18
Mar
08

TWEEDE HUWELIKKE

Omtrent die helfte van die paartjies wat ek trou is tweede huwelike waar beide die man en die vrou voorheen getroud was of ten minste een van die twee voorheen getroud was. Dit is ‘n redelik bekende feit dat die egskeidingsyfer vir tweede huwelike ‘n skokkende 60% is. Na tien jaar het 37% van tweede huwelike reeds geëindig teenoor 30% van eerste huwelike. Met ander woorde wanneer een of beide van die partye voorheen getroud was, skei mense meer en gouer.

Ek doen gewoonlik huweliks-voorbereiding met elke paartjie wat ek trou in die vorm van ‘n paar gesprekke. Ek het gister weer ‘n paartjie gesien wat wil trou. Altwee was voorheen getroud en altwee het kinders uit die vorige huwelik.

As ‘n reël sal ek aan die volgende sake aandag gee tydens sulke voorbereidingsgesprekke:

1. Maak seker jy weet met wie jy trou.

Hoe goed ken jy die persoon met wie jy gaan trou?  Hier het ek gewoonlik ‘n paar lastige vrae wat ek die paartjie vra om hulle wedersydse kennis van mekaar te evalueer.

2. Maak seker jy weet wat die persoon met wie jy trou se geestelike lewe en verwagtinge behels.

Mense kan mekaar baie goed ken, maar hulle praat dalk feitlik nooit met mekaar oor hulle denke en emosies met betrekking tot God en hulle geestelike lewe nie. Bv. Weet jy hoe lyk die geestelike pad wat die persoon met wie trou geloop het? Kan jy jou maat se geestelike lewensverhaal oorvertel?

3. Maak seker jy weet waaroor die persoon met wie jy gaan trou sterk voel.

Hoe voel die persoon met wie jy gaan trou oor geld, dissipline, vakansies, hoe mens liefde wys. Waar verskil julle dramaties van mekaar?

4. Wat het aanleiding daartoe gegee dat elkeen van julle se vorige huwelik misluk het?

Die afwesige party is gewoonlik die een wat primêr die verantwoordelikheid moet dra vir die huwelik wat nie gewerk het nie.  Ek herinner sulke paartjies graag daaraan dat twee mense nodig is om ‘n huwelik te maak werk en dat twee mense nodig is om ‘n huwelik nie te maak werk nie. Ek twyfel nie daaraan daat daar gevalle is waar die een persoon regtig die slagoffer van ‘n ander was nie, maar dit is eerder die uitsondering as die reël. Ek help die paartjies gewoonlik met moontlikhede wat aanleiding kon gegee het tot die egskeiding.

5. Maak seker julle weet wat julle van mekaar verwag.

Mense is dikwels oorhaastig om te gou in ‘n tweede huwelik in te storm. In die proses praat hulle nie met mekaar oor wat hulle van die verhouding verwag nie. Daar moet eerlik en openlik oor hierdie sake gepraat word voordat ‘n tweede huwelik aangegaan word.  By hierdie geleentheid praat ek gewoonlik oor die lewe na die troudag en die praktiese reëlings rondom die saamleef.

Nou wonder ek: Waaroor dink jy behoort mens nog te gesels met paartjies wat vir ‘n twee keer trou?


17 Responses to “TWEEDE HUWELIKKE”


  1. 1 Ansie
    March 18, 2008 at 13:01

    Ons probleem is dat ons net kort termyn dink. Ek het vanoggend al met twee paartjies te doen gehad. Die een vrou het by my kom huil want haar man het ‘n nuwe meisie en sy en hulle twee kleuters moet dadelik uit die huis uit om vir die nuwe vrou plek te maak (die feit dat dit nou koud en nat is, en dit sy eie kinders is, maak nou geen saak nie) Hy dink net aan hierdie groot plesier wat nou met die nuwe vrou voorle. Die tweede vrou wat 4 maande swanger is het ek saam haar man se broer in die bed gekry. Duidelik dink albei net aan die kort termyn plesier en nie nie langtermyn hartseer wat daarna volg nie.

  2. March 18, 2008 at 15:02

    Middagsê Doom

    Hmmm … 2e huwelike …

    Doom, eie familie, skoonfamilie en eks-familie. Ding dink nou maar veral aan die eks-familie en by uitsondering die vorige gade – veral waar daar kinders betrokke is.

    Ding onthou so vaagweg ‘n kollega wie se nuwe gade hom byna terstond geskei het omdat hy twee kardinale flatertjies begaan het: 1. het hy vir die nuwe gade gesê natuurlik is hy lief vir sy vorige gade – sy is en bly die ma van sy kinders. En 2. het hy opslag in sy motor geklim een aand laat en sy vorige gade loop bystaan waar sy iewers langs ‘n pad met ‘n onklaar motor (papwiel) gestrand gestaan het.

    En ja, ai tog, ou ding sukkel maar om nie die materiële, praktiese en finansiële aspek raak te sien nie – in enige huwelik, maar veral by ‘n verdere huwelik. En veral waar daar jou-kinders-my-kinders-en-ons-kinders is. Wie aanvaar watter aanspreeklikheid vir watter kinders en watter kinders is geregtig op wat van watter ouer. Messy-messy.

    Doom, ‘n huwelik of hy nou eerste, tweede of hoeveelste is, bly maar soos die ou wyses dit stel: trou is nie perde koop nie. Saam met die lekker lepellê in die winterkoue kom daar bepaalde verantwoordelikhede.

    Soos altyd: gawe leesstof hier by die koffietafel – dankie, man, Doom!

  3. March 18, 2008 at 15:22

    Ansie: Ja… so gaan dit. Dis hoekom ek dink dit baie belangrik is om te praat oor wat was die oorsaak van die eerste egskeiding. As ‘n persoon sê hy is heeltemal onskuldig, dan moet mens baie versigtig wees.
    Ding: Jou doring! So lank laas van jou gehoor. Ek dink jy is reg, mens moet daardie aardse goedjies aanspreek. Maar ook soos jy sê: Huwelik is harde werk, maar dan is mens ook darem dankbaar vir die skielike koeligheidjie wat maak dat mens sommer naby aan mekaar wil lê.

  4. March 18, 2008 at 20:05

    goeie vrae, maar is daar eerlikheid in die antwoorde?

    Maybe is dit hier n kwessie van ‘once bitten, twice shy’… So sal ek maar eerder uit eie keuse ‘alleen’ oudword en doodgaan…

  5. March 18, 2008 at 20:51

    Platter: My grootste bekommernis is dat mense in tweede huwelike ingaan – veral die vrouens – omdat hulle eensaam is.

  6. 6 Katrien
    March 18, 2008 at 21:18

    Die oorgrote meerderheid van my kleutertjies kom uit gebroke huwelike en die toutrekkery tussen ouers en die mededinging tussen ‘yours, mine and soms ours’ vir pappa of mamma se liefde is soms hartverskeurend. Dit plaas geweldige druk op die ‘nuwe’ huwelike en veral die ‘kuiergas-kindertjies’ kry swaar, omdat hulle dikwels as indringers en as ʼn bedreiging beskou en behandel word deur stiefouers/boeties/sussies.

  7. March 19, 2008 at 08:11

    Eish Attie, is ongelukkig so…. meeste mense kan nie ‘met hulle self alleen saamleef nie’…. (NIE lelik bedoel nie, maar baie mense KAN net nie), moet erens nog ‘n asem hê! En dan ‘val’ hulle vir die eerste een wat lyk of hy/sy gewillig is om te ‘commit’! En driekwart van die tyd is dit ‘n total disaster!!!

    Katrien, is waar…. mense donner nie net hulle eie lewens op nie! Is gewoonlik die onskuldige kinders wat ly…..

  8. 8 pik234kelik
    March 19, 2008 at 08:11

    Ek is vir ‘n tweede keer getroud na 13jaar alleen. Daar was geen kinders in die eerste huwelik nie (Genadiglik), en my man was nooit voorheen getroud nie. Maar glo my ons is ongelooflik gelukkig. 10 jaar, 2 kinders (albei met GERD) en ‘n nuwe besigheid verder, gaan dit ongelooflik goed! Hoekom – ek het nie ‘n clue nie. Miskien die feit dat ons albei ouer is, of meer verdraagsaam of eenvoudig net omdat ons heel aan die begin besluit het dat 2 mense nie genoeg is om ‘n huwelik te laat werk nie, as jy nie die 3de Persoon deel van jou sommetjie maak nie is dit useless!!! Ons prys ons Skepper daagliks vir Sy genade, want ons GLO dit is genade om in vandag se lewe ‘n huwelik te laat werk!!!

  9. March 19, 2008 at 10:00

    pik234kelik: Ek is ook in ‘n tweede huwelik. Renate was nooit voorheen getroud nie. Ek het drie kinders uit my eerste huwelik wat by my en Renate groot geword het. Elane (Die jongste van die drie) was twee toe ek geskei is. Saam het ons vier kinders. Vir Renate is daar geen onderskeid tussen die vier nie. Die kinders weet ook nie van onderskeid nie. Watek probeer sê is: Tweede huwelike kan werk, as albei dit wil laat werk en indien soos jy sê die Here die derde Persoon in die huwelik is.

  10. 10 Dawie
    March 19, 2008 at 18:39

    Dinge werk altyd waar ons God betrokke is , dis ons mense wat dinge laat skeef-loop met ons wat ons kies en met watse brille ons kyk na ander mense en dinge om ons …

  11. March 20, 2008 at 07:35

    Attie, baie dankie vir jou kommentaar daar by my.

    Ek het op hierdie inskrywing van jou begin met kommentaar maar dit het so lank geword dat ek besluit het om ‘n inskrywing daarvan te maak op my eie blog. Hoop om dit vandag of more te plaas.

    Geseënde Paasfees vir jou en jou gesin.

  12. March 20, 2008 at 09:56

    wag-’n-bietjie: Wat jy daar geskryf het was besonders. Dankie vir die mooi wense.

  13. 13 BB
    March 20, 2008 at 12:07

    …en dan kom mens voor die drumpel van ‘n moontlike derde huwelik en jy steek vas soos ‘n donkie en verseg om een tree verder te gee. Ek kry amper by tye ‘n vlug-drang as daar enigsins sprake is van ‘trou’ – ek is so happy en ek dink hy ook, maar ek mis nie daardie ’stukkie papier’ nie. Soms dink ek, ek hou op dié manier stilweg én steeks dalk gerieflik ‘n agterdeurtjie oop; sien ds. – ek het al 2 keer báie seer gekry, maar ek het geleer mens gaan nie daarvan dood nie (al dink jy jy gaan) en ook vir die beste deel van 20 jaar van my lewe altyd moes veg vir survival. Liefie reken ek vertrou nie sy opregte liefde en true commitment nie – ek sê: liewer bang jan as dooie jan…
    Ek is nou vir die eerste keer in my lewe meer getroud as ooit – behalwe vir die ’signed en sealed’ deel.
    Ek sou nogal vrae/opinies aanspreek rondom die vorige huwelik. (ek weet, ek weet dis gewoonlik die ander ou se skuld gewees ;) ) , maar dinge soos: (1) hoe kon ek as ek van beter geweet het, dalk ‘n beter partner gewees het (2) hoeveel verantwoordelikheid voel ek, ek dra aan daardie sukses of failure – wat neerkom op hoeveel effort ek in die toekoms sou insit as dinge of my wederhelfte nie na my sin gebeur/optree nie (3) wat het die vorige huwelik my geleer m.b.t vooruitsig – m.a.w kan ek die pôpô sien aankom voor hy die fên strike?
    Net een vragie Attie – is daar al paartjies by jou gewees wat ná die voorbereidingsgesprek besluit het om liewer nié te trou nie? Want, ek reken dat die mens nie uit ander en soms ook nie eens uit sy eie foute leer nie… :(

  14. March 21, 2008 at 06:19

    BB: Dankie dat jy jou vrese deel. Dankie ook vir die vragies. Ek dink dit sal nogal help. Oor die op uittrek. Ja, dit gebeur nogal heelwat. Ek probeer om in my voorbereiding die paartjies bewus te maak van die prys wat die huwelik van ‘n mens vra, en baie kyk net met romantiese oë na alles en sien nie al hierdie dinge nie. Maar, dit is waar… sommige mense leer nie.

  15. March 21, 2008 at 13:08

    Volgens sielkundiges en diegene moet mens ten minste vir twee jaar alleen bly na ‘n mislukte huwelik. Jy moet eers leer wie is jyself en jy moet leer saamlewe met jouself, voordat jy weer kan plek maak vir nog ‘n ander mens in jou lewe.

    Ek weet nie regtig of twee jaar genoeg of te veel is nie. Ek was amper drie jaar alleen na my eerste huwelik en dit het my sterk gemaak, maar dit het my ook selfsugtig gemaak en ek moes van vooraf leer deel toe ek weer in ‘n verhouding ingaan.

    Ek dink elke situasie en elke mens is uniek en sommige mense is nie gemaak vir trou nie en ander weer nie vir alleen wees nie.

  16. March 23, 2008 at 18:42

    Ek kan nie meer met Sonkind saamstem nie. Dis jammer dat mense oor die algemeen nie hulself langer tyd gee om eers weer hul eie identiteit terug te kry nie. Dis ook belangrik dat jy eers van jou bagasie en vuil wasgoed van die vorige verhouding ontslae raak. Dot dra verseker by tot die sukses van ‘n tweede verhouding of huwelik.

    Attie my kommentaar: http://wagnbietjie.wordpress.com/2008/03/23/hersaamgestelde-verhoudings/

  17. 17 Riana
    March 10, 2009 at 12:10

    Hi Atie,

    Ek soek dringend raad, ek is 35 en in my tweede huwelik met ‘n wonderlike man van 50. Die probleem in ons huwelik is sy kinders. Ek en sy oudste seun verskil 11 jaar. Daar is gedurig inmenging rakende my en my man se verkille. Ek voel dat hul my nie respekteer nie, en as ek met my man daaroor praat, dan sê hy dat hulle dieselfde voel, en dat ek hul nie respekteer nie. Hulle wil gedurig alleen tyd saam my man spandeer, en nie waar nie, in ‘n kroeg. Ek hou nie daarvan as my man alleen sonder my in ‘n kroeg gaan sit nie, en dit was ook ‘n belofde van sy kant af dat hy nie sonder my ‘n drankie sal gaan drink nie. Ek weet nie wat moet ek doen om die dinge reg te maak nie, ek en my man het gedurig ‘n styery oor sy kinders. Help my!


Leave a Reply




Kalender

March 2008
M T W T F S S
« Feb   Apr »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  

Wie tel nou eintlik?

  • 96,965 hits

 

March 2008
M T W T F S S
« Feb   Apr »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  

RSS DING SE STOEP

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS HEILIGE BRANDBOUD

  • Trap September 9, 2009 roelfopperman

RSS FLIPPIEFANUS

  • Ge … November 2, 2009 flippiefanus