GENADE

Genade is om ‘n seën of guns te kry wat jy nie verdien het nie. Genade motiveer mense om goed te wees vir ander deur ook aan hulle te gee of te doen wat hulle nie verdien nie. Genade maak dat mense ‘n positiewe mening of gevoel teenoor ons het en dat hulle bereid is om ons ‘n tweede kans te gee.

In ‘n sekere sin is genade een van die belangrikste beskrywings van die karakter van God.Ek wonder hoeveel dinge het God al in sy groot genade in my lewe gedoen. In sy groot genade het Hy vir my ‘n wonderlike vrou gegee. In sy groot genade het Hy aan my vier wonderlike kinders gegee. In sy groot genade het Hy my bewus gemaak van hierdie “blog” waar ek op ‘n interaktiewe manier met mense oor Hom kan praat.

Vir my beteken God se genade egter in besonder dat ek die teenoorgestelde kry van wat ek verdien. As gevolg van my sonde het ek verdien om die ewigheid deur te bring in die plek wat vir die duiwel en sy engele voorberei is. In plaas daarvan het God in sy groot genade al my sonde vergewe, my met Homself versoen, en nou gaan ek die ewigheid deurbring in die huis van My hemelse Vader met baie blyplek. Genade beteken ek kry die teenoorgestelde van wat ek verdien.

Genade raak nie op nie. God se genade ken geen perke nie. Hierdie waarheid het baie kere tot gevolg dat kinders van die Here nie baie ernstig is oor ‘n heilige lewenswandel nie – God sal mos vergewe. Dit was juis hierdie oortuiging wat tot gevolg gehad het dat ek as kind van God vir ‘n tyd lank in sonde geleef het. Die gevolge van daardie lewensstyl het baie mense seer gemaak. Die wonderlike nuus is: Ja! God sal elke keer weer elke een van sy kinders se sonde vergewe, alhoewel ons dit nie verdien nie.  Ons kry die teenoorgestelde van wat ons verdien.

God se genade het my aangespoor om ‘n heilige lewenswandel te soek. My dankbaarheid vir God se “meer-as-genoeg-genade” was net te veel. Ek werk nog steeds aan die heilige lewenswandel. Ek is nog nie alles wat ek moet wees nie, maar ek is ook nie meer alles wat ek was nie. Elke dag is ‘n lewe in die lig van God se genade. In sy groot genade het God aan my die Heilige Gees gegee wat my lei en leer.

Ons het een lied wat ons in die kerk sing: “Dank, Vader dank vir U genade. Dis onverdiende guns alleen.”

Hoe beleef jy die genade van God in jou lewe? Watter teksvers beskryf vir jou God se genade die beste? Watter ervaring het in jou lewe bevestig dat God ‘n God van genade is?  

10 thoughts on “GENADE

Add yours

  1. JOHANNES 3:16
    “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
    Hierdie teksvers is vir ons ‘n bewys van God se groot GENADE vir die wereld. Mens kan net sowel se dat God die wereld so genadig was dat Hy sy enigste Seun….
    ‘n Lied wat by my opkom is: Genade, onbeskryflik groot, het U aan my bewys…
    Ek en my gesin ervaar soveel genade elke dag in ons lewens – ek voel asof ek voorgetrek word (soos ‘n witbroodjie)!

  2. kaalvoetkind: Altyd vir my ‘n bevestiging van God se almag en onmeetbare liefde. Hy behandel elkeen van ons so dat ons voel “ek” moet God se witbroodjie wees. Ek het ook nogal oppad kerk toe vanoggend aan die lied “Amazing Grace gedink.

  3. Ek dink dis nie dat jy altyd God se genade moet sien as iets wat groot goed doen soos vir jou of kinders voorsien nie, maar ook as iets wat die klein dinge in die lewe verbeter.

    Ek kan nie aan ‘n vers dink nie, maar daar is wel elke dag klein goed wat die Here se genade vir my bewys.

  4. nemesisnarcotic: Ek dink jy het ‘n punt beet. Ons eok God se geande in die groot dinge, dan kyk ons die klein dingetjies mis. ‘n Bed om in te slaap met ‘n waaier om die ersgte Rustenburg hitte te verdryf is genade.

  5. Op die kamp het ek soveel genade van die Here ontvang. Rondom my was/is daar baie stukkende vrouens. Ek het vrede ervaar. Ek het besef, ek is al klaar vry. Bevryding van my gees. Ek het ‘n paar maande terug myself eers vergewe en vrede gemaak en daarna het ek die persoon wat my te na my gekom het, vergewe. Eers daarna het ek werklik vry gevoel soos ‘n arend. Ek het waarlik vry gevoel. Dis net genade van die Here. Om vry te voel, kan jy vir ander ook iets beteken. Ek is baie dankbaar.

  6. Sjoe, ds Attie hierdie skrywe van ds lê my baie na aan die hart. Hoe wonderlik is God se ganade nie. Deur God se genade het ek wonderlike ouers, ‘n wonderlike man en drie wonderlike kinders. Ek dink ook dit is deur God se genade dat ek begin blog het want dit het my so baie geleer en verryk, soos om bv. hier op ds. se blog te beland. dit moes God se genade gewees het dat ds. op 24.com ‘n draai gemaak het en dat ek dit raak gesien het.
    ‘n Teks vers wat vir my baie beteken is die tweede deel van Rom. 8:31 “As God vir ons is, wie kan dan teen ons wees”
    Ek kan nie nou aan net een ervaring dink nie, my lewe is regtig vol van God se genade vir my. Wonderlik om dit nou weer te besef.
    Loof die Here!

  7. Morese, Doom!

    Eerste goete eerste:
    Doom, dankie vir wat Doom anderdag gese het. En dankie vir die groot kompliment. Doom maak vir ding selfbewus *kop onderstebo loer ding bloedrooi vir die Doom*. Maar as die Doom so voel, dan kan die Doom maar gooi – ding sal skryf, Doom sal besluit wat om daarmee te maak en Doom sal redigeer waar nodig. Is net: ding skrywe mos maar nie regtig nie, Doom, ding praat mos maar sommer so hier by die Doom se koffietafel terwyl ding smaaklik teug aan die welkome lafenis (dis nou die koffie vir die siel, ne!).

    Tweedens:
    Doom, ding moet darem eerlik wees en vir Doom se dat ding aanvanklik ding se gewone skeptimistiese self was oor hierdie koffietafel-idee. Padlangs gese: ding het hier in die hart van harte gereken – jaaaa, swaer…. nee wag, die res sal ding nie verwoord nie.
    Maar Doom, hierdie koffietafel raak al beter. Ding kry die idee dat die Doom nie sommer net gesels nie. Dis kompleet asof Doom so praat soos Doom gese word, in jou hart, hoe om te praat. Jy weet, partykeer, dink nou maar weer aan daai onwillige outjie van Nineve, ne, dan wil manman mos regs, maar dan gaan hy links omdat daar hierdie Stem is wat hom vertel hy moet LINKS – nie regs nie, al wil hy eintlik self regs gaan. Ja, ding wil maar net vir jou se, Doom, ding het respek vir wat jy hier doen. Ding vind aanklank by baie wat Doom se.

    Derdens: Vandag – genade:
    Doom, ding weet ding lees nou te kort en te vinnig hier. Ding weet instinktief dat hierdie onderwerp ‘n hele dag se gesels kan opeis. Maar ding is versigtig om te praat waar ding nog nie regtig gedink het nie. So, ding wil net die vra en dan ietsietjie se:
    Die vraag:
    Nou, Doom, daai ander kerel waarvan ding mos nou baie hou, daai Job – Doom, watse genade het daai man dan nou gekry? Kyk, die logiese is om te se die feit dat hy so wel-af was, was genade. Maar onthou, hy het al daai goete geverloor, ne. Dan kan manman seker se dit was genade dat hy met sy lewe daarvan afgekom het? Hel, regverdigheid speel darem ook ‘n rol, seker, iewers – eh? Dis darem seker die minste dat ou Job kon bly lewe – was DIT nou regtig genade? Dan kan ‘n mens se sy “beloning” na die tyd was dat hy van alles wat hy gehad het, double on the house, weer gekry het. Sekerlik moet dit kwalifiseer as genade? Maar is dit genade dat hy sy tien kinders verloor het, weliswaar het hy 10 ander gekry, maar dis mos nie daai 10 wat hy verloor het nie? Hulle is morsdood en het nie weer gelewe nie – 10 ander is gaaf, maar dis nie DAAI 10 nie. En al glo ding kinders kan nogal rondekop huisdiere wees, punt bly: elke kind is uniek. 10 ander gaan nie opmaak vir die eerste 10 nie. Is daai dan nou genade?
    So, wat was Job se genade, Doom?

    Ten slotte:
    Ja-nee, ding het nog nie klaar besin oor hierdie begrip nie. Maar vir die oomblik, wat onwrikbaar vasstaan vir ding, is dat ding kategories en ongekwalifiseerd met Doom saamstem dat genade beteken jy kry die teenoorgestelde van wat jy verdien.

    Dankie vir die gesels, Doom!
    d

  8. Dankie vir almal se kommentaar. Ek wil graag ‘n sinnetjie of twee vir Ding sê.
    Ding: Jong ons is mos nou maar eerlik met mekaar. Daarom wil doom ook nou maar vanoggend sê: Ek verstaan ook nie al hierdie dinge so mooi nie. Ek voel ook: Tien ander kinders is nie daardie tien kinders nie. Kom ek probeer so sê: Dit lyk my Job se verhaal wil ons leer bietjie geduldig te wees met God. Veral die kere wanneer ons die dinge beleef wat dan nou juis mens laat voel die genade is totaal en al afwesig.
    Job is die oudste boek in die Bybel en die boek Job wil ons leer om nie te vinnig die rug op God te draai nie. Hierdie lewe gaan ons weer en weer ‘n slegte hand deel, maar dit is omdat die lewe sleg is en nie omdat God sleg is nie. Job leer my om geduldig te wees met God, want ai God is so baie geduldig met my.
    Ek weet nou nie juis of dit help nie, maar dit is maar hoe ek voel.
    Ek wonder of Ding nie dalk vir my ietsie wil skryf oor hoe Ding graag sou wou hê die kerk moet wees waar Ding sy volle gewig sal ingooi nie. Dan stuur jy daardie gesels na my persoonlik toe op die skakel hier op hierdie koffietafeltjie se spyskaart. Ek sit hom dan op as ‘n “post” onder Ding se naam. Dink bietjie daaroor.
    Groete. Dis Maandag.
    doom

  9. Doom
    Ding sal nog loop dink oor daai van die skryf wat Doom gese het. Dankie daarvoor.

    Ding reken nogal Job se genade was dat hy die geduld ontvang het; die geduld om op daai ashoop te sit. En sekerlik was die potskerf dieselfde soort genade as die van die waaier vir die Rustenburg hitte, ne, want hoe sou hy hom dan nou gekrap het as hy nie daai potskerf gehad het nie? Dan reken ding veral was die genade wat hy ontvang het, die feit dat hy kon bly lewe. Want sien, Job was mos nou ‘n kerel wat sonder twyfel geglo het – daar was nie nog ene soos hy nie. So, as hy nou die teenoorgestelde moes kry as dit wat hy verdien het, dan was dit mos nou eintlik dat hy alles moes verloor en dat hy nie moes lewe nie.

    En kyk, daai duiwel was darem wragtag nou ook nie skaam om vir Job te kasty nie – toe die Here mos nou daar vir die duiwel vir se hy kan maar laat looooop met Job, toe trek daai duiwel darem met ‘n spoed weg, ne! Skoon asof hy ‘n hele span skerpskutter-demone spesiaal vir Job geloop opstel het.

    En tog het God die genade betoon teenoor Job dat God gese het die duiwel mag net nie vir Job doodmaak nie.

    Waaroor ding nog wonder: hoe is dit dan dat God nou juis daar by Job se storie so die indruk skep dat Hy kon swig voor die duiwel se getart? Dis al asof ding die idee kan kry dat die duiwel die Here gekoggel het en die Here geval het daarvoor?

    Kierts, nee kyk, ding smaak daai Job ou stukkend, hoor. Dankie vir die gesels, Doom!

    Sterkte met die Maandag!
    d

  10. Ding: Ja, ne soms is ‘n potskerf en ‘n ashoop genade. Maar ek hou meer van wat jy sê dat die Here ins sy genade die duiwel ingeperk het. Ek dink soms as die duiwel sy sin kon kry sou hy op elkeen van ons lostrek met al daardie skerpskutters van hom. God se geande hou hulle terug. “Ek sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie.” Die Here het Job se kragte geken. Die Here het geweet: Job sal nie swig nie. Somtyds dink ek die Here het met my ook maar ‘n foutjie gemaak en dat ek nie regtig al die dinge kan hanteer wat Hy dink ek kan hanteer nie.
    Ek het darem self al bietjie oor daai ding gewonder van die duiwel wat sy sin kry. Maar die duiwel het verloor. Die duiwel het ook sy sin gekry toe hy toegelaat is om Jesus in die woestyn te versoek. Hy het verloor. Eintlik is hy ‘n “born loser.”
    Dankie ook van my kant af.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: