By attie

NG GEMEENTE RUSTENBURG BERGSIG

SONDAG 4 JANUARIE 2009

Teks: Matteus 9:35-39

Tema: God se wens lyssie vir 2009.

_____________________________________________________________________

Inleiding.

As ek sou terugkyk op die jaar wat verby is en die belangrikste gebeure in die land en in die wêreld, en ek sou daaruit die tien belangrikste gebeure moes uithaal, sou ek die volgende wou uitlig: (Nie noodwendig in enige volgorde nie.)

1. ESKOM wat die land by herhaling sonder lig gelos het.

2. Oom Angus Buchan se veldtogte wat die hele land weer bewus gemaak het van die boodskap van die Bybel, maar ook die land laat kennis neem het van die groot groep mense van hierdie land wat in God glo.

3. Nelson Mandela se negentigste verjaarsdag.

4. Die skierlik skieter in Swartruggens wat ses mense in die plakkerskamp doodgeskiet het.

5. Die menseregte krisis in Zimbabwe waar die Hitler van die moderne tyd besig is om ‘n volk uit te moor.

6. Die begin van een van die ergste ekonomiese resessies ooit en die onsekerheid wat dit onder andere in ons dorp veroorsaak het.

7. Die afdanking van Thabo Mbeki en die stigting van COPE – ‘n nuwe politieke party.

8. Steve Hofmeyer en alles rondom hom.

9. Die rassistiese video by Reitz kamerwonings.

10. Suid Afrika se reeks oorwinning oor die Ausies in Australië.

Ek het ‘n paar Nuwe Jaars’s voornemens. Ek kan twee hier noem.

  1. Ek wil graag ‘n fotografie kursus doen sodat ek beter foto’s met my digitale kamera kan neem.
  2. Ek (en ‘n paar vriende) wil in nege dae die hoogste piek in elke een van die nege provinsies klim.

Ek sit hierdie twee dinge op my lysie van Nuwe Jaar voornemes en sou dit graag aan die einde van 2009 wou afmerk.

Ek loop die laaste paar dae met die vraag; As die Here Jesus vir ons as individue en as gemeente ‘n lysie moes maak van dinge wat Hy graag aan die einde van die jaar sou afmerk, wat sou op sy lysie staan.

Ek dink ‘n mens sou Matteus 9:35-38 kon gebruik om so ‘n lysie saam te stel.

Matteus 9:35-39 is die einde van ‘n gedeelte in Matteus, en spesifiek hoofstukke 8 en 9. In hoofstukke 5-8 lees ons die saligsprekinge en in hoofstukke 8-9 wat Jesus gedoen het. Hierdie verse sluit hoofstukke 8-9 af.

“Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek.

Watter dorpe en klein plekkies?

8:5 – Kapernaüm.

8:28 – Gadara.

9:1 – Weer Kapernaüm.

9:9 – Jesus gaan weer verder.

9:27 – Jesus gaan weer verder.

Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig…

Waar het Hy geleer?

8:10 – Hy gebruik die genesing van die offisier se slaaf as ‘n geleentheid om die mense te leer.

9:2 – Hy gebruik twee mense wat Hom wil volg om te verduidelik wat dit kos om Hom te volg.

9:4 – Jesus gebruik die genesing van die verlamde man om die skrifgeleerdes te leer.

9:12 – Jesus gebruik die roeping van Matteus en die Fariseërs se reaksie daarop om te verduidelik waaroor die wet eintlik gaan.

9:15 – Jesus gebruik die vraag oor vas om te verduidelik watter verskil Hy kom maak het.

en elke siekte en kwaal genees.

Watter siektes en kwale?

8: 1- ‘n Melaatse.

8:5 – ‘n Offisier se slaaf.

8:14 – Petrus se skoonma.

8:28 – Die genesing van die besetenes van Gadara.

9:1 – Die genesing van die verlamde man.

9:20 – Die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.

9:23 – die dogtertjie van ‘n Joodse raadslid.

9:27 – Die genesing van twee blindes.

9:32 – Die genesing van ‘n stom man.

“Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie. Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders is min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir die oes.” (Matteus 9:35-38)

Matteus 9:35-38 is dus ‘n afsluiting van Matteus 8-9. In hierdie gedeelte kry ons ‘n voorbeeld van hoe ons Jesus se voorbeeld sou kon volg.

1. Gaan soos Jesus gegaan het.

Volgens Matteus begin Jesus se werksaamhede in Kapernaüm. (8:5) Kapernaüm was Jesus se eie dorp. (Sien 4:13) Jesus se werk was nie beperk tot sy eie dorp nie. Sy werk het ook die ander dorpe en klein plekkies in sy omgewing ingesluit. Jesus het gegaan…

Ons verstaan baie kere die “gaan” opdrag verkeerd. Ons eerste gedagte is mense wat na ‘n ver land “gaan” om die evangelie daar te gaan verkondig. Gaan het die gedagte van gestuur wees. Ons missie sê dat ons ‘n gestuurde gemeente is. Kan ons regtig sê ons is ‘n gestuurde gemeente as twee sendelinge in ver lande het? Kan ons sê ons is gestuurde gemeente as ons honderd sendelinge dwarsoor die wêreld het? Natuurlik is dit belangrik dat ons ook mense na ver lande toe sal stuur, maar dit maak van ons ‘n gemeente wat stuur, dit maak nie van ons ‘n gestuurde gemeente nie. Wanneer die lidmate van die gemeente “gaan”, dan is ons ‘n gestuurde gemeente. Vanoggend gaan dit oor ons wat hier is se gaan na die dorpe en klein plekkies in ons omgewing.

My teorie oor gemeentes wat toe maak klink so: Dit is gelowiges wat die “gaan” opdrag verkeerd verstaan het en nie genoeg na hulle eie omgewing – dorpe en klein plekkies – gegaan het nie.

Dorpe: Ons het geweldig baie dorpe in ons omgewing. Rustenburg is opgedeel in dorpe. Bv. Geelhoutpark, Proteapark, Cashan… – dit is nou as jy nie kans sien vir dorpe soos Tlhabane, Boitekong, Meriteng ens. ens.

Maar daar is ook klein plekkies – ek sou hierdie klein plekkies sien as ons eie blyplek – ons bure en die ander mense rondom ons; ons werkplekke – ons kollegas; ons vriendekringe.

Die punt, is ek en jy kan gaan soos Jesus gegaan het, na die dorpe en klein plekke in ons omgewing. Sê nou die Here Jesus sou aan die einde van 2009 op sy lysie kon afmerk – NG Bergsig het gegaan soos Ek gegaan het.

Sien jy kans om aan die begin van hierdie jaar en vir die res van die jaar te bid: Laat my gaan soos U gegaan het.

2. Sien soos Jesus sien.

Vers 36: “Toe Hy die menigtes sien het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie.”

Wanneer Jesus mense se siektes en kwale sien, dan genees Hy hulle, maar wanneer Hy na hulle kyk, dan sien Hy ook iets anders. Hy sien ‘n dieper behoefte. Hy sien dat hulle moeg en moedeloos is soos skape sonder ‘n wagter.

Die siektes en die kwale was vir die mense baie erg. En dit was nodig om hulle siektes en hulle kwale te genees, maar hulle dieper behoeftes was iets anders. Hulle het waarskynlik self nie eers geweet dat dit hulle behoeftes was nie. Hulle eintlike probleme was die onderdrukking deur die Romeinse regering. Hulle eintlike probleem was dat hulle nie meer ‘n leier het wat hulle kan lei nie en daarom was hulle moeg en moedeloos en sonder ‘n wagter.

Ons versorg baie mense in ons gemeente. Ons versorg mense wat die kos het nie. Ons versorg mense wat nie klere het nie. Ons versorg mense wat nie werk het nie. Ons versorg kinders wat nie ouers het nie. Ons versorg mense wat ‘n alkohol probleem het. Ons versorg mense wat huweliksprobleme het. Ons versorg mense as iemand in hulle familie of gesin dood gegaan het. Ons versorg mense waar ‘n familielid besig is om dood te gaan,

Maar … dit is nie die mense se eintlik behoefte nie. Het jy al ooit met enige van hierdie mense gepraat. Het jy al ooit gehoor hoe moeg en moedeloos en rigtingloos hierdie mense is.

Die probleem van ons tyd is ons gejaagdheid. Daar is altyd nog iets wat wag om gedoen te word. Ons het nie tyd om vir mense tyd te maak nie. Die gevolg … ons sien nie soos Jesus gesien het nie. Ons sien nie mense se diepste nood raak nie. Gemeente, daar is liefdadigheidsorganisasie wat elke een van die dinge wat ons doen beter kan doen as wat ons as gemeente dit doen. Maar ons mag nie ophou om dit te doen nie, ons moet aanhou om dit te doen, sodat ons die evangelie van die Koninkryk aan hulle kan verkondig. Ons het bybedoelings wanner ons mense versorg. Ons wil hulle oppervlakkige nood aanspreek, sodat ons by hulle ware nood kan uitkom.

Dit is wonderlik as ons kan sê ons het soveel mense kos gegee en soveel mense gehelp met klere en soveel kinders versorg – dit sou nog wonderliker wees as ons ook kan sê dat ons by soveel mense se dieper nood uitgekom het.

Sien jy kans om aan die begin van hierdie jaar en vir die res van die jaar te bid:

Laat my sien soos U gesien het.

3. Voel soos Jesus voel.

Jesus het gegaan na waar die mense was en Hy het die mense se ware behoeftes gesien en hy het hulle innig jammer gekry. Die Engelse vertaal innig jammer met “compassion”. Ons sou dalk ook kon vertaal met barmhartigheid, of iets wat my baie diep raak.

Die Griekse woord wat hier gebruik word in “splangnizomai”. Hierdie woord het te make met ‘n mens se diepste binneste.

Ek moet bietjie van ‘n ongemaklike voorbeeld gebruik om die betekenis van hierdie woord te verduidelik. Toe Judas homself opgehang het, het hy op die grond geval en sy binnegoed het uitgebars – selfde Griekse woord. Wat Jesus gevoel het toe Hy hierdie mense so sien, het Jesus ‘n baie sterk emosie wat uit sy diepste binneste gekom het, beleef. Dit was Jesus se gesindheid teenoor die dieper nood wat Hy by mense raakgesien het.

As ons tyd maak, sal ons sien soos Jesus gesien het, en ons sal ook voel soos Jesus gevoel het.

Jesus beleef die pyn wat die mense beleef het, en so lank as wat hierdie omstandighede aanhou is Jesus ontsteld en beleef Hy ‘n ongemak diep in sy binneste.

Gaan soos Jesus; Sien soos Jesus; Voel soos Jesus.

Sien jy kans om aan die begin van hierdie jaar en vir die res van die jaar te bid: Laat my voel soos U gevoel het.

4. Doen soos Jesus gedoen het.

“Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk aan hulle verkondig en elke soort siekte en kwaal genees.” (Matteus 9:35)

Die kerk bestaan om die evangelie van die koninkryk te verkondig. Die manier waarop Jesus die oppervlakkige behoefte aangespreek het, was om hulle siektes en kwale te genees. Die manier waarop Jesus die dieper behoefte aangespreek het, was om die evangelie van die koninkryk te verkondig.

Die kerk maak ‘n fout na beide kante toe. Aan die een kant dink ons soms die verkondiging van die evangelie van die koninkryk en mense wat daardeur tot bekering kom, is al wat regtig saak maak. Aan die anderkant is daar die wat dink dat al wat regtig belangrik is, is om iets aan mense se nood te doen.

Die kerk kan nie bekostig om die een sonder die ander te doen nie. Die kerk kan nie bekostig om ‘n twee te leef nie: Die verkondiging van die koninkryk aan die een kant en die aanspreek van mense se nood aan die ander kant. Altwee hierdie dinge moet hand aan hand gaan. Ons kan nie die een sonder die ander nie. Dieselfde liggaam, maar hande wat gee en ‘n mond wat verkondig.

Nege keer in hoofstukke 8-9 sien Jesus mense se nood raak en nege keer doen Jesus iets aan die mense se nood. Hou nou in gedagte dat dit die dieper nood is wat Jesus in sy diepste binneste raak, wat maak dat Jesus mense innig jammer kry en dat Hy beleef wat hulle beleef.

Jesus gaan, en terwyl Hy gaan maak Hy tyd vir mense sodat Hy die dieper nood kan raaksien, en wanneer Hy dit raaksien kry Hy hulle innig jammer en dan doen Hy iets aan hulle nood. Hy verkondig die evangelie van die koninkryk en hy genees hulle siektes en kwale.

Sien jy kans om aan die begin van hierdie jaar en vir die res van die jaar te bid:

Laat ek doen soos Jesus gedoen het.

5. Laat my bid soos Jesus gesê het.

“Hy sê toe vir sy dissipels: Die oes is groot, maar die arbeiders is min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.” (9:37-38

Jesus gebruik ‘n hele paar keer die gedagte van die oes. Elke keer wat hy van ‘n oes praat, dan kry ‘n mens die gedagte dat die tyd besig is om al hoe minder te word. ‘n Boer kan nie ‘n ryp oes te lank op die land los nie, dan sal sy oes nie so groot wees as wat die oes moontlik kon wees nie.

Die beeld van ‘n oes skep die indruk van dringendheid: Ons kan nie bekostig om te wag nie. Daarom. Bid dat die Here van die oes arbeiders sal uitstuur.

Die Griekse woord wat hier met “uit te stuur”vertaal word, is ekballo. Natuurlike beteken die woord uitstuur, maar as ons kan sien hoe die woord op ‘na nder plek gebruik word, dan kan ons dit dalk beter verstaan. Wanneer Jesus by die laaste ete saam met die dissipels die water uit die beker in die skottel uitgooi, dan word dieselfde Griekse woord gebruik.

Die dringende gebed waarvoor Jesus vra is dat arbeiders vir die oes by wyse van spreke uitgegooi sal word.

Dit is juis hierdie dringendheid wat gemaak het dat Jesus oor Jerusalem gehuil het, Hy kon hulle nie bymekaar maak soos ‘n hen haar kuikens bymekaar maak nie.

Die dringendheid van die oes, moet ons laat bid, maar dit moet ons aanspoor om te gaan. Ons kan nie uitstel om te bid nie, maar ons kan ook nie uitstel om te gaan nie.

Teken vir ‘n oomblik in jou gedagtes hierdie prentjie:

Sien in jou gedagtes die gemeente hier bymekaar. Sien hoe hulle aan die einde van die diens die seën van die Here ontvang en hier uitstap. Verbeel jou dat hulle met elke tree wat hulle gee ‘n rooi spoor laat. Rooi met die boodskap van die koninkryk – die kruisdood van Jesus is ons verlossing. Sien hoe die dorp rooi gekleur word. In die huise; in die winkels; in die buurte, by vriende; by die werkplekke; in elke dorpie en klein plekkie in ons omgewing – dit is hoe dringend hierdie gebed is. Bid en gaan. Word deel van die arbeiders wat God uitgooi oor Rustenburg, in antwoord op ons dringende gebed: “Stuur arbeiders vir U oes.” Kom ons verf Rustenburg rooi.

Sien jy kans om aan die begin van hierdie jaar en die res van die hierdie jaar te bid:

Here van die oes, ons pleit by U: Stuur asseblief arbeiders vir die oes.

Laat my gaan soos Jesus gegaan het.

Laat my sien wat Jesus gesien het.

Laat my voel soos Jesus gevoel het.

Laat my doen soos Jesus gedoen het.

Amen.


0 Responses to “Matteus 9:35-38”



  1. No Comments Yet

Leave a Reply




Kalender

November 2009
M T W T F S S
« Oct    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

Wie tel nou eintlik?

  • 95,822 hits

 

November 2009
M T W T F S S
« Oct    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

RSS DING SE STOEP

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS HEILIGE BRANDBOUD

  • Trap September 9, 2009 roelfopperman

RSS FLIPPIEFANUS

  • Ge … November 2, 2009 flippiefanus