“‘Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreëen het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.’ Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.” (Mattues 7:24-29)In die paar verse voor hierdie gelykenis gaan dit oor gehoorsaamheid en Jesus maak hierdie bekende uitspraak:
“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my vader wat in die hemel is.” (Matteus 7:21)
Gehoorsaamheid was vir Jesus belangrik. In hierdie gelykenis wys Jesus vir die mense daarop dat hulle op twee verskillende maniere kan reageer op dit wat hulle nou gehoor het. Hulle was nou verantwoordelik vir wat hulle geleer het en elkeen wat gehoor het, moet nou ‘n keuse maak.Die een keuse is om te doen wat hulle gehoor het deur ‘n keuse te maak om volgens die beginsels wat Jesus geleer het te leef. Die ander keuse is om te hoor, maar nie volgens die beginsels wat Jesus geleer het te leef nie. Net te hoor en niks te doen nie.
Met die keuse wat elkeen maak, sal hulle op een van twee fondamente bou. Of die fondament sal op ‘n vaste rots gebou word, of die fondament sal op sand gebou word. ‘n Gebou se fondasie bepaal die gebou se vermoë om die elemente (stortreën, vloedwaters, wind) te weerstaan.
Die rots fondasie verteenwoordig die Here Jesus en die waarhede wat Hy geleer het, veral oor die innerlike verandering wat in die mens moet plaasvind. (Soos bv. “‘n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie.” – 7:18)
Die fondasie op sand verteenwoordig weer die Fariseërs se hoop om deur hulle goeie werke in die regte verhouding met God te kom.
Daar is dus net twee moontlike reaksies op wat Jesus geleer het: Twee paaie: Die smal pad na die nou poort wat na die lewe of die breë pad na die wye poort wat na die verderf lei – 7:13-14; Twee bome: ‘n Goeie boom wat goeie vrugte dra of ‘n slegte boom wat slegte vrugte dra – 7:15-20.
Jesus verwag van sy hoorders om te luister en te doen. Hierdie twee aksies word saamgevat in een woord: Gehoorsaamheid. Weereens: Dit wil vir my lyk asof gehoorsaamheid vir Jesus baie belangrik was.
Ek was in die sewentigerjare in die weermag en betrokke by die grensoorlog. Op ‘n dag het ons naby aan die grens patrollie gestap. SWAPO (Ons vyand) het op daardie stadium heen en weer oor die grens beweeg asof daar geen grens was nie. Terwyl ons gestap het het ons skielik iemand hoor skree “Dekking!”. Dekking was die bevel wat geskree is wanneer jy moes platval omdat een of ander vorm van gevaar gedreig het. Al 32 manne het sonder enige huiwering op die grond geval, en die volgende oomblik het die skote geklap. Indien enige iemand daardie dag bly staan het en eers wou redeneer oor die hoekom en die waarom van die opdrag, sou hy nie oorleef het nie. Instinktiewe gehoorsaamheid het al menige soldaat se lewe gered.
Instinktiewe gehoorsaamheid is waarskynlik ook die antwoord vir die kerk in hierdie wêreld. Gehoorsaamheid (hoor en doen) aan Jesus is die vaste fondament waarop ons moet bou.
Dink bietjie oor hierdie vragies:
1. Hoe weet ‘n mens as die Here van jou ‘n stukkie gehoorsaamheid vra?
2. Hoe lyk die fondament waarop jy op hierdie stadium bou?
3. Hoe sal ‘n lewe lyk waar gehoorsaam aan die Here Jesus net so belangrik is as wat vir Jesus was?
4. Kan jy vertel van ‘n keer toe jy gehoorsaamheid het sonder om twee keer te dink?
(More lees ons Matteus 9:14-17 oor die vastyd)
Nee a, Doom, vandag sny jy darem diep naby aan die been. So onverwags. Sommer net so sonner waarskuwing.
Doom, ding wil jou eers annerstorie vra: Doom, is dit nie gevaarlike terrein nie? Nie die gehoorsaam wees nie, maar die selfoortuiging van gehoorsaamheid?
En daai fondament-vraag … gits, Doom. Daai is darem maar ‘n ander nommer. Ding meen nou maar net: ontnugtering is nie net ‘n woord nie.
Dominee Attie, vandag is jy nou ‘n man van God wat nie bang is om ernstig te praat nie. Knap, maar bepaald naby aan die slagaar, hoor.
Ding: Is vir my ook maar moeilik hierdie saak. Sien ons gereformeerde skool het onder probeer om deur “sola gratia” – genade alleen – iets van die evangelie te verwoord. Met ander woorde: Ons gaan die koninkryk van die hemel in (Matt 7:21) net op grond van God se genade en glad nie op grond van my verdienste nie. Ek dink die saak is toe net ‘n klein bietjie te ver gaan en het die grafsteen van gehoorsaamheid geword. Die gevolg is, daar is geen verskil tussen Christene en nie-Christene nie.
Oor die selfoortuiging van gehoorsaamheid – m.a.w. ek gehoorsaam wat ek dink gehoorsaamheid is. Gevaarlik, baie gevaarlik. Juis daarom het ons die Woord voor ons en die Gees in ons. Daardie twee saam help ons om te verstaan wat dit is wat die Here nou van my vra – selfs al sny dit tot op die been.
Dis wat ek dink!
Doom, wat ding bedoel met die gehoorsaamheid:
Ding wonder maar oor hoe maklik ‘n mens se voet kan gly en jy meer skade kan aanrig deur wat jy as “gehoorsaam wees” ervaar, as nie. Ek weet dis nou radikaal, maar tog – hoeveel “leiers” het al gedwaal met allerhande absurditeite omdat hulle eenvoudig fanaties begin glo het dat hulle geroepe is en gehoorsaam moet wees om een of ander radikale boodskap te verkondig? Op meer algemene vlak: hoeveel mans behandel hulle gades soos tweedehandse burgers omdat hulle glo dat dit is wat van hulle verwag word kragtens Bybelse voorskrifte – hulle “gehoorsaam” die Skrif.
Oor die fondasie/fondamente en my stelling dat ontnugtering nie net ‘n woord is nie:
Hoe sal manman dan tog weet, Doom, sy fondasie is op rots en nie op sand nie? Wat as manman oortuig is dat sy fondasie op rots is, en op ‘n dag uitvind hy was van verkeerde oortuiging – dis eintlik sand? Wie kan regtig weet?
More Atte, lyk my, ek’s voor jou met Vastyd se gelykenis. Ek verstaan nie so mooi met hierdie ene. Help my reg asb.
Bruidegom is dit bedoel – “Jesus”. ?
Wanneer Bruidegom weggaan (Jesus weggaan), sal Christene vas.
En die materiaal en wyn – verstaan nie so lekker nie.
Die andere gelykenisse vir 1, 2 verstaan ek mooi. Ek hou daarvan om so daaglikse aan die program te werk.
ding: Ek dink sonder twyfel daar is mense wast onder die “dekmantel” van gehoorsaamheid meer kwaad as goed doen. Ek dink jy gebruik twee belangrike woorde “absurditeite” en “fanaties”. Nie een van daardie twee hoort in dieselfde gesprek as Christelike gehoorsaamheid gebruik te word nie. Opregte eerbied, ontsag, respek vir God, maak dat mens nie op die pad van absurditeite en fantisisme stap nie.
Oor die man vrou saak is ek van mening dat mens nie teksverse uit verband moet ruk nie. Efesiërs 5:21 sê na my mening die saak baie duidelik” “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” Daarna word die man vrou verhouding verder uitgespel. Wanneer jy nou die dag trou en daardie volgende ring gaan aansteek (Ek hoop die eerste een is al aan die vinger), sal ek vir jou meer daaroor skryf. Ek verstaan dat eerbied vir Christus kom eerste. Uit eerbied vir Hom is man en vrou aan mekaar onderdanig. Ons vra nie wie is reg nie, ons vra wat is reg. Wat is in ooreenstemming met die Woord nou die regte ding om te doen? Die een (man of vrou) wie se mening die naaste daaraan is, se raad word gevolg. Kan natuurlik net werk as altwee se lewe gedryf word deur eerbied vir Christus.
Oor die ontnugtering: Kan ek net sê: Een gelykenis kan nooit die volle boodskap oordra nie, en is dikwels op een spesifieke saak gefokus. Die geestelike lewe word hier vergelyk met ‘n bouproses. Ongehoorsaamheid bou op sand. Gehoorsaamheid bou op rots. Ek dink Matteus 7:23 help ook. Baie mense kom staan met baie “gehoorsaamheid” voor die Here. Kyk na al die dinge wat ons in U Naam gedoen het. Dan antwoord ons Here so: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” (Matteus 7:23)
Harde en skerp woorde. Die wet is na my mening duidelik: Jy moet alles wat jy doen met twee redes doen: Omdat jy God meer liefhet as enige iets of enige iemand anders en omdat jy jou naaste net so lifeht as jouself. Dit lyk vir my hierdie mense het goeie werke uit selfliefde gedoen. Ons doen hierdie dinge, en dan sal Jesus ons by sy wederkoms op die skouer klop en sê hoe bly Hy was dat ons aan sy kant was. Selfliefde was die motivering. Buitenste duisternis, die uiteinde.
Dit gaan oor verhouding. Jesus moet my ken en ek moet Hom ken. Dan bou ek op die rots Jesus Christus.
Lang skryf, maar ek hoop dit help.
Volharding: Jy is reg, jy was voor my op vanmore. Ek hoop jye het intussen beitjie gaan lees wat ek geskryf het. Deel gerus bietjie jou gedagtes ook.
Ek wonder net: Kan dit nie wees dat hierdie gelykenis nie noodwendig praat oor die hiernamaals nie, maar ons belewenis hier en nou.
Om aan te sluit bu ding se gedagte: Christene wat vas oortuig is daarvan hulle doen wat hulle doen in gehoorsaamheid aan die Here Jesus, net om later te ontdek die leer was heeltemal teen die verkeerde muur.
Is daar regtig ‘n toegewyde Christen wat nog nooit iets met groort oortuiiging en entoesiasme aangepak het net om later te ontdek dat dit nie gehoorsaamheid aan Christus was nie, maar net my eie agenda wat ek gedryf het? Wanneer dit gebeur, stort ons kaartehuis in duie en daar kom absoluut niks van ons planne nie.
Dieselfde persoon sal ‘n volgende keer iets aanpak met dieselfde oortuiging van gehoorsaamheid en dan is die resultaat al te wonderlik.
Ek het maar net gewonder.
Ds Attie het altyd die sê ding en dit is ook waarop ek my gehoorsaamheid baseer. “Liewers verkeerd as ongehoorsaam”. en “Gehoorsaamheid aan die klein dingetjies maak dat God jou kan vertrou met die groot dinge”. Ons moet bou aan die fondamente !
Dankie Doom. Ek waardeer hierdie moeite meer as wat Doom ooit sal weet. Ding maak verskoning vir die selfsug om soveel tyd en ruimte te kom vra. Weet net: ding het rede gehad en Doom se woorde is nie in die wind gespreek nie.
Dissipel, jy sê juis dit waarna ding probeer verwys het; dankie. Maar die twee voorbeelde wat jy noem, bewys self watter een is hoekom ‘n kaartehuis en watter ene nie. Is net vir ding dat dit nie altyd ewe maklik is om dit agter te kom tot nadat die kaartehuis getuimel het nie. Maar dit is mos maar lewe: om te probeer.
Ding: Moenie bekommerd wees oor die ruimte en tyd nie. Ek weet van mense vir wie jou vrae en die antwoorde wat dan daaruit na vore kom, geweldig beteken. Vra gerus maar weer.