OM GOD TE LAAT GLIMLAG

‘n GEBED vir vandag.  

Hierdie tyd van die jaar voer ek onderhoude met al die kinders wat aan die einde van die jaar belydenis van geloof aflê. Hulle kom gewoonlik twee-twee na my toe sodat die gesprek minder geforseerd is en hulle bietjie kan ontspan. Gistermiddag was dit onder andere Marche en Vincent se beurt.

Om vanoggend se stukkie te laat sin maak, moet ek net verduidelik wat gebeur nou by die tienerbediening. Die gesprek gaan op hierdie stadium oor wat dit beteken om Christen te wees. In aansluiting by daardie gesprek, is een van die vrae wat ek tydens die gesprekke met die belydenisklas vra, die volgende: “Wat beteken dit om te sê jy is ‘n Christen?” Ek kry gewoonlik ‘n antwoord wat naastenby klink soos: As ek kerk toe gaan; Bybel-lees, bid en so min sonde as moontlik doen, dan is my kop deur. Hulle antwoord nie te sleg nie, want ek vermoed dit is wat ons hulle al die jare geleer het.

Die probleem is, dat tieners nie baie opgewonde is oor Christenskap wanneer ons so praat nie. Op hierie manier word ‘n persoonlike verhouding met die Here, net nog ‘n wet. Met ander woorde: As jy nie daardie vier dinge doen nie, moet jy nie verbaas wees as jy teëspoed beleef of nie in die eerstespan is nie of nie die mooiste meisie het nie. Wanneer jy dit (kerk toe gaan; Bybel-lees, bid en so min sonde as moontlik doen) egter doen sal jy sien hoe seën die Here jou. Die gevolg is dat ons so oor God dink: Wanneer ek die regte dinge doen wen ek die guns van God en dan is God goed vir my. As ek nie die regte dinge doen nie, maak ek God kwaad en dan gebeur slegte goed met my.

Dit is nie die evangelie van genade nie. Genade beteken ek kry die teenoorgestelde van wat ek verdien. Ek kan nie vir myself meer “los-werk” as wat Jesus klaar vir my “be-werk” het nie. ONS IS VRY VAN DIE WET!! Ons kan en hoef niks meer by God te verdien nie. As kind van God kan ek niks meer doen as wat Jesus reeds gedoen het om my in God se “goeie boekie” te kry of te hou nie. Om dan nou aan te sluit by een van die ander “posts” hierdie week: As my naam in die boek van die lewe geskryf is, is ek in God se goeie boekie.

Terug na die gesprek met Marche en Vincent. Sonder dat ek dit beplan het (Dit is die Heilige Gees) vra ek: “Wie was al in ‘n verhouding?” Vincent sê hy het al by geleentheid vir omtrent 18 maande met ‘n meisie uitgegaan. Marche en Vincent het altwee saamgestem dat wanneer mens in so ‘n verhouding is, dan doen mens dinge wat die ander een goed laat voel.

Volgende vraag: “Hoe het jy geweet watter dinge wat jy doen sal haar goed laat voel en watter nie?”

Sy antwoord: “Hoe beter ek haar leer ken het, hoe makliker was dit om te weet.”  

Vraag: “Hoe het jy haar so goed leer ken?”

Antwoord: “Ons was baie tye saam en ons het baie gesels!” (Ek ken die seun redelik – ek dink nogal dis waar.)

Met ander woorde: Ek het klaar die meisie. Ek hoef niks te doen om haar te kry nie. Ek wil graag die dinge doen wat haar goed sal laat voel en sal laat weet dat sy vir my belangrik is. Hoe beter ek haar ken, hoe makliker is dit om te weet wat ek moet doen om haar so te laat voel. Die manier waarop ek haar beter leer ken, is tyd by haar.

Ek is ‘n kind van God. Ek het klaar vir God – eintlik is dit Hy wat vir my het! Nou omdat ek syne is, wil ek die dinge doen wat Hom sal laat weet dat Hy vir my baie spesiaal is en dat ek Hom regtig liefhet. Tyd met Hom (kerk toe gaan; Bybel-lees; bid; so min sonde as moontlik.) help my om Hom al hoe beter te leer ken. Hoe beter ek Hom ken, hoe makliker is dit om te weet wat Hom gelukkig en tevrede en trots sal maak.

Juis omdat ons as tienergroep (Ek is maar die net “chaperone” – nie self ‘n tiener nie) hierdie jaar baie van daardie “tyd met Hom” gehad het, het die vanselfsprekende volgende ding gebeur. Hierdie groep tieners wil God laat glimlag! Nou sê hulle: Kom ons reik uit na ander mense in Botswana en kinders sonder ouers en kinders uit gebroke huwelikke en siekes in die hospitale en ou mense wat eensaam is. Hoekom gaan ons dit doen? Omdat ons God liefhet en ons wil Hom graag laat glimlag en omdat ons daardie mense liefhet en ons wil hulle help sodat hulle ook met hulle lewens God gaan laat glimlag.

Ons gaan nie iets verdien deur dit wat ons doen nie. Hy het ons klaar alles gegee wat ons nodig het. Ons gaan ons verhouding met ‘n genadige en liefdevolle God vier. Ons gaan God laat glimlag.

6 Kommentaar

Filed under Christen tieners., Die Christelike Lewe, Geloofsekerheid., Nagedink

6 responses to “OM GOD TE LAAT GLIMLAG

  1. HeLo

    Ek stem saam. Wil graag byvoeg, die manier om God te laat glimlag is deur ander mense te laat glimlag. Dit kom alles terug na ons naaste en dit wat vir God belangrik is – Sy skepping. Die kleinste dingetjie wat ons doen om ander beter te laat voel sal God laat glimlag. Ons ry elke dag tolpad, die mense by die tolhekke is nie altyd te vriendelik nie – hulle doen net hulle werk, net soos ons as ons ons werk doen.(lekker verskoning). Ek besluit toe om elke oggend as ek betaal by die tolherk ‘n klein sjokolade saam met my geld te gee. Die eerste keer was daar groot verbasing, die tweede keer kry ek die grootste glimlag wat ek lank laas gesien het. Dit het my laat glimlag en ek weet dat DIT ook God laat glimlag het.
    Lekker dag Koning kinders of soos doom altyd sê: “Vrede”

  2. Ek het hierdie post van jou nou regtig geniet. En die blog lyk pragtig! Ekself hou van gee – ek het al baie raas gekry omdat ek sommer my goed weggee, maar materiele goed beteken vir my maar min. Ek weet mens koop dit en maak die lewe vir jouself gemaklik, maar as ek more alles moet verloor, sal ek nog steeds God se genade he, al is my sonde boekie ook nie altyd skoon nie!

  3. Pat Mocke

    As mense omgee dat is daar nie veel wat in die pad van so n verhouding staan nie. Ek glo dat die woord liefde is eintlik n werk woord wat weer beteken dat as jy God se liefde wil beantwoord sal jy enigiets vir Hom doen uit dankbaarheid.

    Pat Mocke

  4. HeLo: Dit is nogal ‘n klein dingetjie wat ‘n groot verskil kan maak. Dankie. Het my ook weer laat dink.
    sonkind: God is eintlik bevooroordeeld teenoor sy kinders. Hy trek hulle regtig ‘n bietjie voor en Hy wil niks kwaad of sleg van hulle weet nie. Jesus is ons voorspraak by die Vader.Jesus self hou jou sondeboeke skoon by die Vader.
    Pat: Uiteindelik het jy hier uitgekom. Omgee bou verhoudings -e enige verhouding. Deur opregte omgee verdien mens die reg om gehoor te word.

  5. nemesisnarcotic

    Ek het net een ding op die hart. Ek is self ‘n tiener (17) is ds. Attie se gemeente. Ons het regtig ‘n great groep tieners, want niemand is bang om uit hulle eie “comfort zone” uit te stap en iets te doen nie.

    Christin Tieners Rock!!!

    Groete
    Nemesis

  6. nemesisnarcotic: Jy is reg – almal van ons toets die krag van die mure van ons “comfort-zone” ek ook. Hierdie “blog” was een van my maniere om uit die “comfort-zone” te kom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s