GELYKENIS 15: BOODSKAPPERS EN GEWELDENAARS

Die meeste van ons sal kan identifiseer met vandag se gelykenis. Die meeste van ons was al boodskappers van God wat deur mense sl;eg behandel is. Die meeste van ons was ook mense wat die boodskappers van God sleg behandel het. Hierdie gelykenis gaan oor ons.

“‘Luister na nog ‘n gelykenis,’ het Jesus gesê. ‘Daar was ‘n grondbesitter wat ‘n wingerd geplant en ‘n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook ‘n parskuip uitgekap en ‘n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan. Toe dit tyd geword het vir die druiweoes, het hy van sy slawe na die boere toe gestuur om sy deel van die oes te gaan haal. Maar die boere het sy slawe gevang, die een geslaan, en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig. Die eienaar het toe weer ander slawe gestuur, meer as die eerstes , maar die boere het met hulle net so gemaak. Heel laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. Maar, toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: Dit is die erfgenaam diè. Kom ons maak hom dood en vat sy erfenis. Hulle het hom toe gegryp en hom uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak.

As die eienaar van die wingerd terugkom, wat sal hy met daardie boere doen?’

Hulle antwoord Hom: ‘Hy sal daardie slegte mense ‘n vreeslike dood laat sterwe en die wingerd aan ander boere verhuur wat hom op die regte tyd sy deel van die oes sal gee.’

Toe sê Jesus vir hulle: Julle het tog al in die Skrif gelees: Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geowrd. Dit is deur die Here gedoen en is ‘n wonder in ons oë.

Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ‘n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.

Wie op hierdie klip val, sal verpletter word en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.

Toe die priesterhoofde en die Fariseërs Jesus se gelykenis hoor, het hulle besef dat hy op hulle sinspeel. Daarom wou hulle Hom gevange nee, maar hulle was bang vir die skare, omdat die Hom as ‘n profeet beskou het.” (MAtteus 21:33-46)

Hierdie gelykenis leer ons meer van God, mense en van Jesus.

1. Oor God.

(i) God vertrou mense. Die eienaar van die wingerd vertrou die mense met sy wingerd. Hy is nie die hele tyd daar om hulle op te pas nie. God vertrou mense met sy werk. Elke dingetjie wat ons moet doen is iets wat die Here vir ons gegee het om te doen.
(ii) God is geduldig. Die eienaar stuur die een boodskappe na die ander. Hy kom nie met skielike oordeel wanneer die eerste boodskappe sleg behandel word nie. Hy gee die boere die een kans na die ander om op sy versoek te reageer. God het baie geduld met al die sonde van die mense en sal nie sy rug op die mensdom draai nie.
(iii) God se oordeel. Op die ou end het die eienaar die wingerd teruggevat en dit vir ander gegee. God se skerpste oordeel is wanneer Hy die werk wat Hy gedink het ons moes gedoen het, uit ons hande uitvat en dit vir iemand anders gee om te doen. Die laagste vlak waartoe ‘n mens kan daal is wanneer hy nie meer bruikbaar vir God is nie.

2. Oor mense.

(i) Mense het voorregte. Die wingerd was toegerus met alles – die klipmuur, die parskuip, die wagtoring – wat die boere sal help om goed te doen met die wingerd. God gee nie werk om te doen nie, Hy gee ook alles wat ons nodig het om daardie werk goed te kan doen.
(ii) Mense is vry. Die eienaar het die boere gelos om die werk te doen soos hulle goeddink. God is geen tiran nie. God deel die werk uit, dan vertrou hy mense om daardie werk reg te doen.
(iii) Mense moet verantwoording doen. Die dag van afrekening kom vir alle mense. Ons sal verantwoording doen vir die manier waarop ons gedoen het wat God vir ons gegee het om te doen.

(iv) Sonde is doelbewus. Die boere doen ‘n doelbewuste ding wanneer hulle die boodskappers mishandel. Sonde is ‘n om doelbewus teenoor God te staan te kom. Sonde is ‘n doelbewuste keuse om ‘n ding op my eie manier te doen terwyl ek baie goed weet hoe God wil hê ek dit moet doen.

3. Oor Jesus.
(i) Jesus se aanspraak. Jesus is anders as enige een van die profete. Hy is nie net nog ‘n boodskapper nie, Hy is die Seun van die eienaar. Hierdie gelykenis is een van Jesus se duidelikste aansprake dat hy uniek is en anders en belangriker is as enige iemand voor Hom.

(ii) Jesus se offer. Hierdie gelykenis maak dit ook duidelik dat Jesus presies geweet het wat vir Hom voorlê. Jesus sterf nie omdat Hy moes nie, Hy sterf gewillig en Hy stap met oop oë in sy eie dood in.

Hierdie gelykenis het vanoggend vir my baie beteken. Aan die een kant is ek baie bewus van die kere wat ek met God se wingerd omgaan asof dit my eie wingerd is en dan diegene wat wil kom opeis wat aan die Eienaar behoort, baie sleg behandel. Ek onthou die keer toe daar ‘n baie duidelike sonde in my lewe was. iemand het my daaroor kom aanspreek, en aanval was die beste verdediging. Ek het die persoon gekonfronteer met die “onwaarheid” wat verkondig is. Ek het dit gedoen met die een motief in my gedagtes: Ek wil aangaan met die sonde waarmee ek besig is. Nodeloos om te sê, ek moes die gevolge van my doelbewuste sonde dra. Ek dra littekens wat ek myself aangedoen het.

Maar, daar is ook die kere wat ek soos een van die boodskappers voel. Ek dra in my binneste die littekens en wonde van die boere. Deur die Eienaar gestuur om ‘n boodskap oor te dra, maar ek weet ook wat dit beteken om geslaan en gestenig te word. Ja, selfs te voel asof ek gaan sterf. My troos lê daarin dat die mense die Seun van die Eienaar nie baie anders behandel het nie.

Hierdie gelykenis het genadiglik ook ‘n element van God se geduld. Ek glo dat die Here geduldig sal wees met my en juis omdat Hy vir my alles gegee het wat ek nodig het om sy werk hier op aarde te doen, weet ek dat Hy diep in my hart sal kyk en sal weet wat ek regtig dink en wat ek regtig voel. Ek is so bly dat mense nie by God kan skinder en by Hom ‘n wanvoorstelling kan maak oor wie ek is en wat my motiewe is nie, omdat Hy alles weet en alles verstaan – Hy ken my deur en deur.

Met wie in in hierdie voorbeeld van Jesus identifiseer jy die meeste?

Kan jy onthou van ‘n keer toe die “boere” jou as “gestuurde slaaf” sleg behandel het?

Kan jy onthou van ‘n keer toe jy as “boer” ‘n “gestuurde slaaf” sleg behandel het?

7 thoughts on “GELYKENIS 15: BOODSKAPPERS EN GEWELDENAARS

Add yours

  1. Ek wonder of enige iemand eerlik genoeg gaan wees om te sê: Ek identifiseer met die boere wat die gestuurde slawe sleg behandel het. Daar was al ‘n hele paar kere in my lewe wat daar mense oor my pad gekom het wat iets vir my moes sê wat ek nie wou hoor nie. Ek het my by geleentheid vir my baas by die werk vererg en ‘n deur toe geslaan. Die baas stuur toe iemand om met my daaroor te kom praat, en ek probeer toe my optrede regverdig. Toe die “boodskapper” nie my regverdiging wou aanvaar en verstaan nie, maar daarop bly aandring dat ek nie reg opgetree het nie, het ek die boodskapper kortgeknip an aangegaan. Die aand in my stiltetyd het ek egter besef dat ek verkeerd was. Dit was vir my moeilik om dit te erken, en ek het eers ‘n paar dae daarmee geloop, maar op die ou end moes ek na die boodskapper en die baas toe teruggaan en om verskoning vra vir my optrede.

  2. Ding bieg: ding het bepaalde troetelsondes. En Doom praat so my taal wanneer Doom vertel hoe manman vir hom ‘n teerpad kan uitredeneer – om die sondige weg te kan volg. En dan vat dit darem sommer murg in jou se beendere om op ‘n kol om te draai en terug te loop en oor te loop begin daar waar jy jouself op die nuwe teerpad op geredeneer het.

    Wat vandag vir ding tussen die oë geklap het, Doom, is waar Doom sê: sonde is doelbewus.

    Doom, die merke en littekens deur die boere veroorsaak, getuig van gehoorsaamheid aan jou roeping. Dit maak nie jou roeping makliker nie; glad nie. Ding persoonlik is mos maar domastrant, né – vir ding is dit juis daai merke en littekens wat dit die moeite werd maak om met volle oorgawe en toewyding boodskapper-slaaf te wees. Doom, ding wonder dikwels so op ding se eie watter meule het vir jou op jou lewenspad gemaal. Maar dis nie belangrik nie – wat wel is, is dat Doom vol merke en littekens moes raak, sodat jy die boodskap geloofwaardig kan oordra.

  3. Die vraag is hoe sleg en verkeerd moet iemand my behandel voordat ek “menslik”kan optree. Ek is mos maar mens en n mens het gevoelens wat gekrenk kan word en dan het mens mos die reg om jouself te verdedig?

  4. Ek is elk keer kwaad (hehe) as Ding so lank stil was. Ek het ook maar my troetelsondes wat ek met groot oortuiging teenoor enige iemand sou kon regverdig. Ek besef nou skielik weer sonde is doelbewus. Doom (lekker titel hierdie) dra maar jou littekens met grasie. Ek ken jou en ek weet die Here het toegelaat dat die seer en die wonde jou vorm. Ek sou ook darem die nadere detail wou weet van watter maalklippe jou al gemaal het.

  5. Alec, Ding maak nogal uit van daai waaroor jy wonder. Kyk, verstaan mooi, op ‘n goeie dag selfs sonder dat die Duitser in ding wakker hoef te word, het ding maar ‘n skrikvislike humeur aan hom. En ding het al van kindsbeen af die geneigdheid om sommer nou-nou vir ‘n ander te sê, nee man, stap nou maar aan – ek pla mossie vir jou op jou plek nie, vir wat kom pla jy vir my hier? En as daar nie DAN gestap word nie, dan raak die Duitser opslag mos wakker…

    Iewers langs die pad het ding egter besef balans is belangrik. So, om ding se humeur so bietjie te temper, het ding begin om oordenking te hou – jy weet, lykskou van die gestorwe dag. Nou daar waar ding nou weer die Duitser laat uitklim het, sal ding sit en bedink of ding se “verdediging” nou geregverdig was en of dit die beste oplossing vir die situasie was. Daar waar ding met nugter denke dan nou kan sien ding het homself weer oortref in moeilik wees, het ding dan maar begin om homself te verplig om more terug te loop op daai pad en ten minste te loop verskoning maak. Te probeer regstel wat ding verbrou het. En daai is nie maklik nie. Mettertyd het daar meer geduld gekom – dat, voordat ding sommer wild aan die verdedig gaan, sal ding eers bietjie terughou en loop ysters buig, mure slaan, en klipsit. Maar ja, ding wonder nog steeds net soos jy, Alec, wanneer en waar is verdediging geregverdig?

    Kleinswemmertjie! Praat jy van hierdie ding? Seker darem nie, ne? hehe Maak jy my skoon skaam!

    Waarmee ding regtig worstel, so tussen ons gesê: hoe maak manman as hy regtig glo pad A is die regte pad, hy wil eintlik pad B, en pad C lyk of dit die beste praktiese oplossing is. Manman ignoreer pad C want hy glo pad A is die regte roete. Met die keuse van A ipv C, maak hy ander mense littekens kry, maar hy doen dit omdat hy regtig egtig bona fide oortuig is DIT is die regte ding om te doen (die wil van sy Skepper). Net om later uit te vind, ‘n ent ver op pad A, dat dit bepaald wragtag nie die regte pad kan wees nie?? WAT maak jy dan – jy’t klaar ander mense littekens gegee; die lyke le klaar agter jou. Eisssjjjhh – daai ene laat vir ding min slaap, hoor.

  6. dissipel: Dit vra darem mannemoed om terug te gaan en verskoning te gaan vra.
    Ding: Ek dra ‘n hele paar littekens, maar van die littekens is ook my eie maaksel. Ek het ‘n paar “stupid” dinge aangevang. Die ersgte littekens is veroorsaak deur mense wat ‘n beter geheue as God het. Wat God vergeet het, het mense nog vir baie lank onthou. Ander littekens is veroorsaak deur mense wat God spee. Die Eienaar is mos op reis. Solank die eienaar op reis is, is ek in beheer. Maar, ja, sommige littekens kom saam met die “job”. Ek versorg juis nou ‘n baie rou en baie diep wond.
    Alec: Ek wonder of mens die reg het om jouself te verdedig? Ek vra omdat ek nie weet nie. Ek wonder hoe moet ons dink oor daardie gedagte van die ander wang draai en die ekstra myl loop. Ek wonder…
    klienvissie(-swemertjie): Dalk sal ek eendag vertel. As jy by my in die gemeente is sal jy waarskynlik so nou en dan iets gehoor het as ek in preke vertel van al hierdie dinge. Daar is egter ook die wat ek nog nooit die moed gehad het om te deel nie.
    Ding: Moeilike vraag daai in jou laaste paragraaf. Ek wonder of dit die praktiese implikasie is van wandel met God. Dat ek tree vir tree so saam met my Here loop dat ek geen besluit neem as ek Hom nie eers “konsulteer” nie. Ek wil graag elke keer sê: Ek en die Here het besluit – net vir myself sê. As ons die gehoorsaamheid pad loop, gaan daar definitief mense wees wat littekens opdoen. Maar ek sal ook hoor hoe my Here saggies in my oor sê: Mooi so goeie en getroue dienskneg, oor min was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Ek lees iemand sê die Here het vir ons drie dinge gegee om ons te help om die regte besluite te neem: Die Bybel oop voor ons; die Heilige Gees werkende in ons; en die gemeenskap van gelowiges pratend rondom ons. Daardie drie help ons om die regte besluite te neem.

  7. Ja Doom, toe ding Alec se vraag lees, het ding ook nogal gedink aan daai ene van die ander wang draai… Is net, terwyl ding aan daardie gedink het, het ding homself toe ook gevra: as ding mos nou ‘n kind van God is, dan sal ding mos nou nie met ander bollie soek nie – manman respekteer mos dit wat God gemaak het, ne. Nou maar, versaak manman nie ook maar op ‘n manier vir God as jy jou maar laat trap en klap sonder verdediging nie? Want manman ruk en pluk nie aan, en beskadig mos nie dit wat God geskape het nie – maar daai geld mos dan vir ander mense ook? Is manman nie eintlik ondankbaar teenoor God as jy maar staan dat jy opgedinges word, net omdat jy die ander wang draai nie?

    Ou ding het nogal al beginne dink dat, miskien as dit nou net ding persoonlik is wat aangeval word – soos in ding se lyf, ding se persoonlikheid, ding as mens, maw – dan moet ding maar sover moontlik die ander wang draai, ja. Maar word daar nie ook iewers iets gemeld van ‘n sagte antwoord wat die toorn wegkeer nie? Iets van vurige kole? Daai sagte antwoord kan natuurlik ook ‘n vorm van verdediging wees, ja?

    Maar waar ding van siel en hart en wese oortuig is dat die aanval nie soseer teen ding die mens gemik is nie, maar dat dit teenoor God en dit waarin ding glo, gemik is, daar gaan ding ‘n harde tyd hê om nie aktief verdedigend te handel nie. Gestel bv. iemand vertel vir ding dat s/hy nie in God glo nie, dat die hele bedryf eintlik ‘n foefie is, wat doen ding dan? Ignoreer ding dit? Probeer ding die persoon anders oortuig? Lewe ding maar net voort asof hy dit nooit gehoor het nie? Vertel ding vir die persoon dat hulle twee se paaie skei, want ding kan nie assossieer met iemand wie van God se bestaan gehoor en gelees en geleer het, maar verkies om nie te glo nie? Ding weet ook nie so lekker van die ene nie, eenvoudig omdat ding onthou van die een sonde wat nie vergewe word nie en omdat ding vreeeeeeeslik hou van daai ene van sit in die kring van die spotters en altemit die ene van wie nie vir my is nie, is teen my.

    Kierts! Ons praat darem maar moeilike nommers hier, of hoe?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: