By attie

NG Gemeente Rustenburg Bergsig  

Sondag 21 Oktober 2007  

Teks: Haggai 1:1-15  

Tema: Gevul met ontsag vir die Here.  

_____________________________________________________________________ 

INLEIDING

‘n Groep mense het by geleentheid probeer om Jesus vas te vra. Hulle het gevra: Wat die grootste gebod in die wet?. Die meeste van ons ken Jesus se antwoord. “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” (Matteus 22:37) ‘n Mens sou ook kon sê: Die vraag was: Sê in een sin waaroor godsdiens nou eintlik gaan. Jesus se antwoord: “Jy moet God liefhê.

Ons is mense. Ons weet wat liefde is. Almal van ons is in een of ander verhouding wat met die woordjie liefde beskryf kan word. Mans en vrouens het mekaar lief. Ouers en kinders het mekaar lief. Paartjies wat uitgaan het mekaar lief. Vriende het mekaar lief.

Hoe weet ‘n mens of iemand vir jou lief? Meeste van die kere is die antwoord iets soos: Hy doen die regte dinge! Sy weet wat maak my gelukkig! Hy maak my gelukkig! Sy doen moeite om te weet wat vir my belangrik is, en dan doen sy dit! Omdat ek jou liefhet, doen ek die dinge wat ek weet jou gelukkig maak.

Jesus sê: Die belangrikste ding wat jy in jou verhouding met God kan doen, is om Hom lief te hê. Die vraag is: Is liefde vir God anders as liefde vir mense? Wat is die beste manier om vir God te wys dat ek Hom liefhet?

Ek en Renate is baie gelukkig getroud. Ek probeer die dinge doen wat haar gelukkig maak. Sy probeer die dinge doen wat my gelukkig maak. Ek doen nie die dinge nie sodat ek haar man kan wees nie. Ek doen die dinge omdat ek haar man is. Ek weet Renate sal steeds vir my lief bly, selfs as ek sekere dinge wat haar gelukkig maak, ophou doen. Maar, ons verhouding is vir my net te kosbaar. Ek wil nie ophou om dit te doen nie. Ek wil nie ophou ontdek wat dit is wat haar gelukkig maak nie. Ek wil nie ophou om die dinge te doen wat vir haar wys dat ek haar lief het nie.

Ek weet ek is God se kind. Ek weet Christus Jesus het klaar alles vir my by God verdien. As ek dan kies om die dinge te doen wat Hom gelukkig maak, dan is dit omdat ek Hom met my hele hart en siel en verstand liefhet. Gehoorsaamheid is my manier om te wys dat ek God lief het. Gehoorsaamheid is my manier om te sê: Dankie dat U my liefhet. Met liefdevolle gehoorsaamheid het ek God terug lief.

 1. Die tyd is nie nou reg nie.

Ons sondaarmense het ‘n probleem. Ons aanvaar te veel dinge as vanselfsprekend. Renate sal mos vir my lief bly, sy sal verstaan as ek ophou om die dinge te doen wat haar gelukkig maak. Nou is die Bybel vol daarvan – God se liefde vir my is sonder einde. Ek kan niks doen wat maak dat God sal ophou om my lief te hê. God sal verstaan as ek nie die dinge doen wat Hom gelukkig maak nie.

Dit is wat met Israel in die tyd van Haggai gebeur het.

God was lief vir die volk Israel. Baie lief. So lief dat Hy hulle gekies het om sy spesiale volk te wees. So lief dat Hy hulle in ‘n tyd van hongersnood in Egipte laat bly het waar daar baie kos was. So lief dat Hy hulle uit Egipte verlos het toe hulle salwe geword het.

Israel was ook lief vir God. Anders as God se konstante liefde vir hulle, het Israel se liefde vir  God wipplank gery. Die vuur van hulle liefde vir God het nie altyd ewe hoog of ewe sterk gebrand nie. Somtyds was hulle liefde vir God nie veel meer as assies van uitgebrande hout nie. En as die vuur nie brand nie, dan hou hulle op om die dinge te doen wat wys dat hulle vir God lief is.

In 586 v.C. val die Babiloniërs Jerusalem binne. Jerusalem val. Die inwoners van Jerusalem word weggevoer na Babilon. In 538v.C. herhaal die geskiedenis homself. God verlos sy spesiale volk. Hy bring hulle huistoe. Terug na Jerusalem toe. Israel weet: God het ons lief. God doen die dinge wat vir ons belangrik is.

Maar ai, die mens en sy prioriteite. Ander dinge is belangriker. God gee nie moed op nie. God stuur toe vir Haggai. “Die woord van die Here het deur die profeet Haggai gekom tot Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en tot die hoëpriester Jesua seun van Josadak. Dit was op die eerste dag van die sesde maand in die tweede regeringsjaar van koning Darius.” (Hag. 1:1)

Haggai se boodskap was duidelik. “So sê die Here die Almagtige: Hierdie volk sê dit is nie nou tyd om die tempel te herbou nie.” (Hag. 1:2) Die tyd is nie nou reg nie. Israel weet hoe belangrik die tempel van die Here vir die Here is. Maar nee, die tyd is nie nou reg nie. Ander dinge is eers belangrik. Verstaan mooi, dit is nie dat ons onverskillig is of nie glo nie, maar die tyd is net nie nou reg nie.

Ons is ‘n Nuwe Testamentiese gemeente. Die tempel van die Here is nie klippe en sement nie. “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:16)Ons is die tempel van die Here. As iets in ons tyd herbou moet word, sal dit nie sement en stene wees nie. Ons lewens moet herbou word. Maar, dit tyd is nie nou reg nie.

Ek dink dit is belangrik dat ons iets mooi moet verstaan. Die geheim van die Christelike lewe is gehoorsaamheid. ‘n Lewe van oorwinning is ‘n lewe van gehoorsaamheid. Geestelike groei kom deur gehoorsaamheid. Volwasse Christene gehoorsaam God se wil. Geestelik volwasse mense wys deur hulle gehoorsaamheid dat hulle God met hulle hele hart en siel en verstand liefhet.

Ek wonder wie van julle het al gehoor van die orde van Maria Theresa. Maria Theresa was die koningin van Oostenryk in die agtiende eeu. Sy het na elke oorlog die Orde van Maria Theresa toegeken. ‘n Medalje vir die offisier wat ‘n oorlog wen omdat hy ‘n opdrag nie gehoorsaam het nie.

Ek kry soms die gedagte dat ons as Christene vir die orde van Maria Theresa mik. Hoe lank sal God my toelaat om nie te gehoorsaam nie? Wat kan ek alles doen sonder om my saligheid te verloor? Hoe lank is dit voor God se genade nie meer genoeg is nie? Dit lyk soms asof ons God se genade en geduld tot op die uiterste toets. Ek wonder of ons Hom verkeerd wil bewys.

Wat doen gehoorsaamheid aan God? Gehoorsaamheid laat God glimlag. Gehoorsaamheid is die beste manier om God te eer. Gehoorsaamheid wys vir God dat jy Hom liefhet. Gehoorsaamheid is ‘n lewe van aanbidding. Daar is geen plaasvervanger vir gehoorsaamheid nie. Die heel beste manier om vir God te sê: “Here, ek het U lief!” is deur liefdevolle gehoorsaamheid. Die beste manier om in die teenwoordigheid van God te leef, is gehoorsaamheid. Doen God se wil.

 2. Gehoorsaamheid is vir God belangrik.

Die Here se boodskap vir die mense deur Haggai klink so: “Neem ter harte wat met julle gebeur.” (Hag. 1:5) Met ander woorde, kyk net bietjie wat gebeur in jou lewe.

 “Julle het baie gesaai, maar min geoes;julle het geëet, maar nie genoeg gekry nie;julle het gedrink, maar dors gebly;julle het klere aangetrek, maar nie warm geword nie; julle is soos ‘n dagloner wat sy loon in ‘n stukkende beursie steek.” (1:6)

Israel het gedink die tyd is nie reg vir gehoorsaamheid nie. Niks wat hulle doen, het die gewenste uitwerking gehad nie. Daar is net altyd die besef – iets onbreek. Iets is nie reg nie. Iets is nie hier nie.

Dit lyk vir my die Here wil deur Haggai vir Israel sê: Julle ongehoorsaamheid het ‘n invloed of ‘n uitwerking op julle lewe en julle omstandighede.

Kan dit waar wees? Kan dit wees dat God deur die dinge wat met ons gebeur vir ons ‘n boodskap wil stuur? Kan dit wees dat God vir ons vandag in 2007 ook wil sê: “Neem ter harte wat met julle gebeur.” (Hag. 1:5)

Kyk wat staan in vers 9: “Waarom? vra die Here die Almagtige. Omdat my huis in puin lê, terwyl elkeen van julle hard besig is om aan sy eie huis te werk.” (Hag. 1:9)

Onthou nou: Ons is ‘n Nuwe Testamentiese kerk. My en jou lewe is die huis van die Here. Die Here sal die boodskap aan ons dalk ‘n klein bietjie anders formuleer: Jy werk hard sodat mense kan dink jou lewe is in orde. Maar, Ek sien nie baie dinge wat wys dat jy My liefhet nie. Ek sien nie dat ons verhouding vir jou belangrik is nie.

Die probleem is, die tyd is nooit reg nie. Daar sal altyd ander belangrike dinge wees. En as ‘n mens een keer jouself om die bos kon lei met die woorde: “Die tyd is nie nou reg nie.”, dan gaan jy dit altyd weer doen. Ons ongehoorsaamheid het ‘n invloed op ons lewe en op ons omstandighede.

“Dit is oor julle dat die hemel sy reën en die aarde sy opbrengs teruggehou het. Ek het droogte laat kom oor die land en oor die berge, oor die koring, die wyn en die olie en oor die opbrengs van die land, oor mens en dier en oor alles waarmee die mens hom besig hou.” (Hag. 1:10-11)

Jy glimlag dalk en sê: Gelukkig het ons die laaste paar weke wonderlike reën gehad en kyk net hoe goed het ons rugbyspan in die wêreldbeker gedoen en kyk net die meeste van ons bly in huise wat groter en meer is as wat ons nodig het. Ons kon darem nog vanoggend kerk toe ry en ‘n ou ietsie in die dankoffersakkie gooi. Gelukkig is ons lewe en omstandighede beter as Haggai se gemeente sin. Maar, kom ons kyk net ‘n bietjie na ons lewe en ons omstandighede:

Hoe gaan dit met die misdaad in ons land?

Hoe gaan dit met die mediese dienste in ons land?

Hoe gaan dit met die onderwys in ons land?

Hoe gaan dit met die NG Kerk rondom kerk-hereniging en die Evangeliese Inisiatief?

 As ons nou ter harte moet neem wat met ons gebeur, dan sien ons: Daar is meer tekens van God se afwesigheid as God se teenwoordigheid. Ek wonder tog of ons as Christene in Suid Afrika nie ook dalk moet hoor wat die terugkerende ballinge in die tyd van Haggai moes hoor nie: “Dit is oor julle dat die hemel sy reën en die aarde sy opbrengs teruggehou het. Ek het droogte laat kom oor die land en oor die berge, oor die koring, die wyn en die olie en oor die opbrengs van die land, oor mens en dier en oor alles waarmee die mens hom besig hou.”  As julle eerlik moet wees, dan voel julle, julle ongehoorsaamheid aan julle lywe.  

Ons sal as kerk baie ernstig moet begin nadink oor hierdie vraag: Hoe belangrik is gehoorsaamheid aan God vir God? En dan as ons daardie antwoord het, die volgende vraag: Is gehoorsaamheid vir ons as kerk net so belangrik as wat dit vir God is?

Die Here laat geen twyfel oor wat nou gedoen moet word nie. “Gaan haal hout in die berg en herbou my huis sodat Ek my eer kan ontvang en tevrede kan wees, sê die Here.” (Hag. 1:8) Die tyd van uitstel is verby. Nou is die regte tyd. Doen die regte ding. Begin nou!

 3. Gehoorsaamheid as gevolg van ontsag vir die Here.

“Toe het Serubbabel seun van Saeltiël, en die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en almal wat van die volk oorgebly het, ter harte geneem wat die Here hulle God gesê , wat die profeet Haggai in die opdrag van die Here vir die volk gesê het. Die volk was vervul met ontsag vir die Here.” (Hag. 1:12)

Die mense het mooi geluister. Hulle het aanvaar wat God vir hulle oor hulleself sê. Hulle het besef: God is weereens reg. Hulle ontsag vir die Here, het gemaak dat hulle nie meer verskonings uitdink nie. Omdat hulle ontsag het vir die Here, gehoorsaam hulle.

In ‘n verhouding gaan dit oor liefde. Liefde en respek en agting en ontsag is mos eintlik bedmaats – die goed gaan saam. Ontsag maak dat ek wil gehoorsaam. Ontsag en respek lê baie diep binne in ‘n mens. Diep waar net God kan sien. God sien hierdie mense dit wat Hy vir hulle sê ter harte neem. God sien hierdie mense se ontsag vir Hom. En God stuur ‘n boodskap deur Haggai: “Haggai die boodskapper van die Here het in opdrag van die Here vir die volk gesê: Ek is by julle, sê die Here.” (Hag. 1:12)

Ons erken nie dikwels dat ons verkeerd is nie. As ons dit nog sal erken, doen ons nie dikwels iets om die verkeerd reg te stel nie. Daarom die versekering: “Ek is by julle, sê die Here.” (Hag. 1:12) Die Here weet hoe moeilik dit vir ons is om reg te maak as ons verkeerd was. Daarom die belofte: “Ek is by julle, sê die Here.” Jy sal die verkeerd kan regmaak. Ek sal jou help.  

Dit is ontsag en eerbied vir God wat maak dat ‘n mens luister na wat Hy sê. Wanneer God daardie liefde en eerbied en ontsag sien, dan sê Hy: Jy is nie alleen nie. Ek is by jou. Daar is niks wat jy nie kan doen as Ek by jou is nie. Ek sal jou in staat stel om vir my te wys dat jy My met jou hele hart en siel en verstand liefhet.

 4. Gehoorsaamheid deur die dryfkrag van God.

“Die Here het toe vir Serubbabel seun van Sealtiël en geowerneur van Juda, en vir die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en vir almal wat van die volk oorgebly het aangevuur en hulle het die werk aan die huis van hulle God, die Here die Almagtige, aangepak.” (Hag. 1:14)

Haggai het gepraat. Almal het geluister. Almal het besef: Gehoorsaamheid is die manier om vir God te wys dat ons Hom liefhet. Die tyd vir gehoorsaamheid is nou. Die Here belowe sy teenwoordigheid. En die Here steek ‘n vuurtjie hier in hulle binnekant aan en hulle begin die werk aan die huis van God aanpak.

Jy wonder dalk wanneer kom die dag dat die Here hierdie vuurtjie in jou gaan aansteek en jou gaan aanvuur om te gehoorsaam. Jy hoef dalk nie meer te wag nie. As jy nou bewus raak van ‘n gevoel binne in jou om te gehoorsaam. As daar iets in jou is wat nou sê: Ek wil graag deur my gehoorsaamheid vir God wys hoe lief ek Hom het, dan het die Heilige Gees klaar die vuurtjie in jou aangesteek. Die Heilige Gees wil sien dat jy jou lewe as die tempel van die Here begin herbou deur gehoorsaamheid. 

Net een ding vra die Here: Wees lief vir My met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

Dink vir een oomblik aan alles wat Hy vir jou gedoen het. Hy het jou gemaak. Hy het die lewensasem in jou neus geblaas. Hy het weergeboorte in jou hart gewerk. Hy het geloof in jou lewe gewerk. Hy het dit vir jou moontlik gemaak om Hom te ken. Hy het vir jou die ewige lewe gegee. Die Here sê: Ek het dit alles klaar gedoen. Sal jy asseblief antwoord met liefdevolle gehoorsaamheid.

Haggai se gehoor het dit gedoen. “Hulle het daarmee begin op die vier en twintigste dag van die sesde maand.” (Hag. 1:15) Onthou jy nog vers 1: “. Dit was op die eerste dag van die sesde maand in die tweede regeringsjaar van koning Darius.” Aangevuur deur God self gehoorsaam Israel binne 24 dae.

Ons gemeente is hierdie jaar 40 jaar oud. Ons doen ‘n paar dinge om ons 40ste verjaarsdag te vier. Ons het Donderdagaand ‘n baie wonderlike manneaand gehad. Hierdie Saterdag het ons ‘n baie lekker saamweesfees. Saterdag 10 November is ’n vroue-oggend. 18 November is ons amptelike verjaarsdag. Daardie dag gaan ons ook ‘n gemeente-ete hou. Ons gaan baie dinge doen wat vir ons baie lekker gaan wees. Vraag: Wat sal vir God lekker wees? Wat sal God laat glimlag? Wat sal God laat dink dat ons regtig dankbaar is? Wat is ‘n mooi manier vir ons om te reageer op die liefde wat God oor die laaste 40 jaar aan ons bewys het? Ek dink daar kan net een antwoord wees: Gehoorsaamheid! Begin met die herbou van die tempel van die Here.

Nou is die tyd om die vuur wat die Heilige Gees binne in ons aansteek verder te vat. Nou is die tyd om te begin met die herbou van die tempel van die Here. My lewe, jou lewe.

Die mense in Haggai se tyd het na 24 dae begin met die herbou van die tempel. Ons het 29 dae voor ons 40ste verjaarsdag. Hier is die uitdaging: Begin herbou. Kom ons gee oor 29 dae – op die 18de November ‘n geskenk aan die Here. My en jou lewe toegedraai in gehoorsaamheid. My en jou lewe waardige tempels van die Heilige Gees. My en jou lewe onder die heerskappy van Christus Jesus die Here.

Ek gaan vergeet van enige ander mens. Al is ek die enigste een wat dit doen, ek gaan begin met die herbou van hierdie lewe as ‘n tempel van die Here. Ek daag jou uit om dieselfde te doen.

Kom ons maak dit makliker. Kom elkeen van ons besluit vanoggend: Ek gaan op drie terreine in my lewe begin om die huis van die Here te herbou. Ek gaan begin om op drie terreine van my lewe te gehoorsaam. Ek het klaar besluit watter drie dinge in die volgende 29 dae my aandag gaan kry.

Dink aan jou huwelik; jou kinders; jou werk; jou gewoontes; jou finansies; jou gebedslewe; jou Bybellees; jou betrokkenheid by die gemeente; jou vriendekring; jou verhoudings; jou burgerskap van hierdie land. Kies drie dinge en besluit om die volgende 29 dae daaraan te werk.

 5. Gehoorsaamheid kom saam met beloftes.

Ek wil vir jou ook die belofte gee wat die Here deur Haggai vir Serubbabel en vir die volk gegee het: “… skep moed…  julle almal… skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige.” (Hag. 2:4)

Kan ek jou nog een belofte gee. “Maar nou, let op wat van vandag af en verder sal gebeur, van die vier en twintigste dag van die negende maand af, die dag waarop die fondamente van die tempel van die Here gelê is. Let op! Is daar nog saad in die skuur? Tot nou toe het julle wingerde, julle vyebome, julle granaatbome en julle olyfbome nie gedra nie, maar van nou af sal ek voorspoed gee!” (Hag. 2:18-19)

Ek wil hieruit aflei dat my en jou gehoorsaamheid ‘n verskil kan maak in ons lewe en omstandighede – ‘n Verskil wat net God kan maak. Hy kon dit gedoen het in die tyd van Haggai. Daar is geen rede waarom God dit nie kan doen in hierdie tyd waarin ons lewe nie. Hy is dieselfde.

Kies drie dinge waaraan jy die volgende 29 wil werk om gehoorsaam te wees. Dan kom jy na 29 dae en ons gooi die fondasies van die “nuwe huis van die Here” in NG Bergsig – ‘n lewe van gehoorsaamheid onder die Heer-skappy van Christus Jesus ons Here.



Kalender

November 2009
M T W T F S S
« Oct    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

Wie tel nou eintlik?

  • 95,844 hits

 

November 2009
M T W T F S S
« Oct    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

RSS DING SE STOEP

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS HEILIGE BRANDBOUD

  • Trap September 9, 2009 roelfopperman

RSS FLIPPIEFANUS

  • Ge … November 2, 2009 flippiefanus