By attie

NG BERGSIG

Sondag 27 April 2008

Teks: Filippense 2:12-18

Tema: Praktiese Christenskap.

Inleiding.

In die Grieks is die eerste woord in vers 12 die woord “daarom”. Die woord “daarom” koppel dit wat hier staan aan dit wat reeds geskryf is. As ons verse 12-18 reg wil verstaan, dan moet ons weet wat vooraf geskryf is. Kom ons probeer om ‘n paar vrae te vra om ons te help om te vertaan wat reeds geskryf is:

Aan wie skryf Paulus hierdie brief? “Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort…” (Fil. 1:1) Onthou dit: Die brief is geskryf vir mense wat deur geloof in Jesus Christus aan God behoort. Mense soos ek en jy.

Hoekom skryf Paulus hierdie brief? Eerstens wou Paulus die mense in Filippi moed in praat. Maar, Paulus was ook bekommerd. “As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie.” (Fil. 1:27) Ook in hoofstuk 2:2: “maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.” (Fil. 2:2) Paulus was oor die verdeeldheid in die gemeente.

Die gelowiges in Filippi was nie eensgesind nie. Daar was groepe wat in hierdie rigting wou beweeg en dan was daar groepe wat in daardie rigting wou beweeg en nog ander wat in ander rigtings wou beweeg. Die gevolg: Die gelowiges in Filippi het God se doel met hulle lewens gemis. Hulle kon nie alles wees wat God bedoel het hulle moet wees nie. God kon nie in hulle en deur hulle doen wat Hy graag wou doen nie.

Die verdeeldheid is nie juis waar van ons eie gemeente nie. In enige gemeente is daar altyd mense wat dink hulle is meer reg as ander, of mense wat dink hulle verstaan die Here se doel beter as ander. Maar in ons gemeente is daar nie juis iets wat my bekommerd maak nie. Hierdie was die situasie in Filippi.

Wat is God se droom vir hierdie gemeente? Dit kan ek wel sê: God se droom vir Filippi, is sonder twyfel ook God se droom vir enige gemeente – ook ons gemeente. “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” (Fil. 1:6) God wil die goeie werk wat Hy in ons begin het ook klaar maak.

Wat is God se einddoel met dit alles?Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was…”. (Fil. 2:5) Jesus gesindheid– dit is God se einddoel.

‘n Gemeente wat bestaan uit mense in wie God besig is om sy einddoel te bereik, is ‘n gemeente wat God se droom gaan leef – God se droomgemeente.

Nou kan ons lees by 2:12-18:

Sien ‘n paar belangrike dinge in hierdie verse raak.

Met eerbied en Ontsag.

“My geliefdes… Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe… “ (Fil. 2:12b) Die Ou Vertaling (en die meeste ander vertalings) vertaal eerbied en ontsag met “vrees en bewing.”

Hierdie vrees of eerbied is anders as die vrees wat ons ken. Adam en Eva was bang, en toe het hulle vir God weggekruip. Eerbied is anders. Eerbied is ‘n liefde-gedrewe vrees; ‘n senuweeagtige passie om die regte ding te doen. Hoor mooi: Ek is nie bang vir wat God aan my gaan doen nie as ek nie lewe soos Hy wil hê nie. Nee, ek is bang vir wat ek aan God gaan doen, as ek nie lewe soos Hy wil hê nie. Eerbied by ‘n allesoorheersende liefde vir God. ‘n Heilige vrees dat ek nie alles gaan wees wat God bedoel het ek kan wees nie, dan gaan ek God seermaak en my doel mis.

As ek as ‘n verloste mens lewe, sal hierdie eerbied en ontsag wys. Mense moet deur die manier waarop ek lewe agterkom dat ek eerbied en ontsag vir God het. Mense behoort in my lewe te sien dat God aan die werk is. Mense moet sien dat ek stadig maar seker besig is om die stryd teen die sonde in my lewe te oorwin. Hierdie eerbied en ontsag maak dat ek in my diepste binneste sal weet wat God wil hê dat ek moet doen. Ek sal weet wat God se droom vir my is. Ek sal God se droom vir my lewe.

Ek raak soms moedeloos oor hierdie lewe. Wanneer dit so ‘n stryd is om ‘n slegte gewoonte af te leer; Wanneer ek sukkel om ‘n sonde in my lewe te oorwin; Wanneer ek nie kan besluit wat vir God aanvaarbaar en goed en reg is nie, dan vra ek dikwels: Is dit regtig nodig? Ek weet mos ek is ‘n kind van God! Ek weet mos ek is verlos! Ek weet mos ek gaan hemel toe as ek doodgaan! Is hierdie harde werk regtig nodig? Hoekom moet ek hierdie lewe van eerbied en ontsag vir God lewe?

Midde in hierdie stukkende wêreld.

Die antwoord is in vers 15. Ons lewe “…te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld…” (Fil. 2:15) God se mense leef in ‘n stukkende wêreld. Die mense van hierdie wêreld is ontaarde en korrupte mense. Die woorde is nie regtig ‘n belediging nie. Die woorde beteken mense wat hulle rug op die waarheid gedraai het. Baie mense wat nie glo nie, sal erken dit is hoe dit is. Hulle sal sê: Ons het ons rug op God– die bron van alle waarheid gedraai het. Ons opdrag is: Leef tussen hierdie mense as ligdraers. Daarom doen ek die moeite.

Ek lees hierdie week ‘n aanhaling uit die jongste biografie van Thabo Mbeki. Ek gaan dit vir jou lees: “The bleak picture he [Mbeki] painted of a decultured South African society was one not only of dislocation but of amorality too. Urban Africans had their ‘cultural base’ destroyed, ‘and there was no value system which in fact replaced it, except Chirstianity. But Christianity unfortunately was understood as [no more than] going to church on Sunday. So whereas the Zambian would say, ‘you know, the culture of my people does not allow that I do this or that’, here that connection to culture is gone. And nothing has been put into place to replace it. ‘There is no alternative value system, except to the extent that the priest might object or the police might arrest you’. Nothing emanating from within.” (M.Gevisser, Thabo Mbeki. The dream deferred; 2007)

“amorality” –Morele waardes is afwesig. Dit is nie meer vir mense belangrik om die regte ding te doen nie. Mbeki se klag teen Christene: Ons het ‘n boodskap verkondig wat mense Sondae laat kerk toe gaan en die res van die week net so sonder waardes leef as hierdie ontaarde en korrupte mense. Ligdraers tussen hierdie mense sê: God wat in ons werk, wil deur ons sy Koninkryk hier op aarde laat kom.

Suid Afrika is aan die brand. Misdaad, geweld, rassehaat, VIGS, wetteloosheid, liefdeloosheid. Hier is geen morele waardes nie. Hier is ‘n vakuum wat deur iets gevul moet word. Omdat Christene nie die vakuum gevul het nie, het die waardes van geweld en wetteloosheid die vakuum gevul. Ek is daarvan oortuig dat die ANC nie met skoon hande hier kan uitstap nie. Die manier waarop hulle jongmense in die vryheidstryd misbruik het, het ‘n baie groot rol te speel in die situasie in ons land. Maar, God maak vir ons ‘n deur oop. Almal is moeg vir die geweld en die misdaad en die rassisme. Nou is die geleentheid om as ligdraers onder hierdie ontaarde en korrupte mense te leef. Carpe diem – gryp die dag. Bring die morele waardes van die evangelie – God se waardes. Baie mense in ons land het hulle rug op God en op God se waarheid gedraai het. Ons het nou die geleentheid om tussen hulle as ligdraers op te tree. Nou is die tyd vir God om in ons te werk, sodat God deur ons kan werk.

As ons met eerbied en ontsag vir God lewe en Hom met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand en met al ons krag liefhet en gehoorsaam, dan sal ons “as verloste mense …lewe… te midde van ontaarde en korrupte mense.” (2:12 en 15)

“… te midde van…” Ons kan nie onttrek nie. Ons mag nie ontrek nie. Tussen hierdie ontaarde en korrupte mense moet ons lewe. Met ons gesigte na God toe. Met ons oë vasgenael op die Waarheid. Dit beteken dat ons Christenskap strate toe sal moet gaan. Want dit is op die strate en in die myne en in die kantore waar God deur ons gaan werk. Nie in die kerk nie. In die kerk wat God in ons. Daar buite leef God deur ons.

Verlede naweek was 60 000 mans in Greytown. Die 19de Junie gaan meer as 50 000 mense op Loftus wees. Die stemme word orals gehoor. God is aan die werk. God wil deur sy kinders wat tussen hierdie ontaarde en korrupte mense lewe, ‘n nuwe ding doen. Ek glo God wil deur sy kinders hierdie land genees. En ek glo die manier waarop God dit gaan doen, is deur ons tussen hierdie ontaarde en korrupte mense in te stuur om as ligdraers op te tree. Dit was in Filippi se tyd God se werkswyse. Dit is vandag God se werkswyse.

Met God wat in ons werk.

Vers 13 het vir ons wonderlike nuus. “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” (Fil. 2:13) Hy maak dat ek wil en dat ek kan.

Op hierdie oomblik is hy besig om hierdie vers waar te maak. Jy hoor van die omstandighede waarin ons lewe; Jy besef skielik wat God besig is om te doen; Jy dink: Ek sou graag deel wou wees van God se oplossing vir hierdie land se probleme. Dit is God wat jou gewillig maak. God werk deur sy Heilige Gees op hierdie oomblik in jou.

God maak dat mense wat wil, kan. God stel ons in staat, Hy maak ons bekwaam. Ons het ‘n kragopwekker – die Heilige Gees. Menslike krag kan dit nie doen nie. Vir een of ander rede wil God nie sy doel sonder ons bereik nie. God se keuse om dit deur ons te doen. God werk eers in my, voor Hy deur my werk. Hoor hierdie baie waardevolle sinnetjie: God stel meer belang in die werker as die werk. God weet, as die werker alles is wat hy moet wees, sal die werk alles wees wat die werk moet wees. God werk eers in ons, sodat Hy deur ons kan werk.

Ek en jy is bestem om anders as die ontaarde en korrupte mense te wees. Een van die redes waarom die land ‘n gebrek aan morele waardes het, is omdat Christene gedink het hulle kan die wêreld verander deur soos die wêreld te wees. Ons het die duiwel geglo toe hy sê: As julle anders as die mense van hierdie wêreld is, gaan hulle nie na julle luister nie. Baie Christene het saam met die wêreld in hierdie vakuum ingestap.

Ek het hierdie week bietjie gaan lees oor hoe kragopwekkers en transformators werk. Wat ek verstaan is dat die krag wat deur die kragopwekker opgewek word, deur verskillende transformators gaan sodat die krag wat by jou huis uitkom krag is wat jy kan gebruik.

Die Heilige Gees is die opstandingskrag van Jesus Christus in ons – die kragopwekker in my en jou lewe. Die krag van die Heilige Gees moet nou in bruikbare hoeveelhede deur ons lewens vloei. Daarvoor het die Here vir ons transformators gegee. Drie transformators: Woord; Gebed en gemeente.

God werk in my sodat Hy deur my kan werk. Die Heilige Gees werk in my en deur my wanneer ek die Bybel lees; wanneer ek met Hom praat in gebed en wanneer ek saam met ander kinders van die Here is. God se transformators.

Die Heilige Gees maak dit vir ons moontlik om tussen hierdie ontaarde en korrupte mense as ligdraers op te tree. Net hierdie gemeente se lewe in gehoorsaamheid kan hierdie dorp en waarskynlik hierdie land verander en genees. Kyk wat is die Here besig om deur Angus Buchan te doen.

Hoe kan ons hierdie wêreld begin verander?

Hou op met kla en teëpraat.

“Doen alles sonder kla of teëpraat.” (Fil. 2:14) Dit is wat die Israeliete met Moses in die woestyn gedoen het, opstandige en ontevrede gemompel. Daar is altyd daardie mense wat fout soek sodat hulle ‘n rede kan hê om te kritiseer en te baklei. Meeste van die tyd gebeur hierdie dinge in kleiner groepe waarvan die res van die gemeente nie weet of nie mag weet nie. Hierdie dinge versteur die eensgesindheid in die gemeente. Moenie kla nie, gee erkenning. Moenie teëpraat nie, aanvaar dat God ook deur ander mense werk.

Om dit reg te kry moet ons konsentreer op: hoe die wêreld my sien; hoe ek myself sien en hoe God my sien.

Hoe behoort die wêreld my te sien?

“sorg dat julle bo alle verdenking leef…” (Fil. 2:15) Tussen hierdie ontaarde en korrupte mense, bo alle verdenking. Het jy al ooit gedink hoekom die mense in hierdie wêreld so vinnig is om vingers te wys na Christene? Omdat hulle die waarheid ken. Omdat hulle weet wat reg en wat verkeerd is. Hierdie ontaarde en korrupte mense hou Christene fyn dop. Gereed vir ‘n geleentheid om fout te vind met Christene. Bo alle verdenking… ek en jy behoort vir die mense in hierdie wêreld geen rede te gee om ‘n vinger na ons te wys nie.

Hoe behoort ek myself te sien?

“Sorg dat julle… opreg bly.” (Fil. 2:15) Die woord wat hier vir opreg gebruik word, word gewoonlik gebruik ‘n stuk metaal te beskryf waarin daar geen onsuiwerheid is nie. Wie sal weet of ek opreg is? Net ek self! Opregtheid kom diep uit ‘n mens se binneste.

In my stiltetyd hierdie week lees ek Psalm 51. Ek bid na aanleiding van dit wat ek in die Psalm lees. Daar staan: “Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart.” (Psalm 51:8a) Toe ek hier by hierdie gedeelte kom toe besef ek weer… net ek weet of ek diep in my hart opreg is.

Dan bid die Psalm-skrywer hierdie woorde: “Laat my diep in my binneste weet hoe U wil hê dat ek moet lewe.” (Psalm 51:8b) In my gebed dink ek verder oor hierdie woorde. Terwyl ek bid en dink, besef ek: God het hierdie gebed klaar verhoor. Hy het sy Heilige Gees in ons gegee.

Elkeen van ons weet diep in ons binneste hoe God wil hê dat ons moet lewe. Ons skop daarteen en ons stry daarteen en ons veg daarteen en ons ignoreer dit en ons verduidelik mooi as ons nie so lewe nie, maar diep in ons binneste weet ons hoe God wil hê dat ons moet lewe – op Pinksterdag is die Heilige Gees uitgestort en die Heilige Gees woon in elke kind van God. ‘n Opregte mens volg daardie innerlike leiding van die Heilige Gees. Ek weet – en net ek weet, wanneer ek opreg is.

In die oë van die wêreld – bo alle verdenking.

In my eie oë – opreg.

In die oë van God.

“Sorg dat julle… onberispelike kinders van God… (Fil. 2:15) Wanneer die priester in die Ou Testament ‘n lam geoffer het, moes hy hom eers ondersoek en kyk of die lam sonder enige gebrek is. Hy moes kyk of hy onberispelik, vlekkeloos is. Jesus was die vlekkelose Lam van God.

Wat wil God sien as Hy na ons lewens kyk? Hy wil ‘n vlekkelose, onberispelike lewe sien. Sonder vlek of rimpel. Goed genoeg om as offer gebruik te word. Kyk hoe sê Romeine 12:1 dit: “En nou doen ek ‘n beroep op julle… Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.” (Romeine 12:1)

Ek kan nie besluit of my lewe onberispelik is nie, net God kan. Die wêreld besluit of ek bo alle verdenking is. Ek besluit of ek opreg is. God besluit of ek onberispelik is. My lewe moet ‘n offer wees wat God sal aanneem as ‘n lewende en heilige offer.

Dankie tog vir die kruis van Christus. Dankie tog vir die bloed van die Here Jesus wat my skoon was, silwer skoon, witter as sneeu was. Hy gooi al ons sondes in die diepsee en dink nooit weer daaraan nie.

Maar God se genade mag nooit ‘n vrypas wees na ‘n sondige lewe nie. Ek kan nie wegkruip agter God se genade en nie omgee wat die wêreld dink nie. Ek kan nie wegkruip agter die kruis en die leiding van die Heilige Gees binne in my ignoreer nie. Ek kan nie wegkruip agter die bloed van die Here Jesus en maak asof dit nie vir God saak maak hoe ek lewe nie.

Ons mag nie vergeet waaroor dit hier gaan nie. Dit gaan oor ‘n gemeente in wie God wil werk en deur wie God wil werk. Dit gaan daaroor dat God sy doel met hierdie gemeente wil bereik. Die Heilige Gees maak ons gewillig en bekwaam om as ligdraers tussen hierdie ontaarde en korrupte mense te lewe.

God se Woord sê hoe: Leef bo alle verdenking na buite. Leef opreg na binne. Leef onberispelik na bo.

God roep Christene in Suid Afrika in hierdie tyd om beskikbaar te wees sodat Hy deur ons hierdie land kan genees. In reaksie op hierdie roeping kan ons sê: Ek gee alles oor aan U. Ek gee alles oor sodat die Heilige Gees wat U vir my gegee het, die krag in my kan opwek en ek in hierdie wêreld ‘n verskil kan maak. Ek gee alles oor aan U sodat U in my kan werk en dan ook deur my kan werk. Ek gee alles oor sodat ek bo verdenking na buite kan leef en opreg na binne kan leef en onberispelik na bo kan leef.

Amen.


5 Responses to “PRAKTIESE CHRISTENSKAP”


  1. 1 JR
    April 29, 2008 at 14:47

    Attie,
    Ek moet bely dat ek om een of ander duistere rede altyd jou blog gesystap het, dalk omdat ek gedink het dit is maar net nog een van die vele soetsappige ‘holy huddle’s’ waarvan daar tog net te veel is. Ek is een van die vele uitgewekenes (nie uit eie keuse nie, maar weens die gewone redes – wit, 40, man…) en woon en werk nou al vir byna ‘n jaar hier in die verre Ooste. Moontlikhede om terug te keer SA toe raak by die dag minder, dus word ek maar deel van die wereldwye gemeenskap van Suid-Afrikaners terwyl ek my migrane-skeel leer aan die nuwe taal en snaakse skrif. Dit was in elk geval ‘n verassing toe ek my vinger-fiets vanaand hier voor jou deur parkeer en deur jou preke en nugter-eerlike blog-inskrywings kom kuier het. Ek het nogal deur die jare ‘n renons ontwikkel aan mense wat vir als ‘n antwoord het, veral die met die ‘cheap’ antwoorde – ‘n teks soos ‘n dokters-voorskrif vir elke kwaal. Daarom waardeer ek jou eerlikheid dat daar goed is wat ons nie verstaan nie – en nie klink-klaar antwoorde vir als van tandpyn tot gay kinders het nie. Dankie daarvoor – dis Christene soos jy wie se woorde en preke gewig dra.

  2. April 29, 2008 at 15:11

    JR: Ek is so bly jy het kom kuier. Dalk is dit omdat ek self al so baie keer geworstel het en dikwels tot die slotsom moes kom: Ek ken ten dele. Ek het self baie seergekry in my lewe met mense wat vir elke stukkie seer wat ek gehad het my met ‘n teks geslaan het en my seer geignoreer het. Kom kuier gerus weer.

  3. 3 Etienne
    April 30, 2008 at 07:38

    Hi
    Daar kan ook na die preek geluister word op NG Bergsig se weblad. http://www.ngbergsig.co.za/Preke.html
    Die preek kan ook afgelaai word deur met die muis regs te klik en dan op “Save target as” te gebruik.

  4. 4 Thinus
    April 30, 2008 at 08:32

    Liewe Doom

    Hier is ‘n uittreksel wat ek raak gelees het uit ‘n manuskrip van HOWARD C. HILLEGAS ‘n amerikaanse korrespondent gedurende die boere oorlog, verstaan mooi dat dit geen politieke agende hier agter le nie maar ek wys op die geestelike ingesteldheid van ons volk

    Sien hoe die ou Boere geleef het:
    “After the burghers were entrained and the long commando train was set in motion the most fatiguing part of the campaign was before them. To ride on a South African railway is a disagreeable duty in times of peace, but in war-times, when trains were long and overcrowded, and the rate of progress never higher than fifteen miles an hour, then all other campaigning duties were pleasurable enjoyments. The majority of burghers, unaccustomed to journeying in railway trains, relished the innovation and managed to make merry even though six of them, together with all their saddles and personal luggage, were crowded into one [57] compartment. The singing of hymns occupied much of their time on the journey, and when they tired of this they played practical jokes upon one another and amused themselves by leaning out of the windows and jeering at the men who were guarding the railway bridges and culverts. At the stations they grasped their coffee-pots and rushed to the locomotive to secure hot water with which to prepare their beverage. It seldom happened that any Boer going to the front carried any liquor with him and, although the delays and vexations of the journey were sufficiently irritating to serve as an excuse, drunkenness practically never occurred. Genuine good-fellowship prevailed among them, and no quarrelling was to be observed. It seemed as if every one of them was striving to live the ideal life portrayed in the Testament which they read assiduously scores of times every day. Whether a train was delayed an hour at a siding or whether it stopped so suddenly that all were thrown from their seats, there was no profane language, but usually jesting and joking instead. Little discomforts which would cause an ordinary American or European soldier to use volumes of profanity [58] were passed by without notice or comment by these psalm-singing Boers, and inconveniences of greater moment, like the disarrangement of the commissariat along the route, caused only slight remonstrances from them. An angry man was as rarely seen as one who cursed, and more rare than either was an intoxicated one.

    Few of the men were given to boasting of the valour they would display in warfare or of their abilities in marksmanship. They had no battle-cry of revenge like “Remember the Maine!” or “Avenge Majuba!” except it was the motto: “For God, Country, and Independence!” which many bore on the bands of their hats and on the stocks of their rifles. Very occasionally one boasted of the superiority of the Boer, and still more rarely would one be heard to set three months as the limit required to conquer the British army. The name of Jameson, the raider, was frequently heard, but always in a manner which might have led one unacquainted with recent Transvaal history to believe that he was a patron-saint of the Republic. It was not a cry of “Remember Jameson” for the wrongs he committed but rather a plea to honour him for having [59] placed the Republic on its guard against the dangers which they believed threatened it from beyond its borders. It was frequently suggested, when his name was mentioned, that after the war a monument should be erected to him because he had given them warning and that they had profited by the warning to the extent that they had armed themselves thoroughly. Seldom was any boasting concerning the number of the enemy that would fall to Boer bullets; instead there was a tone of sorrow when they spoke of the soldiers of the Queen who would die on the field of battle while fighting for a cause concerning the justice or injustice of which the British soldier could not speak.

    When General Joubert went from camp to [83] camp he greeted all the burghers who came near him with a grasp of the hand, and it was the same with all the other generals and officers. Whenever Presidents Kruger and Steyn went to the commandos, they held out their right hands to all the burghers who approached them, and one might have imagined that every Boer was personally acquainted with every other one in the republics. It was the same with strangers who visited the laagers, and many a sore wrist testified to the Boer’s republicanism. Some one called it the “hand-shaking army,” and it was a most descriptive title. Many of the burghers could not restrain from exercising their habit, and shook hands with British prisoners, much to the astonishment of the captured.

    Another striking feature of life in the Boer laagers was the deep religious feeling which manifested itself in a thousand different ways. It is an easy matter for an irreligious person to scoff at men who pass through a campaign with prayer and hymn-singing, and it is just as easy to laugh at the man who reads his Testament at intervals of shooting at the enemy. The Boer was a religious man always, and when he went [84] to war he placed as much faith in prayer and in his Testament as in his rifle. He believed that his cause was just, and that the Lord would favour those fighting for a righteous cause in a righteous spirit. On October 11th, before the burghers crossed the frontier at Laing’s Nek, a religious service was conducted. Every burgher in the commandos knelt on the ground and uttered a prayer for the success and the speedy ending of the campaign. Hymns were sung, and for a full hour the hills, whereon almost twenty years before many of the same burghers sang and prayed after the victory at Majuba, were resounding with the religious and patriotic songs of men going forward to kill and to be killed. In their laagers the Boers had religious services at daybreak and after sunset every day, whether they were near to the enemy or far away. At first the novelty of being awakened early in the morning by the voices of a large commando of burghers was not conducive to a religious feeling in the mind of the stranger, but a short stay in the laagers caused anger to turn to admiration. After sunset the burghers again gathered in groups around camp-fires, and made the countryside re-echo [85] with the sound of their deep, bass voices united in Dutch hymns and psalms of praise and thanksgiving.

    Hierdie voorvaders van ons het die grondslag gele, hul was goeie mense met liefde, en vrede.

    Ons weet dat ons stryd nie teen vlees en bloed, ras kleur, volk of kultuur is nie, maar teen die bose.

    Duisternis bestaan nie, dis net die afwesigheid van lig!!!

    Dankie doom

    Tiens


Leave a Reply




Kalender

November 2009
M T W T F S S
« Oct    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

Wie tel nou eintlik?

  • 96,598 hits

 

November 2009
M T W T F S S
« Oct    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

RSS JESUS CREED

RSS DING SE STOEP

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS HEILIGE BRANDBOUD

  • Trap September 9, 2009 roelfopperman

RSS FLIPPIEFANUS

  • Ge … November 2, 2009 flippiefanus