Ek verwelkom die Evangeliese Inisiatief hoofsaaklik omdat ek die motief van die Inisiatief verstaan as ‘n uitnodiging (Dalk afdwing) van gesprek oor belangrike sake in die NG Kerk. Een uitvloeisel daarvan is dan nou ook ‘n gesprek wat as ‘n Bylae tot die Kerkbode van 14 September verskyn het. Ek het gaan kyk en dit lyk asof die gesprek nie op die kerkbode se webwerf is nie. Dis jammer.
In die gesprek vra Adrio Konig en Andre van Niekerk sekere vrae aan Julian Muller. Vir die wat nie, weet nie, al drie hierdie manne is nogal gerespekteerde teoloë van ons tyd. Die vrae is baie en die gesprek is lank.
Julian Muller het die eerste Sinode van die Noordelike Sinode wat ek bygewoon het, geopen. Ek onthou tot vandag die beeld wat hy by daardie geleentheid gebruik het. Terwyl hy in een of ander klein kerkie gepreek het, het daar ‘n jong seun aangestap gekom na ‘n wrak van ‘n motor wat daar naby gelê het. Hy het op die wrak geklim en op die wrak begin dans. Terwyl ons kerkhou dans die mense daar buite op die wrak van hierdie wêreld. Ek weet nie of dit sy bedoeling was nie, maar ek het verstaan dat ek deel moet wees van die groep wat op die wrak dans en nie net dag vir dag by die wrak verby beweeg oppad kerk toe nie. Julian het by daardie geleentheid ‘n besondere indruk op my gemaak.
Vandag het ek ‘n persepsie oor hoe Julian Muller dink. Ek moet erken dat die media ‘n baie groot rol speel in die persepsie wat ek van hom het. Ek bid dikwels dat my persepsie verkeerd sal wees. My probleem is dat Julian nie veel gedoen het om die persepsie reg te stel nie. By herhaling is daar vir Julian gevra of hy in die feitelike/historiese opstanding van Jesus glo. By herhaling het Julian gekies om die vraag nie te antwoord nie. Ek het my eie persepsie oor waarom hy nie antwoord nie, en daardie persepsie vlei nie vir Julian nie.
In die Bylaag antwoord Julian Andre van Niekerk en sê waarom hy nie die vraag direk geantwoord het nie: “Waarom word die vraag in die eerste plek aan my gevra? Nie met die motief van insluiting nie, soos in die liturgie nie, maar met die motief van konfrontasie en ontmaskering. Ek kon en wou nie met daardie magspel saamspeel nie, want soos ek dit sien, is die teologie wat agter die vraag sit, ‘n onverdraagsame en, liefdelose teologie.” Julian sê daarom kies hy eerder om saam met die gemeente sy geloof te bely en saam met die gemeente te sê: “Ek glo in Jesus Christus… wat opgestaan het uit die dood.”
Julian Muller antwoord Adrio Konig so: “Konig beweer dat ek met die gebruik van woorde soos metafoor en misterie, die liggaamlikheid en die historiese werklikheid van Jesus se opstanding ontken of selfs verwerp. Teen so ‘n persepsie hoef ek weer eens niks anders te doen as net aan te haal uit Opstanding nie. Op bl 31 staan daar. ‘Die opstanding van Christus het nie of metaforiese of historiese betekenis nie. Dit is en en. Daar is ‘n ryk tradisie van verstaan in die Bybel waarvolgens historiese gebeurtenisse ook simbolies en metafories geïnterpreteer is.” “Hierdie simboliese en metaforiese interpretasies wat aan die verhale geheg word, doen niks afbreek aan die historisiteit daarvan nie. Inteendeel, dit bou daarop.”
Dalk verstaan ek Julian verkeerd. Dit lyk dan nou vir my hy sê dat Jesus Christus op ‘n bepaalde tyd en oomblik in die geskiedenis uit die dood opgestaan het. Met ander woorde: Dit het werklik gebeur. Ons as kerk moet dan worstel met die betekenis (simbolies en metafories) van die opstanding van Jesus Christus vir ons vandag. Ek hoop ek verstaan hom reg.
Maar dan: As ek Julian nou reg verstaan, het ek ‘n vraag: Kon hy nie die kerk baie hartseer en trauma gespaar het deur sy vrees vir konfrontasie en ontmaskering in die gesig te staar en liewers van die begin ‘n duidelike “ja” gesê het nie?
Hoekom het Julian nodig om bang te wees vir konfrontasie as ons in wese nie met mekaar verskil nie?
Hoekom bang wees vir ontmaskering as daar nie ‘n masker is nie?
Ek verstaan nie waarmee Julian besig is nie.
Hi Doom. Al wat my bietjie pla uit die stukkie is dat hoe ook selfs doom die eerste keer ‘n goeie indruk gekry het van mense soos oa Julian. Hoe beinvloed baar is ons nie soms deur mense agv die eerste indruk of selfs deur dinge wat hulle sê nie. My mening is dat mense ons kan beinvloed selfs van preekstoel af maar dit is net die Heilige Gees wat ons oortuig. Ek dink doom het dit gister genoem.
Attie, ek dink dit sal baie interessant wees as jy ‘n stukkie kan skryf oor die Evangeliese Inisiatief, wat jy van hulle dink, of jy meen die kerk het ‘n regrukaksie soos die EI nodig, ensovoorts. Ek gun hulle nogal ruimte, want dit lyk asof hulle baie mense se gevoelens verteenwoordig, maar ek is net ‘n bietjie bang dat die hele ding op ‘n heksejag teen progressiewe akademici en teoloe kan uitloop.
Ek wil so ‘n bietjie duiwelsadvokaat speel. Daar is so baie stemme wat verwar, en elkeen beroep hom op die heilige gees wat hom gelei het om so te se. Vir jare het die NG kerk se sinode onder leiding van die Heilige Gees bepaal dat vrouens hoed moet dra, nie mag preek nie en het apartheid uit die Bybel geregverdig. Trouens daar is vandag nog steeds kerke wat so glo. Intussen het dieselfde Heilige Gees se leiding so verander dat vrouens nou langbroek kerk toe kan dra, kan preek en dat apartheid sonde is? Gebruik ons nie dikwels die “stem” van dieHeilige Gees om ons eie oortuigings te regverdig nie, ten koste van die gewone ou op die kerkbank wat opkyk na kerk ghoeroes om leiding te gee!
Bertus: Ek weet nie genoeg om so ‘n uitspraak te kan maak nie. Ek ken die verwarring en onsekerheid wat daar op voetsoolvlak in die kerk is omdat ons toegelaat het dat daar onskerheid ontstaan oor die gesag van die Woord en oor die maagdelike geboorte en oor die wonderwerke en oor die opstanding van die Here Jesus en oor ons roeping in hierdie wêreld. Nou het ons dit so ver laat gaan dat ons skade-beheer moet toepas. Wanneer ons nou hierdie sake verdedig dan kry ons etikette van fundamentalisties en al sulke dinge. In hierdie “post” wou ek sê: Ons sukkel om uit te vind hoe hierdie “progressiewe teoloë en akademici” oor die historisiteit van die iets soos die opstanding voel. Ek is kwaad want ek wou eerder saam met ‘n man soos Julian en Adrio geworstel het oor die betekenis van die opstanding vir ons vandag. Nou staan hulle teenoor mekaar. Alles net omdat ons nie lankal die moed van ons oortuiging gehad het om te sê: Kom ons praat hieroor!
My geloof in God is van so ‘n aard dat dit ruimte laat vir die onverklaarbare en die onverstaanbare. Dit is juis die onverklaarbaarheid van die opstanding wat my geleer het dat uit die “dood” kon opstaan nadat ek ‘n gemors van my lewe en my huwelik gemaak het en God aan my ‘n tweede kans gegee het en selfs ‘n tweede kans om weer hierdie werk te doen. Omdat ek glo dat God Jesus uit die dood kon opwek, het ek geglo dat God die stukke van my lewe bymekaar kon maak en dit ombou tot iets wat Hy kon gebruik. God het in my lewe die onmoontlike gedoen – net soos Hy 2000 jaar gelede ‘n graf wat eers vol was leeg gelaat het. Mense hoor en ervaar nie meer die betekenis van die opstanding nie omdat ons nie klaar gestry het oor die saak van die opstanding nie. Ons het die Evangeliese Insiatief nodig sodat ons progressief kan dink oor wat die opstandingskrag van Christus in Suid Farika kan doen as Christene die Almagtige God sou toelaat om om met dieselfde krag waarmee Hy Jesus uit die dood opgewek deur hulle te werk.
Dalk het ek nou meegevoer geraak, maar ek verwelkom die feit dat die Evangeliese Inisiatief hierdie gesprek bespeodig het.
Attie: Ek merk ‘n interessante woordspeling by Bertus. Hy praat van progressiewe teoloe. Ek wonder wat is die teenoorgestelde van progressiewe teoloe? Ek verstaan my eie Gereformeeerde teologiese denke en die van die Evangeliese Inisiatief as ‘n eerlike poging deur teoloe en lidmate wat opsoek is na die eietydse betekenis van die historiese gebeure van die maagdelike geboorte, wonderwerke, kruisiging, opstanding en hermeneutiek van die Skrif. Ek stem dus saam met Attie. Ek meen dat Julian verwarred is en nie onderskeid kan tref tussen die “tyd en plek van die opstanding” en die metaforiese verklaring van die gebeure nie. As ek Julian probeer verstaan meen hy dat die historiese gebeure van die opstanding plaasgevind het, waarom nou karring met ‘n metaforiese verklaring? Ek wonder wat is agter Julian se standpunt?
ek bid om in my lewe nooit in die posisie te moet wees om die “histories fisiese” opstanding van Jesus te moet bely nie.
wanneer ek bely dat ek in die opstanding glo, skaar ek my by ‘n millenia-oue verhaal, bely ek die geloof van “‘n skare geloofsgetuies”. daarmee saam bely ek my geloof, nie net in enkele historiese gebeure nie, maar in baie meer as dit (wat toevallig saamgevat is met daardie spesifieke woorde). én ek bely my geloof in ‘n God wat ‘n misterie is, wat nie in woorde vasgevang kan word nie. ek bely óók dat die verhaal ook my verhaal is – dat ek dit nie net met my kop glo nie, maar dit leef.
om te bely dat ek glo dat Jesus “histories fisies” opgestaan het, is om myself by ‘n diskoers te skaar waarvan ek eenvoudig nié deel is nie: ‘n diskoers wat mense wil uitsluit, wat mense verdag maak, wat grense wil trek om God se genade, wat “waarheid” verstaan in ‘n “cause and effect” ná-verligting boksie, wat beheer wil uitoefen en wat almal clones van hulleself wil maak.
die woorde wat ek bely, is die “skare geloofsgetuies” by wie ek my skaar. daarom kies ek eerder die woorde van die wêreldwye christelike kerk deur millenia.
maar dis maar net ek.
Maeree: Dankie vir jou inset. Histories-fisies wil net sê dat dit regtig gebeur het en alhoewel ek dit nie verstaan nie en daarom bly dit vir my ‘n misterie (‘n geheimenis) oor hoe dit gebeur het. Ek glo in ‘n God wat ‘n werklikheid is, maar ek vermoed daar is meer van God wat ek nie verstaan as wat ek wel verstaan – en daarom bly Hy vir my ‘n misterie (‘n geheimenis). Ek kan nie alles verklaar wat Hy doen en gedoen het nie, ek kies net om te glo dat Hy onder andere Jesus wat dood was lewend gemaak het. Ek kies om te glo dat Hy iets gedoen het wat nie inpas binne die “oorsaak en gevolg” raamwerk van die modernistiese beredenering nie. Deur die millenia het die “skare geloofesgetuies” aanvaar: Jesus was dood – en kyk Hy lewe. Dit is wat ons bely.
Het Jesus ligaamlik opgestaan? Ja want dit staan in die Bybel.
Die teenoorgestelde van ‘n progressiewe teoloog is ‘n behoudende teoloog.
1 KORINTIËRS 1:21
Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie.
Dit is ons probleem, omdat geleerde mense ons iets vertel, glo ons hulle en nie die bybel nie. Die bybel is so ver gevorderd dat God daarmee oor afstand en tyd met ons kan kommunikeer, selfs in Suid Afrika en selfs vandag.
Bertus: Ek sien myself nie as ‘n behoudende teoloog nie. Ek wil graag weet wat die Here se wil is vir die kerk van vandag en vir die mense van vandag. Ek glo bv. nie dat ons kerk kan hou soos 50 jaar gelede en daarmee verwag om effektief te wees met mense wat 50 jaar terug as geskiedenis beskou nie. Ek glo egter dat sekere kernwaarhede van die Bybel as die Woord van God vas staan. Sekere waarhede kan nie aangepas word net omdat dit vir die mens van vandag moeilik is om te aanvaar en te glo nie.
Attie: Ek het die volgende aanhaling uit prof Stephan Joubert se lesing oor Jesus se opstanding en die “Evangelie van Judas” interessant gevind Attie. Wat dink jy daarvan:
“Die eerste probleem wat jy vandag in die Kerk gaan kry, is dat sommige ouens vir jou gaan sê, hoor hierso ouens, hierdie dinge is ‘n misterie, moet nie te veel krap daaraan nie. Glo wat jy wil, dit is ‘n misterie. Verseker is God se werke ten diepste ‘n misterie, dit sê Paulus vir ons in Rom 11. Maar aan die ander kant moet ons die Bybel so ver lees soos wat die openbaring is. Sê die Woord vir my, Jesus se liggaamlike sterwe en opstanding is ‘n misterie, dit sê nee, dit is ‘n historiese feit. Die graf was vol, en nou is hy leeg, dit is wat die Nuwe Testament sê. Die graf was vol en nou is hy leeg. Dit is nie ‘n misterie nie, dit is ‘n aanstoot, dit is ‘n verskil. En ek dink baie van die ouens wat in hierdie rigting beweeg verstaan nie die verskil tussen ‘n misterie en ‘n aanstoot nie. Wat is ‘n aanstootlike evangelie? Om te sê die man wat Vrydag aan die kruis gehang het, gaan Sondag uit die dood uit opstaan. Dit is ‘n aanstootlike evangelie. Paulus sê, niemand glo dit nie. Want ‘n man wat aan die kruis hang, wat sê die Jode? Is vervloek, nie waar nie? Daarom is dit ‘n Openbarings-evangelie, met die Heilige Gees wat dit aan jou openbaar om die Evangelie te glo … As Jesus verskyn in Luk 24 aan Sy dissipels, wat is die eerste ding wat hy doen? Hy eet vis. Wat doen hy in Joh 21, hy eet om te sê, Hy is nie ‘n spook nie, Hy is nie ‘n verskyning van ‘n gees nie, dit is ‘n liggaam. Die vroeë kerk het die verskil tussen ‘n spook en ‘n liggaam baie goed geken. Hoe weet ons dit? Vriende, ‘n baie belangrike ding. Paulus en die ander ouens uit Jerusalem was Fariseërs. Fariseërs het in ‘n liggaamlike opstanding uit die dood geglo. Die gnostiek nie. Net in ‘n geestelike opstanding … nooit ontken die vroeë Christendom die liggaamlikheid van Jesus nie. Dit is ‘n aanstoot, dit is nie ‘n misterie nie. Ken die verskil!”
Groete
Willem
Ja wel, daardie letterlik “fisies opgestane liggaam” het darem baie maklik deur mure beweeg en soms soos mis voor die son verdwyn.
Beste Waarnemer,
Natuurlik aanvaar mens dat Jesus se liggaam bonatuurlike dinge kan doen na Sy opstanding. Die belangrike punt dink ek wat prof Stephan probeer maak, is dat Jesus se graf leeg was. Sy liggaam het nie in die graf agtergebly nie. Kyk ook bietjie na Handelinge 8 waar Filippus ook “verdwyn” het nadat die Etiopier tot bekering gekom het. Ons dien ‘n wonderlike God.
Groete
Willem
Die Bybel is vir my die belangrikste manier waarop ek God leer ken. Ek aanvaar ook dat Hy die littekens van die kruisiging kon gehad het om daarmee te sê dat dit dieselfde Jesus was as die Een wat Vrydag gekruisig is. Aan die anderkant ook ‘n verheerlikte liggaam wat deur ‘n toe deur kan kom. Dis nie vir my ‘n probleem om te aanvaar dat dit vir God moontlik was nie.
As ons praat van ‘n sogenaamde verheerlikte liggaam wat deur mure en deure kon beweeg praat ons beslis nie van ‘n historiese liggaamlike fisiese opstanding nie. Ons praat van iets heeltemal anders en onverklaarbaaar. Ons praat baie beslis nie van die oorverenvoudigde opstanding wat die EI verkondig van ‘n lyk wat lewendig geword het nie.
Dan het ons nog nie eers by die hemelvaart gekom nie. Dáár is nou vir jou ‘n ding om te verduidelik vir diegene wat alles so letterlik glo.
Maar nou ja alles is mos gecover by diegene wat glo dit is ‘n sonde om jou godgewe verstand óók te gebruik. Sê net by God is alles moontlik en basta! Verketter diegene soos Julian Müller wat dieper dink en kyk.
Dan is daar nog die opstanding van die vlees ook. Asof ons eendag almal letterlik en fisies uit die grafte gaan opstaan. Ek wonder wie gaan vir al die miljoene babas wat nog nie kan loop of praat nie kos gee as hulle so in hulle duisendtalle uit die graffies ontwaak.
Nee wag. Moenie vra nie. Glo net.
Beste Waarnemer,
Een van die beste worstelings met hierdie goed vind mens in NT Wright se boek “The resurrection of the Son of God” wat selfs deur meer “kritiese” teoloe as ‘n standaardwerk bestempel word. Die moeite werd om te lees.
groete
willem
Dankie Willem ek sal kyk of dit een of ander tyd in die hande kan kry. Sal dit graag wil lees. Persoonlik het ek Julian Müller se boek Opstanding onsettend baie geniet. Daarin gee hy vir my ruimte om met my hart én my verstand daaroor na te dink. Persoonlik “worstel” ek glad nie meer met die vraag oor die opstanding nie.
Dit bly egter vir my ‘n interessante onderwerp. Maar Jesus se boodskap is vir my persoonlik veel, veel meer as ‘n lyk wat weer lewendig geword het. Vir my lê die krag in Jesus se boodskap eerder in die dinge wat hy gesê en gedoen het tydens sy lewe en in sy kort bediening op aarde.
Groete
W
‘n verheerlikte liggaam is net wat dit se: Dieselfde liggaam in ‘n verheerlikte staat.
Waarnemer: Ek beny enige iemand wat kan sê: “Persoonlik “worstel” ek glad nie meer met die vraag oor die opstanding nie.” Wil jy nie bietjie met ons deel – sommer in ‘n paar sinne waaroor jy nie meer worstel nie, waaroor ander nog worstel of waaroor is jy so seker met betrekking tot Jesus se opstanding. Sien ek worstel nog met die opstanding wat aan die een kant volgens my beperkte verstaan van die getuienis in die Nuwe Testament, dieselfde liggaam was wat in die graf was, maar wat in ‘n verheerlikte vorm deur God opgewek is.
Jy sê ook: “Vir my lê die krag in Jesus se boodskap eerder in die dinge wat hy gesê en gedoen het tydens sy lewe en in sy kort bediening op aarde.” Net hierdie lastige vragie: Watter wonderlike dinge het Ghandi en Nelson Mandela nie gesê en gedoen terwyl hulle op aarde was (is) nie. Is daar ‘n verskil? Wat onderskei Jesus van enige een van hierdie heldefigure? Ek vra regtig omdat ek ook maar oor hierdie dinge wonder.
Alec ek kan steeds nie verstaan wat word bedoel met dieselfde liggaam in ‘n verheerlikte staat nie. As dit dieselfde liggaam is moes die mense tog seker daardie liggaan herken het en hulle het nie.
Iemand: Dankie vir jou pos en die nice manier waarop jy gesels. Laat ek kortliks verduidelik wat ek bedoel. Maar eers: Dit wat ek sê werk vir my en ek verwag nie ander mense moet soos ek voel nie. Ek verkonditg dit ook nie as die “waarheid” nie maar deel slegs my eie gevoel.
Daar was ‘n tyd toe ek ook vreeslik “geworstel” het oor die opstanding. Ek is nie een van daardie mense wat net sê by God is alles moontlik en omdat dit in die Bybel staan moet dit net so letterlik waar wees nie.
Ek kan mos net uit my eie verwysingsveld praat en volgens my verwysingsveld word lyke nie lewendig nie. Dat daar na Jesus se dood iets moes gebeur wat die mense van sy tyd so aangegryp het dat hulle nie anders kon as om daaroor te praat nie kan ek ook nie ontken nie.
Wat presies wat dit was wéét ek nie. Vir my lê die krag van Jesus se boodskap daarin dat hy vir my kon laat glo God is méér as die wrede God van die Ou Testament. Hy is nie die Joodse stamgod wat kinders se koppe teen rotse laat verbrysel of bere aansê om kinders te verskeur nie.
Jou laaste vraag oor wat Jesus dan van ‘n Mandela of ‘n Ghandi onderskei. Ek weet nie want ek konsentreer nie op Jesus se goddelikheid nie omdat dit juis sy mensheid is wat my aangryp en nie sy goddelikheid nie.
Daarom sien ek ook so baie van Jesus in mense soos Mandela en Ghandi. Ek dink God openbaar hom op verskillende tye op verskillende maniere in veskillende mense.
Groete
W
Skuus waarnemer, maar ek moet net seker maak dat ek jou mooi verstaan. Dit lyk my jy sê dat dit nie vir jou belangrik is of Jesus die Seun van God is of nie? Verstaan ek jou verkeerd of is die God van die Nuwe Testament wat Jesus aan ons bekend kom maak het “nie die Joodse stamgod nie. Sien ek het nog altyd gedink dat Jesus aan ons die Vaderhart van God kom wys het, maar dat God die Vader van die Nuwe Testament ook die God is van wie Dawid kon sê: Die Here is my herder. Skuus as ek sukkel om te verstaan. Ek waardeer dat jy bereid is om my vrae te antwoord.
Ek sê mos jy moet self besluit wie is Jesus vir jou. Ek is mos ook ‘n kind van God en dus is ek ook ‘n seun van God. Die benaming Seun van God is mos in die Ou Testament aan meer mense gegee. Juis omdat Jesus volgens my die vaderhart van God kom wys het glo ek Jesus wou vir ons kom sê God is beslis nie die Joodse stamgod wat net vir die Israeliete bedoel is nie maar dat Goed veel meer is as dit.
Maar hey! Ek sê weer: jy moet op jou eie reis gaan. Ek kan nie vir jou sê wie is God nie omdat elke mense sy eie beeld van God vorm.
Nee, waarnemer ons verstaan mekaar reg. Ek gaan graag op my eie reis. En dit lyk my dit is vir jou belangrik dat elke mens sy eie “mind” opmaak. Ek gaan dit net so. Maar op hierdie reis kruis mens se paaie mos maar met ander mense. En nou het my pad vandag met joune gekruis. Sover is dit nie ‘n slegte “kruising” nie. Maar ek laat graag toe dat ander my beïnvloed. Op die ou end sal ek self verantwoordelikheid aanvaar vir wat ek kies om te glo.
Help my gou nog ‘n bietjie: Ek en jy is kinders van God. (Seuns en dogters van God). Maar hoe moet ek dan nou die uitdrukking verstaan wat sê dat Jesus God is wat mens geword het? Kan dit wees dat Jesus net ‘n besondere goeie mens was wat baie aandag getrek het sodat die mense baie dinge oor Hom geskryf het wat ons nou in die Nuwe Testament lees? Kan jy bietjie hier ook help asseblief?
As jy soos ek glo God is in alles en alles is in God dan was Jesus inderdaad ook God wat mens geword het. Dan was God nie net in Jesus van Nasaret teenwoordig nie maar dan is God ook vandag in my en jou teenwoordig. Daarmee sê ek nie dat ek en jy dieselfde impak as Jesus het nie maar wel dat almal van ons op ons eie manier klein “Jesusse” kan en behoort te wees.
Het Jesus dan nie self gesê wie in hom glo sal ook die dinge doen wat hy doen nie en selfs groter dinge?
Jy sê: “As jy soos ek glo God is in alles en alles is in God dan was Jesus inderdaad ook God wat mens geword het.” Hoe verskil dit van wat die New Age beweging geleer het, ek herinner my dat hulle iets soortgelyks sê, maar ek kan verkeerd wees.
Ek weet Jesus het gesê ons sal dieselfde dinge as hy doen, maar in sommige kringe het dit darem ‘n gejaag na wonderwerke tot gevolg gehad, wat my baie skrikkerig gemaak het, maar ek aanvaar hoe jy dit hier bedoel.
Ek wens ek kon sê hierdie is my laaste vragie, maar ek moet vra: Kan ek aanvaar dat Jesus die Een is wat deur God gestuur is om die sonde van die wêreld weg te neem? Kan ek aanvaar dat ek met God versoen is op grond van dit wat Jesus vir my aan die kruis gedoen het?
Ek waardeer jou geduld.
Nee jy vra die verkeerde persoon die vrae. Ek weet niks van die New Age beweging nie en hulle pla my ook nie. Ek dink die stelling dat God in alles is en alles in God is eintlik meer panenteïsties as new age maar ek is nie gepla oor labels nie. Dit skeel my min in watter boksie ander mense my plaas.
Ek stem saam oor die gejaag na wonderwerke wat plaasvind en steur my ook nie daaraan nie. God het natuurwette gemaak en ek berus daarby. Wat ek probeer aantoon het is dat Jesus as gewone mense onder ons geleef het.
Wat jou laaste vraag betref. Ek het mos reg aan die begin vir jou gesê ek kan nie vir jou sê wat jy moet aanvaar of nie. Moet dus nie vir my vra of jy dit of dat kan aanvaar nie. Maak dit vir jouself uit. As jy aanvaar dat Jesus die Een is wat die sonde van die wêreld weggeneem het en sy kruisdood op ‘n sekere manier verstaan is dit goed en reg. Dan werk dit vir jou.
Ek konsentreer nie so sterk op die sonde nie maar fokus liewer op die liefde aspek. En as Jesus die sonde van die wêreld weggeneem het soos wat jy skryf hoef ek in elk geval nie te veel daaroor te bodder nie. Dan is dit weg.
Groete
W
Ek sal tog maar kies om te glo dat ek deur die genadewerk van Jesus Christus die mensgeworde seun van die lewende God met God versoen is. Dit lyk my jy sê elkeen gaan op sy eie geloof salig word. En dit werk vir jou. Ek is bly as dit so is. Jy het my ‘n hele paar dinge gegee om oor te dink, maar oor die uniekheid van Jesus sal ons waarskynlik nie maklik met mekaar kan saamstem nie. Ek dink jou leermeester sal baie trots wees op jou.
Groetnis.
iemand… wat ook vir altyd sal bly wonder, maar tog sal daar altyd die paar dinge wees waarvan ek seker is – baie seker is. Inteendel 100% seker is.
Dankie vir die gesels. Dit was lekker. Sien, dit help altyd om te praat. Reg aan die begin het jy vir my gesê jy worstel nog en nou sê jy al jy is baie seker. Inteedeel, jy is 100 persent seker ;).
Ek kan nie soos jy daarop roem dat ek daardie honderd persent sekerheid het nie maar ek is nie daaroor begaan nie. Ek het lankal daarmee vrede gemaak dat ek in my lewe nooit honderd persent sekerheid sal hê nie. Vir die wat dit het is ek bly maar perssonlik sou dit vir my in elk geval te veel van die lewe se misterie wegneem.
Oor die uniekheid van Jesus twyfel ek nie. Ek skat ek sien daardie uniekheid net anders as jy. Iemand sê gister vir my die hele skepping is een groot uitbarsting van diversiteit. Dit maak vir my sin. Ek het opnuut besef dat ons ruimte moet skep vir mekaar se oortuings en diverse idees toe ek dit hoor.
Mooi loop!
Waarnemer
“n vragie:
Glo jy in die selfde goed as Pelagius, of hang jy meer die Ariaanse leer aan, daar is nou ook ‘n beweging wat hul selg Lucefarians noem, wat ‘n katolieke orde is, niks met satan uit te waai nie, skuus maar die goed wat hierbo se intereseer my geweldig, ek vra met respek nie om jou te tune nie.
Tiens
Thinus ek hang nie een van bogenoemde aan nie. Ek vind dit interessant om van hulle goed hier en daar te lees maar weet te min van hulle om vir jou te sê ek hang die of daardie een aan. Wat ek tot dusver hier geskryf het op hierdie draad is maar slegs my eie gevoel uit my hart uit. As daar van die goed by die een of die ander aansluit sal ek graag meer van daardie persoon se goed gaan lees want dan beteken dit ons gedagtes vind aansluiting by mekaar.
Dit is dieselfede met Spong van wie ek nou al so iets gelees het. Ek is nie ‘n aanhanger van hom nie maar vind aanklank by baie van die goed wat hy sê.
Ek hoop dit help.