GELYKENIS 8: DIE SKAT IN DIE SAAILAND

“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dir kry, maak hy ditweer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.” (Matteus 13:44)

Hierdie gelykenis klink dalk vir ons ‘n bietjie vreemd. Waarom sou ‘n mens iets wat baie kosbaar en waardevol is begrawe. In Jesus se tyd was dit algemene gebruik vir gewone mense om hulle waardevolle items in die grond te begrawe. In die gelykenis van die talente begrawe die man wat die een talent gekry sy enigste talent om te verseker dat hy dit nie verloor nie (Matteus 25:25).

Die belangrike punt van hierdie gelykenis is die baie groot vreugde wat die man beleef wanneer hy hierdie waardevolle skat ontdek. Hierdie vreugdevolle ontdekking is die oorsaak dat die man kans sien om alles te verkoop wat hy het om hierdie skat te kry. Die skat wat hy ontdek oortref enige iets in waarde.

Wanneer ‘n mens die koninkryk van God ontdek, is geen offer te groot om te verseker dat jy by daardie koninkryk ingaan nie. Wat beteken dit om in die koninkryk in te gaan of deel te kry aan die konikyk? ‘n Goeie verduideliking is dalk om aan te sluit by die Ons Vader gebed waar ons bid dat God se koninkryk moet kom. God se koninkryk is daar waar God se wil hier op aarde gedoen word soos dit in die hemel bepaal word.  (Laat U koninkryk kom; laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel – Matteus 6:10)

Ons kan hieruit aflei dat om in die koninkryk in te gaan of aan die koninkryk deel te kry, is om God se wil vir my lewe te aanvaar, en God se wil te doen.  

Ek wonder hoeveel mense het al in die kerk gesit en na ‘n preek en tydens daardie erediens is hulle oortuig dat die Here van my verwag om iets te doen. Maar om te kan doen wat die Here van my verwag, gaan beteken dat ek ‘n paar aanpassings in my lewe sal moet maak. Ek sal selfs van my drome of ideale moet prysgee. Ek sal dalk van my gewoontes moet verander. Ek sal dalk ‘n nuwe dissipline moet aanleer. Ek sal dalk ‘n stukkie van myself moet kruisig om hierdie ding te doen wat die Here nou van my vra.

Natuurlik het die koninkryk van God te make met die hiernamaals en die ewige lewe by God, maar die wil van God moet op aarde geskied soos in die hemel. Die wil van God moet hier en nou in die daaglikse lewe gehoorsaam word – daar kom die koninkryk.  

Gehoorsaamheid is nooit maklik nie. Gehoorsaamheid beteken baie kere dat ‘n mens jou kruis moet opneem en Hom moet volg. Maar: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dir kry, maak hy ditweer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.”

Ek dink elkeen van ons kan vertel van die geleentheid toe dit moeilik was, maar ons tog gehoorsaam het, en dan natuurlik ook van die kere wat die prys net te hoog was, en ons nie kans gesien het om te gehoorsaam nie. Mens is trots op jouself vir die kere wat jy gehoorsaam het, maar verkies om te vergeet van die kere wat die prys net te hoog was.

Hier waar ek nou sit probeer ek terugdink aan die geleenthede in my eie lewe toe ek ten spyte van die koste tog besluit het om te gehoorsaam. Wat baie interesant is, is die kere wat ek wel bereid was om te waag en tog te gehoorsaam, was so besonders geseënd dat dit sou lyk asof ek my eie beuel wil blaas en myself erkenning toeëeien wat waarskynlik ‘n groot groep mense toekom. Die Here het my gehoorsaamheid gebruik om wonderlike te laat gebeur.

Andersyds sal ek nooit weet wat die impak sou wees van die kere wat ek nie gehoorsaam het nie. Daardie kere wat die prys vir my net te hoog was en ek nie gedoen het wat ek geweet het ek moes doen nie.

Ek gaan tog vertel van een geleentheid. My en Renate se huwelik was ‘n groot waagstuk. Ek was die geskeide dominee wat nie meer ‘n dominee was nie. Nog steeds werksaam in die dorp waar ek dominee was en geskei is en opgehou het om dominee te wees omdat ek geskei is. Ek het by die Stadsraad gewerk toe ek en Renate getroud is. Dit was Renate se eerste huwelik en saam met hierdie geskeide dominee stap drie kinders in die huis in. ‘n Kits ma. Omdat die kinders by my was, sou sy nie net oor naweke ‘n kits-ma wees nie, maar elke dag.

Ek onthou die eerste dag na ons wittebrood was ‘n Saterdag by ons huis. Ons het opgestaan en daar was vyf mense – ‘n hele gesin aan die ontbyttafel. Renate het vir ons ontbyt gemaak. Maar, ek en Renate het geweet dat dit die Here se wil was dat ons saam moes wees. Ons was daarvan oortuig dat ons huwelik ‘n lewe binne die koninkryk sou wees. Sy moes baie opoffer om by my te wees en ek moes baie gewoontes in die gesin en in my eie lewe aanpas om haar deel van ons lewens te maak. Ek huiwer nie om te sê dat ek nie weet van ‘n gelukkiger huwelik as myne nie. Ek kan ook met groot vrymoedigheid sê dat ons saamwees en die feit dat sy deel is van my bediening  ‘n positiewe uitwerking gehad het op baie mense se lewens. Dit was die opoffering werd. Oor en oor. Die skat in die saailand, die lewe binne God se wil, was die moeite werd.

Hoe het jy hierdie gelykenis in jou eie lewe sien gebeur?

Hoe belangrik is die koninkryk van God vir jou? Wat moes jy prysgee of opoffer?

Wat is daar wat jy op hierdie stadium moet opoffer om God se koninkryk in en om jou te sien kom?

3 thoughts on “GELYKENIS 8: DIE SKAT IN DIE SAAILAND

Add yours

  1. Attie, ek moet eers nog bietjie nadink oor die vrae wat jy vra. Jy’t wel nou iets hier genoem wat ek al lankal oor wonder en miskien het jy vir my ‘n antwoord. Jy noem dat jy nie graag die kere wil noem wat die Here jou geseën het nie, want dan lyk dit of jy jou eie beuel blaas. Is ‘n mens nie veronderstel om reeds te getuienis te lewer van wat die Here in jou lewe gedoen en beteken het nie?

    Oor die algemeen voel dit vir my soms of mense verwag jy moet die heeltyd net “sad” stories vertel. As jy sê dit gaan goed met jou dink mense daar’s fout met jou. Ek dink nou spesifiek aan die lied wat sê: Fil 4 vers 4 sê verbly jul in die Heer….

  2. kaalvoetkind: Wat ek bedoel is dat daar geleenthede in my lewe was wat ek gehoorsaam was en uit die aard van my werk het my gehoorsaamheid ‘n impak gehad op die gemeente en baie van die mense van die gemeente het waarskynlik net so veel as ek, indien nie meer nie, gedoen om die “gehoorsaamheid” te maak werk. Ek wil eerder aan al daardie mense erkenning gee in plaas daarvan om dit vir myself toe te eien. As dit oor my eie lewe gaan, dan huiwer ek nie om te getuig nie, en ek stem saam dat te veel getuienis so “sad” is dat dit mense meer laat huil as wat dit mense laat jubel oor die goedheid van God.
    Hoop dit help.

  3. Ek het nie ‘n probleem om te gee nie, ek sal my klere ook uit trek om te gee. Ek weet net nie waar het ek hierdie minderwaardigheids kompleks van my gekom nie. Ek het al dikwels die gevoel gekry dat ek iets spesifieks moes doen, maar glo dit of nie dan voel ek nie ek sal dit kan doen nie. Ek sal die skat maar net weer moet opdelf en moet besef dat ek dit miskien nie sal kan doen nie, maar met die HG sal ek kan. Ds Attie : Ek wil net darem se dat jy & Renate vir my van die mees besonderse mense is wat ek nog moes tee kom. En julle albei het vir my al ‘n paar eye openers gegee, en ek dink nie eers julle is bewus daarvan nie. Julle het beslis gehoor en geluister. Julle is baie spesiaal en maak so ‘n inpak op baie mense se lewens. Miskien ook gebore uit gehoorsaamheid. Ek weet julle laat die Skepper glimlag.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: