Tieners en jongmense (Selfs volwassenes) het ‘n baie groot behoefte aan aanvaarding. Om deur ander aanvaar te word, moet mens gewoonlik een van die drie V’s hê: Voorkoms; Verstand; Vermoë. Dit wil sê mens mooi moet wees (Voorkoms) en baie punte kry (Verstand) en suksesvol wees (Vermoëns) met een of ander iets – as jongmense verkieslik een of ander sport. Hierdie drie dinge maak jou gewild by ander.
Die enigste probleem is dat daar altyd iemand gaan wees of iemand gaan kom wat my op ten minste een van daardie drie, indien nie al drie nie, gaan klop. Wanneer dit gebeur is ek weer op soek na aanvaarding want dan is ek nie meer so gewild nie. Die wêreld se standaarde bring gewildheid. Die Here se standaarde bring gesindheid of kakrakter.
“So sê die Here: Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie, die soldaat nie in sy krag nie, die ryk man nie in sy rykdom nie. Laat hom wat wil roem, daarin roem dat hy insig het en My ken. Ek is die Here. Ek bewys liefde reg en geregtigheid op die aarde, want dit is wat ek wil hê, sê die Here.”(Jeremia 9:23-24)
Mens kan twee vrae vra:
1. Wat sal maak dat mense van my hou? (Gewildheid en aanvaarding)
2. Wat sal mak dat God van my hou en dat ek van myself sal hou? (Gesindheid en karakter.)
Die drie V’s sal maak dat mense van my hou. Jeremia 9:23 maak dat God van my hou en dat ek van myself hou.
Wat is dan vir die Here belangrik?
- Ek sal God ken en God verstaan. (… daarin roem dat hy insig het en My ken.)
- Ek sal God se liefde in my lewe beleef. (Ek bewys liefde…)
- Ek sal beleef dat God my vergewe. (Ek bewys … reg en geregtigheid op die aarde…
- Ek sal al hoe meer die behoefte ontwikkel om die regte dinge te doen. (… want dit is wat ek wil hê, sê die Here.)
Gewildheid by mense moet verdien word. Dit kan skielik verkry word, of dit kan oor ‘n lang tyd gevorm word. Dit kan ook vinniger verloor word as wat dit verkry is. Dit is op hierdie punt wat tieners dinge begin doen wat teen hulle beginsels ingaan net sodat hulle weer gewild kan wees. Soms is dit klein dingetjies wat vir iemand anders dalk nie ‘n “issue” sal wees nie. Dinge soos om te vloek, of te rook, of te drink, of met dwelms te eskperimenteer, of selfs seksueel oor die tou te trap.
Elke keer wat die tiener aan hierdie dinge toegee, word die selfrespek ‘n klein bietjie minder. Die tiener hou ‘n klein bietjie minder van homself, want dit is nie wie hy/sy regtig wil wees nie. Christen tieners is baie opreg in hulle behoefte om die dinge te doen wat vir die Here belangrik is. Hy weet – ek doen nou dinge wat ek weet ek nie moet doen nie en nie wil doen nie.
Nou ken ek die redenasies wat sê: “Hierdie dinge sal die tiener mos nie uit die hemel uit hou nie.” Heeltemal waar. En God sal ook nie ophou om die tiener lief te hê nie. God sal nie ophou om die tiener te vergewe nie. Maar die eindelose worsteling van die tiener vasgevang in elkeen van hierdie dinge is: Het God my regtig lief? Het God my regtig vergewe?
Maar ook, gehoorsaamheid in die klein dingetjies maak die deur oop vir gehoorsaamheid aan die groot dinge. Ongehoorsaamheid in die klein dingetjies maak dat mens twyfel of jy ooit regtig enige iets sinvols vir God sal kan doen. Ongehoorsaamheid in die klein dingetjies staan in die pad van die Jesus gelykvormige karakter wat in elkeen van God se kinders uitgewerk behoort te word. (2 Kor. 3:18)
Karakter is die mens wat ek is en wat ek word – van binne na buite. Karakter is waar jou hart en jou verstand mekaar ontmoet. Dit is my gebed vir elkeen wat hier lees dat jy nie oorweldig sal word deur die behoefte om deur ander aanvaar te word nie. Dit is my gebed dat jy ‘n Jesus-gelykvormige karakter sal najaag en nie bang sal wees om met tye alleen te staan nie. Ek bid dat jy die regte ding sal doen omdat jy weet dat dit die regte ding is om te doen, selfs al beteken dit dat jy alleen sal moet staan.
Ek bid dat jy die wonderlike teenwoordigheid en krag van die opgestane Here Jesus sal beleef.
Baie dankie, as ‘n ma van ‘n tienerseun, en ook vir myself. Ek is geraak deur die woorde :”dat jy die regte ding sal doen omdat jy weet dat dit die regte ding is om te doen…” Dis nie die maklikste pad nie, maar die enigste pad as jy jouself in die oe wil kyk elke dag.
boendoe: Welkom hier by hierdie koffietfafel. Die belangrike ding soos jy sê is dat mens jouself eendag in die oë sal moet kyk. Keuses vandag bepaal of ek dit sal kan doen fo nie.