NG BERSGIG
SONDAG 18 JANUARIE 2008
2 Konings 7:1-21
Vandag is ‘n dag van blydskap… en ons bly stil.
_____________________________________________________________________
Die situasie in en om Samaria.
Wanneer hierdie gebeure plaasvind, is Israel in twee gedeel. Jerusalem was die hoofstad van die 10 stamme van Israel en Samaria die hoofstad van die twee stamme.
Die Aramese weermag (6:24)
Die Aramese weermag onder leiding van koning Ben-Hadad, het Samaria omsingel. (6:24) Die oormag en die beleg van Samaria het gemaak dat dit baie goed gaan en dat alles baie rustig is in die basis van die Aramese weermag.
Binne in Samaria (6:25 en 27)
Die beleg van Samaria het nou al vir ‘n paar maande aangegaan, so lank dat daar al ‘n hongersnood ontstaan het en kos in Samaria baie skaars en baie duur was. (6:25) ‘n Voorbeeld van hoe sleg dit gegaan het: Twee vrouens wat al ooreengekom het om mekaar se kinders te eet. Die een vrou se probleem was dat nadat hulle haar kind geëet het, wou die ander vrou nie haar kind gee om ook geëet te word nie. (6:27)
Buite die hekke van Samaria (7:3)
Buite die hekke van Samaria het dit ook maar sleg gegaan. Vier mans (7:3) is uit die stad uitgeskop omdat hulle melaats was. Melaatsheid was op daardie stadium so aansteeklik was dat hulle maklik die hele dorp se mense sou kon aansteek.
Dit is hierdie vier melaatse manne wat die belangrikste rol speel in 2 Konings 7. Hulle was afhanklik van die stukkies kos wat saam met die mense in Samaria se rommel weggegooi word. As gevolg van die hongersnood, was daar niks meer kos tussen die rommel nie.
Die melaatses desperaat (7:4)
Die vier melaatses desperaat. Sterf sou hulle sterf, maak nie saak wat gebeur nie.
Ø As gevolg van die melaatsheid – hulle het net nie geweet wanneer nie.
Ø Dalk eerste van honger.
Ø Dalk wanneer die Arameërs besluit om aan te val en hulle in die middel is.
Erger kan dit nie gaan nie. Desperaat neem hulle ‘n desperate besluit om oor te stap na die Arameërs toe. In hulle kamp is daar ten minste kos. Sou die Arameërs hulle doodskiet, sal hulle niks verloor nie, inteendeel, hulle lyding sal gouer tot ‘n einde kom.
Hulle aankoms in die kamp van die Arameërs. (7:5)
Dit was skemer toe die vier melaatses besluit om oor te stap na die kamp van die Arameërs. (7:5) Toe hulle daar kom, was die kamp leeg – nie ‘n teken van enige een van die Aramese soldate nie.
… want die Here het ingegryp. (7:6)
Die rede waarom die kamp leeg was, is omdat die Here ingegryp het. Die Arameërs het ‘n geluid gehoor wat hulle oortuig het dat dit ten minste die Hetiete en die Egiptenare was wat Israel kom help het. (7:6) Dit was die geluid van strydwaens en perde en ‘n groot leër.
Die Here werk op ander maniere.
Hier is een van die dinge in hierdie gedeelte wat my verbaas. God werk op vreemde maniere. Hier ‘n manier waarop Hy nog nooit tevore gewerk het nie, en waarop Hy nie weer daarna gewerk het nie. God steur Hom nou nie juis daaraan of ons gaan verstaan of sou kon verklaar wat Hy doen nie. Op ‘n onverstaanbare en onverklaarbare manier red God Israel van ‘n gewisse dood.
Net so onverklaarbaar en verassend is onder andere die verlossing deur die sterwe van die Here Jesus en sy opstanding uit die dood. Watter oorwinning was dit nie?
So het die Here op ‘n unieke manier in elkeen van ons lewens gewerk, en werk Hy nog steeds op ‘n unieke manier in elkeen van ons se lewens.
Stom van verbasing.
Stom van verbasing stap hierdie sterwende, desperate, honger melaatse manne in die kamp in. Daar is geen teken van enige soldaat nie. (7:8 ) Die perde en die donkies is nog vasgemaak. (7:7) In die tente is kos en klere en goud en silwer. Die soldate was so haastig om weg te kom. dat hulle nie eens kans gehad het om hulle klere saam te vat nie.
Maande se honger maak dat hulle in die eerste tent inval en eet. Toe hulle klaar geëet het en begin rondkyk, toe ontdek hulle die silwer en goud en klere in die tent. Hulle eerste reaksie is om hierdie skatte te gaan begrawe. Waarom weet ek nie, hulle was in elk geval sterwend omdat hulle melaats was.
Besef van hulle roeping.
Maar dan besef hulle dat dit nie reg is nie. (7:9) Hulle sê vir mekaar: “Ons maak nie reg nie.” Hulle kan nie hierdie blydskap en vreugde vir hulleself hou nie. “Vandag is ‘n dag vir blydskap en ons bly stil.” (7:9)
Hierdie vier melaatses wou aanvanklik hierdie oorwinning en vreugde vir hulleself hou. Maar hulle kon nie stilbly nie en hulle kon ook nie te lank wag nie, hulle moes dadelik gaan vertel, hulle kan nie wag tot die volgende oggend nie.
Ek dink ons stem met mekaar saam dat ons nie die goeie nuus van Jesus Christus se verlossing en oorwinning vir onsself behoort te hou nie. Ons het ‘n boodskap van blydskap, ons sou ‘n fout maak as ons stilbly. Ons behoort vir die wêreld te gaan vertel op watter unieke manier God vir ons ook die oorwinning behaal het nie. Ek dink ook ons stem saam dat hierdie goeie nuus dringend die wêreld ingedra moet word.
Ek onder hoeveel kere het ek oor hierdie onderwerp mense hoor vertel van hierdie wonderlike groot blydskap wat daar in elke kind van God is oor die wonderlike dinge wat Hy alles vir ons gedoen het. En dat hierdie wonderlike blydskap maak dat ons nie anders kan as om ander te gaan vertel nie.
Die enigste probleem is, dit is die meeste van die kere nie waar nie. Natuurlik is daar mense wat altyd borrelend en met blydskap oor die here en hulle verlossing en God se liefde praat. Daar is niks mee verkeerd nie, maar die waarheid is dat die meeste mense wat na so ‘n boodskap luister dink: “Is daar fout met my? Ek beleef nie al hierdie vreugde en blydskap wat maak dat ek nie kan stilbly nie.” Ander gaan huistoe en dink, wel ek moet net wag, daardie blydskap gaan eendag kom en dan sal ek nie kan stilbly nie.
Dit gaan nie oor wat ek voel en hoe ek voel nie, dit gaan oor wat ek behoort te doen. Dit gaan oor ‘n besluit wat ek moet neem: Hierdie is ‘n dag vir blydskap, en ons bly stil. Wanneer ‘n mens hierdie skat ontdek, dan is daar dikwels blydskap en opgewondenheid en entoesiasme, maar die gevoelens bly nie vir altyd nie, en dan behoort ek nog steeds te vertel.
Ek dink, daar is bitter kinders van die Here wat nie op een of ander tyd of by een of ander geleentheid die besluit geneem het om die draer van die goeie nuus te wees nie. Die besluit wat hierdie vier melaatses ook geneem het: “Kom ons gaan vertel dit by die paleis van die koning.” (7:9)
Die besluit is maklik – die doen is moeilik
Maar nou raak dit ‘n bietjie moeilik. Dit is juis hierdie moeilike punt wat maak dat mens eerder kies om nie weer ‘n besluit te neem nie. Dit is een ding om die besluit te neem, dit is ‘n ander ding om te doen wat jy besluit het. Dit is een ding om hier in die kerk te wees en te besluit dat jy die goeie nuus gaan uitdra, maar as jy more by die werk kom, dan is dit moeilik, baie moeilik.
Ek wil jou nie vanoggend aankla of skuldig laat voel omdat jy soveel kere die besluit geneem het en soveel kere nie gedoen het wat jy besluit het nie. Ek wil jou nie laat voel dat jy ‘n minderwaardige Christen is omdat jy so sukkel om dit reg te kry nie. Ek wil ook nie hê jy moet dink jy is ‘n minderwaardige Christen omdat jy nie die hele tyd met onblusbare blydskap gevul is nie. Ek wil hê jy moet vanoggend hier uit gaan bewus van ons gesamentlike roeping en bereid om weer te gaan probeer.
Ek verstaan dat dit vir jou moeilik is. Vir my is dit maklik, ek werk met gelowiges. Mense verwag van my om te vertel en te bid en te oortuig. Of as ek in die hospitaal is vir iemand te vertel hoe goed God is en hoe groot die oorwinning is wat Hy behaal het. Vir jou is dit moeiliker, baie moeiliker. As dit nie vir jou moeilik is om in jou eie omstandighede te vertel nie, dan is jy baie gelukkig en dan is die Here baie goed vir jou.
Daar is redes waarom ons sukkel om te doen
Die vier melaatses beleef hoe God op ‘n onverklaarbare manier werk. Hulle beleef hoe God in hulle behoeftes voorsien deur vir hulle meer kos te gee as wat hulle kan eet. Hulle besef dat dit nie reg sou wees as hulle stilbly oor die wonderlike dag van blydskap nie. Hulle besluit toe om terug te gaan en dit te gaan vertel… en toe doen hulle dit.
Maar dit beteken nie dat dit vir hulle maklik was om te gaan vertel nie. Dink net ‘n bietjie terug aan die agtergrond van hierdie vier melaatse mans en jy sal ‘n hele paar redes kry waarom dit vir hulle moeilik was.
EK IS NIE DIE REGTE PERSOON NIE
Die eerste ding wat dit vir hulle moeilik gemaak het, was die feit dat hulle nie die regte mense was om die boodskap te bring nie. Melaatse mense is van die laagste vlakke in die gemeenskap. Hulle het nie die posisie of die status om mense te oortuig nie.
Maar, vir die Here gaan dit nie oor posisie en status nie. Kom ek gebruik twee voorbeelde.
Die bediende.
In 2 Konings 5 lees ons van die genesing van Naäman, die hoof van die leer van koning Aram. (5:1) Op een van hulle strooptogte het hulle ‘n jong Israeliese dogtertjie ontvoer om Naäman se vrou se bediende te wees. In die tyd het Naäman melaats geword, sy vrou was baie bekommerd oor die siekte. Die bediende (wie se naam ons nie ken nie) het vir die vrou vertel van Elisa en dat hy Naäman gesond sou kon maak. (5:3) Naäman het nie gesond geword en hy het ook tot bekering gekom en gekies om Elisa se God alleen te aanbid. (5:18) Net as gevolg van ‘n naamlose bediende wat vertel het wat God kan doen.
Die vier melaatses
Die vier melaatses was die uitgeworpenes van Samaria. Hulle was in die laagste vlak van die samelewing… uit die stad uit verban. Wie sou ooit kon dink dat hulle die draers van die goeie nuus kan wees, tog is dit die geval.
En… tot vandag toe ken ons die name van die bediende of die name van die vier melaatses nie. Hoekom nie? Dit is nie belangrik nie. Die boodskap is belangriker as die boodskapper.
Dit gaan vir God nie oor die status of posisie nie, dit gaan vir God oor beskikbaarheid, gewilligheid om gebruik te word.
EK HET AL TE VEEL KERE IN MY LEWE SEER GEKRY
Liefdelose behandeling
Maar kom ons neem die situasie van die melaatses so ‘n klein bietjie verder. Hulle het liefdelose verwerping beleef. Hulle is nie toegelaat om kos of enige iets uit die stad uit te kry nie. Die mense het hulle baie sleg behandel. Die mense binne in Samaria het nie omgegee as die Aramese soldate hulle doodmaak nie, net so lank hulle nie die risiko loop om ook melaats te word nie.
Maar, ten spyte van die liefdelose verwerping wat hulle van die mense van Samaria ontvang het, gaan hulle terug na dieselfde liefdelose mense toe om te vertel van die dag vir bly wees.
Vir die tweede keer op een dag, loop hulle die risiko om doodgemaak te word. As die mense in Samaria hulle sien naderkom sou hulle die vier mans met klippe kon wegjaag en as een van hulle in die proses sterf, sal dit maar tot daarnatoe wees.
Ek wonder of daar een Christen is wat nog nie op een of anders stadium toe hulle wou vertel hierdie liefdelose verwerping beleef het nie.
Jesus het dit baie duidelik gemaak dat ons nie moet verwag dat ons anders as Hy behandel sou word nie. Hy is met liefdeloosheid en verwerping hanteer, ons kan verwag dat ons dit ook gaan beleef. Dit maak dit nie makliker nie, dit bevestig eerder dat ons moet aanhou. Dit is bedoel om jou te motiveer om getuie te wees.
Ek weet niemand anders het ‘n idee van hoe moeilik jou situasie is nie, maar ek dink die Here wil jou vanoggend opnuut weer daaraan herinner: Jy is die draer van goeie nuus, selfs na die mense toe wat die lewe vir jou so moeilik gemaak het.
Die boodskap van God se liefde is groter as die boodskapper.
Vrees vir wat dalk kan gebeur
Dalk was die vrees dat hulle doodgemaak sou word, die rede waarom hulle liewers buite bly staan het en na die wagte geroep het en aan hulle die goeie vertel het. Dalk was dit net omdat die hekke toe was uit vrees vir die Arameërs. Die wagte het gehoor, maar dit lyk nie vir my asof hulle hierdie goeie nuus geglo het nie. Dit lyk eerder asof hulle iets gesê het soos: Ek dink die melaatsheid het nou by hierdie vier manne se brein uitgekom. Hulle vertel hierdie verspotte storie dat die Arameërs weg is en hulle kamp net so gelos het, hoe is dit nou moontlik.
So is dit maar baie kere met my en jou “vertel” ook. Die mense maak dikwels ‘n grap oor die goeie nuus waarmee ons kom en hulle dink ons is verspot om te glo wat ons glo en dan nog dit vir ander ook te vertel. Maar, ek sien hierdie baie interessante ding. Hulle vertel vir die wagte, die wagte versprei die storie. Intussen lees ons nooit weer van dei vier melaatse mans nie. Hulle het gedoen wat hulle moes doen. Dalk moet ons meer kere in ons lewe net die boodskap aflaai, en nie omgee as niemand ooit weer my naam noen nie.
Toe die storie by die koning uitkom, toe glo hy dit ook nie. (7:12) Inteendeel, hy sien dit as ‘n lokval. Hy is daarvan oortuig dat hierdie vier melaatse manne oorgeloop het na die Arameërs toe en dat hulle ingestem om die mense van Samaria in ‘n lokval te lei. As hulle nou hier uitgaan, gaan hulle die Arameërs in die bosse lê en wag en hulle doodmaak.
Vrees vir agterdog
Die beste nuus word dikwels met agterdog begroet. Kyk maar net met watter agterdog word die goeie nuus van Jesus se kruisdood en sy opstanding begroet. Hoe kan jy so dom wees om dit te glo? Soos iemand eendag gesê het: Sien jy enige mense rondom jou wat uit die dood opgestaan het, hoe kan jy dan glo dat Jesus uit die dood opgestaan het.
Die koning van Samaria het lankal sy rug op die Here gedraai en het glad nie meer in God geglo nie, omdat hy nie in God geglo het nie, kon hy nie glo dat so iets hoegenaamd moontlik was nie. Daarom is hy skepties en al sy amptenare saam met hom. Behalwe een … ons weet nie eers wie dit is nie. Iemand wat die wysheid het om te sê: Kom ons gaan kyk net of dit wat hulle sê waar is. Of ons hier bly, en of ons uitgaan, as hier nie iets gaan gebeur nie, gaan ons almal in elk geval sterf. Of ons iets doen en of ons niks doen nie, ons uiteinde is dieselfde. Maar, as dit waar is dan is ons verlos.
Ons sou dieselfde redenasie kon gebruik teenoor mense wat nie glo nie. Ons sou vir hierdie skeptiese mense kon vra: “Sê nou jy is reg en ek is verkeerd. Sê nou daar is geen lewe na die dood nie en as ons doodgaan is daar net niks nie. Intussen het ek my lewe lank volgens die beginsels van die Bybel geleef, wat sal ek verloor het. Dalk ‘n bietjie pret hier en daar, maar dit is in elk geval iets wat baie mens wat nie in die Here glo nie, ook nie doen nie.”
“Maar, sê nou ek is reg en jy is verkeerd? Sê nou daar is lewe na die dood? Sê nou die Bybel was al die tyd reg dat Jesus wel die Seun van God was wat in ons plek gesterf het en die wat dit glo en aanvaar het die ewige lewe? Wat dan? Wat sou ek baat en wat sou jy misloop? Dit is nogal iets om te dink?”
Hierdie een amptenaar oortuig die koning om vyf soldate te stuur. Vyf sodate wat in elk geval sou sterf as hulle hier bly soos die ander wat reeds gesterf het, of nog gaan sterf.
En vyf soldate gaan kyk of dit waar is. En vyf soldate kom terug met die nuus: Dit is waar!!!! En die hele Samaria beleef die oorwinning wat God bewerk het en waarvan 4 melaatses vertel het.
Wil jy nie aan die begin van hierdie jaar weer kies om ‘n draer van die goeie nuus te wees nie. Wil jy nie aan die begin hierdie jaar vir die Here vra om jou te help om te vertel van die oorwinning wat God behaal het en wat dit vir jou beteken en wat dit vir ander sou kon beteken. Vra dat Hy jou sal help om die regte manier te kies waarop jy hierdie goeie boodskap kan uitdra.
0 Responses to “2 Konings 7:1-21”