By attie

NG Bergsig Sondag 7 September 2007  Teks: Kolossense 2:6-15 Tema: ‘n Volkome Verlossing. ____________________________________________________________________  

Inleiding.

Kolossense 2:6-15 is bedoel vir mense wat Christus Jesus as Here aangeneem het. “Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het…”  Die Griekse woord vir “Here” is kurios - herinner mens nogal aan die woord keiser. Die keiser was die oppergesag in die tyd van die Nuwe Testament. Jy het nie die keiser teengegaan nie. Jy het hom gehoorsaam. Die groot verskil tussen enige ander keiser en Jesus as kurios is die woordjie: Aangeneem. In die tyd van die Nuwe Testament het mense nie ‘n keuse gehad oor wie hulle keiser is nie. Mense maak egter ‘n keuse om Jesus kurios van hulle lewens te laat wees.  

Epafras was waarskynlik die man wat aan die mense in Kolosse die goeie nuus van Christus Jesus vertel het. Die mense het gekies om Epafras te glo en die goeie nuus te aanvaar as die waarheid. Toe hulle die evangelie glo, toe neem hulle Christus Jesus aan as Here – kurios. Christus Jesus neem die plek in van die keiser. Christus Jesus was nou die hoogste gesag in die lewe van hierdie mense.

Elkeen van ons wat Christus Jesus as Here aangeneem het, het dieselfde gedoen: Ons het aan Christus Jesus die hoogste gesag in ons lewens gegee. Daardie keuse of besluit om Christus Jesus as Here aan te neem, het ‘n invloed op hoe ‘n mens lewe.

“Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe…” (Kol. 2:6) Mens kies om die goeie nuus oor Jesus te glo. As gevolg van daardie keuse word Christus Jesus Here van jou lewe. Christus Jesus is nou die hoogste gesag in jou lewe. ‘n Nuwe verhouding tussen my en Christus Jesus het begin. Nou leef ons in verbondenheid met Christus Jesus ons Here.

Hoe verduidelik ‘n mens hierdie verbondenheid? In die woord is daar ander woorde soos band of verbintenis of selfs verbond. Die Grieks het die gedagte dat ‘n mens saam met Christus Jesus deur die lewe stap. Met ander woorde: Christus Jesus is by my waar ek ookal is en waar ek ookal gaan. Elke oomblik van elke dag weet ek: Christus Jesus is nou hier by my. Ek leef in sy teenwoordigheid. Ek leef in verbondenheid met Hom as Here van my lewe.  

Die Christene in Kolossense het swaar gekry. Paulus waarsku hulle: “Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie.”  (Kol. 2:8) Daar was dwaalleraars aan die werk in Kolosse. Dwaalleraars wat deur die dinge wat hulle sê die Christene in Kolosse wou wegtrek van Christus Jesus af. Daarom die waarskuwing: “Pas op…” 

Ek wens ek kon sê dat daar vandag nie meer dwaalleraars is nie. Hulle sal vir altyd by ons wees. Die Bybel leer ons hier hoe om met dwaalleraars te werk. Moenie te veel op die leuen konsentreer nie. Konsentreer op die waarheid.

Net een versie oor die dwaalleraars.“Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie.”  (Kol. 2:8) In verse 9-15 konsentreer die Bybel dan op die waarheid van Christus Jesus vir wie ons as Here aangeneem het. In verse 9-15 word die Christen se verhouding met Christus Jesus beskryf.

Kom ons konsentreer op hierdie waarheid – nie op die leuen nie. Kom ons maak Christus Jesus die middelpunt – die kern van ons lewens. Kom ons maak seker ons weet wat Hy vir ons gedoen het en dan aanvaar ons dit wat Hy vir ons gedoen het. Hier staan: “…in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid.” (Kol. 2:10)

Onthou jy nog: Ek en jy het gekies om die goeie nuus oor Jesus te glo. Daardie geloofskeuse maak Christus Jesus Here – kurios van ons lewens. (Vers 6) Deur geloof begin ‘n nuwe verhouding met Hom. Hy word Here – die hoogste gesag in ons lewens. Ons lewe nou in hierdie nuwe verhouding – in verbondheid met Hom. (Vers 6) Ek leef in verbondenheid met Hom en verbondenheid met Hom deel ek in sy volheid. Dit beteken: Alles wat waar is van Christus Jesus is ook waar van my. Ek deel in sy volheid.

Christus Jesus het alles wat ek nodig klaar vir my gedoen. Ek het niks meer nodig nie. Paulus gebruik vier beelde om te verduidelik dat Jesus se verlossingswerk volkome is. Ek het niks meer nodig as dit wat Jesus gedoen het nie. “…in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid.” (Kol. 2:10)

Paulus gebruik die beeld van die besnydenis en van die opstanding en van ‘n skuldbewys en van triomferende generaal.

 1.      Besnydenis.

“Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens.” (Kol. 2:11)

Die Jode het die term besnydenis verstaan – baie goed verstaan. Hulle het geweet: Besnydenis maak jou deel van die volk van God. Nou het hier iets in die lewe van die Christen gebeur. Iets wat hom net so deel maak van die kerk van die Here Jesus as wat die besnydenis in die Ou Testament iemand deel gemaak het van die volk Israel. “… die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens.” (Kol. 2:11)

Elke Christen se sondige natuur is weggeneem. Dit beteken nie dat ek nooit weer sonde sal doen nie. Elke Christen kan nog sonde doen – het die potensiaal om sonde te doen. Selfs Christus het die potensiaal gehad om sonde te doen. Daarom het die duiwel Hom versoek. Ek kan nog sonde doen, ek hoef nie meer sonde te doen nie. Ek hoef nie, want my sondige natuur is weggeneem. Die wegneem van my sondige natuur maak my deel van die kerk van die Here Jesus – die nuwe volk van God.

Romeine 6:6 help om hierdie saak te verstaan. “Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kan word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.” (Rom. 6:6) My sondige natuur is weggeneem, ek is nie meer ‘n slaaf van die sonde nie. Ek het ‘n keuse. Ons doen sonde omdat ons wil en nie omdat ons moet nie.

Elkeen van die ander beelde brei uit op die basiese waarheid. Ons deel in die volheid van Christus Jesus. Die tweede beeld is die beeld van die opstanding.  

2.      Die opstanding van Christus.

“Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het.” (Kol. 2:12)

Om Christus Jesus as Here van my lewe aan te neem is ‘n geloofskeuse. Die Heilige Gees werk in my en ek kies om te glo. Daardie geloofskeuse is die begin ‘n  nuwe verhouding – ‘n nuwe verbondenheid met Christus Jesus. In hierdie verbondenheid met Christus word my sondige natuur weggeneem, maar ek kies ook om te glo “in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het.” (Kol. 2:12) In hierdie nuwe verhouding met Christus deel ek in sy volheid. Wat waar is van Hom, is ook waar van my.

Toe ons in 2004 in die VSA was, het ons onder andere Willowcreek gemeente besoek.  Tydens die oggenddiens was daar toe ‘n doop geleentheid. Wat my getref het was die woorde. Hulle sê: “You die with Christ!” Dan laat sak hulle die persoon onder die water. Hou hom daar vir ‘n paar sekondes, bring hom uit die water uit en sê: “You rise with Christ!” ‘n Wonderlike stuk simboliek vir hierdie vers.

Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het.” (Kol. 2:12) My keuse om te glo en die evangelie as waar te aanvaar, laat my saam met Christus uit die dood opstaan.

Die belangrikste boodskap van hierdie teks is dat elkeen wat in Christus Jesus as Here glo, deel in sy volheid. Alles wat waar is van Christus is ook waar van elkeen wat glo. Christus is opgewek. Ek is opgewek. 

Die probleem is, ek kan nie opstaan uit die dood as ek nie dood was nie. Lewende mense kan nie lewend gemaak word nie. Dooie mense word lewend gemaak. Nou is die vraag: Was ek dood? Gelukkig gee die Bybel vir ons hier die antwoord. “Julle was dood deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak…” Rom. 6:23 stel dit so: “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus.” Dieselfde krag wat Jesus na sy dood aan die kruis uit die dood uit laat opstaan het, het nou in my lewe die sondige natuur weggeneem en my ook laat opstaan.

Vers 13 laat ons nie onseker oor wat dit beteken nie.  “Julle was dood deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.”  As gevolg van my sonde was ek so goed as dood vir God. Toe God my sonde vergewe, toe is daar vir my geen rede om meer dood te wees nie. Hy vergewe my sonde en ek sê” Kyk ek was dood, maar nou lewe ek. In verbondenheid met Christus deel ek in sy volheid. Wat waar is van Hom is ook waar van my. Hy het nie ‘n sondige natuur gehad nie. Ek het nie meer ‘n sondige natuur. Hy het opgestaan uit die dood, ek het opgestaan uit die dood. 

Ek leef nou ‘n nuwe lewe. So staan dit in Romeine 8:4: “Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, ons wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.” (Rom. 8:4) Ons het opgestaan tot ‘n nuwe lewe van gehoorsaamheid. Ek kan gehoorsaam. Die Heilige Gees in my maak dit vir my moontlik om hier en nou reeds te begin om die opstandingslewe te leef. Net soos Christus Jesus uit die dood uit opgestaan het, het ek ook uit die dood uit opgestaan. Nou kan ek aan die eise van die wet voldoen. Dit is my keuse.

 Ek hoop jy begin hierdie waarheid raaksien: Ons werk die hele tyd met dieselfde waarheid. Vier verskillende beelde vir dieselfde waarheid. Die besnydenis, die opstanding, die skuldbewys en die triomferende generaal. Alles beelde om te verduidelik hoe ons in die volheid van Christus deel.  

Christus Jesus sterf in ons plek aan die kruis. Hy betaal my sondeskuld by God. Hy het al ons sonde op Hom geneem, en toe betaal Hy ons skuld met sy lewe. Hierdie verlossingswerk van Christus Jesus is volkome – daar kan niks bygevoeg word nie. Deur sy sterwe aan die kruis het Hy ons sondige natuur weggeneem; het Hy ons uit die dood laat opstaan deur ons sonde te vergewe.

 3.      Ons is in Christus vry van enige skuld. 

“Julle was dood deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.” (Kol. 2:13-14)  God hou nie boek van die kwaad nie. Die duiwel doen. Die duiwel skryf elke dingetjie wat ek verkeerd doen op. Dan kla hy my aan by God. Die duiwel se rekords is die bewys van my skuld. Nou leer Kolossense 2 mos vir ons hierdie een waarheid op vier verskillende maniere: In verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid.

Jesus was volmaak en sonder sonde. Jesus het nooit enige sonde gedoen nie. Juis daarom kon Hy ons sondeskuld by God betaal. Drie keer in een vers word vir ons gesê wat God met ons sonde gedoen het: Hy het ons sonde vergewe. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Hy het ons sondeskuld en die bewys daarvan vir goed weggeneem. Ek deel in die volheid van Christus. In God se oë is ek net so sondeloos soos Jesus.

Elke keer as jy dink aan Jesus aan die kruis, sien in jou gedagtes ‘n stuk papier met al jou sondes gelys, vasgespyker ten die kruis. Jou sonde is vergewe, die bewys van jou sondeskuld is vernietig. Die bewys is vir goed weggeneem. Het jy iets meer as dit nodig. Dit maak dat ‘n mens net weer wil uitroep en sê: Niks kan my skei van die liefde van God nie.

 4.      Die triomferende generaal.

“ Hy het die bose magte ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.” (Kol. 2:15)

Vier beelde van dieselfde waarheid. Omdat ons Christus Jesus as Here aangeneem het, leef ons in ‘n nuwe verhouding, ‘n nuwe verbondenheid met Hom. In hierdie verbondenheid met Christus deel elke gelowige in sy volheid.

Hier is nou die vierde beeld om ons te wys hoe deel ons in die volheid van Christus Jesus. Die beeld is die van ‘n triomferende generaal. In die tyd toe die Nuwe Testament geskryf is, was daar nie televisies en selfone en koerante vir mense om te weet wat gebeur nie. As ‘n generaal gaan oorlog maak en hy wil hê die mense by die huis moet weet hy het die oorlog gewen, dan moet hy die bewyse saambring. Daarom het hulle die vyandelike generaal gevange geneem en hom vir die mense by die huis kom wys.

Wanneer hulle by die huis kom staan al die mense in die strate. Dan kom die triomferende generaal op sy perd aan die voorpunt van die optog. Agter hom die verslane generaal. Geboei in kettings. Gestroop van al sy wapens. Daar kan net geen twyfel wees dat die generaal die oorlog gewen het nie.

Dit is die beeld wat die Bybel hier gebruik. Die duiwel is verslaan. Die duiwel is ontwapen. Die oorwinning oor die duiwel is nie iets waaroor mense wat Christus Jesus Here van hulle lewe aanvaar het, mag twyfel nie.

Christus Jesus het die duiwel oorwin. Ek het ook want ek deel in sy volheid. “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug.” (Ef. 6:12)

Ons veg teen ‘n vyand ja, maar volgens Kol. 2:15 ‘n vyand sonder wapens. Ja die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind, maar hy is ‘n tandlose leeu en ‘n ontwapende vyand.

Die enigste wapens wat die duiwel het is die wapens wat ek hom gee. Die duiwel kan dalk die kinders van die Here bang maak, maar hy kan niks meer doen nie.

In die laaste tyd het ons ten minste een keer ‘n week oproepe van mense wat vreesbevange is vir die duiwel en sy bose magte. Hulle is angsbevange oor magte wat daar in verskillende goed in hulle huis kan wees. Hulle glo hierdie goed in hulle huise is die oorsaak vir dinge wat skeef loop en waarom hulle nie naby aan die Here kan leef nie. As jy kies om hierdie teorieë en argumente te glo, dan gee jy aan die duiwel wapens wat hy nie het nie.

Onthou: Die duiwel se magteloosheid is aan die hele wêreld gewys. Moenie toelaat dat mense jou met teorieë en argumente wat misleidend is wegvoer van die oorwinnende Christus af nie. Nee, leef in verbondenheid met Christus. Deel in die volheid van Christus.

Kom ons herinner mekaar aan hierdie waarheid: “Besef dit tog: Ek, Ek is die Here! Naas my is daar geen ander God nie.”  (Deuteronomium 32:29) Ons God is die enigste God. As iemand in Afrika iets of iemand anders aanbid, maak dit nie van dit wat hy aanbid ‘n god nie. ‘n Stomp bly ‘n stomp maak nie saak wat jy noem jy hom nie. As iemand glo ‘n boomstomp het mag, dan beteken dit nie die boomstomp het mag nie. As ek nou skielik begin glo ‘n stomp het krag wat dit nie kan hê nie, dan begin ek glo soos mense glo wat niks van God weet nie. Dan gee ek vir die duiwel wapens om my mee bang te maak.

Kind van God jy deel in die volheid van Christus. Jy het saam met Christus ook oorwin – jy was en is deel van die triomftog waar vir almal gewys is – die oorwinning is behaal.

Ons moet mekaar herinner: Ek het Christus Jesus as Here – kurios van my lewe aangeneem. Daar het ‘n nuwe band ontstaan tussen my en Christus Jesus. In hierdie nuwe verbintenis tussen my en Hom deel ek in sy volheid. Alles wat waar is van Hom, is ook waar van ons.

      Ons sondige natuur is weggeneem – die sondige natuur is kragteloos.

      Ons het opgestaan tot ‘n nuwe lewe – ons leef nou nuut.

      Ons is vry van skuld – ek gehoorsaam God omdat ek Hom liefhet.

Ons is oorwinnaars – die duiwel en sy magte het geen wapen teen my nie.  Ek kies om eerder op Jesus te fokus: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid.” (Ef. 3:20-21)    

Amen.



Kalender

November 2009
M T W T F S S
« Oct    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

Wie tel nou eintlik?

  • 95,844 hits

 

November 2009
M T W T F S S
« Oct    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

RSS DING SE STOEP

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS HEILIGE BRANDBOUD

  • Trap September 9, 2009 roelfopperman

RSS FLIPPIEFANUS

  • Ge … November 2, 2009 flippiefanus