NG BERGSIG
SONDAG 4 MEI 2008
Teks: Handelinge 1:12-26
Tema: Wag op die Here.
_____________________________________________________________________
Inleiding.
Veertig dae het verbygegaan tussen Jesus se opstanding en sy hemelvaart. In daardie veertig dae het Jesus alle twyfel by die dissipels dat hy werklik opgestaan het opgeklaar; Jesus het ook aan hulle opdragte gegee en hulle gehelp om die betekenis van sy lewe, sy dood en sy opstanding te verstaan.
Een van die heel laaste opdragte wat Jesus vir sy dissipels gegee het staan in Handelinge 1:4: “Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: ‘Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het.’” (Hd. 1:4)
Om op die Here te wag.
Die opdrag was duidelik, die dissipels moes wag totdat die belofte wat die Vader oor die Heilige Gees gemaak het waar gemaak word. Hulle het tien dae gewag.
Ons weet wat dit beteken om te wag.
Ons wag soms in ‘n dokter se spreekkamer. Wag beteken dan dat ek probeer om tyd om te kry. Blaai deur ‘n tydskrif. Hou ander mense dop sonder dat hulle dit agterkom. Ek vat altyd ‘n boek saam. Dan lees ek terwyl ek wag. Die tyd moet verbygaan.
Ons wag soms op nuus. Wag op nuus is baie keer ‘n senuweeagtige wag. Ek was by geleentheid oppad terug van Johannesburg af. Skielik lui die telefoon. Dis ons oudste dogter Andrea, toe nog op skool. Sy vra: “Hoe ver is pappa van die huis af?” Ek sê: “Seker nog ‘n uur. Hoekom vra jy?” Haar antwoord: “Ons bloei.” Ek vra: Wie bloei?: Sy antwoord: “Ek en Andries.” Ek vra: “Wat het gebeur?” Sy antwoord: “Ons het deur die venster geval.” Dit was al wat ek nodig gehad het. Renate was besig met klas en ek kon haar nie bel nie. Ek bel toe dadelik ons vriend Willie Burger en vra hom om asseblief te gaan kyk. Terwyl ek ry wag ek. Dit voel soos ‘n ewigheid. Tien minute later bel Willie. Dit lyk nie te sleg nie, maar altwee van hulle sal moet steke kry. Dit was ‘n senuweeagtige wag. Wag vir nuus. Weet nie of dit goeie of slegte nuus gaan wees nie.
Soms wag ons onseker. Ek onthou hoe ek vir my matriek uitslae gewag het. As jy ‘n klein bietjie weet van my skoolloopbaan dan sal jy verstaan dat hierdie wag ‘n onseker wag is. Ek weet vandag nog nie wie was die meeste onseker nie, ek of my ma. Gaan ek dit maak gaan ek dit nie maak. Terwyl ons ry om my uitslae te gaan haal, was daar groot stilte. Gaan ek dit maak gaan ek dit nie maak nie. Onseker wag.
Wag word ‘n tyd wat verby moet gaan sodat kan gebeur wat moet gebeur.
Die Here Jesus het die dissipels beveel om te wag. Hulle het gewag. Hulle wag was nie ‘n passiewe of senuweeagtige of onseker wag nie. Na Jesus se opstanding weet hulle God maak sy beloftes waar. Hulle wag net dat God sy belofte waar moet maak. Hulle weet nie wanneer dit sal wees nie. Hulle weet net dat God gaan doen wat Hy belowe het. Die dissipels wat besig terwyl hulle gewag het.
Gehoorsame wag.
Een van Jesus se laaste opdragte: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het.” (Hd. 1:4)
Die dissipels gehoorsaam: “Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan van die berg af. Dit is die Olyfberg, vlak by die stad, ‘n sabbatsreis ver. In die stad aangekom, is hulle na die bovertrek toe waar hulle gewoonlik vertoef het.” (Hd. 1:12-113a)
Terug na die bovertrek toe. Waarskynlik die vertrek waar hulle die laaste keer saam met Jesus geëet het. Hulle gehoorsaam een van die laaste opdragte wat Jesus gegee het. Maar dit was nie hulle enigste stukkie gehoorsaamheid nie.
In Matteus 16:19 gee Jesus vir Petrus in die teenwoordigheid van die ander dissipels die belofte en seker die opdrag ook, dat hy die leiding sal neem onder die dissipels. Petrus gehoorsaam. In Hd. 1:15 neem hy die leiding: “In daardie tyd was daar ‘n byeenkoms van die sowat honderd en twintig gelowiges. Petrus het die leiding geneem en gesê…” (Hd. 1:15) Die ander dissipels gehoorsaam. Hulle laat Petrus toe om die leiding te neem.
Hierdie gehoorsaamheid was nie vanselfsprekend nie. Die dissipels se geskiedenis van gehoorsaamheid was nie baie goed nie. Bietjie meer as veertig dae terug het Jesus Petrus, Jakobus en Johannes gevra om saam met Hom wakker te bly en te bid. Hulle kon nie gehoorsaam nie.
Toe Jesus gearresteer word toe hardloop hulle almal weg. Hulle kon nie gehoorsaam en by Jesus bly nie.
In die binnehof kon Petrus nie aan die Here getrou bly nie. Hy verloën Hom drie keer.
Na die kruisiging gaan twee van die dissipels terug na hulle huise in Emmaus. Petrus gaan terug na sy vorige beroep as visserman.
Gehoorsaamheid was nie vanselfsprekend nie. Maar, nou weet hulle: Jesus het opgestaan. Ons kan en ons wil Hom gehoorsaam. Hulle wag gehoorsaam. Hulle wag dat God die Vader sal doen wat Hy oor die Heilige Gees belowe het.
Ons dink soms dat die Heilige Gees op Pinkster vir die eerste keer begin werk. Of ten minste dat die Heilige Gees vir die eerste keer in die dissipels begin werk. Dit is nie waar nie. In die eerste plek erken Petrus hier dat die Ou Testament deur die Heilige Gees geïnspireer was. “Broers, die Skrifwoord wat die Heilige Gees tevore by monde van Dawid oor Judas uitgespreek het, moes vervul word.” (Hd. 1:16-17) Dan haal Petrus Psalm 69:26 en 109:8. In die Ou Testament was die Heilige Gees reeds aan die werk.
Maar die Heilige Gees was ook reeds in die dissipels aan die werk. In Johannes 20:22 sê Jesus vir die dissipels: “’Vrede vir julle!’ sê Hy weer vir hulle. ‘Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.’ Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: ‘Ontvang die Heilige Gees!’” (Joh, 20:22) Die Heilige Gees was reeds werksaam in die dissipels wat nou in die bovertrek wag.
Hulle wag dat God deur die Heilige Gees ‘n nuwe ding sal doen – deur die Heilige Gees wat reeds in die Ou Testament aan die werk was; die Heilige Gees wat reeds in hulle aan die werk was. Hulle wag dat die Heilige Gees iets sal doen wat nog nooit gedoen is nie. Hulle het nie regtig geweet waarvoor hulle wag nie. Vandag weet ons. Die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag was die begin van die Nuwe Testamentiese kerk. Ons weet vandag dat Pinksterdag die dag was waarop die Heilige Gees begin het om die werk van die Here op aarde voort te sit.
Sommige mense sê: Matteus, Markus, Lukas en Johannes is die Evangelie van Jesus Christus, en Handelinge is die Evangelie van die Heilige Gees. Maak vir my nogal sin. Die Evangelie van die Heilige Gees word vandag nog steeds geskryf.
Ons gaan ook nou ‘n week van wag binne. Ons wag nie op ‘n herhaling van wat op Pinksterdag gebeur het nie. Ons wag nie dat die Heilige Gees in ons sal begin werk nie. Hy woon en werk reeds in ons. Ons wag dat die Heilige Gees van ons besit sal neem, en die werk waarmee Hy vir amper 2000 jaar besig is, op ‘n besonder nuwe momentum sal gee. Nuwe momentum deur nuwe toewyding en nuwe gehoorsaamheid.
Ons wag dat die Heilige Gees dit wat ons hierdie week gaan leer ook gehoorsaam sal leef:
Vanaand: Dat ons die krag van Pinkster sal verstaan.
Maandag: Dat ons die krag van Pinkster sal beleef om te verander.
Dinsdag: Dat ons die krag van Pinkster sal beleef om lief te hê.
Woensdag: Dat ons die krag van Pinkster sal beleef om die Goeie Nuus te deel.
Donderdag: Dat ons die krag van Pinkster sal beleef in die saamwees van Christene.
Ons bid eintlik: Heilige Gees, U het ‘n goeie werk in U kerk begin. U het deur hierdie 2000 jaar wat verby is, daardie goeie werk voortgesit. Doen dit op ‘n besondere manier in hierdie tyd in ons.
Ons wag ook gehoorsaam. Ons wag terwyl ons gehoorsaam. Ek dink bv. die Here verwag van ons om te wag. Ons wag gehoorsaam en ons gehoorsaam deur te wag. Ek dink ook elkeen van ons het iets anders waarvoor hy/sy moet gehoorsaam.
Ek wonder of ons ooit in hierdie lewe sal verstaan watter besondere werk die Here doen en kan doen deur gelowiges wat gehoorsaam. Heilige Gees, maak ons gehoorsaam in hierdie tyd.
Eensgesind, volhardend biddende wag.
Ten minste veertien kere in die boek Handelinge is daar verskillende geleenthede waar daar gebid is. Nie een van die veertien kere bid hulle vir dieselfde saak nie. Ek wonder of dit ons wil leer dat daar absoluut niks waaroor en waarvoor ons nie kan bid nie. Die gelowiges in Handelinge was manne en vroue van gebed.
Wat my tref is die manier waarop hulle biddend gewag het. “Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met ‘n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus. Sy broers was ook by.” (Hd. 1:14)
Ons weet dat Petrus, Jakobus en Johannes nie in Getsemane kon volhard in gebed nie. Nou kon hulle. Die eensgesindheid is besonders. Bietjie meer as veertig dae gelede, kon hulle nie mekaar se voete was nie. Hulle het gestry oor wie die belangrikste in die Koninkryk is. Jesus se broers het op ‘n stadium nie geglo nie.
Dit sou baie maklik wees om die eenheid tussen hierdie groep mense te versteur. Hulle kon mekaar verwyt omdat hulle nie kans gesien het die ander se voete te was nie. Hulle kon weer begin stry het oor wie is nou eintlik die belangrikste, maar nou laat hulle Petrus toe om die leiding te neem. Petrus kon Johannes verwyt het omdat hy hom nie in die binnehof gekeer het om Jesus te verloën nie. Hulle kon Jesus se broers nou wegstuur omdat hulle nie kon glo toe Hy op aarde was nie, maar nou skielik deel van die groep wou wees. Punt is: Hulle het nie. Hulle was eenheid was ‘n teken van eensgesindheid. Hulle het dieselfde waarheid geglo en hulle het dieselfde passie gedeel. Die opstanding van Jesus het hierdie mense laat opstaan om in eensgesindheid te lewe.
In hierdie tyd van biddende wag moet ons elkeen dalk net vir die Here kans gee om vir ons te wys waar ons hierdie eensgesindheid versteur. Ons kan dalk ook opstaan en eensgesind volhard in gebed.
Ons weet nie waarvoor hulle so eensgesind volhardend gewag nie. Dit staan nie hier nie. Ek veronderstel hulle het gebid vir vergifnis. Ek veronderstel hulle het gebid dat die Here sy beloftes sal waar maak. Ek veronderstel hulle het God geloof en geprys vir die wonderlike dinge wat Hy reeds gedoen het. Ek veronderstel hulle het gebid dat hulle sal verstaan wat God se doel en plan met hulle is. Ek weet nie presies waarvoor hulle gebid het nie. Wat ek wel weet is dat ons nie te sleg sal doen as ons in hierdie tyd van gebed vir dieselfde bid nie.
Ek is in ‘n oorgangstyd in my eie gebedslewe. ‘n Boekie van Scot McKnight het my in hierdie tyd gehelp om gebed beter te verstaan. Die boekie se naam is “Praying with the Church”. Die boekie sal hierdie week te koop wees. Ek het onder andere besef dat dit nie so belangrik is wat ons bid nie. Wat belangrik is, is dat ons bid. Ek het ook besef dat dit nie in gebed in die eerste plek gaan oor wat God vir ons en vir my kan doen nie. Dit gaan eerstens oor wat God deur gebed in my en deur my kan doen. Pinkster gaan hieroor: Oor dit wat God in my en deur my en in ons en deur ons as gemeente gaan doen. Met daardie verwagting behoort ons eensgesind met volharding te bid. In hierdie gesindheid is hier ‘n groep mense wat elke aand van 18:00 af biddend gaan wag.
In hierdie tyd van wag het die dissipels gehoorsaam en eensgesind volhardend in gebed gewag. Maar hulle het ook met die Woord oop gewag.
Wag rondom die geopende Woord van God.
Petrus het gesê: “Broers, die Skrifwoord wat die Heilige Gees tevore by monde van Dawid oor Judas uitgespreek het, moes vervul word.” (Hd. 1:14) en in dieselfde toespraak sê hy ook: “In die boek van die Psalms staan daar: Laat sy woonplek leeg word; laat niemand daarin woon nie, en: Laat ‘n ander sy amp oorneem.” (Hd. 1:20) Op Pinksterdag haal Petrus weer die profeet Joël aan. “… hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het.” (Hd. 2:16)
In hierdie tyd van wag het hulle die Woord bestudeer. Hoe anders sou Petrus geweet het wat die Bybel oor al hierdie dinge sê. Op daardie stadium was die Ou Testament op die enigste Bybel wat die dissipels gehad het. Hulle het die Bybel nuut verstaan. Die Here Jesus het dit vir hulle moontlik gemaak. In die veertig dae tussen Paasfees en Hemelvaart het Jesus baie met die dissipels gepraat oor die Skrif en hoe die woorde van die profete in Hom vervul is. Daar staan hierdie woorde: “Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.” (Luk. 24:45)
Ons leef met dieselfde Heilige Gees in ons. Elkeen van ons het die potensiaal om die Woord van God te verstaan. As ons net met Woord van God oop voor ons sal bid. As ons net kan leer om met die Woord oop voor ons te leef.
Ek sien nog ‘n belangrike gedagte hier. Hulle het die Woord geleer, maar hulle het ook die Woord geleef. Onthou hulle wag gehoorsaam. Hulle gehoorsaam en hulle wag. Nou leer hulle wat die Bybel sê. Die Bybel sê dat iemand in Judas se plek gekies moet word. Hulle kies Mattias in Judas se plek. Hulle leer die Woord en hulle leef die Woord. Verskeie kere in Handelinge buig mense hulle eie mening onder die gesag van die Woord.
Hulle was nie so slim dat hulle gehoorsaamheid aan die Woord weg redeneer nie. Hulle het nie probeer om goeie verskonings uit te dink waarom dit nie nodig is om die Woord te gehoorsaam nie. Hulle het met die Woord van God oop voor hulle gewag en die Woord gehoorsaam. Hulle het die Woord geleer en die Woord geleef.
SLOT.
Tien dae tussen hemelvaart en Pinkster. Tien dae van wag. Gehoorsame wag. Eensgesind, volhardende biddende wag. Wag met die Woord van God oop voor hulle. En dit wat hulle in die Woord leer het hulle gehoorsaam geleef.
Een maal in ons land se geskiedenis het God in reaksie op ‘n soortgelyke wag ‘n herlewing begin wat die hele land en die hele wêreld geraak het. Sal ons nie hierdie week met dieselfde verwagting wag nie.
Amen.
1 Response to “WAG OP DIE HERE”