Ons lees vandag Matteus 5:13-16.
“Julle is die sout vir die aarde. maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggeggooi en die mense vertrap dit. Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle vader wat in die hemel is verheerlik.”
Baie jare gelede het die kommunistiese regering van China ‘n skrywer opdrag gegee om ‘n biografie van Hudson Taylor, die bekende sendeling in China te skryf. Hulle doel was om die feite te verdraai en hierdie besondere man van die Woord in ‘n slegte lig te stel.Na mate die skrywer sy navorsing oor Hudson Taylor gedoen het, is hy al hoe meer beïndruk met die lewe en karakter van hierdie man van God. Die skrywer kon dit nie regkry om met ‘n rein gewete sy opdrag uit te voer nie. Einde laaste het die skrywer die risiko geloop om sy lewe te verloor. Met ‘n onafgehandelde opdrag het hy sy pen neergesit, sy rug op ateïsme gedraai, en Christus Jesus as sy Verlosser aanvaar.
Hudson Taylor was op ‘n besondere manier sout en lig waarvan Jesus in die gelykenis wat ons vandag lees gepraat het.
In Matteus is hierdie kort gelykenis net na die saligsprekinge. (Mt. 5:3-11) Matteus wil die impak of die invloed wat mense wat volgens die saligsprekinge leef op hulle wêreld het beklemtoon. Matteus 5:3-11 beskryf die karakter van die burgers van die nuwe koninkryk wat Hy (Jesus) kom vestig het – die koninkryk van God.
In die gedeelte hierna (5:17-20) beklemtoon Jesus hoe belangrik gehoorsaamheid aan die wet in die Koninkryk van God gaan wees. “As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as die van die skrfigeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.” (Matt. 5:20) Matt. 5:3-12 is hierdie groter gehoorsaamheid. Naas die wet gaan die burgers van die Koninkryk van God ook volgens hierdie beginsels leef.
Die burgers se invloed of impak op die wêreld kan met sout en/of lig vergelyk word. Ons weet dat as iemand ‘n klein bietjie te veel sout oor sy kos gooi, dan gaan hy dors word. Burgers van die koninkryk sal so leef dat dit mense “dors maak” vir meer inligting oor die Koninkryk en oor die Koning van die Koninkryk. Wanneer mens iemand sien wat kwaliteite of eienskappe het wat jy nie het nie, dan wens jy jy kon daardie persoon se geheim ken, sodat jy dit ook kan hê. Ons lewens moet mense dors maak om meer te weet.
Sout kan ook beteken dat die burgers van die Koninkryk as ‘n bewaring dien teen die verrotting wat die bose en sy magte in hierdie wêreld laat gebeur. Daarmee saam kan dit ook beteken dat burgers van die Koninkryk aan hierdie wêreld ‘n aangename smaak kan gee.
‘n Lig is weer bedoel om te skyn en rigting aan te dui. Mense wat volgens die koninkryksbeginsels van Matteus 5:3-12 lewe sal skyn en ander mense in die regte rigting wys. Hierdie mense se invloed sal sigbaar wees, soos ‘n stad op ‘n berg of ‘n lamp op ‘n staander.
‘n Helder lamp wat skyn maar weggesteek word, is nutteloos. Lidraers van die evangelie (Mense wat in ooreenstemming met die beginsels van die koninkryk leef.) leef so, dat mense hulle goeie werke kan sien en dat hulle dan die Vader in die hemel verheerlik.
Interresant dat Jesus hier verwys na “julle Vader”. Iemand wat deur die genade van ons Here Jesus Christus in God glo, staan in ‘n geestelik intieme verhouding met God – ‘n verhouding so intiem dat Hy ons Vader geword het.
Dink oor die volgende vrae:
1. Wat dink jy probeer die vergelyking met sout en lig ons leer oor dissipelskap? (‘n Dissipel is ‘n volgeling van Christus Jesus)
2. Wat maak dit vir jou as Christen moeilik om sout en lig te wees?
3. Wat maak dit vir jou as Christen makliker om sout en lig te wees?
4. Waar sal jy ‘n aanpassing moet maak om meer sout en lig in hierdie wêreld te wees?
5. Wat kan die kerk doen om meer sout en lig in hierdie wêreld te wees?
6. Die volgende woorde staan op ‘n man se lessenaar: “What I am about to say represents one four-billionth of the world’s opinion.” Hoe kan die opmerking ons help om hierdie gelykenisse beter te verstaan?
Ek lees graag jou kommentaar.
(More lees ons die gelyeknis van die twee fondamente. Matteus 7:24-27 of Lukas 6:47-49.)
Vraag 1: ‘n Dissipel van Jesus Christus moet sout en lig wees. Ek sien vandag vir die eerste keer raak hoe belangrik dit is om te lees wat voor en wat na ‘n teksvers staan. Ek het nooit geweet dat as ek die saligsprekinge lees sal ek in effek sout en lig wees nie.
Vraag 5: Dit lyk dan vir my dan ons as Christene nie James Bond karakters is wat ‘n oorlog op ons eie kan wen nie. Ek is deel wat ‘n leerskare van medewerkers – 4 biljoen volgens daardie aanhaling. Ek het hulle agter my, maar wat ek doen raak hulle ook. Oorweldigende gedagte.
Eerste keer dat ek hier kuier. Het ook besluit om saam te lees. Wat my tref is: “As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as die van die skrfigeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.” (Matt. 5:20)
Ek wonder hoeveel keer het ek mense al beskuldig van wettisisme. Nou lyk dit vir my of die standaard van die Evangelie nog hoër is as die van die Fariseërs. Dit lyk vir my die verskil is: Die Fariseërs se standaard was hoog in die hoop dat hulle die ewige se lewe sal kry. Christene se standaard is hoog omdat die genade so groot is en die dankbaarheid so baie.
Vraag 5: Wat kan die kerk doen? Bring weer die beginsel van dissipelskap terug. Dissipels wat toegerus word om sout en lig te wees. Los bietjie die dinge wat mense trek – fokus bietjie op die dinge wat mense verander. Kerke vat in elk geval net mekaar se lidmate en bring nie regtig nuwe gelowiges in nie.
Is maar wat ek dink.
Ek dink die Christen se hooftaak is om dit in die wereld te laat vergestalt wat sulke skaars kommoditeite geraak het, nl Hoop en Liefde. Ek dink mense smag na hierdie twee lewensnoodsaaklikhede.
kleinvissie: Oorweldigende gedagte, maar ook heerlike waarheid.
dissipel: Dissipelskap behoort hoog op die agenda van enige gemeente of kerk te wees. Ek is bevrees dissipelskap vra te veel tyd en wys te min resultate – dissipels word gemaak – een op ‘n slag.
boerinballingskap: Ek stem saam die wêreld het ‘n onversadigbare honger en dors na hoop en liefde. Ek wonder hoe lyk hoop en liefde in die praktyk?
Geloof, hoop en liefde. My beskeie mening: ek dink liefde is die lig en geloof is die sout.
Geloof sal my beskerm teen die verrotting van die bose. Met liefde sal ek aan ander die regte rigitng kan aanwys.
Ek moet nog bietjie dink waar hoop inpas, Ds.
Sonkind: Ek dink hoop is die verwagting vir ‘n beter more. Ek is altyd bang as ons hoop te sterk beklemtoon, want dan fokus ons net op die “pie in the sky when you die”. Maar hoop is om te weet dat daar ‘n wonderlike toekoms op my wag – dalk eers saam met Christus in die hemel, maar nog steeds ‘n wonderlike toekoms. Ek wonder hoe verstaan ander ouens die gedagte van hoop?
Hoop is vir my ‘n stille verwagting. Ek dink altyd aan hoop soos toe ek as kind gehoop het vir die regte verjaarsdag geskenk. Hoe bly was ek as ek reg “gehoop” het. Gelukkig is die Hoop wat God gee ook net goed en om na uit te sien.
Liefde is om jou telkens in ander se skoene te plaas en om ALLE mense wat jou pad kruis te behandel soos jyself graag behandel sou wou wees as jy in hulle situasie was.
Hoop is om te weet dat die aardse woning slegs ‘n tentwoning is…’n ingangsportaal na die ewigheid. En (NB!) Hoop is veral die wete dat NIKS jou uit God se hand kan ruk nie!
Ek het nou bietjie gedink oor hoop. Hoop is om opgewonde uit te sien na iets wat jy regtig verwag gaan gebeur. Ek dink aan 1 Petrus 3:15 wat sê dat ons altyd gereed moet wees om verantwoording te doen vir die dinge waarop ons hoop – die dinge wat ons opgewonde na uitsien omdat ons regtig dink dit gaan gebeur. Hoop is nie ‘n plaasvervanger vir geloof nie. Ek wonder of hoop nie die basis vir geloof is nie. Ek glo omdat ek opgewonde is oor die verwagting om die ewigheid saam met Jesus deur te bring. Indien geloof nie gebou word of die opgewonde verwagting dat iets positiefs gaan gebeur nie, dan sterf geloof met die verloop van tyd. Daarom die daar drie: Geloof, hoop en liefde. Die grootste is die liefde, die basis is die hoop. Geloof laat hoop oorgaan in liefdevolle optrede teenoor God en my medemens.