NG BERGSIG
SONDAG 11 JANUARIE 2008
Daniël 6:1-5
Verskonings … wat jy waar kry?
_____________________________________________________________________
Inleiding.
In Matteus 17:17 en ‘n hele paar ander plekke verwys Jesus na die mense tussen wie sy volgelinge moet lewe as ‘n ongelowige en ontaarde geslaag. Ongelowige beteken heel eenvoudig dat hulle nie in God glo nie. Ontaard beteken dat hulle nie geword het wat hulle veronderstel was om te wees nie.
In Matteus 11 sê Jesus vir sy dissipels dat hy hulle soos skape tussen wolwe in stuur. Met ander woorde, hulle moet baie versigtig wees dat hulle nie deur hierdie wêreld oorweldig word nie.
Elkeen van ons het waarskynlik al beleef dat dit wat Jesus hier sê waar is. Ons leef inderdaad tussen mense wat nie in God glo nie, en wat nie eers naby aan alles is wat God bedoel het hulle moet wees nie. Ons weet hoe maklik die mense in hierdie wêreld ‘n bespotting maak van iemand wat dit sou durf waag om in hierdie lewe en in hierdie wêreld op te staan vir sy/haar geloof.
Ek het ongeveer 18 maande terug ‘n “blog” begin. Steve Hofmeyer se “blog” heet Steve se spoegblad. Ek noem myne Attie se koffietafel. My doel met die “Blog” was om in die wêreld van die internet die evangelie van verlossing in Jesus Christus te bring. Nou ja, enige iemand wat net ‘n klein bietjie van die internet weet is dat jy daar met die wêreld se ongelowige en ontaarde geslag te make het.
Op ‘n “blog” werk dit so: Jy skryf iets op die “blog”. So ver moontlik probeer ek elke dag iets skryf. Met die uitsondering van enkele kere (Bv. Wanneer ek ‘n video oor my vakansie saam met die kinders opsit.) probeer ek deur dit wat ek skryf die waarheid van die evangelie en God se liefde uit te dra. Die persoon wat lees kry dan die geleentheid om kommentaar te lewer en saam te gesels oor dit wat ek daar skryf. Die meeste mense skryf onder skuilname, sodat niemand regtig weet wie dit is wat skryf nie.
So waag ek dit by geleentheid om iets te skryf na aanleiding van ‘n artikel wat ‘n ateïs in die Beeld geskryf het. Die gevolg was dat die ondersteuners van die ateïs en waarskynlik self ateïste soos wolwe op my “blog” toe en verskeur elke Christen wat dit sou waag om positiewe kommentaar te lewer. Dit was so erg dat ek op ‘n stadium besluit het om die “blog” toe te maak. Gelukkig het van my anonieme vriende op die internet my oortuig om dit nie te doen nie.
Maar, hierdie is maar my voorbeeld. Ek is oortuig daarvan dat daar ‘n groot groep hier is, wat dieselfde tipe van verhaal sou kon vertel. Daar is natuurlik die wat juis op so ‘n manier ‘n Christen probeer wees sodat hulle teenstand kan kry… ons praat nie van hulle nie.
Die Here stuur ons tussen hierdie ongelowige en ontaarde mense in soos skape tussen wolwe in. Die Engelse het ‘n mooi beskrywing. Hulle noem dit ‘n “pagan- society”. ‘n Heidense samelewing. In ‘n sekere sin is dit waar. Ons leef in ‘n heidense samelewing.
Maar, die punt bly: Ons word tussen hierdie ongelowige en ontaarde geslag ingestuur soos skape tussen wolwe in. En nou is ons uitdaging: In hierdie “pagan-society” moet ons getuies wees. In hierdie ongelowige en ontaarde geslag moet ons tot eer van God lewe en moet ons so lewe dat God sy koninkryk deur ons kan laat kom. Die uitdaging is om deur ons lewens deel te word van dit waarmee God in hierdie wêreld besig is.
Net hier het ons ‘n probleem. Hoe doen ek dit? Hoe leef ek in hierdie wêreld, tussen hierdie mense tot eer van God? Hoe leef ek tussen hierdie ongelowige en ontaarde mense as getuie van die Here Jesus Christus.
As ‘n reël reageer Christene op een van twee maniere.
Die eerste manier is om laer te trek. Ek kry soveel mense as moontlik wat soos ek dink en soos ek voel en soos ek glo. Ons kom bymekaar en ons herinner ons self so gereeld as moontlik dat ons soos skape tussen wolwe ingestuur word en dat hierdie ‘n ontaarde en ongelowige geslag is. En dat al wat ons eintlik nodig het om te doen is om soveel Bybelstudie as moontlik te doen en soveel kerk toe te gaan as moontlik en soveel te bid as moontlik en uit te sien na die dag wanneer die Here Jesus weer kom. Hierdie mens leef gehoorsaam, maar eenkant. ‘n Mens sou kon sê hulle leef geloosgetrou maar lewensvreemd. Dit is die manier waarop hulle die Christen se lewe in hierdie “pagan-society” verstaan.
Die tweede manier waarop Christene hierop reageer is om aan te pas by die wêreld. Hulle doen wat die mense doen en hulle praat soos die mense praat en hulle leef soos die mense leef. Hierdie groep wil hê dat die ongelowige en ontaarde mense so na hulle sal kyk en sal sê: My hen, ek sou nooit kon sê jy is ‘n Christen nie. En so kry hulle dan ‘n kans om teenoor daardie mense te getuig. Hierdie mense is meestal lewensgetrou, maar geloofsvreemd.
Nie een van hierdie maniere werk regtig nie. Ons sal moet vra of daar nie nog ‘n manier is nie. Is daar nie ‘n manier waarop ons op so ‘na manier kan lewe dat God sy koninkryk deur ons kan laat kom?
As ‘n antwoord hierop wil hê, dan moet ons na iemand gaan soek wat juis in sulke omstandighede gelewe het en terselfdertyd lewensgetrou en ook geloofsgetrou gelewe het.
Kom ek gee vir ‘n klein bietjie agtegrond van die man wat ek as voorbeeld gaan gebruik.
Die man se land was in oorlog met ‘n ander land en hulle het die oorlog verloor. Op daardie stadium was die man nog ‘n jong seun, maar hy is as ‘n krygsgevangene na hierdie ver en vreemde land geneem. Wonder bo wonder word hierdie seun toe uitgesonder om saam met meestal die ander jong mense van die land teen wie hulle oorlog gemaak het, deel van die land se administrasie te word. Aangesien hulle jonk was en die man in sy eie land geen ondervinding van die vorm van administrasie gehad het, moes hulle baie deeglike opleiding kry voordat hulle in die regeringsadministrasie kon begin werk.
Aan die einde van hulle opleiding het hierdie jong man saam met al die ander mense wat die opleiding geslaag het, in die administrasie van die vreemde land begin werk. Hierdie “vlugteling” uit ‘n vreemde land, het egter sy werk baie goed gedoen. So goed, dat hy as werknemer in die administrasie ‘n besondere reputasie ontwikkel het. ‘n Reputasie wat hom in so ‘n mate vooruitgeloop het, dat hy vir drie verskillende presidente gewerk het.
Hierdie man is Daniël. In 586v.C. in die tyd van Nebukadneser in ballingskap weggevoer na Babilon. Waar hy in die administrasie opgelei is en in drie verskillende konings, Nebukadneser, Belsasar, en Darius se administrasie gewerk het. Darius het ‘n dramatiese vernuwing in die regeerstyl aangebring. Dit is hier waar ons in Daniël 6 die draad van die storie optel.
Onthou nou waaroor gaan dit: Ons wil by Daniël leer hoe leef ons in hierdie “pagan-society” gelykertyd lewensgetrou en geloofsgetrou.
Daniël 6:1-6.
Darius se nuwe regeerstyl, het tot gevolg gehad dat hy 120 goewerneurs-generaal aangestel het. Daniël was een van hulle. Darius het drie ministers aangestel aan wie die 120 goewerneurs-generaal moes rapporteer. Toe Darius iemand wou aanstel om oor almal te regeer, was Daniël sy keuse.
Daniël het lewensgetrou getrou geleef – hy het ‘n sukses gemaak van sy beroep in ‘n heidense omgewing, sonder om sy geloof te offer. As ek vir Daniël se manier van lewe ‘n naam moes gee, dan sou dit integriteit wees.
Verskillende mense het verskillend definisies vir integriteit. Aan die hand van Daniël as ‘n voorbeeld, wil ek drie dinge noem wat ek as ‘n wesenlike deel van integriteit sien. Inteendeel, as hierdie drie dinge nie in iemand se lewe teenwoordig is nie, dan sal ek ‘n vraag vra oor so iemand se integriteit.
Die drie eienskappe is:
1. Beginselvas.
2. Verdienstelik. (Ek weet nie mooi watter naam of hiervoor te gee nie, maar ek sal net nou verduidelik wat ek daarmee bedoel.)
3. Betroubaarheid.
1. Beginselvas.
Almal van ons weet dat daar ‘n groot tekort is aan mense wat konsekwent beginselvas is. Met ander woorde: Hulle kies nie hulle beginsels op grond van die situasie nie. Hulle kies hulle beginsels en dan leef hulle daarvolgens.
Mense wat glad nie Christene is nie, leef ook beginselvas. Met ander woorde: Hulle het ook beginsels en hulle leef konsekwent volgens daardie beginsels. Mooi beginsels, goeie beginsels. Die enigste verkil is, as gelowiges kom die beginsels waarvolgens ons lewe uit die Bybel uit. Maar as ons mooi gaan kyk dat die beginsels juis van so ‘n aard is, dat dit nie wêreldvreemd sal wees nie.
Bv.: Leef met respek vir ander mense; Moenie steel nie; Moenie ander mense doodmaak nie; moenie seksueel losbandig leef nie; wees tevrede met wat jy het en moenie die hele tyd wens jy het wat ander het nie; moenie leuens vertel nie; moenie skinder nie.
Daardie beginsels kom almal uit die Bybel uit, maar elke een van daardie beginsels sou ook vir enige mens in hierdie “pagan-society” kon werk. Terloops, al hierdie beginsels kom uit Eksodus 20 uit. Wees dus versigtig voordat jy sê ons is vry van die wet – ons is nie vry van die lewensbeginsels van Eksodus 20 nie.
Terug by Daniël. Julle onthou dat Daniël uitgekies is om opgelei te word om in die vreemde land in die administrasie te werk. As deel van die opleiding, moes hulle ‘n sekere dieet volg. Daniël het daarmee ‘n probleem gehad. Volgens sy geloof was sou kos wat die koning wou hê hy moet eet hom onrein maak. Daniël staan op vir sy beginsels. Sonder om ‘n groot “scene” daarvan te maak, vra hy toestemming om dit nie te doen nie.
Kry die boodskap: Daniël staan by sy beginsels. Daniël kies nie beginsels wat by sy omstandighede pas nie. Later sou ons sien hoe Daniël ten spyte van lewensgevaar nie ophou om te bid nie. Dit was een van sy geloofsbeginsels. Daniël het nie sy beginsels prys gegee nie.
Die oomblik wanneer ‘n mens begin om jou beginsels prys te gee, dan hou jy op om geloofsgetrou te wees. Daniël kon geloosgetrou leef, omdat hy by sy beginsels gebly het.
2. Verdienstelik.
Die gerug het begin loop dat Darius vir Daniël oor die hele ryk wou aanstel. Elkeen van drie ministers aan wie die goewerneurs-generaal verantwoording moes doen, het ‘n kans gehad om die pos te kry. Die ander twee ministers het natuurlik verwag dat hulle ook die aanstelling sou kry. Toe die gerug begin loop dat Daniël die pos gaan kry, het hulle besef hulle sal iets moet doen om koning Darius te oortuig dat hy ‘n fout maak.
Die ander het toe probeer om iets te kry in die manier waarop Daniël sy administrasie gedoen het. Maar, hulle kon niks kry nie.
Dit wil amper lyk asof die ander gedink het dat Daniël vir die pos oorweeg word en dat hy dit nie verdien nie. Hulle het gedink dat die koning hom voortrek en daarom kry hy die pos. Dit maak nie saak hoe hulle probeer het nie, hulle kon niks kry nie.
Want, die koning het Daniël op verdienste aangestel. Daniël het verdien om die hoogste pos te kry. Kyk bietjie wat staan in vers 4: “Hierdie Daniël het deur sy buitengewone bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal dat die koning van plan was om hom oor die hele koninkryk aan te stel.”
Hoe kom hierdie saak by integriteit uit. In die eerste plek natuurlik dat iemand met integriteit nie op ander se gunste en gawes staat maak om in die lewe te vorder nie. Iemand met integriteit sit terug en doen wat hy moet doen en verwag dat dit wat hy doen en die manier waarop hy dit doen, sy getuigskrif sal wees.
Iemand met integriteit maak nie staat op gunste en gawes nie.
Tweedens iemand met integriteit word die beste werknemer wat hy moontlik kan wees. Ons leef in ‘n land waar produktiwiteit baie laag is. Ons leef in ‘n land waar ‘n mens redelik maklik sou kon wegkom sonder om jou werk te doen soos jy dit behoort te doen. Iemand met integriteit doen wat hy veronderstel is om te doen so goed as wat hy dit moontlik kan doen.
Maar, daar is tog sekerlik Christen-werkgewers ook. ‘n Werkgewer met integriteit werk ook met verdienste. ‘n Christen-werkgewer trek nie Christen-werknemers voor nie. ‘n Christen werkgewer behandel nie een werknemer anders as wat hy die ander een behandel nie. Daar geld nie ‘n ander stel reëls vir werkgewers as werknemers nie.
Dink gerus aan verdienstelik in enige ander lewensterrein. Neem byvoorbeeld ‘n mens se familie. As ek van my familie verwag om vir my lief te wees omdat ons familie is, dan is daar nie sprake van verdienstelikheid nie. As ek so lewe dat ek die liefde van my familie en my mense probeer verdien, dan is daar sprake van integriteit. Gaan dink ‘n bietjie daaroor.
3. Betroubaar.
Die goewerneurs-generaal kon niks kry in die manier waarop Daniël sy werk gedoen het nie. Inteendeel, hulle het iets anders gekry. “Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie.” (Daniël 6:5)
Betroubaar het te make met vertroue. In hoe ‘n mate kan ek vertrou word. Ek weet nie of Daniël ooit gedink het dat iemand met sy werk fout sou probeer kry om hom te benadeel nie. Dit lyk nie so nie. Alles dui daarop Daniël so beginselvas gelewe het, dat hy in sy eie oë ook met integriteit wou lewe.
Daniël kon vertrou word. Jy kon Daniël kon vertrou word. Koning Darius kon Daniël vertrou dat hy nie nalatig sou wees nie, of dat hy nie dinge sou doen wat hy nie mag doen nie of op ‘na manier wat hy nie veronderstel was om dit te doen nie.
Deur sy lewe het Daniël gewys dat hy betroubaar was.
Daniël wys vir ons hoe leef ‘n mens in ‘n “pagan-society” lewensgetrou en geloofsgetrou. Die antwoord is: Met integriteit!.
Daniël is vir ons ‘n voorbeeld van hoe ‘n mens in die werksituasie met inegiteit lewe. Maar, neem elke een van daardie eienskappe van integriteit, en pas dit toe op enige ander situasie:
Hoe sou jou verhouding met jou vriend wees as jy beginselvas, verdienstelik en betroubaar is?
Hoe sou jou verhouding met jou ouers wees as jy beginselvas, verdienstelik en betroubaar is?
Hoe sou die manier waarop jy besigheid doen wees as jy beginselvas, verdienstelik en betroubaar is?
Hoe sou jou verhouding met kinders wees as jy beginselvas, verdienstelik en betroubaar is?
Hoe sou jou huwelik lyk as jy beginselvas, verdienstelik en betroubaar is?
Een ding moet ons van integriteit sê, en dit is dat dit heeltemal anders is as verlossing. Ons leer dat ons enkel alleen uit genade verlos word en nie op grond van enige iets wat ons gedoen het nie. Ons kan verlossing nie verdien nie.
Integriteit is anders. As jy op soek is na integriteit, moenie genade of gunste verwag nie. Die enigste manier waarop jy integriteit in die oë van mense kan verwag, is om dit te verdien. Jy moet werk vir jou integriteit.
Gaan, ek stuur julle soos skape tussen wolwe in.
Amen
Hi aTTIE
Baie dankie vir hierdie kosbare woord. Die Here toets ons hart en ek bid dat die Here ook sal kom in al Sy volheid en homself aan ons te openbaar sodat ons ook toegrus kan word om in hierdie stukkende wêreld, die lig gaan wees.
Seën vir jou
Johan