Ses dinge wat ek glo.

Elke tyd vra sy eie vrae met betrekking tot die kern van ons geloof. 

Die geloofsbelydenis wat ons by geleentheid in die kerk sê is natuurlik een van die beste samevattings van die kernwaarhede van ons geloof. Mens kry egter soms die indruk dat sommige mense die geloofsbelydenis sê met hulle vingers agter hulle rug gekruis. (Laerskool kinders kruis hulle vingers agter hulle rug en dan mag hulle maar lieg. Ek dink amper hulle sê nog iets soos “nix” ook.) 

Dit is veral sekere gedeeltes van die geloofsbelydenis wat mens die gedagte gee: Bv.:  “Ek glo in Jesus Christus… gebore uit die maagd Maria.” Almal glo dit blykbaar nie dieselfde nie. Die rede waarom sommige dan met gekruisde vingers agter die rug eers “nix” sê, is omdat die NG Kerk en/of enige ander kerk die brood op die tafel; of mens wil darem nog eendag uit die kerk begrawe word; of mens wil darem nog eendag jou kinders uit die kerk uit trou; of mens weet nooit wanneer het jy die kerk nodig nie. Wees daarom maar versigtig om te sê wat jy verstaan en wat jy glo onder die maagdelike geboorte van Jesus Christus. Kruis maar jou vingers agter jou rug en sê “nix” dan mag jy maar jou eie interpretasie heg aan dit wat jy sê – nie bely nie.

Jesus se opstanding uit die uit die dood het dieselfde reaksie. Moeilik om te glo Jesus het gesterwe; Jesus is begrawe; Jesus het opgestaan. Een van die drie het nie gebeur nie. Sê dit gerus maar met jou vingers gekruis agter jou rug. As iemand vra dan kan jy mos maar met groot gemak antwoord: “Ek sê dan saam met die kerk…”

Die verwarring wat lidmate van die kerk en kinders van die God die Vader beleef, is baie hartseer. Te veel mense gaan met ‘n intense worsteling deur die lewe omdat (soms geleerde) mense hulle help om te twyfel. BAie mense is soos ek en het nie nodig dat iemand ons help om te twyfel nie, dit kom vanself.

As klein kinders is ons geleer dat geloof in God juis beteken dat ons dinge glo wat nie bewys kan word nie. Nou kom slim en geleerde mense en sê: “Die bewyse dat hierdie dinge nie kon gebeur het nie, is oorweldigend.” Ek glo in God wat dinge doen en gedoen het wat nie bewys kan word nie.  Daarom noem ons dit geloof – geloof is om die onsienlike te sien.   

Ek dink dit is belangrik dat mense weet wat ons glo. As jy ooit gewonder het watter ses dinge staan in hierdie tye vir my vas, hier is dit:
1. Die Bybel is die ewiggeldende Woord van God in mensetaal;
2. Die wonderwerke van Jesus Christus is ’n wesenlike deel van die evangelie;
3. Jesus Christus is ontvang van die Heilige Gees en is as mens gebore in hierdie wêreld uit ’n maagd;
4. Jesus Christus het aan die kruis ’n oorwinnende offer gebring wat ons met God versoen;
5. Jesus Christus het liggaamlik uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar; en
6. Die evangelie van hierdie opgestane Here deur die Heilige Gees, sal op ’n missionêre wyse mense se lewens aangryp, vernuwe en verander, om die evangelie van hoop aan die 21ste eeuse wêreld uit te dra. (Ses punte van die Evangeliese Inisiatief)

Die God van die Bybel wat in Christus Jesus deur die werk van die Heilige Gees in my, my God en Vader geword het, kan meer doen as wat ek kan verstaan.  Ek glo Hy kan dit doen. Ek glo Hy het dit gedoen.

Ek dink aan Petrus se belydenis: “U is die Christus die Seun van die lewende God.” Ek dink aan Jesus se reaksie daarop: “Op hierdie rots sal ek My kerk bou.” Met hierdie waarhede in my gedagtes weerklink die woorde van Laurika Rauch se lied deur my gedagtes: “Kom nag, kom weer en wind, kom oseaan. Dit is ‘n rots waarop my huisie staan.” 

Hier kan jy kommentaar lewer. KOMMENTAAR

Advertisements

21 Kommentaar

Filed under Christianity, Nagedink, Religion, Spirituality

21 responses to “Ses dinge wat ek glo.

  1. Alec

    Die skrif is n bietjie klein vir ou ooms om mooi te sien

  2. Jak

    Beste Ds Attie,
    Ons B.C.(Before Computors) ouens sukkel nog. Verlede week kon ek nie jou “blog” (woord in geen woordeboek nie) vir die Stephen Ministries oopmaak nie, en kon ek ook nie by jou inligtings-sessie uitkom nie.
    Nou kan ek nog nie vir jou sê wat ek van die gedoente wat ek nog nie mooi verstaan nie, dink nie, maar ek hou daarvan dat jy dit waarin jy glo, duidelik gestel het. Ons kan gerus die Geloofs-belydenis meer dikwels aflê, al kruis party lidmate hulle vingers agter die rug. Wat my betref moet ons by die beginsels staan, so nie val ons.
    Ek bewonder die ywer waarmee jy die talente wat jy van die Here ontvang gebruik tot seen van ons almal.
    Groetnis.
    Jak.

  3. Ek is nie heeltemal so seker van daai maagdelike geboorte nie. Ek dink ook nie dis ‘n absolute vereiste vir die res van die gospel om waar te wees nie. Vir al wat ek omgee kon Jesus die kind van ‘n straatvrou wees.

    Om te skop en te sê: “nee, Jesus moes uit ‘n maagd gebore word, omdat hy rein moes wees”, gaan ek baie hard terugbaklei. Want dan sit ons met ‘n verwronge beskouing van seksualiteit, soos gebaseer op die (kortsigtige Augustiniaanse teodisee. Dat maagdelikheid goed en rein is en die seksuele en die liggaamlike sleg is, is ou, uitgediende konsepte wat gerus deur die kerk hersien kan word.

    Ewenwel, hartlik welkom op die Afrikaanse blogosfeer. Mag dit ‘n genotvolle skryfervaring wees 🙂

  4. Alec

    Ek stem saam met die 6 kernwaardes hoewel dit n bietjie dun is. ek stem nie noodwendig met die 12 artikels saam nie omdat dit ook maar net n samevating is soos gesien deur Christene van 400 jaar gelede. As ons tegnies wil raak is ek ook nie so seker dat Maria tydens geboorte nog n maagd was nie omdat die bybel se die heilige gees het oor haar gekom en haar swanger gemaak en hoe sal ons nou weet presies wat dit behels.

    Ek dink ook die Heilige gees word afgeskeep in die gereformeerde tradiesie maar ek sien ook hoe die Heilige Gees misbruik word in van die ander kerke. Gewoonlik om vir God opdragte te gee en om te wys hoe oulik ek nou eintlik is. Ek dink ons moet eerder meer fokus op ons verhouding met die Here en onthou dat dit ons is wat Hom DIEN en nie andersom nie.

  5. attie

    Alec
    Die ses kernwaardes probeer nie alles sê nie. Dit probeer sê wat in vandag se gesprekke die brandpunte is. Geloof in Jesus Christus as die mensgeworde Seun van God is die kern van die evangelie (die Goeie Nuus). Ek verstaan God as groter en heerliker as om verlossing te beperk tot mense wat in alles en oor alles met my saamstem. So welkom om ook te verskil.

  6. attie

    Hi Johan
    Sien bietjie my opmerking ook by Alec oor die maagdelike geboorte.

    Ek stem 100% met jou saam oor die afskeep maar veral ook oor die misbruik om vir God opdragte te gee. Ek wonder soms of God glimlag oor hoe ons Hom hanteer en of Hy hartseer is.

    Ek is nie seker waarvoor ek my hier ingelaat het nie, maar kom ons kyk wat gebeur.

  7. attie

    Hi Jac
    Welkom
    Ek glo nie enige woordeboek sal kan bybly met die nuwe woorde wat geskep word en ontstaan nie.
    Jy kan hier lees oor blog as jy wil. Die besonder mooi afrikaanse woord daarvoor is webjoernaal. Jy kan daaroor ook gaan lees.

  8. HENNIE

    Ds Attie

    Ek dink dat as die mens werklik ‘n openbaring van die GROOTHEID van God en die NIKSHEID van die mens ontvang het, hy beter sal besef dat ons nooit alles sal verstaan nie. Ek GLO dat Jesus die Christus die verlosser van die mensdom is. Vir God is alles moontlik.

    Hennie.

  9. attie

    Hi Hennie
    Welkom hier.
    Vir God is alles moontlik. Ek weet die hele kwessie oor maagdelike geboorte is soms vir party ouens moeilik om te aanvaar en ek wil nie regtig in sommige van die oorspronklike tekste gaan krap nie. Ek glo wek dat God in staat is om ‘n kind te verwek in ‘n maagd. Ek glo ook dat God iemand wat dood was weer lewendig kon maak en daarom glo ek dat Jesus uit die dood opgestaan het. In die lees van die Bybel ontdek ek en ervaar ek die heerlike GROOTHEID van God. Die Almagtige God.

  10. Attie

    Dankie vir jou vlytige reaksie op almal se opmerkings 🙂

    Dalk net ‘n woorde van raad – probeer al die repliek saamvat in een comment, sodat dit as volg lyk:

    Pietie – ja, Jesus is funky
    Sannie – jong, gaan poeier eers daardie neus
    Boeta – trek jou vinger uit die melktert, dis slegte maniere

    Dit lees makliker en laat die thread nie so cluttered lyk nie.

  11. attie

    Dankie Johan. Dit help. Ek het nou net ook ‘n manier gekry hoe ek nie eers elke ou se “comment” hoef te lees nie.

  12. Is die maagdelike geboorte nie juis belangrik om God se almag te bewys nie (ipv om noodwendig maagdelikheid moralisties te skets)? Dit voel al hoe meer vir my asof ons (as rasionele mense) nie regtig meer plek wil maak vir “onverklaarbaarhede” nie. So, asof ons wil se: “Ons glo in God en ons glo in Jesus, maar al daai sg. wonderwerke…eish!”
    Ek dink nie ons besef naastenby waartoe God in staat is nie omdat selfs ons eng menslike definisie van “almag” uiters beperk word deur rasionaliteit.

  13. attie

    Boer in Ballingskap.
    Ek dink vandag se mense sukkel om die onverklaarbare te glo. Ek bly dankbaar vir hulle gewilligheid om te praat en ek waardeer hulle eerlikheid.

    Ek dink… die maagdelike geboorte bewys nie God se almag nie, maar wys net dat God almagtig is. Ek dink soms juis dit is omdat ons God probeer bewys het dat hierdie dinge nou “issues” geword het. Geloof het inherent iets wat nie bewys kan word nie.

  14. Ek stem saam met jou kommentaar. Dis juis hierdie inherente (menslike) “irrasionaliteit” van die geloofskwessie wat meeste denkende mense “crack”. Veral denkende mense wil VERKLAAR en as hulle nie in menslike terme kan verklaar nie, raak dit vir hulle moeilik om te glo. Eintlik skep dit ‘n ironiese paradoks – ons wil so graag glo in ‘n Opperwese, maar ons wil nie die Opperwese se almagtigheid erken nie…

  15. attie

    Ons leef in die hoogbloei van die modernisme. Net dit wat verklaar kan word kan geglo word.

  16. Die hoogbloei van modernisme was ‘n hele paar eeue gelede 😉

    Daar is ‘n verskil tussen onverklaarbaarheid en onverstaanbaarheid. Niks is onverklaarbaar nie. (Groot uitspraak, ek weet.)

    Die irrasionaliteit waarvan julle praat gaan gepaard met ‘n omhullende allure van misterie. Van onverstaanbaarheid. Dis niks meer as onkunde en (in sommige gevalle) onnodige vrees nie.

    Beskou die volgende:

    1. Piet het kanker. Piet se kanker verdwyn wonderbaarlik. Piet is nou gesond en glo dit was ‘n wonderwerk. Hy weet nie hoe dit gebeur het nie, maar vra nie vrae nie, want sy skete is weg.

    2. Piet het kanker. ‘n Goddelike entiteit verwyder die kanker. Piet is nou gesond en glo dit was ‘n wonderwerk. Hy weet nie hoe dit gebeur het nie, maar vra nie vrae nie, want sy skete is weg.

    Die verskil? In geval #2 is daar ‘n uiters rasionele verklaring – ‘n bevoegde, sentient entiteit (God, as jy wil) het ‘n biologiese liggaam gemanipuleer ten einde die siekte te verwyder. Dis mos nie onverklaarbaar nie. Die misterie lê nou eerder in die aard van die verwydering – dis nie meer DAT die kanker verdwyn het wat wonderbaarlik is nie, maar HOE dit verdwyn het.

    Indien ‘n goddelike entiteit die kanker verwyder, is daar sprake van handeling. Indien daar sprake van handeling is, is daar sprake van ‘n ketting van kousaliteit. En dis waar die paradoks lê. ‘n Wonderwerk is ‘n wonderwerk terwyl dit onverstaanbaar en groots is. (As ek my buurman se tuin snoei gaan hy net onverklaarbaar vind tot ek hom vertel dis ek.)

    Onverstaanbaar is nog lank nie onverklaarbaar nie.

    Om te sê: “dit was ‘n wonderwerk!” is tog om te sê: “Dit was God!” – en dis klaar ‘n verklaring van die oorsaak.

  17. (Tewens – om te sê ‘n wonderwerk is onverklaarbaar, is om God uit die prentjie uit te haal. Want dan kon dit netsowel ‘n freak of nature gewees het.)

  18. Babette

    Lekker om julle kommentaar te lees. Ek is lid van ‘n klein konserwatiewe NG Gemeente op die platteland (was eers lidmaat van Bergsig). In ons gemeente staan tradisie bo alles. Wanneer Die Heilige Gees met die gemeente praat, word daar eers gekyk of dit in lyn is met waarmeer “ons” as Afrikaanssprekende nasionaliste gemaklik is. Indien nie, dan het God seker ‘n fout gemaak! Van “missionere wyse waarop mense se lewens verander en vernuwe word om ‘n evangelie van hoop aan ‘n 21ste eeuse wereld uit te dra” sal in “my” gemeente beskou word as iets wat die antichris uitgedink het. Niks mag tog net asseblief verander of vernuwe nie! Hoe wonderlik is dit nie dat God fisiese mure tussen kerke, gemeentes en denominasies afbreek en dat ‘n mens nou oor die internet aan sulke lekker gesprekke kan deelneem en sodoende kan gaan soek vir geleenthede om geestelik te groei nie! Ns: Ek was in Bergsig die Sondag toe Attie die Stephen Ministries bekend gestel het, en ek is regtig jaloers dat ek nie daarvan deel kan wees nie! God is beslis besig om julle gemeente op ‘n wonderlike manier te seen!

  19. attie

    Johan: Jou opmerkings maak sin. Ek dink dit is iets wat ons mis. As iets onverklaarbaar noem, haal ons God uit die prentjie uit. Dit is juis wat ons nie wil doen nie. Ek het al ‘n klein bietjie van die post-modernisme gelees (Veral op kerklike terrein) – dit lyk my hierdie nuwe geslag laat meer ruimte vir die misterie soos jy dit noem. Reg?

    Oor modernisme: In die VSA en ander eerste wêreldlande is die hoogbloei van modernisme waarskynlik verby. Suid Afrika? Ek twyfel.

    Babette: Lekker om van jou te hoor. Mag ek sê: Alles wat gemeentes doen is nie gelyk aan wat die kerk doen nie en is nog minder gelyk aan wat God doen. Vir die gemeente is tradisie dalk belangrik; Nie noodwendig vir die kerk nie; Nie noodwendig vir God nie.

  20. Daai misterie is nogal ‘n krapperige puntjie vir my. Ek self verpes dit. Dis myns insiens meer ‘n ingesteldheid as ‘n werklikheid – mense kies dat dinge vir hulle misterieus en vreemd bly.

    Dit voel vir my te veel vandag dat mense God probeer regverdig deur Hom ‘n misterie te noem. Dan’s dit mos basta met al die vrae en twyfel en klaar. Dit voel vir my half soos ‘n lafaartige uitweg.

    Of die nuwe geslag (define nuut?) meer ruimte oop laat vir die misterie is ‘n baie goeie vraag. Ek dink dit kort debatruimte van sy eie. Ek persoonlik is taamlik logies-positivisties ingestel op die lewe, so ek is seker ‘n slegte voorbeeld van die betrokke geslag, hehe.

    Tog sal ek wou aanvoer dat, met die koms van hoëspoed data-oordrag en ‘n uitgebreide betrokkenheid by tegnologiese panaseas soos rekenaars en die internet (wat in die verlede slegs die domein van die geeks, aldus sosiale uitgeworpenes was) mense tog terugkeer na misterie. Hoe makliker dit raak om ‘n rekenaar te gebruik, hoe moeiliker is dit om te besef dat dit eintlik ‘n klomp binêre operasies is. Dit lyk asof die ding ‘n bewussyn het. Te veel hoor ek vriende en vriendinne dinge soos: “my facebook is stukkend” of “my rekenaar is siek” sê.

    Dis onsinnige sinne. Maar die benoeming van mundane dinge is myns insiens ‘n eerste stap in die rigting om hulle met ‘n misterie te omhang. (Gee dit ‘n menslike eienskap en kry sodoende afstand van die “onverstaanbare ding”.) Sad but true.

    (Maybe spekuleer ek rubbish nou. Wie weet.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s