By attie

NG Gemeente Rustenburg Bergsig  

Sondag 6 Maart 2005  

Teks: Efesiërs 5:6-20  

Tema: Nuwe mense – Nuwe lig.

 Inleiding.Opstanding Sondag.   In vers 8 word ons lewe vroeër vergelyk met ons lewe nou. “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig.” 

Lig en duisternis.

Dwarsdeur die Bybel – van Genesis tot Openbaring – is lig en duisternis ‘n belangrike tema.

 Op die eerste bladsy van die Bybel in Genesis 1:1-3 staan daar: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemaal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig.”  

In Psalms en Spreuke en Jesaja en Miga en Daniël en feitlik elke boek in die Nuwe Testament word daar gepraat van lig en duisternis. Jesus self het gesê: “Ek is die lig vir die wêreld.”

 In Openbaring 22:4-5 – op die laaste bladsy van die Bybel staan daar: “Hulle sal Hom sien en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees. Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense sal nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig hê nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer.”  

In Genesis maak God ‘n einde aan totale duisternis. God skep lig. Maar duisternis bly steeds. Aan die einde sal duisternis heeltemaal verdwyn. In elke kind van God het ‘n stukkie van die hemel reeds aangebreek. In die Here is ons lig.

Ons teks sê: “Maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig.” Wie is ons? Ons is lig! Waar ons is, daar is lig. Waar ons is breek’n stukkie hemel deur. Jesus het ook gesê: Laat julle lig so skyn dat die mense julle goeie werke kan sien. Jesus was die lig. Ons is lig. Wat Jesus begin het, word nou deur ons voortgesit.

Ons teks sê “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig.” Vroeër duisternis – nou lig. Ons is nie meer wat ons was nie. Hier het ‘n baie groot verandering plaasgevind.  Wat ons was en wat ons nou is is heeltemaal teenoorgesteldes. Soos lig en duisternis teenoor mekaar staan. So is ons anders as wat ons vroeër was. Die Bybel gebruik ook ander beelde om hierdie groot verandering te verduidelik. Dood teenoor lewe. Verlore teenoor gered. Slaaf teenoor vry. Ongeloof teenoor geloof. Die punt wat die Bybel maak is: Hier het ‘n radikale verandering plaasgevind. “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig.”

Dit is ‘n ‘n radikale en dramatiese verandering. ‘n Verandering wat vergelyk kan word met wat by die skepping gebeur het. Dieselfde Skepper-God wat in die begin gesê het “Laat daar lig wees!” het in ons – mense van die lig – se lewens ‘n herskeppingswoord gespreek. In die pik donker duisternis van ons lewens sonder God, het God gesê: Laat daar lig wees. En daar was lig. Leef dan as mense van die lig.

Ons roeping is: Leef uit wie julle reeds is. Leef so dat die mense rondom julle die groot verandering kan sien. Leef as mense van die lig. Word wie en wat julle reeds is.

Die populêre of gewilde evangelie leer ons anders. Daar is Christene wat ‘n goedkoop Evangelie leer. Hulle sê: Mense wat glo hoef nie anders te wees nie. Net solank jy weet jy gaan hemel toe. Christenskap kos nie ‘n prys nie. Net so lank jy weet jy gaan hemel toe. Word ‘n Christen en die lewe sal vir jou beter word. Kies net vandag vir Jesus en dan kan jy môre weer aangaan soos gister. As iemand jou dan vra dan kan jy sê: “Ek het Jesus aangeneem.” Dit is die goedkoop Evangelie van ons tyd. Dit is nie die Evangelie van Jesus Christus nie.

As ons sê dat ‘n Christen se lewe nie anders hoef te wees nie, dan ontken ons die waarheid van die Bybel. Lig en duisternis staan teenoor mekaar. So staan wie jy nou is teenoor wie jy vroeër was. Geen mens wat die Skepper-God as Verlosser-God leer ken het se lewe kan dieselfde bly nie.

Jesus self het gesê: “As iemand agterMy aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg.” (Lukas 9:23) Wanneer jy die Skepper-God in jou lewe toelaat, dan vind daar ‘n radikale verandering plaas. So radikaal dat ‘n mens dit herskepping kan noem. So radikaal dat ‘n mens kan sê: “Ek was dood. Kyk ek lewe.” So radikaal dat ‘n mens kan sê: “Ek was verlore. Kyk ek is gered.” So radikaal dat ‘n mens kan sê: “Ek was die ene duisternis. Nou in die Here is ek lig.”

Wanneer die Bybel ons oproep om as mense van die lig te leef, dan het dit te make met die opneem van ons kruise terwyl elke dag terwyl ons Jesus volg. Om as mense van die lig te leef, kom nie goedkoop nie. Dit kos ‘n kruis.

In Vers 9 staan daar: “Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is.” Onthou nou: Ons moet so lewe dat die mense rondom ons kan sien watter groot verandering die Here in ons lewens laat gebeur het. Ons moet word wie en wat ons reeds is. Ons is lig.

Vers 9 laat my dink aan sekere kontrakte waar die fynskrif langer is as die kontrak self. As jy moeilikheid het, dan kom jy altyd agter jy het nie al die fynskrif gelees nie. Fynskrif in ‘n kontrak is duisternis. Dan voel jy om die bos gelei. Vers 6 noem dit mislei. Jy voel die kontrak wasnie goed en reg en waar nie.

Hoe dikwels gebeur dit dat ons nie alles sê nie. Ons sê net genoeg om mense aan ons kant te kry, sodat ons iets kan doen waarvoor hulle nooit kans gesien het of waartoe hulle nooit sou instem nie. Om as mense van die lig te leef, is om sonder fynskrif te lewe. Wat ek sê en wat ek doen is altyd wat goed en reg en waar is.

Wie is ons? Ons is lig.

Waarheen is ons oppad? ‘n Lewe sonder fynskrif.

 ‘n Lewe as mense van die lig is nie net ‘n lewe sonder fynskrif nie. Vers 10 help ons om ‘n lewe in die lig nog ‘n bietjie beter te verstaan . “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is…” In Engels word hierdie vers so vertaal: “Try to find out what is pleasing to the Lord.” 

Laat ons net eers die woordjie “voortdurend” raaksien. Voortdurend beteken voortdurend. Ek moet sonder ophou, aanhoudend, weer en weer vra: Sal dit vir die Here lekker wees as ek hierdie ding doen of nie doen nie? Mense van die lig hou nie net op om sekere dinge te doen nie. Hulle begin ook om nuwe dinge te doen. Daarom die vraag: Sal dit vir die Here lekker wees as ek dit nie doen nie? Sal dit vir die Here lekker wees as ek dit doen?

Toe ons jongste – René – ‘n babatjie was, was die een ding wat ons as ouers die meeste plesier verskaf het wanneer René slaap.

Vandag is dit anders. René gee vir ons plesier wanneer sy skool toe gaan en netbal speel en klavier oefen en haar huiswerk doen. As sy nog steeds heeldag net geslaap het, sou ons baie bekommerde ouers gewees het. Sy het opgehou om so baie te slaap en sy begin om haar dag met ander opbouende dinge vol te maak.

René het gegroei. Nou gee skool en netbal en klavier en husiwerk vir ons plesier.

Ek weet nie hoe lank dit is vandat jy oorgegaan het van die duisternis na die lig nie. Dieselfde dinge wat vir jou hemelse Vader lekker was net nadat jy tot bekering gekom het kan Hom dalk nou bekommerd maak omdat dit sal lyk asof jy niks gegroei het nie.

Wanneer laas het jy gevra: Sal dit vir die Here lekker wees as ek hierdie ding doen? Sal dit vir die Here lekker wees as ek hierdie ding nie doen nie?

Mense van die lig doen dinge wat vir die Here lekker is.

Wie is ons? Ons is mense van die lig.

Waarheen is ons oppad?

            ‘n Lewe sonder fynskrif. Uit ons kom alles wat goed en reg en waar is.

            ‘n Lewe waarin alles wat ek doen of nie doen nie, vir die Here lekker is.

 Ons moet nog eers na vers 17 kyk: “Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil hê dat julle moet doen.” 

Ek lees op hierdie stadium in my stiltetyd deur die Evangelie van Markus. Jesus se vyande was mense wat al te gemaklik was in die manier waarop hulle godsdiens gedoen het. Die Skrifgeleerdes en die Fariseërs. In hulle godsdiens was daar eintlik nie meer plek vir God nie. Hulle het alles geweet wat geweet kan word. Hulle was in beheer van die godsdiens en hulle het finaal besluit oor enige iets in die godsdienstige lewe van hulle mense. Die Fariseërs en Skrifgeleerdes was heel gemaklik in hulle godsdiens. Hulle het klaar geweet wat hulle moes doen. Hulle het nie nodig gehad om te vra nie.

Jesus het gekom om die wat so erg gemaklik was ongemaklik te maak. In die hoop dat hulle die lig sou sien. Jesus het gekom sodat die wat weet sou begin vra: “Wat moet ons doen?” Een van hulle was Nikodemus. Hy het die lig gesien. ‘n Ander een was Jaïrus. Nikodemus en Jaïrus het toegelaat dat die ongemak wat Jesus veroorsaak het, ‘n nuwe gehoorsaamheid wakker maak. Hulle het vanuit die duisternis in die lig in getree deur in Jesus as die Messias te glo. Nikodemus en Jaïrus het gevra: Wat wil die Here hê moet ek doen?

In ‘n mens se onverstandigheid raak jy maklik gemaklik. Ek is waar ek moet wees. Ek doen wat ek moet doen. Ek is wie ek veronderstel is om te wees. Ek weet alles wat ek kan weet. Ek kan ontspan. Ek is gemaklik.

Ek wonder hoe rustig is jy met jou geestelike lewe. Hoe rustig is jy met die dinge wat jy doen en die dinge wat jy nie doen nie? Wanneer laas het jy gevra: “Here wat wil U hê moet ek doen?”

Dalk is jy juis vanoggend hier sodat die Here jou ‘n klein bietjie ongemaklik kan maak. Deur ongemak kom groei. Dit sou baie onverstandig wees om te gemaklik te wees met wie jy is en waar jy is en wat jy doen en wat jy nie doen nie en hoe jy dink en wat jou standpunt is. Dit klink al te veel na die gemaklike lewe van ‘n Fariseër in die tyd van Jesus. “Probeer te wete kom wat die Here wil hê dat julle moet doen.”

Oor die laaste jaar het die Here ‘n ongemaklikheid in ‘n paar mense in die gemeente se lewens veroorsaak. Die ongemak het duidelik geword in ‘n vraag soos: Is ons kerk op die manier wat die Here wil hê dat ons kerk moet wees? Dit maak dat ons nou vra: Wie is ons en waarheen is ons oppad? Ons wil probeer om te wete te kom wat dit is wat die Here wil hê dat ons moet doen.

As ek en jy vanoggend sou vra: Here wat wil U hê moet ek doen? Dan moet ons altyd onthou dat die Bybel die vraag vir ons antwoord: In Efesiërs 2:10 staan daar:

God het ons gemaak wat ons nou is… Met ander woorde: God het ons mense van die lig gemaak.

In Christus Jesus het Hy ons geskep… Met ander woorde: Die Skepper-God het in Christus Jesus ‘n herskeppingswoord gespreek… en daar was lig.

Om ons lewe te wy…. God het dit alles met ‘n spesifieke doel gedoen.

Aan die goeie werke waarvoor Hy ons bestem het.

Elkeen wat in Christus ‘n nuwe skepping is, moet weet: Daar is sekere goeie werke wat die Here bedoel het dat ek moet doen. Ek moet net ontdek watter goeie werke dit is. Here wat wil U hê moet ek doen?

Wanneer ek en jy die Here se wil vir ons lewe ontdek, dan hou ons op om toeskouers te wees. Ons word deel van die wedstryd.  Ontdek jou plek en word deel van die wedstryd.

Wie is ons? Ons is mense van die lig.

Waarheen is ons oppad?

            ‘n Lewe sonder fynskrif.

            ‘n Lewe wat vir God lekker is.

            ‘n Lewe waarin ons doen wat die Here wil hê dat ons moet doen.

 SLOT

Die dag toe jy Jesus as Verlosser leer ken het, het jy uit die duisternis in die lig in getree. Nou is jy in die Here en jy is lig. Saam is almal van ons in hierdie gemeente soos ‘n stad op ‘n berg. Wie is ons? In die Here is ons lig. Waarheen is ons oppad? Ons is oppad om al hoe meer te word wat ons reeds in Christus is. Mense sonder fynskrif in ons lewens. Mense wat die dinge doen wat vir die Here lekker is. Mense wat altyd probeer te wete kom wat dit is wat die Here wil hê dat ons moet doen.

Daar is ‘n plek in hierdie gemeente waar elkeen van ons as mense van die lig kan leef en kan dien.

 Amen


1 Response to “Efesiërs 5:6-10 – Nuwe mense – Nuwe lig.”


  1. February 28, 2009 at 20:12

    I love your site! :)

    _____________________
    Experiencing a slow PC recently? Fix it now!


Leave a Reply




Kalender

November 2009
M T W T F S S
« Oct    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

Wie tel nou eintlik?

  • 96,598 hits

 

November 2009
M T W T F S S
« Oct    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

RSS JESUS CREED

RSS DING SE STOEP

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS HEILIGE BRANDBOUD

  • Trap September 9, 2009 roelfopperman

RSS FLIPPIEFANUS

  • Ge … November 2, 2009 flippiefanus