Versoekings is ‘n werklikheid in elke mens se lewe. Selfs die wat die Here God nie as verlosser wil ken nie, stel grense aan hulleself oor wat hulle behoort te doen en wat hulle nie behoort te doen nie. Elke mens is in die versoeking om daardie grense te ignoreer. Versoekings is ‘n werklikheid. Elke mens kry lus om sonde te doen.
Gister was so ‘n situasie vir my. Ek is besig om ernstig voor te berei vir volgende week se kamp saam met die Graad 7’s. Skielik moes ek vir ses ure sonder krag klaar kom. Die versoeking: Word kwaad. Baklei. Ek het kwaad geword en ek het baklei. Toe ek klaar kwaad was en klaar baklei het, was die krag nog steeds nie aan nie.
Toe kom die gewete. Die gewete wat sê: Voel jy nou beter? Die antwoord op daardie vraag was dat ek nie beter voel nie. Die rede waarom ek nie beter gevoel het na my woedebui nie, is omdat ek hoë standaarde aan myself stel. Selfbeheersing is een van hulle. Ek het nie goed gedoen met selfbeheersing nie. Die ander standaard wat ek vir myself stel is respek vir mense. Die manier waarop ek gepraat het met die persoon verantwoordelik vir my huis sonder elektrisiteit, het nie geuig van respek vir mense nie.
Wanneer my gewete my pla, gebeur dit baie kere dat daar ook teksverse uit die Bybel by my opkom. Ek glo dat die gewete en die herinnering aan die teksverse die werk van die Heilige Gees is in my is. Een van verse waaraan ek herinner word is toe Fillipense 1:6 “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus weer kom.”
My gedagtes het naastenby op hierdie lyne geloop: God het baie jare terug ‘n goeie werk in my begin. Deur sy Gees en deur sy Woord het Hy groot dinge in my lewe gedoen. Hierdie werk wat God begin het, is nog nie klaar nie. Hierdie ding wat nou gebeur wys in die heel eerste plek vir my dat God nog nie klaar is nie, en ook dat ek waarskynlik ‘n tree of wat agteruit gegee het. Gelukkig het ek oor deur die loop van die jare ontdek dat God nie moedeloos en moeg raak met ‘n mens wat sulke “stupid” goed aanvaang nie. Hy is ‘n God van wonderlike geduld. Hy begin weer en weer en weer voor en oor met my.
Die tweede vers waaraan die Heilige Gees deur my gewete my herinner is 2 Korintiërs 3:18. Daar staan: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”
Op hierdie manier is ek net weer herinner aan wat die goeie werk is waarmee God by my bekering begin het -Hy het begin om my meer en meer soos Jesus te maak. Ek is ook herinner aan wat God se einddoel met my is – Aan die einde sal ek aan die beeld van Christus gelyk wees. My gesindheid sal mense herinner aan die gesindheid wat jesus Christus gehad het. Ek is ook herinner aan wanneer die goeie werk wat Hy begin het en waarmee Hy nog besig is gaan klaar wees – wanneer Christus Jesus weer kom.
Ek het God meer lief as enige iets anders. Wanneer ek iets doen soos gister en my humeur verloor en kwaad word vir mense, dan doen ek ‘n ding wat Hom teleurstel. En ek en Hy verstaan mekaar oor wat Hy van my verwag. Ek wil Hom nie teleurstel nie, want ek weet Hy het my ook lief. Ek weet Hy wil ook graag trots wees op hierdie kind van Hom en die manier waarop ek al hoe meer Jesus-gelykvormig word. As ek Hom seer maak, maak ek myself seer. Omdat ek Hom liefhet en ek weet dat Hy my liefhet. As ek Hom teleurstel, is ek in myself ook teleurgesteld. Want ek het Hom lief en Hy het my eerste liefgehad.
Ek het in my studeerkamer gekom en ek het met Hom gepraat. Sommer so staan-staan aanvanklik want ek was nog kwaad. Later het ek gesit. Ek het geëindig op my knieë waar ek sê dat ek jammer is dat ek Hom teleurgestel het en dat ek dit laat lyk het asof die vordering met my vorming baie stadig is. Hy het my vergewe en die Heilige Gees het my herinner aan hierdie wonderlike vers in Miga 7:18 – 20:
“Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van die wat uit U volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sondes tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.”
Ek is vergewe. My verhouding met God is herstel. Ek het opgestaan en ek het Dorothy gebel. Ek ken nie vir Dorothy nie. Ek het Dorothy gebel en vir haar verskoning gevra vir die manier waarop ek met haar gepraat het, want as ‘n mens verdien sy my respek en nie woede nie. En Dorothy was groot genoeg om te sê: “Apology accepted.”
Ds Attie,help asb.met die regte teksverse,hier by die werk het ek nie n Bybel handig nie,sal een moet bring!
Die betrokke Bybelverse het volgens my geheue,gese.”Self verlei Ek niemand nie.Dit begin by sondige gedagtes,wat later vrug baar,ens ens”.
Nou weet ons dat Satan sal sorg dat juis dit, wat jou as kind van die Here,tot struikel mag bring, oor jou pad sal kom.Bv geleenthede tot vloek,kwaadword,skinder, drank of seksuele misbruik,steel,ens.
So word ons getoets,en so dikwels faal ons!
Psalms: 25:15
“Ek sal altyd my oe op die Here rig, want dit is HY wat my voete uit die vangnet sal hou”
Konsentreer ook op daardie vers!
Jak,
miskien Jakobus 1:13-14
groete
Hallo Doom – vandag bietjie laat, maar ai, die bosse en bome is vandag weer net te veel! Doom, ding het gegriffel oor gister by:
http://lxding.wordpress.com/2007/09/20/selfaanvaarding-godsdiens-here-god-my-doel-kompetisie-wen-verloor/
Ding hoop maar, sou Doom wou lees, Doom haal by daai deel van die stoep – smaak my in elk geval dit gaan half rof op daai stoep met ding innie bos. Wil eerder nie weet nie. Ding het nog nie vandag se koffie gedrink nie – gaan nou. Dalk gorrel ding later weer.
Groete
d
Sjoe wat ‘n mondvol. Ek verstaan ook van verkeerd doen en skaam kry. Teleurstellings ens. En dis so waar wat Jak sê, as die duiwel jou swakheid ken… Dankie tog vir ‘n wonderlike Vader wat verstaan en weer en weer en weer vergewe. Ek moet net onthou om op my knieë te gaan en daarvoor te vra, nie te trots te wees nie.