DIE PRINS SOEK ‘N BESTUURDER

Ons het gisteraand ons tiener-erediens in die kerk in plaas van die saal gehou. Ek het gebruik gemaak van ‘n storie om ‘n punt te maak. 

‘n Prins van ‘n bergagtige klein eilandjie was op soek na iemand om sy motor te bestuur. Baie mense het aansoek gedoen vir die werk. Veral omdat hulle geweet het dat die prins baie ryk was en dat die salaris waarskynlik goed sou wees. Op die klein eilandjie sou hierdie persoon ook ‘n bietjie status hê.

Die prins se assistent het die aansoeke verminder na drie toe. Die finale onderhoud was ‘n rit met die prins in die limousine waarmee hulle sou ry. Die drie kandidate het die prins op een van die hoogste punte op die eiland ontmoet. Die pad ondertoe was baie styl en vol kronkels en draaie. Op meeste van die plekke het die pad nie eers ‘n reëling gehad nie. Net ‘n reguit afgrond – 50 meter see toe.

Die eerste kandidaat het ‘n wit jas en handskoene aan gehad. Hy het gesê: “Ek gaan net gou seker maak dat alles reg is.” Hy het die kap van die enjin opgelig en alles nagegaan. Olie, remvloeistof, water. Hy het twee keer seker gemaak dat daar genoeg remvloeistof is. “Nou maar reg!” het hy gesê. “Alles lyk goed. Ons kan maar ry!”

Binne in die motor het hy seker gemaak al die truspieëltjies is reg gestel, die handrem werk en toe skeilik weer uit die kar uitgeklim net om seker te maak die banddruk van al vier die bande is reg. Uiteindelik kon hulle begin ry. Baie versigtig en baie stadig na onder en weer terug. 

Toe hulle terugkom het die prins vir sy assistent gesê: “Ek wil hom nie hê nie. Ek sal altyd laat wees.” 

Die tweede kandidaat het ‘n leerbaadjie aangehad en ‘n resies-helmet gedra. Sy eerste woorde was: “Ek is nou net terug van Monte Carlo waar ek in ‘n wedren gejaag het. Kom ons kyk wat kan hierdie wiele doen. Spring in Prinsie, hier gaan ons!”  Hy het teen 160 km per uur teen die berg af gejaag. Die bande het om elke draai geskreeu en hy het byna nooit die remme gebruik nie.

Terwyl hulle berg af jaag het die prins by die venster uitgekyk en gesien hoe die see 50 meter ondertoe skuimend teen die kranse breek. Daar was niks tussen die motor waarin die prins was en die gevaarlik afgrond see toe nie. Halfpad ondertoe het die tweede kandidaat gesê: “Hierdie motor is van die beste. Sy hanteer soos ‘n droom. Kom ons kyk hoe naby aan die kant kan ons kom met die volgende draai.” Die prins was in ‘n rekordtyd onder teen die berg en weer bo.

Toe hulle terugkom het die prins eers gesukkel om sy asem terug te kry en toe gesê: “Ek wil hom nie hê nie. Ek sal nooit veilig voel nie!”

Die derde kandidaat was aangetrek in alledaagse werksklere soos die res van die mense op die eiland. Hy het homself aan die prins voorgestel en gesê: “Ek sal graag u bestuurder wil wees.”

“Kom ons kyk hoe gaan dit.” het die prins gesê.

“Goed, kom ons gaan.” Het die derde kandidaat gesê. Hy het die deur vir die prins oopgemaak en toe self ingeklim. Hy het sy veiligheidsgordel aangesit en seker gemaak dat die prins  ook syne aan het, en die enjin aan die gang gesit. Hy het vinniger gery as die eerste bestuurder, maar stadiger as die tweede een. Wanneer hy by die draaie gekom het, het hy so naby as moontlik aan die binnekant van die draai gery.

Die prins het sy manier van bestuur raakgesien en gevra: “Hoekom ry jy aan die binnekant van die draaie wanneer jy om ‘n draai gaan?”

“Die derde kandidaat het geantwoord: “Want ek het geleer dat dit gevaarlik kan wees om aan die buitekant van die draaie te ry. Ek wil graag die beste bestuurder wees wat ek moontlik kan wees, en daarom hou ek aan die binnekant wanneer ek om ‘n draai gaan. Sommige van hierdie draaie het nie eens reëlings nie, en ek wil nie die kans vat om oor die afgrond te ry nie.”

Hulle was nogal verbasend gou ondertoe en terug sonder die spanning van die man van Monte Carlo en baie gouer as die baie presiese laboratorium assistent.

Die prins was baie tevrede met die derde kandidaat se vaardighede. Toe hulle terugkom waar die ander was het hy gesê: “Hierdie man kan my bestuurder wees.”

Die prins se assistent vra toe: “Waarom het u hom bo die ander twee gekies?”

“Sy vaardighede was beter as die eerste een wat te bekommerd was oor klein dingetjies en wat nie regtig op bestuur gekonsentreer het nie. Hy was nie so vinnig as die tweede bestuur nie, maar prinse wil eerder veilig as vinnig by hulle bestemming kom. Ek hou van die derde bestuurder want hy weet dit is veilig om aan die binnekant van ‘n draai te hou as om te kyk hoe naby aan die afgrond ‘n mens kan ry.” 

Baie mense leef soos hierdie bestuurders. Sommige mense is so bekommerd oor die “detail” – die fyner besonderhede – van die lewe, dat hulle die plesier uit die lewe uithaal. Hulle sien die lewe eerder as ‘n bestemming terwyl die lewe ‘n reis is wat geniet moet word. Ander is weer so bekommerd oor spoed en prestasies dat hulle deur die lewe jaag en baie kere ernstige kanse vat. Hulle kyk baie keer om te sien hoe naby aan die kant kan hulle kom sonder om teen die afgrond af te stort.

Die wyse persoon probeer nie om alles uit te werk en antwoord op elke vraag te kry nie. Hulle vat ook nie onnodig kanse deur te naby aan die kant te kom sonder om van die pad af te gaan nie. Hulle bly veilig op die reis deur die lewe. Hulle weet dat hulle dalk ‘n bietjie tyd kan spaar deur naby aan die afgrond te ry, maar hulle weet ook dat dit dalk hulle lewe mag kos.

In my werk met tieners kry ek met al drie hierdie tipe mense te doen. Die tieners wat bekommerd is oor te veel dinge. Ek kry ook te doen met die tieners wat kies om bietjie “on the wild side” te lewe en te alle koste alle dinge moet beproef – kastig met die doel om die goeie te behou, maar ons weet mos eintlik dat dit eerder daaroor gaan om alle dinge te beproef. En dan die wat eerder ‘n paar dinge nie doen nie, maar veilig by hulle bestemming aankom. Doelgerig maar veilig.

Met tye kan die lewe moeilik wees. Jy worstel ook dalk met die vraag: Wat is reg, wat is verkeerd? Wat is swart en wat is wit in hierdie wêreld waar alles grys is.

Kom ons neem ‘n voorbeeld. Dis pouse by die skool. Rondom is jou daar net stemme. Vloekwoorde is net so natuurlik as enige ander woorde. Jy probeer om jou ore toe te druk vir die woorde, maar jy kan nie. Jy is erg bekommerd. Jy dink: “Een van hierdie dae gaan ek glip en ek gaan van hierdie woorde voor my ouers sê, en dan gaan ek in ernstige moeilikheid wees.” Jy is in twee geskeur. Aan die een kant die dinge wat jou ouers sê. En aan die ander kant die dinge wat jou vriende sê. Daar is die een deel van jou wat sê: Dit is die verkeerde ding om te vloek. Die ander deel van jou wil graag inpas in jou vriendekring.

Die een manier is natuurlik om maar so naby as moontlik aan die afgrond te lewe.

Byvoorbeeld: Neem nou maar die eerste keer wat jy vloek of oneerlik is in ‘n toets; of daardie drankie drink; of daardie dwelm gebruik; of klein bietjie verder gaan as wat jy moet gaan wanneer jy vry; of enige iets anders wat jy weet jy eintlik nie behoort te doen nie. Die eerste keer is daar so ‘n effense skrik hier binne in jou. So al asof jy jou balans op die afgrond verloor. Die rede, God het ‘n gewete in elke een van ons geplaas het.

In Romeine 2:15 staan daar: “Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetens getuig daarvan wanneer hulle in ‘n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word.” (Romeine 2:15)

Die eerste keer wat jy iets doen wat verkeerd is, is dit soos ‘n alarm wat hier binne in jou afgaan. Wanneer jy luister na die waarskuwing, sal jy gemaklik en ontspanne voel. Hierdie waarskuwing is ‘n effense skuldgevoel wat van jou gewete af kom. Wanneer jy egter kies om nie na die waarskuwing te luister nie, sal die alarm al hoe sagter raak. Op die ou end sal jy nie meer na die stem van jou gewete hoor nie.

Een van die maniere waarop ek en jy ons gewetes stilmaak is deur verskonings vir ons misstappe uit te dink. Verskonings soos: “Almal doen dit.” Of: Dit is so moeilik om nie vloek nie wanneer almal rondom jou elke dag die heel dag vloek.” Of: “Ek dink nie daar is nog iemand in ons groep – behalwe ek – natuurlik wat nog nie saam geslaap het – dronk was – dwelms probeer het.”

Die benadering vandag klink mos nou so: “Niemand kan vir jou sê wat is reg en wat is verkeerd nie. Daar is nie reëls nie. Elkeen van ons besluit maar vir onsself.” Ons sien rondom ons wat die gevolg is van ‘n lewe sonder reëls. Almal is verward.

‘n Paar jaar gelede praat ek met ‘n groep matrieks by een van ons plaaslike skole oor hierdie dinge. Ek maak toe die opmerking van hoe sommige van die matrieks baie naby aan die afgrond leef. Ek noem toe selfs ‘n paar voorbeelde. Die volgende keer toe ek terugkom toe weier die een matriekseun om na my te luister. Hy sal eerder huiswerk doen as wat hy na my gaan luister. Sy verweer was dat ek nie die reg het om vir hulle te sê wat reg en wat verkeerd is nie. Uit die aard van die saak kon ek nie die matriekseun van enige iets anders oortuig nie.

Vroeër hierdie jaar kom een van die vriende van daardie matriekseun na my toe. “Kan jy nie asseblief met “????”  praat nie.” En hier is haar woorde: “Hy het nou die pad heeltemal byster geraak.” As ons dan nou ons beeld moet gebruik: Hy het te lank te naby aan die afgrond geleef. Hy het sy gewete se stemmetjie doodstil geleef. Hy het teen die afgrond af gery.

Nêrens in die Bybel staan: Jy mag nie saam met jou vriende by hierdie of daardie plek kuier nie. Nêrens in die Bybel staan: Jy mag nie alkohol gebruik voor jy agtien is nie. Nêrens in die Bybel staan: Pasop vir dwelms nie. Die Bybel gee nie antwoorde op elke moontlike vraag nie. Die Bybel gee beginsels.

Daarom, dink mooi. Gehoorsaam die Here en leef met selfbeheersing. 1 Petrus 1;13-16 sê dit so: “Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade  wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewens inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: ‘Wees heilig, want Ek is heilig.’”( 1 Petrus 1:13-16)

Dit is die beginsel wat ek en jy kan gebruik in elke besluit wat ons neem. As ons hierdie beginsel gebruik sal ons veilig en vaardig deur die lewe gaan. Ek noem dit die “wees heilig want Ek is heilig beginsel”.

2 Kommentaar

Filed under Christen tieners., Die Christelike Lewe, Nagedink

2 responses to “DIE PRINS SOEK ‘N BESTUURDER

  1. Fanie

    Uitstekende, treffende, uiters knap toegepaste diens. Sang was aangrypend en boodskap in die kol vir die tienergehoor (ek het heelwat volwasse kopknikke ook waargeneem…)

  2. Dankie Fanie.
    Ek moet darem sê dat ek myself ook baie geniet het. Van die koorkinders was ‘n bietjie vreemd vir my en hulle het heel voor gesit en eintlik nie geweet of hulle in die kerk mag lag nie. Dit was toe nogal vir my ‘n uitdaging om hulle aan die lag te kry want ek het geweet dan sal hulle ontspan en regtig luister. Ws vir my ook lekker.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s