HELDER SKYN ONS LIG

Ons het gisteraand tiener-kleingroep gehad. Die kleingroep bestaan uit so wat 25 tieners wat bymekaar kom en met mekaar gesels oor die Bybel en oor die Here en oor hulle geestelike lewe. Gisteraand het ons die groep in kleiner groepies gedeel en elke groep moes met ‘n vraag kom wat hulle dink tieners oor hulle verhouding met die Here of oor hulle lewe as Christene sou vra. Dit kon ‘n fiktiewe vraag wees, of ‘n vraag wat een van die tieners regtig graag beantwoord sal wil hê. Een van die vrae wat toe later gevra word is die vraag oor Christene en hulle vriende. Beteken dit dat ek as Christen nou nie meer vriende mag wees met mense wat nie Christene is nie?Hoe moet ons as Christene se verhouding met die wêreld lyk? Hoe moet ek optree teenoor mense wat nie Christene is nie? Wat maak ek met my vriende wat nie in Jesus glo nie? Is ‘n Christen veronderstel om skielik sy rug op al sy vriende te draai wat nie soos jy dink en soos jy glo nie? Of probeer jy steeds om vriende te wees en aan te gaan asof niks verander het nie?

Ek is van mening dat ons as Christene geroep is om sout en lig te wees. Veronderstel nou maar die wêreld is pikdonker. In hierdie hele wêreld is daar net een persoon wat flitsligte het. Hy deel hierdie flitsligte uit. Maar vir elkeen vir wie hy ‘n flitslig gee, sê hy: “Vat hierdie lig dan stap jy na daardie huis toe. En as jy daar binne kom dan skakel jy jou flitslig aan.” Dan stap hierdie persoon tot daar by die huis en as hy daar kom, dan sien hy daar is alreeds lig in die huis, maar hy stap in elk geval in. Binne in die huis is daar mense met verskillende sterkte flitsligte. Wanneer hy sy flitslig ook aansit, kom niemand eers agter dat sy lig aan geskakel is nie. In vergelyking met sy fltislig, is daar baie helder ligte wat skyn. In die vertrek is daar wonderlike alles oorweldigende lig as gevolg van al die ligte wat skyn. Wanneer hy by die venster uitkyk, dan sien hy daar buite ‘n donker wêreld. Dan neem hy ‘n besluit, want hy besef: As sy liggie in hierdie oorbeligte vertrek ‘n verskil wil maak, sal die liggie baie helder en baie sterk moet wees. Hy draai om en hy stap by die deur uit en skakel sy lig aan in die donker wêreld daar buite. Sy liggie maak dan dat mense makliker raaksien waar hulle moet loop en waar hulle dalk kan val. ‘n Flou liggie maak ‘n groot verskil as dit die enigste liggie is.

Die goeie nuus van Jesus Christus wat aan die kruis gesterf het en ons sondeskuld by God betaal het, is soos ‘n helder lig wat skyn in ‘n donker wêreld. Elkeen van God se kinders is ‘n lig wat skyn. Daarom is dit tog belangrik dat Christene nie hulle vriende vaarwel toeroep nie. Hulle moet juis tussen hulle vriende ingaan en hierdie vriende bewus maak van wat in hulle lewens gebeur het en die goeie nuus van Jesus Christus met hulle vriende deel.

In ons gesprek gisteraand het ek egter opgetel dat ons jongmense geleer het dat getuie wees beteken dat ek die morele hoëgrond betree en nommer een van een of ander seepkissie af skree hoe sleg almal is wat nie flitslig het nie en nommer twee dat getuie wees eintlik beteken om hulle vriende bewus te maak van watter sondes hulle alles doen. Dit is my oortuiging dat die weerstand teen Christene presies net hier begin. Wanneer ons as Christene soos die Fariseër in die Bybel, in die kalklig gaan staan en sê: “Dankie Here dat ek nie soos daardie man of daardie vrou is nie.”

Ek dink: Kom ons verdien die reg om gehoor te word. Kom ons leef so met ons vriende saam, dat hulle die verskil in ons lewens sal agterkom sonder dat ons ‘n woord sê. Dan eendag, sal hulle vra: Wat is anders? Kom ons maak seker ons sien raak wanneer een van ons vriende swaarkry of seer het, dan sorg ons dat ons daar is om hulle by te staan. Kom ons maak seker ons weet wanneer een van ons vriende iets het om te vier, dan vier ons dit saam met hom. ‘n Christen-vriend moet die beste vriend wees wat enige iemand kan hê. Kom ons verdien die reg om gehoor te word. Kom ons wees deur ons teenwoordigheid ‘n lig wat helder en anders skyn.

Ons leef in ‘n tyd waar mense behae daaruit put om Christene en die kerk te verkleineer en sleg te sê. Wie weet, dalk het ons dit alles verdien, maar juis hier begin die Christen se andersheid. Dit is nie belangrik om die laaste arrogante woorde te hê. Dit is nie belangrik om die laaste teksvers in elke gesprek aan te haal nie. Ek dink ons is juis in sulke situasies geroep om die ander wang te draai en die ekstra myl te loop. Sulke optrede getuig baie keer baie meer as baie teksverse. My lewe moet Evangelie wees. Mense moet die waarheid van die Evangelie in my lewe lees.

Ek dink dit is Franciscus van Assissi wat gesê het: “Go be witnesses. If necesarry, use words.”

Lees ‘n GEBED VIR VANDAG

7 thoughts on “HELDER SKYN ONS LIG

Add yours

  1. Attie, hierdie is preeeesiieeees hoekom die kerk sukkel om daarbuite ‘n verskil te maak.

    Ek stem met jou stelling: “Kom ons verdien die reg om gehoor te word.”

    Mooi dag!

  2. Ek het ‘n ateis vriend wat ALTYD my vriend sal bly en ek hou nooit op met hom redeneer oor wat hy glo en wat ek glo nie. En ek luister ook wat hy se. Wie weet, dalk eendag is hy die verlore skaap wat ek kan huis toe bring.

  3. “Kan ek as gelowige n verskil maak in die wereld” Ek kan! As ek nie kan nie is my doel op aarde nutteloos. My optrede, ag my hele lewe is n venster deur wie mense die liefde van God kan sien.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: