jump to navigation

‘n PAAR PREKE

NG BERGSIG  Sondag 2 September 2007  Teks: Jona 4:1-11  Tema: God in die hande van ‘n woedende sondaar.  _____________________________________________________________________ 

Die Bybel is die openbaring van God. Die Bybel is die Woord van God wat vir ewig geld. Die Bybel is deur God vir ons gegee sodat ons Hom beter kan leer ken. Die Bybel is nie ‘n geskiedenis of ‘n aardrykskunde handboek nie. Die Bybel is openbaring van God. Deur die Bybel leer ons God  - en onsself beter ken.  

Jona is deel van hierdie Bybel. As ons die boek Jona mooi lees, sal ons God beter ken. Ons sal ons onsself beter ken.

 ‘N JOODSE PROFEET NA ‘N NIE JOODSE VOLK

Die hele Jona moet gelees word. So nie, mis jy ‘n paar van die ongewone dinge wat met Jona gebeur. In hoofstuk 1 kry Jona hierdie opdrag: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.” (Jona 1:2) Die eerste ongewone ding wat gebeur: Jona – ‘n Joodse profeet, word geroep om met mense te gaan praat wat nie Israeliete of Jode is nie. Joodse profete het met Israel oor ander volke gepraat. Maar hulle het nooit met ander volke gepraat nie.

 JONA MAAK ‘N KEUSE

Dan gebeur die tweede ongewone ding. Jona besluit om God se roepstem – God se roeping – te ignoreer. “Maar Jona het klaar gemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af.” (Jona 1:3) Jona leer my hierdie waarheid: God se mense het altyd ‘n keuse. God roep. Ons moet kies. God stuur. Ons moet besluit.

Jona hoor God roep. Jona dink: “Die mense van Nineve is die vyande van Israel. Die mense van Nineve het my mense seergemaak. Ek haat die mense van Nineve. Ek gaan dit nie doen nie.” Jona besluit: Ek hardloop. So ver as moontlik weg van die Here af. Dalk dink Jona: Hoe verder ek hardloop, hoe langer sal dit God vat om my terug te bring. Dalk gee God moed op en roep iemand anders. Wat is die verste plek in die teenoorgestelde rigting. Tarsis. Wanneer vertrek die volgende boot na Tarsis.

 JONA IN ELKEEN VAN ONS

Baie van ons het iets van Jona in ons. Ek dink baie van ons worstel soos Jona. Die Here vra van ons om iets te doen. Ons wil dit nie regtig doen nie. Dan hardloop ons. Ons het meer moeite om nie te doen wat God wil hê ons moet doen nie, as wat ons sou gehad het as ons Hom maar net gehoorsaam het. Ek sien iets van Jona in myself.

Ons het eintlik ‘n wonderlike gemeente. Ons gemeente reageer wonderlik as ons iets vra. Bv. Aan die einde van verlede kwartaal het ons gevra: Raak betrokke by die kinderkerk. Ons is dankbaar vir 15 mense wat gereageer het en nou by die kinderkerk help. Maar wat was jou reaksie? Kon jy dalk vir jouself ‘n goeie rede opnoem waarom jy nie hoef te gaan nie? Vandag in die kennisgewings: Raak betrokke by hierdie werkskeppinsprojek. Die Jona in ons wil soveel verskonings en redes as moontlik uitdink waarom ons dit nie hoef te doen nie. Twee weke terug het ons gevra: Word ‘n “Stephen Minister”. Kom versorg mense wat seer het in ‘n een tot een verhouding. ‘n Hele aantal mense het al gereageer, maar die nood is baie groter as die mense wat ons het. Die Jona in ons hoop die hele tyd dat God eerder iemand anders sal kies.

 YOU CAN RUN BUT YOU CANNOT HIDE

Onthou: In die boek Jona (Soos in die res van die Bybel) leer ons God beter ken. Ons leer ook onsself beter ken. Jona leer my: “You can run but you cannot hide.” Jy kan nooit ver genoeg hardloop nie. God is alomteenwoordig. God se alomteenwoordig-heid werk nie soos selfoon ontvangs nie. Op sekere plekke is daar nie selfoon-ontvangs nie. As ek nie sein of ontvangs het nie, kan niemand met my praat nie en ek kan met niemand praat nie. God se sein is orals. God se sein is waar jy jou op hierdie stadium ookal bevind. “You can run but you cannot hide.”

 GOD DOEN DIE ONMOONTLIKEOns ken die res van die Jona gebeure. ‘n Storm breek uit. Jona en sy reisgenote op die skip is in gevaar. Hulle besef gou alles is Jona se skuld. Jona sê: Gooi my oorboord. Dan sterf julle ten minste nie ook nie. Hulle doen dit. “Toe stuur die Here ‘n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en drie nagte in die vis se maag.” (Jona 2:1) Na drie dae spoeg die vis weer vir Jona op die vasteland uit. “You can run but you cannot hide.” 

Mense verstaan die Jona gebeure op verskillende maniere.

 Neem alles maar met ‘n knippe sout.

Die een groep sê: Wat ons hier lees is nie moontlik nie, en daarom kan ons dit nie glo nie en daarom is die Bybel nie waar nie. Ek is jammer vir sulke mense, maar dit is ‘n ander gesprek.

 Hierdie is ‘n gelykenis.

‘n Ander groep sê: Die Jona gebeure laat my dink aan die gelykenisse wat Jesus vertel het. ‘n Gelykenis is ‘n storie – iets wat nie regtig gebeur het nie. Jesus vertel byvoorbeeld die gelykenis van die verlore seun. Daar was nie regtig ‘n verlore seun nie. Die gelykenis van die verlore seun is ‘n storie wat Jesus uitgedink het. Jesus vertel die “storie” met die doel om vir die mense belangrike waarhede te leer. Jesus weet mense leer makliker deur stories. Sommige mense verstaan die Jona gebeure as ‘n gelykenis. Iets wat nie regtig gebeur het nie, maar waaruit ons God en onsself beter leer ken. Daarom is Jona in die Bybel – God se boek waarin Hy Homself aan ons openbaar.

 Dit het regtig gebeur.

‘n Ander groep sê: Ek glo dit het regtig gebeur. Ek glo Jesus is gekruisig, het  gesterwe en is begrawe. Ek glo God die Vader het Jesus weer lewendig gemaak en Hom uit die dood laat opstaan. Ek sien in my eie lewe en in die lewe van baie ander mense hoe God dag vir dag mense se lewens dramaties verander. Dinge doen wat net met ‘n radikale ingrype van God verklaar kan word. Al hierdie dinge laat my dink dat dit moontlik is dat God ‘n vis kon stuur om Jona in te sluk en dat God hom drie dae lank binne in die vis kon laat oorleef. Ek glo dat God die onmoontlike kan doen – ook in die lewe van Jona.

Ons dink al te maklik dat ons al die kennis het. As jy nie oor die boek Jona voel soos ek oor die boek Jona voel nie, dan kan jy nie ‘n kind van God wees nie. Onthou maar net dat  die enigste voorwaarde vir verlossing is geloof in Jesus Christus die Seun van God wat met sy kruisdood en opstanding ons sondeskuld by God betaal het.

 DIE VADERHART VAN GOD

Ons het reeds iets van die Vaderhart van God gesien. God die Vader gee altyd vir ons ‘n keuse. Hier sien ons nog iets van die Vaderhart van God. Kyk mooi: “Die woord van die Here het ‘n tweede keer tot Jona gekom: Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.”  (Jona 3:1-2)

 God begin weer voor.

In sy groot liefde laat God ons toe om ons reaksie op sy roepstem te kies. In sy groot liefde is God bereid om weer voor te begin as ons die verkeerde keuse sou maak. God begin weer met Jona. God sê weer wat Hy gesê het toe Hy Jona die eerste keer geroep het. God kry vir Jona waar Hy is en net daar begin God weer voor met Jona. “You can run but you cannot hide.” Ek weet nie hoe ver jy al gehardloop het nie. Dit maak ook nie regtig saak nie. God kry jou waar jy is en Hy begin weer voor. “Maak klaar, gaan na …”

Jona gehoorsaam. Jona preek. Nie ‘n baie lang preek nie. Die boodskap wat God vir Jona gee, het net agt woorde: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes.” (Jona 3:4) Tog interessant dat Jona opdrag kry om Nineve te vertel van die oordeel wat kom. Oordeel as gevolg van hulle sonde. Oordeel omdat God weet dat hulle sleg is. (1:2) Interessant in hierdie tyd waar mens niks meer sonde mag noem nie en waar mens niks meer mag sê oor die komende oordeel van God nie. God se boodskap in die mond van Jona is oordeel.

 GOD DOEN WEER DIE ONMOONTLIKE

En dan gebeur die groter wonderwerk: “Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het ‘n dag van rou aangekondig om te vas.” (Jona 3:5)

Dan staan daar in Jona 4:1: “Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword.”  Kwaad omdat God genade bewys aan mense van wie Jona nie hou nie. Die mense van Nineve was vyande van Israel. Jona het nie van die mense van Nineve gehou nie.

“Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsus toe gevlug. Ek het geweet U is ‘n genadige en barmhartige God , lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.” (Jona 4:2)

 God is getrou aan Homself.

Jona se boodskap skep vir God die geleentheid om geloof, berou en bekering in hulle harte te werk. Jona ken die Vaderhart van God:  “U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.”  Jona ontdek: God is getrou aan Homself.

Jona het God geken – hy het God baie goed geken. Jona kon dans omdat God hom vergewe het . Jona kon nie dans omdat God ander vergewe nie. Jona in elkeen van ons: Here, U kan nie hierdie sondaars vergewe en vryspreek nie. Here, hulle verdien dit nie. Here, kyk hoe hard werk ek vir U. Nou kom U en U vergewe hierdie mense en hulle is onmiddelik waar ek is. Here, dis nie regverdig nie.

 GOD VRA

God vra ‘n vraag. “Het jy rede om kwaad te word?” (Jona 4:4) Jona antwoord nie God se vraag nie. Jona is net opgewonde oor die Vaderhart van God as die Vaderhart van God beteken dat hy “score”. As die Vaderhart van God sou beteken dat iemand anders “score”, dan mag ek vir God kwaad word.

Kwaad-kwaad stap Jona uit die stad uit. Hy bou vir hom ‘n skuiling. Maar die Here is nie klaar met Jona nie. “Toe laat die Here God ‘n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplant.” (Jona 4:6)

“Die volgende môre met dagbreek laat God toe ‘n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het. Toe die son opkom het God ‘n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het gesê: ‘Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.’” (Jona 4: 8)

 SKEWE TEOLOGIE

Jona se teologie is ‘n bietjie skeef. Ek het onlangs oor die hond- en kat-teologie gelees.

‘n Hond sien hierdie mens wat vir hom kos, slaapplek, aandag liefde en alles wat hy nodig het gee. Die hond dink: Hierdie mens is god. Ek moet hier wees om hom te dien.

Die kat-teologie. Renate se broer het ‘n kat in die huis. Sy naam is Jinxie. Jinxie sit net by wie hy wil. Jy kan hom roep. Jy kan doen net wat jy wil. Jinxie sal net by jou sit as hy wil. En as Jinxie sit moet jy stilsit. As jy nie stilsit nie, sal Jinxie ‘n paar keer kerm. s dit nie werk nie, klim hy af. Jinxie doen jou ‘n groot guns om by jou te sit.

‘n Kat sien hierdie mens wat vir hom kos, slaapplek, aandag liefde en alles wat hy nodig het gee. Die kat dink: Ek moet God wees. Hierdie mens is hier om my te dien.

 God is in my diens teologie.

Jona het ‘n kat-teologie. God is in my diens. Jona weet: God vergewe my. God bewaar my. God gebruik my. God sorg vir my. God is hier om my te dien. Sommige mense dink hulle doen God ‘n guns deur kerk toe te kom. Hier in die kerk kom krul ek mooi op God se skoot en ek sit bietjie by Hom. Maar as God Hom nie gedra nie, as Hy nie hier in hierdie kerk die dinge laat sê wat ek wil hoor nie, dan kom ek nie weer nie. Dan klim ek af. God is hier om my te dien. Kat-teologie op sy beste.

 God vra weer.

God laat ‘n komkommerplant groei om vir Jona skaduwee te gee. ‘n Wurm vreet die komkommerplant op. Die plant vrek. Geen skaduwee vir Jona. Jona is weer kwaad.

Weer vra God: “Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant? (Jona 4:9) Hierdie keer het Jona gereed ‘n antwoord. “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!” (Jona 4:9) Sien jy die “kat-teologie”.  

God het die laaste woord. “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ‘n stad waarin meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere.” (Jona 4:11)

 GOD HET DIE LAASTE WOORD

God het die laaste woord. Jona jy ken My. Jy weet dat dit wat Ek nou hier in Nineve gedoen het – dit is wie Ek is. Dit is hoe Ek is. Jy is net tevrede as Ek na jou pype dans en die lewe vir jou beter en gemakliker maak. Jy word kwaad omdat ek as genadige en liefdevolle God die oordeel terughou van mense wat na jou mening My oordeel verdien. Hierdie is My oordeel. Ek besluit oor My oordeel. Ek laat My nie deur enige mens voorskryf oor hoe ek Myself moet wees nie.

Ek wil twee groepe mense vanoggend bemoedig. Eerstens daardie Jonas wat reeds gekies het om God se roepstem te gehoorsaam. Die van julle wat glo julle leef julle roeping. Kyk net hoe gebruik God vir Jona. God kies om deur jou te werk. Moet nooit die Vaderhart van God vergeet nie. Onthou God werk baie keer anders as wat ek en jy dink Hy moet werk. Onthou: Mense is vir God belangrik. Onthou ook: God is getrou aan Homself. Maak seker jy ken Hom, dan sal jy nie teleurgestel wees in wat Hy doen nie.

Tweedens wil ek die hardlopende Jonas vanoggend bemoedig. “You can run but you cannot hide.” Maar weet ook: God wreek Hom nie op Jona nie. Jona word kwaad vir God. God word nie kwaad vir Jona nie. God kry Jona net waar Jona is en al wat God doen is Hy herhaal Jona se opdrag. As jy deur geloof in Jesus Christus deel is van die kerk van die Here Jesus, dan is jy deel van God se antwoord aan hierdie wêreld. Jy het ‘n roeping. Jy het ‘n taak. Jy het ‘n opdrag. Jy het ‘n gawe. Daar is iets wat jy moet doen. Vanoggend kom die woord van die Here weer ‘n keer na jou toe: “Maak klaar…” Maak klaar met jou gehardloop. “Maak klaar, gaan…”  

 Amen.