Mens kry twee soorte mense. Die wat beloftes maak en dadelik vergeet dat hulle die beloftes maak, en dan kry jy die wat eers nie ‘n ding wil doen nie, maar dit later wel gaan doen. Nie een van die twee groepe is die ideale mens nie, want daar behoort ‘n derde soort mens te wees.
Wat sê julle hiervan? Daar was ‘n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’ ‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan. Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?’
Hulle sê: Die eerste.’
Toe sê Jesus vir hulle: Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het Hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie.'”
Om hierdie voorbeeld wat Jesus gebruik het reg te verstaan moet mens in gedagte hou dat die gesag van Jesus in die vorige paar verse deur die Fariseërs bevraagteken is. In die gelykenis vergelyk Jesus die gesag waarmee Hy optree met die van ‘n pa wat vir sy twee seuns iets vra om te doen.
In hierdie gelykenis is die Joodse leiers die mense wat gesê het hulle sal God gehoorsaam terwyl hulle dit nie gedoen het nie. Tollenaars en prostitute is weer die mense wat gesê het dat God nie sal gehoorsaam nie, en toe op die ou end wel besluit het om Hom te gehoorsaam.
Om hierdie gelykenis reg te verstaan, moet ‘n mens verstaan dat niemand hier op die skouer geklop word nie. Die gelykenis skets ‘n prentjie van twee groepe onvolmaakte mense, alhoewel een van die groepe mense beter was as die ander. Altwee die seuns se optrede is onaanvaarbaar, alhoewel die tweede seun wat op die ou end wel gehoorsaam, beter doen as die eerste seun.
Hoe lyk die ideale seun? Die ideale seun is die een wat die pa se opdragte in ‘n gesindheid van gehoorsaamheid en respek aanvaar en die pa ten volle gehoorsaam sonder om hom te bevraagteken.
Hierdie gelykenis herinner ons daaraan dat daar ten minste twee groepe mense in die wêreld is:
(i) Die mense wie se beloftes baie beter as hulle optrede is. Jy kry mense wat maklik beloftes maak van toewyding en getrouheid, maar daardie beloftes realiseer nooit in die praktyk nie.
Ek was al baie kere op kampe waar mense uitgenooi en uitgedaag word om na vore te kom as hulle sekere beloftes aan die Here wil maak. Beloftes word dan baie kere met trane gemaak en dikwels ook van getuig. Ongelukkig moet ek sê dat die meerderheid van daardie beloftes lei na nêrens nie, mense verander nie hulle lewensstyl on aan te pas by die beloftes wat hulle gemaak het nie.
(ii) Die mense wie se optrede baie beter as hulle beloftes is. Hierdie is mense wat die indruk skep dat hulle klipharde besigheidsmense is, maar op ‘n manier word hulle uitgevang dat hulle so half en half in die geheim dinge doen om ander mense te help. Hulle skep die indruk dat hulle eintlik nie veel met Christene en Christenskap te doen wil hê nie, maar wanneer dit by die praktyk leef hulle baie keer meer Christelik as sommige uitgesproke Christene.
Daar is ook daardie mense wat op sulke kampe gaan, nooit opstaan om enige belofte te maak nie en nooit op enige uitnodiging reageer nie. Een so ‘n dogter het hierdie jaar gaan kamp. Op die kamp en selfs daarna het sy baie kritiese vrae gevra. Ek het selfs met tye gedink sy probeer net onnodig moeilik wees. Maar, as ek vandag terugkyk oor die laaste nege maande het daar iets in haar lewe gebeur. Sy gehoorsaam die Here en sy probeer ander mense help.
Die ware punt van die gelykenis is dat alhoewel die tweede groep mense eerder die groep mense is wat ons wil sien, is nie een van die twee die ideaal nie. Die ware goeie mens is die een in wie se lewe belofte en optrede met mekaar ooreenstem; waar belydenis en praktyk mekaar aanvul.
Maar hierdie gelykenis herinner ons ook daaraan dat beloftes nooit die plek van prestasie of optrede kan inneem nie. Goeie woorde kan nooit ie plaasvervanger wees vir goeie werke nie.
Die seun wat gesê het dat hy sal gaan en op die ou end nie gegaan het nie, het al die tekens van respek vir sy pa gehad. Maar respek wat nooit verder as woorde strek nie, beteken niks nie. Ware respek is gewillige en blymoedige gehoorsaamheid.
Die ideale Christen of kind van God word nie in hierdie gelykenis genoem nie. Die ideale kind van God weet dat dit in die Christelike lewe oor gehoorsaamheid aan God gaan en nie oor beloftes aan God nie. Die kenmerk van ‘n Christelike lewe is gehoorsaamheid wat uit eerbied en respek vir God gebore is.
Dalk moet ons minder beloftes maak, en meer dinge doen sonder dat enige iemand daarvan weet.
Watter een van hierdie seuns se lewe beskryf jou eie lewe? Hoekom sê jy so?
Ek is iemand wat soms te maklik belowe en dan oorlaai ek myself soms met dinge wat ek nie alles kan doen nie. In die proses kan ek dan soms nie doen wat ek belowe het nie. My bedoeling is altyd goed, maar dan werk dit nie so goed uit nie.
‘n Baie goeie spieelbeeld van werklik mense wat jy in jou lewe teekom.
Tot my skande moet ek erken dat ek meermale eers nee sê en dan agterna tog gaan en doen wat vir my gevra is. Grotendeels omdat ek eintlik agterna sleg voel omdat ek nee gesê het en eintlik maar ‘n klein hartjie het en ook omdat ek soms eers uit pure beneuktgeit (skuus Ds.) sommer net nee gesê het.
Maar as ek ja gesê het, dan kom ek my beloftes na – dis vir my ‘n eer. Ek sal eerder nee sê en tog doen as om ja te sê en NIE te doen nie.