreatiwitet kan ook nie altyd vir alle dwaashede wat n persoon kwytraak geblameer word nie.

  8. Hier kom Oupa Klaas se dwarsgeit vanmore weer sterk deur: Hoekom word Deon Maas se afdanking as “oorwinning” beskou? Gaan dit hom laat ophou sê wat hy op die hart het? Wie is eintlik die sonde(dag)bok hier? Is dit nie Rapport wat eintlik behoort gekruisig te word nie?

    En dan – opvallend: ding kry die gewraakte berig/artikel/skrywe nie opgespoor nie – die hele internet lê bestrooi van die “afdanking van Deon Maas” – die oorwinning en dies meer. Baie uitsprake oor Deon se intellektuele vermoëns; sy persoonlikheid; sy loon en so.

    Ding kry nie lekker die hele Deon Maas-kruisiging gelykgestel aan die kerk se verkondiging van: “Ons veroordeel die sonde, nie sondaar nie” – of WAT is dit nou weer wat die kerk so graag luidkeels verkondig? Ding skud maar net kop oor die geleentheid waar die kerk kon bewys hoe dit prakties die leerstellinge wat dit verkondig, uitleef. Netjies!
    **Kerk hier = die gemeenskap wat hulleself as christene / kerkgangers / gelowiges identifiseer**

    Net so as nagedagte: Iewers het Jesus mos kwaad geword oor, was dit die handeldryf in die tempel? Of so iets? Presies wat het Hy gedoen?

  9. Onthou die ontsteltenis gaan oor die feit dat Deon Maas gereken het sataniste het ook ‘n reg om hulle godsdiens te beoefen. Ek het ook altyd by Deon maas se artikels verby geblaai omdat ek hom nie wil lees nie, maar ek het nooit gevoel ek wil hom uit die koerante uit hê omdat ek nie van hom hou nie.

    Sataniste is ‘n bose groep mense. In 2003 was daar 62 000 sataniste in Suid Afrika waarvan 80% onder 18 was. Die dinge wat sataniste as deel van hulle rituele doen is onbeskryflik wreed. Deon Maas het in die slag gebly omdat hy hierdie boosheid gebruik het om sy punt te maak. As hy enige ander voorbeeld gebruik het om die punt van verdraagsaamheid te maak, sou hy geen aandag getrek het nie. Want soos Boer sê is Deon Maas eintlik ‘n middelmatige denker. Ek steun die afdanking van Deon Maas oor die mening wat hy oor satanisme huldig.

  10. Hierdie saak is soos bye wat op warm middag op die setperk om jou kop draai en selfs op jou baslletjie gaan rus. Een saak wat nie regtig genoem is nie is die vraag: watter invloed het persvryheid op skrywers (Maas in die geval) om blatant satanisme te gebruik vir ‘n argument as die publieke vryheid om te reageer nie verreken word nie? Rapport moet dalk Sondag op die redakteursbladsy verduidelik wat die rede vir die stap was. Het Tim du Plessis as redakteur of as christen die besluit geneem – dus ekonomies of moreel/eties?
    Ek het al in Beeld ook Deon Maas se stukke gelees, maar dis glad nie goeie literatuur nie- kry die idee hy is daarop uit om sake deur mekaar te krap met flou argumente en standpunte.

  11. Die soort satanisme waarvoor julle almal so bang is is niks behwalwe ‘n mite nie. Die soort Satanisme waarvan Maas gepraat het, d.w.s. “godsdienstige Satanisme” a la Anton LaVey, is gekant teen misdaad en die seermaak van diere of kinders. Maar ek veronderstel dis ‘n bietjie te veel werk om die waarheid te soek en makliker om maar net alles wat die dominee sê om die kerk vol te hou vir soetkoek op te vreet. Sies man, kan julle nie bietjie julle “God-gegewe” verstand gebruik nie??? Julle is nes die histeriese Moslems en hulle cartoons.

  12. Ja, Anton LaVey se siening behels seker nie die seermaak van diere en kinders nie. Die realiteit is egter dat jy nie alles wat oor satanisme gese word, kan afmaak as “mite” nie. Wat in die boeke staan en wat in die praktyk gebeur, is mos nie altyd dieselfde nie?

    Dit help nie jy ry die golf van ‘n persepsie deur kontroversieel te probeer wees, en dan is jy vies oor die “oningeligte” publiek nie. Jy het in die eerste plek daardie “oningeligtheid” benut om ‘n lekker sterk kontroversiele ding te kon kwytraak. Maas het goed geweet wat die “mite” van satanisme behels, en dat dit die prentjie is wat meeste mense het. So lekker, nou kan ons die mense hiermee opwerk! If you want to feed on peoples’ perceptions, you should realise that there will be consequences.

    Sou dit vir ‘n nuwe rubriekskrywer nie bietjie meer sin gemaak het om ‘n tipe verhouding en integriteit met sy lesers op te bou, VOORDAT hy/sy tot ekstreme gaan nie? Of sy inhoud ekstreem was of nie, hy’t beslis geweet reaksie gaan hy kry. Hy het nou.

  13. Kyk, vir my is dit totaal en al van geen belang hoe goed of sleg Maas se rubriek was nie. Wat my pla is die idee dat persvryheid en vryheid van spraak so maklik weggegooi word. Rapport is werklik pateties… so hulle gaan van nou af net publiseer wat mense wil hoor?

    Rubriekskrywers se rubrieke verteenwoording nie die standpunt van die koerant nie… en ja, sommige skrywers word gebruik juis omdat hull;e kontroversieel is. Ek kan nie glo die publiek is so oningelig dat hulle waaragtig nou sê dat Rapport “Satanisme bevorder” nie. Nie eers Maas doen dit in sy stuk nie. In ‘n beskaafde samelewing, wanneer ‘n rubriekskrywer sy opinie publiseer en jy hou nie daarvan nie, dan maak jy jou eie standpunt bekend deur ‘n brief in die koerant te publiseer, waar jy die skrywer se standpunte dan kan aanvat. Soos wat gebeur in alle ander debatte, of dit nou Mbeki weeklikse ANC brief is wat as rubriek gepubliseer word, Zille s’n, of wie ookal. Maar jy dreig nie die medium van debatvoering, die koerant, met ‘n boikot of met geweld nie. Dis darem waaragting onbeskaafd.

  14. George, ding stap smile-smile kaalvoet saam met jou deur Siberië!

    ‘n Wyle gelede was daar gesprekvoering oor satan wat reeds oorwin is … daar al het ding daarop gewys dat “die duiwel loop los rond soos ‘n brullende leeu”. Feit is: satanisme is ‘n realiteit. Wanneer die skoen pas, word dit nietig geag; wanneer die skoen pas, word dit soos destyds se Totale Aanslag as die groot gevaar beskou.

    Terloops, ding wonder regtig oor die statistiek hierbo – is daar dan in 2003 ‘n sataniste-sensus gehou? Reality check: daar is aansienlik meer – die statistiek is gebasseer op wat bekend is! Mense wie so maklik soos die wind kan draai en saam met ‘n stroom loop, behoort darem maar werklik eers huiswerk te doen – hoeveel weet die gemiddelde “christen” van satanisme?

    Dieselfde geld vir Maas ook – hy moes dalk maar eers huiswerk gedoen het.

    Vir ou ding bly die vraag steeds: hoekom word die DAAD nie hier veroordeel nie – hoekom word die SONDAAR hier aangeval en veroordeel – sy intellek en sy denkvermoë; die gehalte van sy skryfwerk, sy persoonlikheid en dies meer, is deel van hom as persoon – vir hom om “sy verdiende loon te kry”, is om hom as SONDAAR, as MENS te veroordeel. Sic. Hoekom word teen Deon Maas te velde getrek en nie teen satanisme nie? Die “christene” wie nou so vuriglik deelneem, WAT het julle al hierdie jaar gedoen om Satan en sy volgers te beveg, hmmm?

  15. George: Ek het nie regtig gedink die publiek reken Rapport bevorder Satanisme nie. Ek is ook aan die een kant spyt dat persvryheid hier ‘n knou gekry het, maar ek bly oortuig daarvan dat Deon Maas moeilikheid gesoek het en dit gekry het.
    Ding: Satan is ‘n verslane vyand. Daaroor het die meeste Christene geen twyfel nie. Sataniste pleeg soms onbeskryflike wandade in die naam van hulle godsdiens.
    Oor die statistiek in 2003 was daar wel navorsing daaroor gedoen en dit is waar die getalle vandaan kom. Statistici het hulle metodes om sulke syfers vas te stel. Sataniste is klein bietjie van ‘n ander saak. Die meeste van die kere wat ons sataniste help kom dit nie in die pers nie of in die nuus of praat ons nie daaroor nie, omdat sataniste ook families het vir wie dit baie pynlik gaan wees as hulle hoor wat alles gebeur het. In my werk met tieners kry ek wel hiermee te doen en dit is vir my genoeg. Dit is juis die boodskap dat Satan reeds oorwin is, wat daardie jongmense die moed gee om op te staan en hulle rug op satanisme te draai.
    Sondaar vs. Sonde??? Ek dink nie mens kan skuil agter die gedagte “Ek is die sondaar en nie die sonde nie.Los my dat ek kan doen wat ek wil en sê wat ek wil. Veg die sonde.” Soms is die enigste manier wat ‘n sondaar behoue bly dat hy die gevolge van sy dade moet ervaar. As die dwelmhandelaar gevang word en tronkstraf kry, dan skerm ons nie vir sondaar teenoor die sonde nie. Want dwelms vernietig jongmense se lewens. Sekere van ons dade het sekere gevolge. Die goedpraat van satanisme vernietig jongmense se lewens.

  16. Dink gou mooi wat jy met hierdie post sê. Iemand het iets gesê, ‘n groep mense het nie daarvan gehou nie en gemaak dat die persoon afgedank is.

    Ek stem saam met Alleman (en Bertus!, op ander blogs). Hierdie is nie ‘n oorwinning nie. Dis net hartseer. Niemand kon wen om mee te begin nie.

  17. Die punt is dat Deon Maas die indruk geskep het dat hy ondersteun dat satanisme as ‘n godsdiens beoefen mag word in terme van ons grondwet. Dis nie sommer net iemand wat iets gesê het nie. Dit gaan oor satanisme. Sekere regte weeg swaarder as ander regte. Die reg om mense te beskerm teen ‘n wanpersepsie dat satanisme maar net nog ‘n godsdiens is soos enige ander godsdiens. Dit is nie waar nie. Sataniste pleeg onbeskryflik wrede goed.

    Tog snaaks dat die Bybel deurlopend praat van ‘n stryd teen die satan en sy bose magte wat gewen moet word. V

  18. Ds. Attie hierdie hele kwessie laat my met ‘n diep seerte in my gemoed.
    Ek gee partykeer hoog op oor watse nie-Christen ek is, maar as ek heeltemal eerlik moet wees, is Christenskap (en Christus) iets wat mens nooit heeltemal los nie en gee ek tog diep daarvoor om. Dis net wanneer sulke goed gebeur soos Christene se reaksie op Maas dat ek so vreeslik skaam kry en dan probeer mens alles in jou vermoë om nie ‘n Christen is nie, want jy wil so graag nie ook so wees nie.
    Ek is diep geroer deur Kobus Gerber se woorde in vandag se Rapport: Wat sê hierdie hele debakel vir ons oor Christene? Ek wil byvoeg: wat sê dit vir ons oor Christus se boodskap wat alle vrees oorwin het? Wat sê dit vir ons van die arme goeie herder, die sagte een wat geluister en probeer verstaan het? Wat sê dit vir ons hoop dat die Christendom relevant kan bly in ‘n wêreld waar menswaardigheid en medemenslikheid ‘n al groter rol speel?
    Baie mense beskou Rapport as die groot verloorder hier, maar ek dink die groot verloorder is die Christendom, my Christendom na wie ek soms so bitterlik verlang.

  19. Ek het weer al hierdie kommentare rustig gaan deurlees. Een van die redes waarom ek ‘n “blog” begin het is omdat ek graag in ‘n situasie soos hierdie wil hoor hoe dink en voel mense wat dalk nie Sondag by my in die kerk sit nie. My doel was om te leer. En ek leer.

    Alleman se opmerking dat ons Afrikaners nie debat kan voer nie en geweldadig optree het my laat dink.

    Dis jammer van George se opmerking wat sê: “Maar ek veronderstel dis ‘n bietjie te veel werk om die waarheid te soek en makliker om maar net alles wat die dominee sê om die kerk vol te hou vir soetkoek op te vreet. Sies man, kan julle nie bietjie julle “God-gegewe” verstand gebruik nie??? Julle is nes die histeriese Moslems en hulle cartoons.” George sulke opmerkings maak gesprek moeilik. Skielik word die man gespeel en nie die bal nie. Is dit nie presies waarvan ons Christene nou beskuldig word nie? Jou opmerking by #13 gee egter vir mens iets om mee te werk, as jy net by die aanvanklike skerp en neerhalende eerste opmerking verby kan lees.

    Ding se opmerking dat hierdie dalk nie ‘n oorwinning is nie, het my ook laat dink. Dalk was die wonderlike ervaring van Christene wat so saamgestaan het, net ‘n bietjie oorweldigend. Ek is dankbaar dat Christene tog die vermoë het om saam te staan. Ek het egter op hierdie “blog” tog die gevoel gekry dat hoe feller die debat raak, hoe stiller raak die wat Deon Maas se afdanking so vel ondersteun. Ek weet hulle voel nog dieselfde, maar dit lyk my ons sukkel om dit wat ons glo te verduidelik en te motiveer. Hier is werk vir enige dominee wat hier lees.

    Johan Swarts: Snaaks dat die vreugde vlam van oorwinning al hoe laer gebrand het hoe meer en hoe verder ek hier gelees het. Ek wens eintlik ek kon een of twee van die mense wat ek uit satanisme begelei het se stories hier deel, maar ek sou ‘n paar mense blootstel en daarvoor sien ek nie kans nie. Einde laaste het die debat nie gegaan oor satanisme en die oorwinning oor satan wat ons najaag nie, maar oor Deon Maas. God se oorwinning is nie meer die middelpunt nie, maar ‘n middelmatige denker is. Soos Johan sê: Niemand het hier gewen nie.

    Oor Anton LaVey. Ek ken sy standpunte en is bewus van wat hy verkondig. Wat Anton LaVey verkondig en wat in satanistiese praktyke gebeur is wêrelde uitmekaar uit. Maar selfs LaVey se satanisme kan onmoontlik nie vir ‘n beskaafde samelewing aanvaarbaar wees nie.

    Aan die einde van hierdie effense debat wonder ek of ‘n verduideliking deur Deon Maas en dan selfs ‘n verskoning indien hy mense te nagekom het, nie dalk die beter uitweg sou gewees het nie.

    En dan: Aan die Christene en aan myself hierdie vraag: Het ons die toets van verdraagsaamheid geslaag? Dit is waaroor Deon maas se artikel eintlik gegaan het.

    En aan die ander: Wat so skerp en vinnig en bitsig teenoor die Christene gereageer het, het julle die toets van verdraagsaamheid geslaag?

    Indien iemand wonder wat ek sê: Ek het gelees en ek het geleer. Volgende keer sal ek dalk anders reageer. Deon Maas se afdanking was waarskynlik nie die regte pad om te loop nie. Die saamstaan was “great”. Mooi so. Ek wens net ons kon op hierdie manier saamstaan om armoede en werkloosheid en HIV?VIGS en soortgelyke dinge teen testaan. maar wie weet, dalk is dit die begin van saamstaan. In hierdie geval sal die eindresultaat egter nie die gewensde uitwerking hê nie.

  20. Attie: Ek weet nie wat om te sê nie. Aan die een kant voel ek ons gee te maklik toe. Aan die ander kant voel ek: Dalk was dit alles nie die regte ding en die regte manier nie. Ek is verward, maar ek weet ook uit verwarring kom soms duidelikheid.

  21. volgens my het dit hier gegaan oor ‘n besigheidsbesluit. lesers van die betrokke publikasie het saamgestaan en die betrokke publikasie was gedwing om die besluit te neem wat hulle gedoen het. Julle laat dit klink asof dit oorlog was en die sondaar is aangeval. Nee, hy het sy kaarte gespeel en die hand was gespeel. Ek voel ernstig daaroor dat ek nie so ‘n publikasie sal ondersteun nie, en dit bly tog my goeie reg.

  22. Ek skaam my om ‘n Christen te wees as ek so na die oorwinningskrete luister. Dit moes omtrent dieselfde gewees het destyds toe die een “heks” na die ander op die brandstapel verbrand is. Ai. Bertus ek deel jou sentiment al die pad en Attie ek is bly jy is nie my dominee nie. Jy het my verloor.

  23. Mag ek nooit my skaam om ‘n Christen te wees nie, dit gaan immers nie oor wat mense dink of nie dink nie, of wat mense doen of nie doen nie … of is ons Christene vir ons eie gewin Waarnemer jy eien jou die reg toe om Attie te kritiseer, maar ons mag dit nie waag om verskil van Deon Maas se mening nie. Gebruik party Christene nie hulle Christenskap as dit hulle pas nie, of staan hulle daarvoor deur dik en dun. Voor die haan drie maal kraai …

  24. Doom, sien jy hoekom ou ding vir Doom gesê het van jy is ding is se toonbeeld van ‘n geestelike leier? [jou antwoorde by #21]

    Ding reken die waarneming by #25 mag dalk ten minste veldiepte gaan krap by die Doom. Daaroor net: om verlore te raak, impliseer noodwendig ‘n vroeëre “gevondenheid / behorendheid”. Om verlore te raak, impliseer noodwendig ook die vroeëre bestaan van ‘n verbintenis of verhouding: vir Doom om my aandag te verloor, beteken dat ek dit op ‘n stadium vir hom moes gegee het. Doom, as jy iemand so maklik kan verloor, het jy die persoon (se aandag) in die eerste plek nooit werklik gehad nie. ‘n Mens gee nie net aandag aan dit wat jou pas en dit wat met jou saamstem nie. Volwasse, gebalanseerde geloofsekuriteit, vir ding in elk geval, behels en sluit juis in dat manman na ander se standpunte kan en wil luister (en verskil waar nodig). Geloofsekerheid is dinamies – nie stagnant nie – want in geloofsekerheid behoort ‘n mens groei te toon. Juis faktore soos “debatvoering” bied die geleentheid om te groei. Doom, ding probeer ook vir jou sê dat die waarnemer se waarneming vir ding heel gaaf is – na alles, Doom, jy is net die herder van die Herder se kudde – as daar hier en daar ‘n rondloper-afgedwaalde-skaap by die kudde bykom, is dit jou plig net om hom op te pas as deel van die kudde, maar nie om hom te oortuig teen sy wil dat hy deel is van die kudde nie. Skape wat hulle by die kudde voeg, kies self. Jy lei net die kudde en beskerm hulle….

    Ding het ‘n lang geskiedenis met satanisme – ding is nie helemal onkundig daaroor nie. En juis daarom is ding latent pynlik bewus van die bestaan daarvan – die wete dat Satan nie dood is nie, verslaan, ja, maar nie dood nie – hy veg nog bloedlustig voort. (.) Onthou, of jy kies VIR Christus of TEEN Christus. En kies jy nie VIR Christus nie, kies jy outomaties VIR Satan. Dis eenvoudig – daar is nie drie opsies nie – daar is net twee.

    Daar is twee nommers wat ding hier ontstig het:
    Soos Doom vir George gesê het oor die man speel ipv die bal speel – Doom, George het net presies gedoen wat aan Deon Maas gedoen is. Feit is, Doom, die Susterskerke (oor gay wees) het verkondig en doen steeds, dat hulle die sondaar met ope arms ontvang, maar die sonde, die daad, veroordeel. En ding sê nog al die pad, met respek, dis ‘n pot snot. Die kerk speel met woorde en dis ‘n gruwel. Hier is weer eens die bewys van hulle valse leerstelling: jy kan nie die sonde sonder die sondaar gas gee nie. (.) Wat jy kan doen, is om die sondaar te aanvaar, mits hy sy sonde aflê en berou het oor sy sonde. Maar die kerk kan nie daai standpunt teenoor gays inneem nie – vandaar hulle nuwe skerp woordspel. Maar hier, hier het die kerk homself weggegee.

    Oor my vraag oor wat daai christene die res van die jaar gedoen het om satanisme te beveg, Doom, ek praat natuurlik nie van wat die dominees gedoen het nie – wat het die gewone mense, soos ek en hoeveel ander lidmate, gedoen – dis in die gewone loop van sake dat hierdie veldtog uitgevoer is – in dieselfde lyn: wat anders is gedoen teen satanisme?

    Verstaan asb. mooi: my persoonlike mening hier is nie vir my van belang nie – dat ek persoonlik uit beginsel nie van Deon Maas se skrywes hou nie, dat die man se argumente nie by my aanklank vind nie, is vir my irrelevant tot die punt van debatvoering. Maar dit was vir my ‘n balk in my eie oog dat “my christendom” hulle kan verlekker in ‘n sg. “oorwinning” – dit was allesbehalwe ‘n oorwinning. En in christenskap behoort die wen van ‘n siel vir Christus die enigste oorwinning te wees. Enigiets anders, selfs die suksesvolle verdediging van christenskap, is nie ‘n oorwinning nie, maar bloot verdediging en beskerming van dit wat ‘n mens se kern is. Nee, my hart bloei oor hierdie en ek wil graag glo dat ons almal uit hierdie gesprek sal leer en ten minste ‘n bietjie selfondersoek sal doen en geestelike groei sal toon. Alleenlik DAN is hierdie gesprek sinvol en konstruktief.

    Doom, weer eens, dankie vir jou dapperheid. En ding glimlag vanoggend weer met ‘n: was jy nie ‘n dominee nie, sou ou ding sommer van jou kon HOU, man! (grappie) Nee, ernstig, Doom, jy doen werklik goeie werk – hou so aan in jou dapperheid.

  25. Attie, ek sal jou enige tyd met ope arms as my predikant aanvaar. My kind het ook op skool in satanisme en dwelms verval. Hy is ‘n kind wat in die kerk en met goeie christelike waardes grootgeword het. Ons hele gesin se lewe het oornag in ‘n nagmerrie verander. Niemand wat al daardeur is kan hier saampraat nie. Volgens hom is hy nou daaruit, maar ek sal nooit werklik weet nie, want ek het gesien hoedat ‘n kind ‘n voorgee lewe kan lei terwyl hy jou in die oe kyk. Die seer en vrae bly dwars in mens vassteek. Gelukkig is die Here se genade baie groot en het Hy ons daardeur gedra. Ek wens ons kon destyds jou hulp inroep. Nie alle leraars weet hoe om so ‘n situasie te hanteer nie en sommige is selfs bang daarvoor. Dis vernietigend. Ek ondersteun jou ten volle in jou denke hieroor. Dankie dat jy jou oor sulke mense ontferm en ‘n hand uitreik om te help.

  26. Net toe my hart bly word dat ons as Christene uiteindelik dapper genoeg is om die wêreld te wys dat ons nie skroom om standpunt in te neem oor dit wat ons na aan die hart lê aan te spreek nie, sien ek dat, hoe verder ek lees, hoe meer ‘pussyfoot’ mense om mekaar. Reg is reg en verkeerd is verkeerd. Jesus sê self hy haat dit wat louwarm is en sal dit uitspoeg. Ek wil aansluit by want van die ander gesê het, satanisme vewoes mense se lewens. My vriendin is hierdeur met haar dogter. Ek werk genoeg met tieners om te weet watter impak dit op hul lewe het. Mag die Here julle seën en jul oë oopmaak.

  27. Celeste: Ek en baie ander op hierdie blog staan vas oor die uiters negatiewe en bose effek van satanisme. Dit gaan lankal nie meer oor satanisme nie. Dit het op die ou end begin gaan oor die oorwinning wat een mens oor ‘n ander mens behaal het. En dit het begin gaan oor die geloofwaardigheid van die evangelie en die manier waarop ons as Christene die evangelie uitleef. Ek skryf hierdie “blog” omdat ek al te goed besef: Ek ken ten dele. Ek laat uiteenlopende standpunte op hierdie “blog” toe sodat ons by mekaar kan leer. Ek weet nie of ons die ander ouens wat hier reageer se gedagtes en denke gaan verander nie. Een ding weet ek en dit is as daar more iemand by my spreekkamer instap, gaan ek daardie persoon se manier van dink ‘n klein bietjie beter verstaan. Ek het nog nêrens van een nie-Christen gehoor wat sê: Hierdie saamstaan van die Christene laat my wonder of ek nie dalk ook ‘n Christen moet wees nie. Inteendeel. Soos Paulus dit gestel het: Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword en vir die Grieke het ek soos ‘n Griek geword sodat ek almal vir Christus kan wen. Ons kan nie deur hierdie lewe gaan en die een nie-Christen na die ander op sy plek sit en dan dink ons het ‘n oorwinning behaal nie.

  28. Net om verwarring te verhoed: ek het beslis nie my aanmerkings as ‘n persoonlike aanval op ds. attie of enigiemand bedoel nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: