SELF-AANVAARDING

“Maar die Skrif sê: ‘Hy wat roem moet in die Here roem.’ Die man wat die proef deurstaan het, is nie die een wat homself prys nie, maar die een wat deur die Here geprys word.” (Romeine 10:17-18)

Ons leef in ‘n ‘n land wat mens erg sport-behep kan wees. Die gevolg is dat ons baie kompeterend raak. Kyk maar net hoe ernstig word skole se sportwedstryde benader en hoe word akademiese uitslae hanteer en watter wonderlike eer is dit nie om in die top vyftien van die skool wees nie en vir die eerste span te speel. Kyk maar net hoe word leierskap gelyk gestel aan sport of akademiese prestasies.

Die voordeel van kompeterend wees, is dat dit die beste in mense na vore bring.

Die nadeel is dat daar in ‘n kompeterende samelewing altyd net ‘n beperkte hoeveelheid wenners kan wees.

Op ‘n Saterdag-aand ‘n paar jaar gelede het ons ‘n geleentheid vir tieners in ons dorp gereël. Die vorige dag was dit die plaaslike Interhoër atletiekdag. Deel van sulke aande was dat tieners kon vertel hoe die Here hulle gebede verhoor of hoe hulle die Here beleef. Een van die tieners staan toe op en vertel hoe die Here haar gehelp het om die vorige dag die 100 meter vir meisies te wen. Sy vertel hoe sy gebid het voordat sy gaan hardloop het en toe sy in die wegspringblokke sak, en toe skoot klap het sy die hele tyd gebid en sy het net gevoel hoe die Here haar bene vinniger en vinniger laat beweeg en toe wen sy. En sy wil net sê dat die Here hierdie talent vir haar gegee het en al daardie baie mooi dinge en dat die Here van haar ‘n wenner maak.

Intussen, langs my sit die “loser”.  Die meisie wat teen haar gehardloop het en tweede gekom het. Ook ‘n Christen. Ek het op ‘n stadium gewens sy wil opstaan en sê: Haai, julle ek is die een wat die Here ‘n “loser” gemaak het. Ek het is ook ‘n Christen. Ek het ook gebid. Ek het nie gewen nie. Ek wonder of ek iets verkeerd gedoen het.” 

Toe ons klaar is, het ek ‘n geleentheid gesoek om met haar te praat. Haar vraag was: “Ek het ook gebid? Hoekom het die Here my nie laat wen nie? Gelukkig kon ons dit deurpraat en kon ek haar perspektief gee. Sye het nooit ‘n reuse atleet geword nie, maar oor ‘n tydperk van ‘n jaar kon ons saamwerk en kon sy die Universiteitslewe tegemoet gaan met ‘n gesindheid van SELF-AANVAARDING.

Van daardie dag af voel ek anders oor sportmanne en -vroue wat aan die Here die erkenning gee as hulle ‘n drie druk of iets wen. Ek soek altyd die geleentheid waar daardie sportman en sportvrou aan die Here erkenning gee omdat Hy God is en nie net omdat Hy hulle laat wen het nie. Gelukkig ken ek ook sulke sportmanne.

SELF-AANVAARDING is ‘n probleem in baie mense se lewens. Die volgende help my om te weet of ek harder moet werk aan SELF-AANVAARING:

  • Ek wys op ander se foute en mislukkings sodat ek self beter kan lyk.
  • Ek gee nie om wat die Here dink nie, net solank ek beter doen as ander.
  • Ek voel beter oor myself wanneer ek saam met mense is wat minder bevoorreg is as ek.
  • Ek kan nie help om my vordering en sukses en prestasies teenoor ander te noem nie.
  • Ek voel vir een of ander rede dat ek moet bybly by dit wat ander doen of besit.
  • Ek maak vinnig ‘n opsomming van die “opposisie”.
  • Ek betrap myself dat ek soms bly is as iemand anders misluk.
  • Ek sien nie regtig die behoeftes van ander raak nie.
  • Ek vind maklik fout met ander se prestasies.
  • Ek voel onseker wanneer ek saam met ander meer begaafde mense as ek is.
  • Ek kan net nie sover kom om erkenning te gee vir iemand wat iets waarin ek graag wil presteer, beter doen as ek nie.

Die probleem is dat daar altyd iemand sal wees wat mooier, maerder, ryker, meer gewild, meer begaafd, meer gewild is. Deur SELF-AANVAARDING ontdek ek as kind van God daardie unieke rol wat die Here vir my beplan het. Ek sal nooit die beste in alles kan wees nie, maar ek is uniek in die samestelling van my gawes, talente en vermoëns. Ek sal nooit die beste in alles kan wees nie, maar ek sal die beste “ek” kan wees. Niemand het dieselfde gawes, talente en vermoëns as ek nie. Die Here het elkeen van ons geplaas waar ons is, nie noodwendig om die beste te wees nie, maar sonder twyfel om alles te wees wat Hy bedoel het ek moet wees.  Solank as wat ek hierdie “vergelyking-speletjie” speel, ontdek ek nie daardie plek of rol nie, maar soek ek iemand anders se plek of rol.

“Maar die Skrif sê: ‘Hy wat roem moet in die Here roem.’ Die man wat die proef deurstaan het, is nie die een wat homself prys nie, maar die een wat deur die Here geprys word.” (Romeine 10:17-18)

Kom ons kyk of ons vandag elkeen vir elkeen van hierdie negatiewe optredes ‘n positief kan formuleer. Kies een, dan skryf jy die positief daarvan neer. Jy kan later weer terugkom en nog een skryf. Kom ons help mekaar om die geheim van SELF-AANVAARDING te leef.  

17 thoughts on “SELF-AANVAARDING

Add yours

  1. Kaalvoetkind – stem saam. Die geheim is, jy moet jouself vrede maak, jouself vergewe, en jy voel jy is vry. Weereens bevryding van gees. Dan kom die self-aanvaarding outomaties vanself.

  2. Morese, Doom!

    Doom, hierie koffie van Doom by hierie koffietafel roep darem nou deesdae vir ding met ‘n aroma wat skrik vir niks, hoor! Kyk, ding beraam enige plan – en ‘n boer KAN mos ‘n plan maak – net om by ‘n plek te wees waar ding Doom se koffie kan proe. Dankie tog, Doom.

    Maar ding het vanmore weer annerste vraag:
    Doom, selfaanvaarding, ne, is goed, maar leen selfaanvaarding as sodanig ditself nie ook tot onderwerp van die “vergelykingsepeletjie” nie?

    Ai, ai, ding is vanmore weer een reeks vrae … skies, Doom …
    Doom, wat is vir jou die geheim / sinkern van selfaanvaarding?

    Kyk vas en groet los
    d

  3. Ds Attie.Weereens dankie dat jy die wonderlike gawe wat die Here jou geskenk het tot voordeel van vele mense aanwend.
    Hierby wil ek voeg(hoop my geheue staak nie)
    Pres.Paul Kruger se bekende gesegde was.”Neem uit die verlede alles wat goed is,en bou daarop in die toekoms”,maar sy minder bekende gesegde pas aan by jou gesprek oor ‘Selfaanvaarding’;nl”Moenie jou verknies oor iets wat jy gedoen het,wat nou blyk verkeerd te wees,as jy opreg glo dat die Here aan jou leiding in die lewe gee.”
    Kyk na jouself in soggens in die spieel ,en se aan jouself ‘ Ten spyte van wat ander mag se en dink,ek is n skepsel en kind van die Here,
    en daarom is ek oulik’

  4. kaalvoetkind en Volharding: Ek weet noie of mens ooit klaar kry met die vrede maak mt jouself nie. Dit is maar ‘n lewenslange proses.
    Ding: Ek dink selfaanvaarding word ‘n vergelyking-speletjie as jy jouself met voorwaardes aanvaar. Bv.: Ek sal myself net aanvaar as ek die beste ????? is. Dan gaan jy jouself altyd moet vergelyk. Wanneer ‘n mens egter sê: Ek aanvaar dat die Here my uniek gemaak het. Ek aanvaar dat ek sterkpunte en swakpunte het. Ek gaan hard werk daaraan om my sterkpunte te verbeter en net so hard werk daaraan om my swakpunte minder swak te maak. Onvoorwaardelike self-aanvaarding sou vir my beteken dat ek aanvaar as iemand anders iets beter as ek doen, maar ek aanvaar nie dat ek nie nodig het om myself deurlopend te verbeter nie.
    Die kern van self-aanvaarding? Ek dink ons sal lank daaroor kan praat. Vir my het dit baie beteken toe ek na alles in my lewe op die punt kom waar ek kon sê: Die Here my ‘n unieke mens gemaak. Niemand anders het die samestelling van gawes, talente, vermoëns en persoonlikheid wat ek het nie. Ek aanvaar die manier waarop die Here my gemaak. Ek aanvaar God se plan vir my lewe. Ek wy my lewe daaraan om te bly groei totdat ek so volmaak en volwasse soos Christus is. Ek wy my lewe daaraan om seker te maak dat ek besig is met dit wat God wil hê ek mee besig moet wees. Die gevolg is: Vandag is ek nie meer dieselfde wat ek gister was nie. More sal ek nie dieselfde wees wat ek vandag is nie, want ek hou altyd aan met gorie. Die Here ontsluit sy wil vir my elke dag ‘n klein bietjie meer.
    Maar, ek sal graag wou hoor wat is vir julle die kern van self-aanvaarding. Ek is hier om te leer.

  5. Doom, ding het ‘n idee hieroor – ding soek net eers ‘n klip tussen al hierdie – skies, Doom, druk die ore toe: %$^&^@ bosse en bome! Sodra ding ‘n ordentlike klip gekry het waarop ding kan sit en dog (ding kan mossie dinkie), en ding het nog ‘n sein, sal ding op die stoep loop doringdraad of lyndraad span oor hierie ene. Ding vermoed hierie gesels van ding se kant kan half lankerig raak.
    Baie, baie goeie onderwerp, Doom!

  6. As ek myself kon verander, sou ek niks verander het nie. Dis aanvaarding. Ek hou nie van sport of enige kompetiesie waar mense moet verloor sodat ander mense kan wen nie. Daarom verstaan ek nie rugby nie maar motorsport want n kar voel mos nie sleg as hy verloor nie. My sienswyse is dat ek kan wen al is ek nie die beste nie deur my wedstryde noukeurig te kies, na goeie raad te luister, baie inligting bymekaar te maak, te fokus en dit met die Here deur te praat. Sou ek wen dan bly ek die Here dankbaar.

  7. Selfaanvaarding is om te aanvaar dat elke persoon se vingerafdrukke verskil. Niks wat ek daaraan kan doen nie – God het my uniek gemaak net soos my vingerafdruk uniek is. Sy plan vir my is uniek en net ek is geroep om dit uit te voer. As ek ongehoorsaam is misluk Sy plan vir my. Dus moet ek (hoe ek is) aanvaar en gehoorsaam wees om Sy plan tot uitvoering te bring. Ek dink elkeen kan bevoorreg wees oor wie hy is en nie mekaar te vergelyk met ander nie, Sy plan vir my is anders as Sy plan vir jou.

  8. Ek het net een vraag vandag…

    Wat van as jy nie jouself kan aanvaar soos jy is nie, maak nie saak hoe hard jy al probeer het nie?

  9. Ek het ook baie gesukkel met self-aanvaarding. Ek het geleer dat self-aanvaarding nie met die swaai van ‘n towerstafie regkom nie. Ek sou vir nemesisnarcotic aanbeveel om hierdie 11 punte wat Attie noem positief te draai en in sy lewe tye gebruik. Bv:

    Ek wys op ander se suksesse en prestasies sodat hulle beter kan lyk. (Ek kry baie selftevredenheid daaruit om iemand anders goed te laat lyk. Word eintlik ‘n lekker speletjie)
    Al wat vir my belangrik is, is wat die Here dink. (Gewoonlik is wat die Here dink nogal iets wat respek afdwing by ander mense.)
    Ek voel op my gemak saam met enige mens. As ek nie probeer vergelyk nie, het ek nie meerderes of minderes nie.
    Ek gee nie om as niemand weet van my vordering en sukses en prestasies nie. (Die linkerhand moet mos nie weet wat die regterhand doen nie.)
    Ek is tevrede met wat ek het en met wat ek kan bekostig. (Opgewonde oor ander se luukshede, maar nie vol begeertes nie.)
    Ek dink aan mense in terme van mense oor my pad wat die Here wil gebruik om my te vorm.
    Ek kan nie anders as om bly te wees oor ander se sukses en laat mense gewoonlik weet van ander se skukses.
    Ek foklus op ander se behoeftes en laat hulle weet as ek dit raaksien.
    Ek strewe daarna om ander se foute in hulle sukses weg te steek.
    Ek gee erkenning vir iemand wat presteer. Omdat ek nie vergelyk nie, gee ek nie om as dit iets is wat ek ook graag goed sou wou doen nie.
    Sjoe, nou het ek lank geskryf. In elk geval het julle oor baie ander goed gepraat en nie die negatiewe in die post positiefd gedraai nie, toe doen ek dit maar namens julle.

  10. Ek wonder… : Ek dink ek is nogal naby aan wat jy sê, daar is net een probleem. Daar is hierdie een ding in my lewe wat net nie wil wees soos ek dit wil hê, dit maak nie saak hoeveel ek daarna strewe om dit te verbeter nie. Dis asof ek net ‘n muur getref het en net nie deur kan druk om te wees waar ek wil wees nie.

    Gee my daardie een ding, dan wys ek jou ‘n voorbeeld van self-aanvaarding.

  11. Attie, wat ‘n stuk wysheid. Hierdie stelling het my lank laat dink:”Ek sal nooit die beste in alles kan wees nie, maar ek is uniek in die samestelling van my gawes, talente en vermoëns”. Graag gee ek ‘n bydrae wat nog nie deur een van die deelnemers hierbo genoem is. Selfaanvaarding kan ook eers plaasvind wanneer ek God toelaat om ten volle deur my te werk. Dit het begin die oomblik dat God my as sy kind aanvaar het deur die kruisdood van Jesus.

  12. Ek hou van hermansesetperk se antwoord:
    Selfaanvaarding kan ook eers plaasvind wanneer ek God toelaat om ten volle deur my te werk. Dit het begin die oomblik dat God my as sy kind aanvaar het deur die kruisdood van Jesus.

  13. Ek dink selfaanvaarding kom ook in by wat met jou kinders gebeur en hoe hulle gebore is en so moet jy hul ook aanvaar. As jy nie eers jouself aanvaar het nie kan jy ook nie die struikel blokke in jou lewe aanvaar nie. Ook dink ek dat jy elke dag aan aanvaarding moet werk……

Lewer kommentaar op Volharding Kanselleer antwoord

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑