BAKENS VAN HOOP

Mens moet maar altyd weet dat die media in hulle beriggewing nooit alles sê nie. Ek lees in Vrydag 26 Oktober se Beeld dat Dr. Nelus Niemand die uittredende moderator van die NG Kerk se Hoëveldse Sinode gesê het dat hy vanuit gesprekke met lidmate aflei dat dit vir die hedendaagse mens nie meer belangrik is wat van hulle gaan word as hulle doodgaan nie.

Ek dink hy maak ‘n belangrike punt om te sê dat dit vir die hedendaagse mens veel belangriker is om te weet wat sê die kerk oor wat die koninkryk van God hier en nou beteken. Ek ken Nelus ook goed genoeg om te weet dat hy graag die kerk se aandag wil vestig op hoe die omstandighede waarin die kerk sy werk moet doen verander het – soos die berig heel tereg ook meld. Hy wil graag sien dat die kerk die uitdaging om relevant te wees in die tyd waarin ons lewe aangryp en waarskynlik dat dit ons roeping en taak is om tekens op te rig van die heerskappy van die Koning van die kerk en die Koning van die konings.

Die oproep is heeltemal tereg dat ons die tydsgees moet probeer verstaan sodat die kerk se bediening in die nuwe omstandighede doeltreffend kan wees. Waarskynlik die bewusmaking van die feit dat ons oë moet oopgaan vir die feit dat die kerk nie so effektief is as wat ons voorgee om te wees en wat ons bedoel is om te wees nie.

Ek stem met Nelus saam. Die belangrikheid van die koninkryk van God vir die hier en die nou – met ander woorde, dat die evangelieboodskap  nie net “a pie in the sky when you die” word nie, maar dat die kerk geroep word om in hierdie lewe tussen vandag se mense sigbare tekens van hoop te vestig.

Ek verstaan dan die motivering vir die oprig van hierdie tekens van hoop dat dit bymense hierdie belangrike vraag sal ontlok: Hoekom doen jy dit? Wat dan vir ons die deur oopmaak vir ons om die evangelie van hoop te deel. Om te getuig van die wonderlike hiernamaals in die onbeskryflike teenwoordigheid  van die lewende God, of dan nou die Vaderhuis.

Mens moet tog versigtig wees omn gesprekke met lidmate te gebruik om die indruk te skep dat die hiernamaals vir vandag se mense nie belangrik is nie. Mens kan baie dinge aflei uit gesprekke met lidmate, maar dit is net afleidings. Ek vermoed egter dat hy heelwat meer hier rondom sou gesê het en dat die berig dit net nie alles sê nie.

Die probleem is dat die saak oor die hiernamaals ook ‘n besprekingspunt in die huidige teologiese debat is. Juis daarom het ‘n groep afgetrede teoloë volgens die Beeld van Donderdag 25 Oktober hieroor standpunt ingeneem het.  (Maar nie in reaksie teenoor Nelus nie, maar wel in reaksie teenoor Julina Muller)

As ek Beeld van 25 Oktober 2007 mag aanhaal:

“In hulle verklaring sê die emiriti ook hulle glo daar is ‘n onsigbare en onbeskryflike dimensie waar tyd, materie en ruimte nie bepalende faktore is nie.

Hulle sê die Bybel noem dit die hemel, maar dit is iets anders as die onmeetlike ruimtes van die heelal.”

Ek weet ek gaan hemel toe. Ek weet daar gaan ‘n dag kom wanneer ek daardie huidig onsigbare en onbeskryflike dimensie waar tyd, materie en ruimte nie bepalende faktore is nie, saam met God en ‘n skare van heiliges gaan deel.

Ek kan nie wag nie, maar totdat dit gebeur sal ek my lewe daaraan wy om bakens van hoop in hierdie lewe op te rig.

19 thoughts on “BAKENS VAN HOOP

Add yours

  1. Met verwysing na die derde paragraaf dink ek dis belangrik dat vernuwing voortdurend in die kerk moet plaasvind. Die gemeente waaraan ek behoort stap nou al ‘n geruime tydjie die pad van vernuwing met groot sukses. Vir sommige van die ouer lidmate is dit soms maar moeilik om daarby aan te pas, maar ek merk op dat hulle darem nie verdwyn nie. Daar is bv. weggedoen met die kansel en die liturgiese ruimte is vergroot. Dit het gelei daartoe dat daar nou elke 2de jaar ‘n blyspel kan opgevoer word waaraan ongeveer 150 mense deelneem en ongeveer 1000+ mense dit bywoon. Daar kan gereeld danse, kooropvoerings en tonele opgevoer word wat by die preek aansluit ens. Dan word daar ook heelwat Engelse liedere gesing om Engelssprekende of swart besoekers/lidmate te akkommodeer. Daar word ook tans daarna gekyk om die aanddienste meer kontemporêr aan te bied. Eredienste word ook op die internet uitgesaai en sodoende word mense in die buiteland bereik.

  2. As ek nou mag vra, Dominee, al hierdie vernuwing en so aan – gaan dit ons nou nader aan die saligheid bring? Verloor ons met die vernuwing van die kerk en die verslapping van die stywe NG beeld – (en verstaan my nie verkeerd nie, “I am all for it”, want dit neuk maar in hierdie hitte met ‘n pak en das en ek kon nog nooit sien hoe die das my nader aan die hemel en saligheid gaan bring nie, maar nou ja.), verloor ons nie dalk die eintlike doel uit die oog nie. Die doel om te glo in Jesus, dat hy vir ons sonde gesterf het en al daai dinge.

    Fokus ons nie SO erg op die kerk wat moet bykom by die mensegemaakte gemoderniseerde wêreld, dat ons God uit die oog verloor nie?

    En as dit vir iemand nie meer belangrik is wat van hom word as hy doodgaan nie, wat se sin is daar dan daarin om aan enige iets te glo in daardie lyn? Ek vra maar net.

  3. kaalvoetkind en unobastardo: Ek beskou ons eie gemeente as ‘n redelik vernuwende gemeente. Ek dink ons het ‘n verantwoordelikheid om ons boodskap op so ‘n wyse oor te dra dat ons dit vir die mens van vandag “maklik” maak om te luister. Maar ek wil in ‘n groot mate met unosbastardo smaastem. Ek wonder ook of ons nie soms in ons strewe om kontemporêr te wees, (En ek is ook “all for it”) die kern van ons boodskap afskeep en te veel fokus op wat vir die mense aanvaarbaar is en nie wat die boodskap is nie. Die verpakking raak belangriker as die inhoud. Ek is nuuskierig om ander ouens se kommentaar hierop ook te hoor.

  4. Ek is baie dankbaar dat ons meer vry is om die verpakking te verander. Ek deel ook die kommer dat die inhoud verlore gegaan het. Bv. Gelukkig hoef tieners nie meer klomp goed uit hulle kop te leer voor hulle belydenis van geloof kan aflê mie, maar nou wil dit vir my lyk asof hulle kennis oor die Woord en oor God klein bietjie oppervlakkig is.

    Ek hou ook van die afgetrede proffies se beskrywing van die hemel “… ‘n onsigbare en onbeskryflike dimensie waar tyd, materie en ruimte nie bepalende faktore is nie. Hulle sê die Bybel noem dit die hemel, maar dit is iets anders as die onmeetlike ruimtes van die heelal.”

    Ek sien ook uit daarna om eendag in die hemel te wees.

  5. Moresê Doom!
    Doom, ding is mos maar sout vannie aarde – met die kultuur van die onopgevoede – en ding dink nog gereeld aan Doom se vraag: die ideale kerk vir ding.
    Ding stem saam met wat Doom en Trossie sê – daai van die verpakkingsbedryf. Terloops, Doom, manman kan sommer sien hierdie Trossie maak uit van – issie enigeen se maat nie – skerp, of hoe? Trossie, maak jy die wyn so skerp of maak die wyn jou so skerp? (ding grap sommer net goediglik met jou!)

    Doom, ding hou van ‘n kerk wat sy man kan staan. (.) Kyk, vir ding is daar verandering en verandering, né. Soos, bv. die wegdoen met manelpakke vir die kerkraad; die wegdoen met die verpligting van hoed dra vir die vroutjieratwerkgoed; die aanvaarding van langbroeke vir vroutjieratwerkgoed en klere sonder baadjies en dasse vir manne; vroutjieratwerkgoed op die kerkraad en as predikante – kyk, al daai nommers is funksioneel en hou die kerk op sy manier relevant en byderwets. Soos die hoede en die langbroeke – sonder hoed kan manman darem mos die dominee raaksien en hoef manman nie te skuif soos die tannie mettie breë hoed voor manman skuif nie. Met die ja vir ‘n langbroek innie kerkbank, kan Moedertjie met gemak op ‘n winterSondagmore steeds kerk toe sonder dat die rumatiek haar die preek nie laat hoor nie. Sonder das en baadjie kan Broere sonder wurg kerk toe op ‘n somerSondagmore. En lyk ding minder soos ‘n opgetooide sirkusolifant.

    Maar Doom, laat ding nou maar vanmore die moed van sy oortuiging hê en bieg: Ding hou van ‘n kerk wat trots by sy karakter bly staan, desnieteenstaande – verandering moet opreg en funksioneel wees. Relevansie en byderwetsheid is bykomende terloopshede. ‘n Gedans en opvoerkonserte en sulke ligsinnige baldadighede hoort nie vir ding in ding se kerk nie. (.) Ding kan daai enige ander dag in die kerksaal en waar anders ookal loop belewe. Ding praat nou maar van ding se ideale kerk, né. Maar dis hoe dit is: vir ding het ding se kopkerk ‘n bepaalde kultuur en karakter van stigtelikheid, respekte vir die erediens – dis een van die geleenthede wat hoort in godsdiensbeoefening. Daai stilword voor die Here. Die res van die week is daar om uitspattig en baldadig te wees. Net omdat daar ander kerke is wat so ‘n kultuur het, beteken nie dat ding se kerk ook op daardie gebied kompeterend moet wees nie.

    En dan nog dit: ding neem kennis van die inligting dat tieners nie meer klomp goed uit hulle kop hoef te leer nie … ding weet nou nie so lekker van daai nie. Want vir ding, oudmodies, ja, is maar seker hoe ding is, is kennis essensieël om te groei in geloof. Soos ding al voorheen verduidelik het – ding weet maar net soos Moedertjie vir ding gemaak verstaan het, sien jy. Nou vir ding werk dit so: Moedertjie en skool en kerk, maar meestal Moedertjie, het vir ding onderrig in die weë van die Bybel, bedoelende die inhoud van die Bybel, né – die kennisgedeelte van waar ding se geloof vandaan kom en wat dit inhou. En dit is soos enige ander kennis: jy moet dit memoriseer. (.) Want daardie kennis word later, wanneer jy op jou eie bene staan en self jou geloofsbesluite neem, en self verantwoordelikheid neem vir die reg en verkeerd van jou dade, jou basis waarvandaan jy weet van reg en verkeerd. Daarsonder is dit so goed soos jy stuur jongseuns grensoorlog toe met gewere en ammo, man tot die tanne bewapen, sonder dat iemand vir hulle vertel het watter kant van die geweer teen jou skouer kom en watter kant na die vyand wys. Dis so goed soos gee daai seuns handgranate en geweerammo sonder om hulle te verduidelik dat die een tipe in die geweer gelaai word en die ander met die hand gegooi word.

    Ding kort vanmore die woorde, maar ding weet net: Katagese soos ding dit geken het, is vir ding lewensnoodsaaklik. Kerk met sy eie unieke karakter is sinvol. As die kerk wil “bykom” moet die verandering gevestig en gerig wees op funksionaliteit – nie kompetisie om “markverwant relevant” te bly nie. Die verandering, waar nodig, moet wees om die kerk in die boodskap wat dit uitdra, akkuraat te hou. Doom, as die lidmate nie meer omgee oor wat van hulle word wanneer hulle kis nie, dan is dit die kerk, die predikante, die ander lidmate, se roeping, om deur boodskap daardie gedeelte van geloof weer relevant te maak.

    Dankie, Doom.

  6. Kandas:Lyk my jy voel ook dit wat die tieners leer is nie heeltemal genoeg om hulle voor te berei vir die lewe nie.
    Ding: Dankie vir jou gedagtes. Dit lyk vir my jy wil sê jy het nie ‘n probleem met veandering nie, solank daardie verandering funksioneel is en die kerk daardeur sy kernbesigheid beter sal kan doen. Lyk ook vir my ons jong mense sal dalk maar weer ‘n paar dingetjies moet begin memoriseer en leer sodat hulle God en God se Woord beter kan leer ken.
    Terloops – Erediens is vir my ook ‘n diens tot eer van God. God moet geëer word.
    Nou wonder ek as ek bietjie die vriendelike lesers hier sou vra: Wat sien julle as die kern-besigheid van die kerk?
    Ek is nuuskierig.

  7. Kaalvoetkind: Ek wou nog sê ons het ook jaarliks iets spesiaals wat ons doen met kersfees. Ek weet net nie of die standaard van so ‘n aard is dat ek dit ‘n blyspel sou noem nie.

  8. More Attie
    Ek stem saam met Kandas en ding. Ek voel ook tieners se kennis moet meer intens wees, want soos Ding gese het as jy groot word is dit daardie kennis wat jou moet laat onderskei tussen reg en verkeerd en jou grondslag help le.
    Ek is oop vir vernadering en vernuwing in die kerk, maar ek voel dat jy nie met verandering die hele doel van die kerk moet mis nie Die kerke moet ook nie in n kompeterende verandering wees nie
    Ons hoof doel bly nog Jesus en ons naaste……
    Die kernbesigheid van die kerk is Jesus en dat ons Hom moet eer en nie so behep raak met ander dinge in die Kerk en dat ons Hom verloor nie. Almal moet ook welkom voel in die kerk ……so dot kom weer daarop neer ….wees soos Jesus

  9. Kernbesigheid van die kerk?
    Ding se eerste gedagtes (nog oppad klip toe met die ene, hoor):
    Kern van die kerk = God drie-enig
    Kernbesigheid van die kerk = drieledig: verering van God; “ouerhuis” en tuiskoms vir sy gemeentelede; ‘n lus vir die oog en hart vir die wie nog buite staan

    Doom, ding weet NIKS van die antwoorde op hierdie moeilike vrae van Doom nie. Maar ding weet ding se kerk, ne, sou, as Ding nou prentjie hier kon teken – *ding gryp sommer ‘n stok en begin teken in die sand voor ding se klip vir Doom * – dan sou Ding eerste ‘n O teken, ne en daai sirkel verteenwoordig die kern van ding se kerk en in daai kern is God die Vader, Jesus Christus, Seun van God, en die Heilige Gees, almal saam. Dit is vir ding die kerk se kern. Alles in die kerk, alles van die kerk, behoort rondom daardie kern te draai. En dan rondom daai sirkel sal ding nou ‘n driehoek wil loop sit waar elkeen van die sye van die driehoek aan die sirkel raak, sien jy. En die onderste twee hoeke van die driehoek, is die kerk se gemeente en dan die nie-lidmate; die ander mense en die boonste hoek van die driehoek is die verering van God. En al die hoeke en die sirkel is alles aanmekaar gelink. Ja, ding sal van daai kerk nogals hou, Doom. Maar ding sal ook nog weer dink…

  10. Dit is darem ‘n mooi prentjie wat Ding hier van die kerk teken. Ek weet mens oorvereenvoduig soms, maar nou dink ek ook dat Jesus dit alles saamgevat het en gepraat het van jy moet God meer liefhe as enige iets ander en dan jou naaste jouself. Dit lyk dan nou vir my die woorde van ons Here Jesus gaan mooi inpas in hierdie prentjie van Ding.
    Ek sien ook swarigheid vir die kerk as mens te veel vra wat wil die mens aan wie ons die Woord moet verkondig. Dan is God nie meer binne daardie sirkel nie, maar die mens aan wie die Woord verkondig moet word word dan ons middelpunt. Dis maar hoe ek dink.

  11. Attie jy het dit baie mooi gese: Die evangelie bestaan uit inhoud en verpakking. Die inhoud is onverhandelbaar en ek dink die EI probeer iets daaroor se. Die verpakking moet altyd nuut en vars bly en mag verander soos tyd verander op so n manier dat dit “bemarkbaar”, opwindend en relevant bly.
    Ek dink die doel van die kerk is om n tuiste vir Christene te skep op so n manier dat ander mense jaloers is daarop en natuurlik om altyd homself te bemark, om sodoende die populasie in die hemel te bly verhoog.

  12. Ding: Ek hou van God-drie Enig is die kern. Selfs die driehoek waar die gemeente op mekaar en op ander mense fokus sodat almal saam op God kan fokus. God is tegelyk ons middelpunt en ons hoogste doel. Hieroor sou mens diep kon dink.
    Ek wonder: Jy sê ook iets wat my gaan laat dink: Ons moet sekermaak dat geen mens of saak die plek van God in die sirkel inneem nie. Aan God alleen die eer – Soli Deo Gloria.
    Alec: Nou stry ons so oor die INHOUD dat ons verpakking glad nie goed lyk nie. Kom ons bid vir ‘n gemeente waarop mense jaloers sal wees.

  13. Ek lees in vandag se Beeld (Donderdag 31 Oktober) dat Izak Burger ook sê dat Nelus ‘n fout maak. Die probleem is nou dat nelus juis hierdie opmerking gemaak het om ons aandag daarop te vestig dat ons die mens van ons dag aan wie ons die evangelie verkondig moet verstaan. Nou wil dit voor kom asof hy toe self nie die mens van die dag so baie goed verstaan nie. Ek dog ek sê maar net.

  14. Attie, ek is glad nie ‘n kenner op die gebied van uitvoerings/opvoerings nie, maar mens noem dit seker ‘n Kersspel. Kersfees is ‘n baie spesiale gebeurtenis op die Christen se kalender en ek geniet ook altyd die spesiale Kersdiens.

    Ek stem saam met julle dat ‘n mens soms kan besig wees met die werk van die Here en dalk die Here van die werk vergeet as ek dit so kan uitdruk.

    Ter wille van Ding wil ek net die volgende verduidelik en ek haal aan uit wat in 1 Kor 12 staan oor genadegawes (dis eintlik beter om die hele gedeelte te lees om die begrip genadegawes te verstaan)

    6: “daar is ‘n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee;

    7: daar is ‘n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring.

    8: Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal.”

    M.a.w. of jy nou sing in die koor, Sondagskool gee, die kerk se finansies hanteer, of jy die leraar is, of die orrelis ens., hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees.

  15. Kaalvoetkind: Iemand het een keer gesê: As dit kom by styl of die manier waarop ons dinge doen, “go with the flow”. As dit kom by beginsels, staan jou man. Ek dink ons moet ruimte laat vir verskillende “verpakkings” (Bv.: vernuwend of tradisioneel) maar ons moet jaloers waak oor die inhoud. Ek dink ek het al gesê dat ons eie gemeente redelik vernuwend is. Ons het ‘n paar lidmate verloor, maar ons het heelwat gewen. Ons is veral besonder gelukkig dat ons ‘n groot groep jong werkende mense na ons gemeente getrek het. Ons het egter deurlopend baie jaloers gewaak oor die inhoud van dit wat ons aan hierdie mense verkodnig. Dankie vir jou inset.

  16. Kern van kerkwees is Jesus die gekruisigde. Hy is die middelpunt waarom alles draai. Ek gaan kerktoe om hom te verheerlik, na ander in die gemeente wat swaarkry uit te reik en hulle nood raak te sien. God het ons vir die doel geskape om Hom te dien en sy Naam groot te maak. Dan ds Attie as ek kyk na die eerste kerk in die tyd van Jesus Christus en vandag se kerk is daar n groot verskil. Hoekom doen niemand wat Jesus sy disipels beveel het om te doen nie. Hulle was tog die eerste om die evangelie uit te dra en hulle het van Jesus self geleer. Hy het vir hulle gese gaan maak disipels van al die nasies, doop hulle in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees en leer hulle (luister mooi) leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle geleer het. Elkeen vandag volg sy eie leerstellings is ongehoorsaam aan die groot opdrag en ons weet almal wat gebeur as jy ongehoorsaam is. Dit bly vir my n raaisel waarom niemand gehoorsaam is aan die groot opdrag nie. Nog n punt waarom preek predikante nooit oor die wedergeboorte nie en bekering?

  17. Magda Kopp:Hulle preek dit nie,maar wat wel gepreek word is die geloofsbelydenis en die afle daarvan.So sit daar duisende en duisende mense in die NGK wat glo hulle is gered,maar hulle is nie.Ek voel verskriklik jammer vir hulle,want al wat jou in die hemel gaan laat kom,is wedergeboorte.Dit is iets wat net deur God gedoen kan word en nie deur mense nie.As mense dit sou kon doen,sou ons nie vir Jesus nodig gehad het nie.Ons kan maar net bid dat God of een of ander manier die doek sal lig van die mense se oe en dat hulle tot ander insig sal kom en die waarheid sal leer.My posts word nie op Attie se blogs gepos nie,want hy stem nie saam daaroor nie.Ek woder of hy hierdie een sal pos.?Laat ons opstaan vir Jesus en nie navolgers word van mense nie.Kom ons kyk ‘n slag wie agter die mense staan.Meeste leraars word soos gode behandel in die kerke deur die gemeente.Ek weet van ‘n persoon dat as ek die waarheid begin gesels oor God se woord,dan manifesteer satan.Hy is een van die groot vyf in die kerk.daardie groepie broers wat soos bye om die dominee draai.Ek het niks teen predikante nie,maar ek begeer dat hulle bietjie “guts” sal kry en opstaan en ophou propaganda verkondig en die naaktheid van God se woord.Die waarheid.nie dit wat deur mense gese word hulle moet preek nie.God se woord se mos dat hulle wat deur Sy Gees gelei word ,hulle is die ware kinders van God.Die wat nie gely word deur God se gees nie,is vals profete.

  18. Ben: Jy is reg ek stem nie saam met jou nie, maar ek verstaan nie hoekom jy skrywe nie ge”post” is nie, die “post” is vir een of ander rede geblok, maar kom ons laat dit nou maar daar.

    Ai my mens, ons Here Jesus het onder andere dit as baie belangrik geag om jou naaste lief te hê soos jouself en dan natuurlik ook om Hom toe te laat om te oordeel wie werklik aan Hom behoort en wie nie. So wat van veroordeling en haatspraak het ek darem baie lank laas teëgekom. Hoekom noem jy dan nou nie maar daardie een van die “groot vyf” se naam en waar jy met elkeen gepraat het en hoe dit gelyk het toe die duiwel gemanifesteer het nie.

    Is hierdie tipe van gesprekke en veroordeling nie dalk een van die belangrikste redes waarom die boodskap van die Evangelie van God se liefde en genade nie geglo word nie?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: