SELFBEELD VERVOLG

Mens se selfbeeld is die prentjie wat ‘n mens vir jouself van jouself teken. In ‘n baie groot mate is selfbeeld ‘n samestelling van die terugvoer wat ‘n mens van die belangrike mense in jou lewe oor jouself kry. Alhoewel ek in my werk met tieners agterkom dat daar baie konflik tussen ouers en tieners is, is ouers van die belangrikste rolspelers in die vorming van ‘n tieners se selfbeeld.

Die een bekommernis in hierdie verband is dat daar tog ouers is wat ‘n negatiewe invloed op tieners se selfbeeld het. Ek moet onmiddelik byvoeg dat ek dink tieners ouers soms met magteloos frustrasie laat, wat tot gevolg het dat ouers dinge sê wat ‘n negatiwe uitwerking op die selfbeeld van tieners sou kon hê.

In die ideale wêreld (Na my mening) sou tieners ‘n realistiese selfbeeld ontwikkel deur ‘n antwoord te soek op hierdie vraag: Hoe sien God my? Ons leef egter nie in die ideale wêreld nie. Indien mense nie ‘n doelbewuste keuse maak om God en daarmee saam God se Woord die hoogste gesag in hulle lewens te maak nie, gaan mense aanhou om hulle selfbeeld te baseer op die terugvoer van mense.

Ek het gisteraand aan die tieners probeer verduidelik hoe God hulle sien met die gedagte dat hulle hulleself deur God se oë moet begin sien. Ek het die volgende gedagtes probeer oordra:

1. God het jou as Christen tiener twee keer gemaak. God het jou in die moederskoot gevorm, en saam met die keuse of besef dat Jesus Christus Here en Koning van jou lewe is, het Hy jou oor kom maak. 2 Kor 5:17 noem dit ‘n nuwe skepping en Johannes 3 noem dit weergeboorte. “Ek is weergebore! Ek is ‘n nuwe skepping!”

2. God het met jou nuut begin. God begin voor. Die oue is verby, die nuwe het gekom. God is ‘n God van veelvuldige genade en tweede kanse. “My verlede is verby. God het met my voor begin!”

3. Jy as Christen tiener is twee keer God sin. Hy het jou gemaak en Hy het jou gekoop – duur gekoop. Om hierdie punt te illustreer, vertel ek dikwels die verhaal van die klein seuntjie voor wie se huis daar ‘n kanaal was waar konstant water gevloei het. Die seuntjie het die meeste van sy tyd daar by die kanaal deurgebring terwyl hy in die water gespeel het.

Toe besluit hy eendag om vir hom ‘n klein bootjie te bou. ‘n Bootjie waarmee hy op die water in die kanaal kan speel. Met groot moeite en ‘n bietjie hulp van sy pa het die suentjie ‘n baie netjiese en goeie bootjie gebou. Die eerste dag toe hy met die bootjie op die water gaan speel, het hy egter die sterkte van die stroom onderskat. Die stroom het sy bootjie weggevoer en hy kon hom nie weer kry nie.

‘n Paar weke later stap die seuntjie toe in die dorp by ‘n pandjieswinkel verby. Groot was sy verbasing toe hy in die venster van die pandjieswinkel sy bootjie sien. Hy stap in en hy sê vir die eienaar dat dit sy bootjie is. Die eienaar staan egter vas: “As jy die bootjie wil hê, sal jy vir hom moet betaal.”

Die seuntjie is daar uit en hy het besluit om te spaar. Hy het baie werkies vir sy ouers en die bure gedoen en elke keer as hy ‘n geldjie kry, het hy die geld gebêre. Op ‘n dag het hy toe genoeg geld. Hy vat toe al sy spaargeld en hy gaan na die pandjieswinkel toe en hy koop die bootjie wat hy self gemaak het terug.

Toe hy by die deur uitstap kyk hy na die bootjie en hy sê: “Nou is jy twee keer myne, ek het jou gemaak en ek het jou gekoop.”

Ons is twee keer God sin, Hy het ons gemaak en Hy het ons gekoop met die kosbare bloed van sy Seun.

“Ek is twee keer God sin. Hy het my gemaak en Hy het my gekoop!”

4. Jy as Christen tiener is die woonplek van God. Die Bybel leer ons dat God die Heilige Gees in elke een van God se kinders woon. Ek is vir God so waardevol en belangrik dat Hy kies on in jou te kom woon.

“Ek is die blyplek van God die Heilige Gees!” 

5. Jy as Christen tiener is vir God so belangrik dat Hy deur jou die wêreld wil bereik. Ek het by geleentheid gelees hoe iemand Jesus se hemelvaart beskryf het. Heeltemal fiktief en definitief nie hoe dit werklik gebeur het nie. Maar die punt wat gemaak word het my getref.

Die dag van Jesus se hemelvaart het die engele Jesus ingewag daar waar die dissipels Hom nie meer met die blote oog kon sien nie.

Die engele het gevra: “Meester, was U sending suksesvol?”

Jesus se antwoord: “My sending was suksesvol. Mense sal gered word!”

Vra die engele: “Hoe sal mense hierdie goeie nuus dat hulle gered kan word hoor?”

Jesus antwoord: “My dissipels sal getuig en ander mense vertel en so sal almal tot aan die uithoeke van die wêreld weet!”

Vra die engele weer: “En as daardie plan nie werk nie?”

Jesus was ‘n rukkie stil en toe sê Hy: “Ek het nie ‘n ander plan nie.”

Christen tieners is God se plan om ander tieners te laat weet van die goeie nuus dat hulle deur Jesus Christus gered kan word. Christen tieners is vir God so belangrik dat Hy kies om deur hulle die beste nuus ooit oor te dra.

“Ek is God se plan vir hierdie stukkende wêreld!”

6. Jy as Christen tieners is vir God so belangrik dat Hy op hierdie oomblik besig is om ‘n baie spesiale blyplek vir jou gereed te maak. Wanneer dit gereed is om kom Hy jou haal. Jesus het gesê dat daar in die Vader se huis baie plek is en dat Hy gaan om vir ons elkeen plek gereed te maak. Op die regte tyd sal Hy ons kom haal om vir altyd saam met Hom te wees. Totdat Hy kom het Hy vir ons die Heilige Gees gegee as bewys dat Hy ons weer gaan kom haal.

“Ek het ‘n blyplek ind ie Vaderhuis. Jesus kom my haal!” 

Elke Sondag-aand wanneer ek gaan slaap is daar net een gebed in my hart: “Here, gee dat die saadjies wat U vandag deur my in tieners se lewens geplant het, sal groei en sal vrugdra.”

Ek hoop dit kan vandag ook ‘n saadjie in jou lewe plant. Dalk weet jy van iemand wat sukkel met sy/haar selfbeeld en weet jy die persoon moet dalk net weet hoe God oor hom/haar dink. Stuur hierdie skakel na daardie persoon toe.

Advertisements

4 Kommentaar

Filed under Christen tieners., Die Christelike Lewe

4 responses to “SELFBEELD VERVOLG

  1. kaalvoetkind

    Ek sal hierdie inskrywing uitdruk en vir my seuns gee om te lees alhoewel hulle eintlik al verby die tienerstadium is, maar dit kan hulle net goed doen om dit te lees.

    So terloops, my seun, Bertus, het gister by Hedgehog’s Nest saam met die Vivace Ensemble opgetree. Hy is die jongste lid en die enigste man met ligte hare. Jy behoort hom te eien op my foto bladsy op my blog. Die wêreld is klein né!

  2. Ek onthou hom baie spesifiek die enigste man met die ligte hare. Jy moet seker trots wees op hom. Kry enige een van ons ooit heeltemal klaar met die selfbeeld saak?

  3. kaalvoetkind

    Ja, Attie, ek is baie trots op hom. Die eerste keer wat ek hom hoor sing het (na hy toe al vir ‘n jaar lesse geneem het), was op my suster se dogter se troue toe hy Panis Angelicus gesing het. Ons kon nie glo ons kind sing so mooi nie en ek en my man was albei in trane! Dis hoekom ek vantevore gesê het dat Panis Angelicus vir my ‘n baie spesiale betekenis het…

  4. Sonnekind

    Ja dit is preises die bootjie storie wat ons gisteraand gepreek is, met Bybellees en al. Ek gee jou baie goeie nuus een van jou saadjies wat jy gisteraand gesaai het, het definitief begin ontwikkel
    Wat die selfbeeld betref glo ek as ouer ook om my kind so te tug en berispe dat hy nie opstandig word vir my nie, soos wat die woord se. Al is dit soms moelik dat ek nie opstandig raak nie!!!!!!!
    Ek het n baie speiale plek vir tieners en ek dink ook hul voel dit aan en respek word onmiddelik gedeel. Hou jouself op hul vlak daal af en wees nederig en bou gedurig aan hul selfbeeld n Tiener met n goeie selfbeeld is al halfpad “gewen”
    Dankie vir ons boekie vol goeie wenke wat al dikker raak.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s