IS ONS VEILIG?

Lees vandag Paulus se mooi gebed in Efesiërs 1:15-23.

Bid die gebed vandag vir jou mense.

My seun Andries is ‘n derde jaar onderwys-student. Hy glo die Here het hom geroep om ‘n onderwyser te word soos Hy my geroep het om predikant te word. Hy het ‘n pos hier in Rustenburg by een van die skole waar hy deeltyds onderwys gee en deeltyds studeer.

Andries het ‘n meisie. Ek gaan liewers nie haar noem nie. My eie kinders is al gewoond daaraan dat hulle ervaringe “preek-materiaal” word – sy is nog nie daaraan gewoond nie. Andries het gister verjaar. Hy wil nie meer op hierdie dag verjaar nie, want op sy verjaarsdag het die twee torings in New York geval en almal het sy verjaarsdagkoek voor die TV geëet in plaas daarvan om met hom te kuier. Daarmee saam is my broer wat hoof van die brandweer was, vier jaar gelede in ‘n veldbrand dood wat hulle probeer blus het – twee dae voor sy verjaarsdag. En toe gebeur Maandag-aand.

Andries se meisie se gesin bly op ‘n kleinhoewe buite die dorp. Hulle is Maandagaand aangeval en haar pa is aangehou met ‘n rewolwer teen sy kop. Hy was op die punt om alles wat hy by hom gehad het vir hulle te gee, maar hy het geweier om die huis vir hulle oop te maak. Ons vermoed dat hy sekondes weg was van sy dood af. Die beweging in die huis waar twee jong dames en hulle ma en hulle broer was, het die rowers waarskynlik laat dink daar is  meer mense in die huis en dat hulle moeilikheid kan verwag. Hulle het hom gelos en geen verdere skade is aangerig nie.  

Ons het so gewoond geraak aan die misdaad in ons land dat ons op hierdie punt wil sê: “Dankie, tog dit was nie erger nie.” Ek gaan dit nie sê nie. Ek is nie kwaad nie. In my werk moes ek leer om nie vir sulke goed so kwaad te word nie, want dan kan ek nie die mense help wat die dinge beleef het nie. Maar, ek sal baie goed verstaan as ander kwaad word en selfs baie kwaad word. Ek is uit die diepte van my hart baie jammer vir hierdie trauma hierdie gesin beleef het. Ek kan my die vrees en die angs en die magteloosheid voorstel om die pa van die huis met ‘n rewolwer agter sy oor op die grond te sien kniel. Ek is vir julle so jammer ek op hierdie stadium dink ek nie daar is iets ergers wat kon gebeur nie. Mens kan nie dankbaar wees vir enige iets in hierdie situasie nie. Later sal die dankbaarheid kom. Ek gun julle die reg om nou eers verslae en geskok en kwaad te wees.

Lena werk by ons in huis. Ons het vir Lena ook vertel. Ons vertel eintlik alles vir Lena. Lena is ‘n swart vrou en swart-vrou Lena het gehuil toe sy hoor wat met Andries se mense gebeur het. Lena het Andries omhels en hom gedruk toe sy hom sien.

As jy kwaad moet word vir hierdie dinge wat gebeur, sal ek verstaan en ek sal ook verstaan as jy lus het om wraak te neem. Mag ek vra dat jy nie vir Lena kwaad sal word nie. Lena is lief vir Andries. Wat Lena aan betref is Andries een van haar kinders wat sy help grootmaak het. Moet ook nie vir jou Lena kwaad word nie of dalk die Lena wat vandag by die werk vir jou tee bring of saam met jou in ‘n vergadering sit nie. Wees kwaad vir daardie twee misdadigers. Ons is aam in hierdie ding.

Ek dink maar aan Jesus se woorde aan die kruis: “Vader, vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Dankie Andries dat jy jou verjaarsdag met ons kom deel het. Dankie dat jy ook nie vir Lena kwaad is nie. Dankie dat jy verstaan dat hierdie meisie se pa haar nou net naby hom wil hou terwyl hulle deur hierdie seer en skok werk. Dankie dat jy verstaan dat ‘n pa kwaad word in so ‘n situasie omdat hy dikwels voel dat hy nie sy gesin genoegsaam beskerm nie. Wanneer jy haar weer sien, hou haar styf vas. Ek sou hulle graag wou vashou en troos – maar ons mense weet nie wat om in sulke situasies te doen nie.

(12/09/2007/2270)

9 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe, Nagedink

9 responses to “IS ONS VEILIG?

  1. Volharding

    Ek is jammer om te lees van Andries se meisie. Ek verstaan goed hoe moet hul voel. Ek, my kinders en my bediende was ook slagoffer. Ek gaan nie hieroor tik wat gebeur, anders kan ek nie ophou tik nie. Op die einde het my bediende my beveel om weg te ry met my kinders. Sy het aan ons gedink, waar ek nie kon mooi behoorlik dink nie! So benoud was ek nie! Sy het later die aand my man gebel om te hoor of ons als okay is. So bekommerd is my bediende ongeag die vel kleur. Sy is vir ons almal baie kosbaar, meer as juweel !!! Baie aande het ek slegte drome gehad, wat gebeur as … as … as….. Baie kere het ek Jesus gesmeek om hierdie klomp en lastige “as….as….as….” uit my gedagtes te verwyder. Jesus het vir my die beste bediende gegee en ons behandel haar een van ons familie. Andries, ek sal vir jou meisie se familie bid dat die seer sal wegvat. Dit neem tyd. Sterkte

  2. dankbaar

    Ai, dit is vreeslik om sulke goed te lees. Mens is geneig om eerste te dink dit gebeur net met ander mense. Tot dit aan ‘n mens se eie “lyf” begin raak. Ons het verlede week die hartseer van Susan se vriendin beleef toe haar Ma (43-jaar oud) net eenvoudig by die werk inmekaargesak en gesterf het. Die vrae in Aneke en Jacorien se harte is soms oorweldigend. Maar in sulke tye leer ‘n mens ‘n klein bietjie meer om ander se hartseer joune te maak. Ek glo dat hierdie woorde en optrede van jou almal rondom jou se las ligter maak. Jy is ‘n bo-baas ondersteuner en weet dat ons baie lief is vir julle hele familie. Gee Andries ‘n drukkie van ons af.

  3. Baie jammer om te hoor! Dis ongelukkig die realiteit van SA in 2007 en ek glo nie die situasie sal verander totdat die regering ophou om hulle plig te versuim nie.

  4. kaalvoetkind

    Dis so jammer om van sulke gebeure te hoor!! En dis baie waar wat jy sê dat dankbaarheid eers later sal kom, want mens moet eers deur al die emosies werk voor jy by daardie punt kom. Bib is heeltemal reg as hy sê dis die realiteit op die oomblik in SA. Al wat ons kan doen is om die Here elke dag te vra vir Sy beskerming!

  5. Amanda

    Vir baie jare wou ek al Australië toe verhuis. Ek het my man gek gehad en later het ek tog bedaar en ons het huis gekoop, verbou en ek moet sê dat ek tentpenne ingeslaan het. Ek aanvaar misdaad en geweld? is deel van – nie net ons – samelewing maar wat vir my die meeste ontstel is dat ons polisie lamgelê is. Dit asof hulle opgegee het. Dit is wat my die meeste pla. Net wanneer ek dink: in hierdie land sal ek kan oud word en aftree, dan word iemand naby ons huis vermoor of jy lees die grusaamste stories in die koerant, en dan wonder jy: probeer die Here vir my sê om nie op te gee op my droom en te immigreer nie, of is dit net die Satan se manier om ons te kniehalter in ons heerlikheid op aarde.

  6. marna

    andries het ‘n meisie..? and happy birthday vir andries!!!

    ek wens ons was daarso om saam julle te kuier… ek so met andries gekuier het ipv tv te kyk op 911… 🙂

    se hallo vir almal!

  7. George en Elsie

    Ek en George het gou “n koppie tee gaan drink op jou blog. Jammer om te hoor van die mense se ervaring, ek is self twee jaar gelede in die huis aangeval deur drie mans met wapens een teen my kop het hulle my kamer toe gevat en op die bed vasgemaak en toe al jie juwele wat hulle wou hê gevat.Ons het net daarna die Here gedank dat George nie by die huis was nie anders het hulle hom seker geskiet. Ek het net die hele tyd hardop gebid en Jesus het my gehelp. Maar ek moet vir jou sê die skok bly lank in ‘n mens dit is maar net jou geloof wat jou daar deur dra. Sterkte vir julle
    Groete Elsie

  8. ylm

    sjoe, ek wil sommer huil. op die blog word daar nou juis gepraat oor burgeroorlog om die land te red (ek dink oorlog is ‘n lelike ding en dink nie dit is ‘n oplossing nie). Al wat ons regtig kan doe is bid vir ons land en God vra om ons by te staan en te vertrou op die Here. Ons was eens self in amper so iets, en mens is daarna baie rou en kwaad. Ek kon vir maande nie in die nag slaap nie. Nou sewe jaar later is dit al amper vergete. Ek bid dat dit nooit ooit weer sal gebeur nie en bid vir almal en ons Lena’s en hulle geliefdes.
    groete
    ylm
    ns. dankie vir die raad

  9. Pat Mocke

    Hierdie verhaal is die ware werklikheid in Suid Afrika. Die mense het geen gevoelens nie en sal mense vermoor vir n paar rand.
    Geen wonder daar is so baie haat gevoelens teenoor die kriminele nie, nie net die kriminele maar ook teenoor swart mense omdat die meeste kriminele swart mense is.
    Waar staan ek as kind van God in die verband.
    Die feite: God het my lief.
    God het die krimineel net so lief as vir my, daar is geen onderskeid tussen mense nie of hy vuil, n moordenaar of n verkragter is nie. God het hom ook lief. So baie van ons kerk mense het die selfde probleem en sukkel om hierdie waarheid te antvaar.
    Ek weet ek was ook daar!! Reeds daaroor het God my geroep om aan die krimineel die woord te bedien.
    As die warheid jou tref en die besef by jou deur dring dat hierdie mense net soveel reg het as jy om die ewige lewe te be erwe is dit soos n vier pond hamer wat jou tussen die oe slaan.
    Verder beluit ons wie ons sal lief he en wie nie. Is ons dan beter as God. Hy wat almal lief het !!!!
    God het die oortreder lief maar nie die oortreding nie !!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s