BAIE VERTROU DIE KERK

Ek lees in Beeld van Dinsdag 28 Augustus van ‘n stukkie navorsing wat die Sentrum vir Internasionale en Vergelykende Politiek saam met Markinor gedoen het. In ‘n Suid Afrikaanse peiling oor waardes , het kerke die beste gevaar in die vertrouensindeks. 85% van die respondente sê hulle vertrou die kerk. Daarna volg die president en TV elk met 75%.

Die een moontlike reaksie kan dalk ‘n ernstige aanval van hoogmoed en arrogansie wees wat maak dat ‘n mens êrens op ‘n seepkissie spring en vir ‘n paar mense tong uit steek en sê: “Nou wat sê julle nou.” 

My eerste reaksie was egter die woorde van daardie bekende lied wat die kerk sing: “Hou Christus self sy kerk in stand, vergeefs die helse woede.” Dat Christus as die Koning van die kerk steeds kies om deur mense te werk, is net genade en waarskynlik ‘n wonderwerk.   Dit is Christus self wat die kerk in stand hou en die Heilige Gees wat vertroue in die kerk in mense se harte bewerk.

My tweede reaksie was ‘n gedagte van: “Ons het ‘n reuse verantwoordelikheid.” As kerk het ons die verantwoordelikheid om hierdie vertroue so te gebruik dat Suid Afrika ‘n beter plek sal wees omdat ons hier is. Die Bybel leer ons van ‘n God wat verlos en wat dan deur verloste mense werk om sy liefde en genade te dra tot by die harte van ander mense. Die deur na mense se harte is dikwels mense se swaakry en seerkry. As ons deur ons liefdevolle versorging betrokke raak by die mens wat swaarkry of wat seergeky het, of wat dalk as gevolg van hulle seerkry nou swaar kry, dan gaan ons die geleentheid kry om eers die liefde van ons Here Jesus te leef, dan die liefde van ons Here Jesus te preek. Sonder vertroue in die kerk sou nie een van hierdie twee (leef of preek) enige vrugte afgewerp het nie. Die kerk het die vertroue.

My derde reaksie was dat Christene en lidmate van kerke maar kan opstaan vir dit wat hulle glo en dit wat hulle dink. Ek het nie veel vertroue in konfrontasie-evangelisasie nie, ek weet egter dat wanneer ons eers leer om ons naaste lief te hê soos onsself en om na mense te luister dan verdien ons die reg om gehoor te word. Wanneer die geleentheid kom mag ons en moet ons die waarheid in liefde praat. Ek dink aan die ander besondere lied: “Mag U bevrydingswoord altyd voorspoedig loop. Maak self die deure oop na elke hart en oord.” Hierdie vertrouensindeks leer vir my dat die Here die paaie gelykmaak en die deure oopmaak. 

Christen – lig jou kop op en wys jou geloof. Christen – jy is deel van die kerk van die Here Jesus. Leef dit. 85% van die mense in hierdie land vertrou die kerk. Hulle vertrou die kerk meer as wat hulle die president vertrou. Hulle vertrou die kerk meer as wat hulle sakemanne en ander wyshere vertrou. Die kerk is mense – jy, kind van God is die kerk. Die kerk is mense wat saam die liggaam van die Here Jesus vorm. Leef met selfvertroue en waagmoed as kind van die lewende God.

“Hemelse Vader van ons Here Jesus Christus – Ons Vader, dankie dat ek deel mag wees van U kerk in Suid Afrika in hierdie tyd. Dankie vir dit wat U deur die kerk en met die kerk doen. Was dit nie vir U kerk in Suid Afrika nie, sou soveel van ons nie die goeie nuus oor Jesus Christus gehoor het nie. Vul die mense van U kerk se harte met nederigheid, dankbaarheid en waagmoed oor die groot uitdaging wat voor ons staan. Open my oë vandag om te sien waar ek iemand se nood kan verlig en iemand se ‘wond” kan verbind. Laat die dinge wat ek vandag doen, mense se vertroue in U kerk versterk. Amen.”

Hier kan jy KOMMENTAAR lewer of lees wat ander sê 

(29/08/07/455)

Advertisements

11 Kommentaar

Filed under Nagedink

11 responses to “BAIE VERTROU DIE KERK

  1. herstelde gewonde

    Ek dink nie die kerk is volmaak nie en ek dink nie die kerk is alles wat die Here Jesus bedoel het die kerk moet wees nie, maar onvolmaakte mense het my in ‘n baie moeilike tyd bygestaan en ek het beleef dat die Here my lewe herstel en my gesond maak deur mense – deur die kerk. Ek vertrou die kerk, want ek vertrou die Een wat die werke van sy hande in stand hou.

  2. Len

    Hallo Attie
    Ek het jou nog nie eers gesien na jy terug is nie… hoop dit gaan goed met jou.
    Hierdie gedeelte stig my vandag en ek stem 100% daarmee saam, veral oor die manier waarmee ons die goeie boodskap moet oordra…..in liefde….met n oor om te hoor…..verdien jy om gehoor te word!!!! Bravo ek hou daarvan!! Dit is so goed as om respek van iemand te verwag……wat jy net sal kry as jy dit verdien.
    Ek dink hierdie medium is fantasties wat jy gebruik om met ons te praat. Sterkte daarmee en mag die Here jou en jou gesin reiklik SEEN.
    Leifde
    Len

  3. Ek kan nie glo 75% mense glo die president nie. Waar is hierdie meningspeiling gehou?? 😯

  4. DM, ek stem saam. Dis eintlik skokkend!

  5. Die vraag is hoeveel van die mense wat die kerk “vertrou” kom tot ‘n persoonlike verhouding met Jesus. As statistiek hieroor ‘n aanduiding is dan sal die kwynende getalle in die hoofstroomkerke waarskynlik ‘n ander prenjie teken.

    Ek dink dat die beginsel van Jesus wat Sy kerk in stand hou meer betrekking het op Sy liggaam, die ekklesia wat onafhanklik van kerke binne en buite kerkstrukture funksioneer as op die klubkerke. Laasgenoemde se aandag en aktiwiteite spits hoofsaaklik toe op lidmatetalle, oorlewing en oorhoofse kostes. Sulke klubs sal aanhou kwyn totdat hulle tot niet gaan, tensy Here ingryp en mense tot gehoorsaamheid lei.

    Die vleiende statistiek dui vir my eerder op ‘n gebrek aan enigiets wat in die hedendaagse samelewing vertrou kan word as op die graad van betroubaarheid van die kerkinstellings. Mense weet nie meer wie en wat hulle kan vertrou nie en uit ‘n keuselys sal die meeste by gebrek aan iets beter maar die kerk kies.

    Ons “oorlewing” is gesetel in Jesus en om naby Hom te bly, eerder as om mense wat kerkstrukture skep en bedryf te volg.

  6. Nevermind die president. Ek kan nie glo soveel mense vertrou die televisie nie? Die meeste programme is fiksie of advertensies. Where’s the “truth” in that?!?

  7. attie

    Herstelde gewonde: Wanneer mens seer het en iemand daardie seer saam met jou deurleef, dink en voel mens baie kere bietjie anders oor dinge.
    Len: Bly dit bemoedig jou. Ons moet maar weer iets reël om bietjie te kuier.
    Da Mario en Boerinballingskap: Ek was self verbaas oor die syfers. Moet darem sê dat Markinor gewoonlik nie te sleg doen met hierdie dinge nie. Ek dink egter ons vergeet soms dat ons menings nie altyd verteenwoordigend is nie. Daar is ander mense wat anders dink en voel as wat ons dink en voel.
    Jan: Jammer jy voel so.
    Johan Swarts: Ek kyk darem graag ook National Geographic – meeste van daardie dinge kan mens darem glo.
    “All in all” het hierdie syfers my bemoedig vir die rol wat die kerk kan speel. Ek probeer juis nie kerk afgrens tot enige groepie mense ek kerkverband nie. Die kerk is almal wat in Jesus Christus as Verlosser glo – Volgens die Woord is dit tog ‘n mens se geloof in Jesus Christus wat jou mens deel maak van die kerk, en nie hoe intiem jou ppersoonlike verhouding met Hom is nie. (Ek sê nie persoonlike verhouding is nie belangrik nie! Ek sê net: Persoonlike verhouding is nie voorwaarde vir verlossing nie!)

  8. Babette

    Jan,
    Ek stem saam met jou vertolking van die statistiek. Ek dink mense kan nie feit en fiksie meer lekker van mekaar onderskei nie. Ek hou van jou term klubkerke en stem saam dat die liggaam van Christus veel meer as dit impliseer.

  9. Otto

    Hi Attie,
    Dit gaan goed hier in “P-Town”. Verlang na die kinders. Hoekom hoor ons niks? Ek stem saam met jou dat verhouding nie verlossing bewerkstellig nie. MAAR, een ding is vir my so duidelik soos daglig,as ons nie ‘n persoonlike verhouding het nie, sal ons nooit die volle seen wat Vader vir ons in plek het op aarde kan ervaar nie!!Ek glo vas dat as ons nie totaal “submit” nie,ons nooit ons gawes behoorlik sal ontdek nie omdat die invloede van buite vrylik kan werk in ons. Liefde, Otto

  10. attie

    Haai Otto: Dankie vir die inloer. Sal bietjie met die kinders praat. Verhouding bewerk nie verlossing nie, maar verhouding bewerk intimiteit en intimiteit maak dat ek God beter ken en sy wil beter ken en sy stem beter hoor. En dan is die lewe wonderlik anders.

  11. Fanie

    85%! Ek is nie baie verbaas daaroor nie want enige “instansie” wat opereer met “die goeie nuus” en liefde as hooftemas en beginsels, in ‘n milieu van swaarkry en seerkry, sal ook my stem kry. Dit plaas ‘n ongelooflike verantwoordelikheid op die kerk maar skep fantastiese geleenthede vir groei. By tienersel die afgelope week het ek mure sien tuimel en besef: ons tieners wil nie net kennis hê nie- hulle soek antwoorde en genesing vir hulle pyn en seerkry. Jong lewens het reeds duike en snye en ervaar lewensdruk wat ons “fortysomethings” nooit geken het nie. Ek salueer ons tieners se durf en daad.
    Ons is aan die vooraand van ‘n wêreldwye “revival”. Ons moet ophou vra wat die kerk vir ons kan doen maar liewer vra wat ons vir die kerk kan doen.
    Pragtige gebed onderaan Attie se leesstuk.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s