By attie

NG Gemeente Rustenburg Bergsig.

Sondag 16 September 2007

Teks: 2 Petrus 1:16-21

Die Bybel – Woord van God. Ons menings – woorde oorGod. _____________________________________________________________________

Inleiding.

Die Evangeliese Inisiatief is ‘n groep wat in die laaste paar weke ontstaan het. Hierdie groep bestaan uit vooraanstaande teoloë en predikante in Suid Afrika. Die Evangeliese Inisiatief is baie bekommerd oor teologiese strominge in die NG kerk.

Ons het in die laaste tyd in die koerante gelees van teologiese gesprekke en debatte wat ons bekommerd maak. Hierdie gesprekke doen ook die NG Kerk skade. Hierdie gesprek fokus in ‘n groot mate op ses vrae:

  1. Is die Bybel regtig die Woord van God?
  2. Kan ons glo in die maagdelike geboorte van Jesus Christus?

  3. Het die wonderwerke waarna die Evangelies verwys regtig gebeur?

  4. Kan ons regtig die kruisdood van Jesus as die offer vir ons sonde verstaan?

  5. Het Jesus regtig uit die dood opgestaan?

  6. Het ons ‘n roeping en taak om die goeie nuus oor Jesus met ander te deel?

‘n Mens sou kon sê: Hierdie dinge is nie regtig vir my ‘n probleem nie. Ek gaan aan met my lewe. Ander moet maar hierdie gesprek voer. Die een probleem wat ek met so ‘n benadering het is: Hierdie onsekerheid en teologiese woelinge maak dit vir ons moeilik om getuies te wees. Mense sê: Hoe kan jy vir my wat nie glo nie sê die Evangelie is die waarheid. Intussen kan julle mense wat glo nie eers met mekaar saamstem oor wat waar is en wat nie.

Een van Jesus se gelykenisse maak dit ook vir my moeilik om te maak asof hier nie ‘n probleem is nie. In Matteus 13:24-30 lees ons die gelykenis van die onkruid tussen die koring. Die boer het goeie saad op sy land gesaai. Dan staan daar: “Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn.” (Matt. 13:25) Wanneer ons slaap en maak asof hier nie ‘n probleem is nie, werk die vyand – die duiwel – op sy lekkerste. Ons probeer ons bes om in hierdie gemeente goeie saad te saai. Hierdie debat wat in die openbaar gevoer word is soos hierdie saad van die vyand. Ons moenie aan die slaap gevang word nie.

Die Evangeliese Inisiatief sê: Kom ons praat oor hierdie vrae. Ons kerkraad voel: Ons wil ook hieroor praat. Ons kerkraad is daarvan oortuig dat ons op elkeen van hierdie ses vrae ‘n baie duidelike “Ja!” wil sê. Die Evangeliese Inisiatief wil graag weet of die kerk dink dit is nodig dat hulle met oor hierdie sake praat. Nou reël hulle ‘n Christusfees op 13 Oktober by Moreletapark om te kyk of daar mense is wat soos hulle voel.

Ons gemeente gaan ook daar wees. Ons dink dit is tyd dat ons met mekaar praat. Ons het waardering vir gesprekke wat gevoer is. Ons is oortuig daarvan dat die gesprekke in ‘n gees van liefde gebeur het. Ons sê net: Ons wil weet wat gaan aan. Ons wil sê: ‘n Groot groep van die lidmate van die NG kerk is bekommerd oor wat volgens die pers deur mense gesê word. Ons wil die kerk-leiding op hierdie manier bewus maak van die skade wat gedoen word.

Die eerste punt wat die Evangeliese Inisiatief maak, is:

“Die Bybel is deur mense geskryf en ons aanvaar dat daar verskillende weergawes en interpretasies van randsake is. Maar die kernboodskap van die Bybel is duidelik en ons bely dit as die Woord van God wat Hy deur mense aan ons gegee het. Ons aanvaar dus die Goddelike gesag van die Skrif.”

DIE WOORD VAN GOD IS KRAGTIG

2 Petrus 1:16-21 help ons om te weet hoe ons oor die Woord moet dink. Hierdie Bybel is God se Woord. Ons staan baie kere verstom oor dit wat kan gebeur wanneer mense hierdie Bybel lees.

Baie jare gelede het Alexander Rostovzev in Moskou in ‘n toneelstuk gespeel. Die toneelstuk het eintlik ‘n bespotting gemaak van Christus. Alexander het die rol van Jesus gespeel. Hy moes twee reëls uit die Bergpredikasie lees. Na die twee reëls was hy veronderstel om sy toga wat soos Jesus se kleed gelyk het af te gooi, en te sê: “Gee my manél en my hoed.” Alexander moes hierdie twee sinne lees: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word.”

Die woorde was die dag van die toneel nie vir Alexander nuut nie. Hy het hierdie woorde baie kere tydens oefening gelees. Die aand van die opvoering was dit anders. Hy het die woorde begin lees. Skielik het hy begin bewe. Hy kon nie ophou lees nie. Alexander het aangehou om Matteus 5 te lees. Sy mede-spelers het sy aandag probeer trek. Maar Alexander kon nie ophou lees nie.

Uiteindelik het Alexander een vers onthou wat hy as klein seuntjie in die Russies Ortodokse kerk geleer het. Die vers wat Alexander onthou het was: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” (Lukas 23:42) Hy het die woorde hardop uitgeroep, en voordat die gordyne kon sak het Alexander Rostovzev sy lewe aan die Here Jesus oorgegee.

Die Woord van God is kragtig. Die Woord van God wys my wie God is. Die Woord van God wys my wie ek is. Die Woord van God is skerper as ‘n tweesnydende swaard.

Ons moet seker maak dat ons oor die Woord dink soos die Woord ons leer om oor die Woord dink. As jy vandag drie dinge kan onthou, sal dit goed wees:

1. Die Bybel as die Woord van God is die hoogste gesag in ons lewens.

2. Die Bybel as die Woord van God leer ons hoe ons moet lewe.

3. Die Bybel as die Woord van God is die werk van die Heilige Gees.

1. DIE BYBEL AS DIE WOORD VAN GOD IS DIE HOOGSTE GESAG.

“Die stem uit die hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En dit het die boodskap van die profete nog meer bevestig.” (2 Petrus 1:18-19a)

Petrus en Johannes en Jakobus was saam met Jesus op die berg van verheerliking. Daar het Moses en Elia aan hulle verskyn. Terwyl hulle daar was, het hulle skielik ‘n stem uit die hemel gehoor. Die stem het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”

Toe Petrus hierdie woorde skryf, het die Nuwe Testament soos ons hom ken nog nie bestaan nie. Die Ou Testamentiese boeke het wel bestaan en daar is gereeld uit hulle voorgelees. Die profete in die Ou Testament het die koms van die Messias voorspel.

Toe het Petrus hierdie wonderlike ervaring saam met Jesus op die berg. Hy sien vir Moses en vir Elia en hy hoor die stem uit die hemel. Maar, Petrus maak nie sy ervaring belangriker as die Woord nie. Sy ervaring laat hom besef dat die profete reg was. “… dit het die boodskap van die profete nog meer bevestig.” Die Woord van God het meer gesag as enige ervaring.

Die manier waarop God met ons werk moet ons geloof en vertroue in die Woord van God versterk. Ons is geneig om ons ervarings belangriker te maak as die Woord. In my lewe het die Here op een aand ‘n dramatiese omkeer in my lewe veroorsaak. In Renate (my vrou) se lewe het die Here oor baie jare haar geloof oor die waarheid van die Woord van God versterk. Geloof in Jesus Christus was ‘n groeiproses meer as ‘n eenmalige gebeure. Wie se ervaring is reg? Altwee se ervaring is reg. Die Here werk nie met twee mense dieselfde nie. Maar, die Heilige Gees werk geloof in mense se lewens. Wat belangrik is, is dat jy in Jesus glo. Hoe jy tot geloof gekom het – jou ervaring – is nie belangriker as die Woord nie. Die Woord het meer gesag as enige ervaring.

Dalk sê jy: Dit help ons nie. Petrus praat hier van die profete en nie die res van die Nuwe Testament nie. Dalk so, maar onthou nou: Petrus se brief is een van die laastes wat geskryf is. In 2 Petrus 3:16 verwys Petrus na die briewe van Paulus wat reeds in die kerk gelees word. Oor die briewe van Paulus skryf Petrus: Oningeligte en onstandvastige mense gee daaraan ‘n verkeerde uitleg, soos hulle trouens ook doen met die res van die Skrif, en dit tot hulle eie ondergang.”

Toe Petrus sy brief skryf, word Paulus se briewe reeds in die kerk gelees en reeds algemeen aanvaar. Daar was mense wat die briewe wat Paulus geskryf het verkeerd verstaan het en verkeerd uitgelê het. Een van die belangrikste redes waarom die Woord verkeerd uitgelê word is omdat die Woord van sy gesag gestroop word. Die Bybel word net nog ‘n boek. Die Bybel word woorde oor God en is nie meer die Woord van God nie.

Wanneer die Woord van God nie meer gesag het nie, word my ervaring belangriker as die Woord. As die Woord nie meer gesag het nie, mag wetenskaplike bevindings belangriker word as die boodskap van die Woord. Ons kom dan op die punt waar ons eerder ons ervaring en die wetenskaplike bevindings glo – en nie die Bybel nie.

Ons glo die Bybel is die Woord van God. Ons glo die Bybel het ‘n kernboodskap wat die Bybel aan ons wil oordra. Ons glo dat wanneer ons wegdraai van hierdie kernboodskap van die Bybel – dan word die gesag van die Woord afgebreek.

Die Bybel is openbaring van God. Deur die Bybel leer ek God ken en leer ek myself ken. Die Bybel is nie in die eerste plek ‘n geskiedenis-; aardrykskunde-; of wetenskaphandboek nie. Wanner mense die Bybel as openbaring van God ignoreer en die Bybel gebruik om eerder geskiedenis en aardrykskunde en wetenskaplike feite te kontroleer, word randsake van die Bybel bevraagteken en daarmee saam dan ook die kernboodskap van die Bybel: God het Homself aan ons openbaar as die God vir wie niks onmoontlik is nie. Hy kan dinge doen wat ons nie kan verklaar nie. Ons God sou baie klein gewees het as ons Hom kon verklaar en as ons alles van Hom geweet het.

2. DIE BYBEL AS DIE WOORD VAN GOD LEER ONS HOE OM TE LEWE.

“Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte.” (2 Petrus 1:19b) Die boodskap is duidelik: Totdat Jesus – die blink môrester (Op. 22:16) kom, moet ons in die lig van hierdie Woord bly leef.

Juis omdat die gesag van die Woord afgebreek word, het ons al aanvaar dat die Bybel niks te sê het oor hoe ons lewe nie. As die Bybel die Woord van God is, moet ons aanvaar dat God ‘n sê het oor hoe ons lewe. As ek aanvaar dat God ‘n sê het oor my lewe, gaan ek seker maak dat die dinge wat ek doen, God se goedkeuring wegdra. Om in die lig van die Woord te lewe, beteken dat die Woord my lewe gaan beïnvloed. As die Woord nie meer die manier waarop ek lewe kan beïnvloed nie, is die Bybel nie meer die hoogste gesag in my lewe nie, dan is my ervaring of my behoeftes of my drange of my begeertes die hoogste gesag in my lewe. Die Bybel is soos ‘n lig wat in ‘n donker plek skyn.

Petrus waarsku kinders van die Here teen vals leraars. “Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle eie begeertes beheers word. Hulle spot en sê: ‘En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms?’” (2 Petrus 3:3-4)

Dit is vandag nog steeds so. Die wederkoms van Jesus Christus is maar een van die baie belangrike dinge wat mense bevraagteken. Kom ons neem nou maar Sakkie Spannenberg as ‘n voorbeeld. Spannenberg is deel van die Nuwe Hervormers Netwerk. Hy skryf hierdie week in die pers:

“Dit is wel waar dat heelwat NHN (Nuwe Hervorming Netwerk) -lede afskeid geneem het van die Augustiniaanse paradigma van die Christelike teologie. Hiermee word bedoel die siening dat daar êrens in die verre verlede ’n sondeval plaasgevind het; dat Jesus na die aarde gestuur is om die sondeval en sy gevolge om te keer, en dat God aan die einde van die tyd gaan terugkeer aarde toe en mense gaan beoordeel aan of hulle sy verlossing aanvaar het of nie.”

Hierdie dinge waarvan Sakkie Spannenberg en sy maats afskeid geneem het, is die kern van die Nuwe Testament. As ons nie meer kan glo dat God sy Seun na hierdie wêreld toe gestuur het om my van die ewige verderf te red nie, het ons niks meer om te glo nie. Ek kan nie anders as om julle te waarsku teen Sakkie Spannenberg en die Nuwe Hervormers nie. Ons gun hulle die reg om op hulle wetenskaplike werkswyse oor die Bybel te dink. Sakkie Spannenberg kies om hierdie dinge nie te glo. Ek kies vandag om julle te waarsku dat Sakkie Spannenberg en die Nuwe Hervormers julle van die ware geloof afvallig sal laat maak. Ons kan egter nie toelaat dat hulle julle weglok van die waarheid nie. Geloof in God vra juis dat ek ook die dinge sal glo wat ek nie altyd verstaan nie.

Ek vergelyk graag die Woord van God met ‘n sterrewag. As jy na ‘n sterrewag toe gaan, is jy gewoonlik verstom oor alles wat daar is en hoe wonderlik alles werk en hoe groot alles is – veral die teleskoop. Dit is eers wanneer jy deur die teleskoop kyk wat jy regtig bewus raak van sterestelsels waarvan ons nie weet nie.

Om te sê die Bybel is woorde oor God en nie die Woord van God nie, is om na die Bybel te kyk soos ‘n mens na ‘n teleskoop kyk. Wanneer jy die Bybel as die Woord van God hanteer, dan kyk jy deur die teleskoop en jy ontdek heeltemal ‘n nuwe wêreld. ‘n Nuwe wêreld waar God is en waar God die onverklaarbare doen en weer gaan doen, omdat Hy die Almagtige God is vir wie niks onmoontlik is nie. Wanneer jy dieper kyk en die gesag wat die Bybel oor jou lewe het aanvaar, dan wil jy dat hierdie Bybel die manier waarop jy lewe beïnvloed.

Die Woord van God word ‘n lig vir jou voet op die donker pad.

3. DIE BYBEL AS DIE WOORD VAN GOD IS DIE WERK VAN DIE HEILIGE GEES.

“Dit moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.” (2 Petrus 1:20-21)

Ek het dit hierdie week geniet om bietjie meer te lees oor die betekenis van die Griekse woord wat hier vertaal is met “meegevoer”. Wanneer ‘n mens ‘n woord in die Bybel mooi wil verstaan help dit altyd om te kyk waar dieselfde woord ook gebruik word. Dieselfde Griekse word ook in Handelinge 27:15 gebruik.

Tydens Paulus se reis na Rome is hulle op ‘n skip. Daar kom toe skielik ‘n storm op. Vers 15 beskryf wat toe gebeur het: “Die wind het die skip meegesleur. Omdat dit onmoontlik was om die skip se boeg windop te hou, het ons dit opgegee en wind af gedrywe.” Die woord “meegesleur” is in Grieks dieselfde woord as die een wat in 2 Petrus vertaal word met “meegevoer”.

Die Heilige Gees van God was te sterk vir skrywers van die Bybel. Die Heilige Gees het die skrywers van die Bybel op ‘n manier in besit geneem. Matteus, Markus, Lukas Johannes, Petrus Judas en Paulus het geskryf wat die Heilige Gees wou gehad het dat hulle moet skryf. Die groot woord is: Gees-geïnspireer.

In hierdie skryfproses het hulle nooit opgehou om Matteus, Markus, Lukas, Johannes, Petrus, Judas en Paulus te wees nie. Onder die leiding van die Heilige Gees skryf hulle wat die Gees wil hê in die taal wat hulle op daardie stadium gepraat het; in die omstandighede waarin hulle op daardie stadium gelewe het; met die beelde wat op daardie stadium aan hulle bekend was. Die Heilige Gees se vingerafdrukke is op die Bybel – die Woord van God.

Ons kan nie die Bybel sonder die Heilige Gees reg verstaan nie. Sonder die Heilige Gees is die Bybel “versinsels of legendes” (2 Petrus 2:16) Dit is presies wat Sakkie Spannenberg en die Nuwe Hervormers van die Bybel wil maak: Versinsels en legendes.

Ek en jy kan nie mense oortuig om die Bybel te glo nie. Ons kan maar net getuig van wat ons glo. Dit is my werk om te getuig. Die Heilige Gees sal mense oortuig.

Paulus het dit ook so verstaan. Hy skryf: “Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees.” (1 Kor. 2:4) ‘n Klein bietjie verder sê hy: “Die mens wat die Gees van God nie het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin.” (1 Kor. 2:14)

Kind van God jy mag nie twyfel of jy die Heilige Gees het nie. Die Bybel is duidelik daaroor. “As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.” (Rom. 8:9) Dit is vir my wonderlik om te besef dat die Here ons as kerk ook hier vir mekaar gegee het. Saam verstaan ons die Woord beter as wat ons die Woord op ons eie sou verstaan. Dieselfde Heilige Gees wat die skrywers van die Bybel meegevoer het, voer ons ook mee wanneer ons die Bybel oordink en lees.

Die Bybel as die Woord van God is die werk van die Heilige Gees.

SLOT

Hierdie boek is die Bybel – die Woord van God geskryf deur mense meegevoer deur God die Heilige Gees. In hierdie boek kry ons alles wat ons nodig het om God so te ken dat ons die ewige lewe saam met Hom sal leef. God se Woord staan vas. God se Woord is vir ons gegee sodat ons in die lig van God se Woord kan leef. God se Woord is die werk van die Heilige Gees.

“Die Bybel is deur mense geskryf en ons aanvaar dat daar verskillende weergawes en interpretasies van randsake is. Maar die kernboodskap van die Bybel is duidelik en ons bely dit as die Woord van God wat Hy deur mense aan ons gegee het. Ons aanvaar dus die Goddelike gesag van die Skrif.”

DIE WOORD VAN

Amen.


4 Responses to “2 Petrus 2:16-21”


  1. 1 Pat Mocke
    September 18, 2007 at 00:31

    Eerstens wil ek se dat ek geweldig geskok was dat daar sulke vrae gevra kan word maar dit se net een ding. Moet nooit die satan onderskat nie.
    Ek glo ons moet beslis standpunt inneem teen hierdie tipe van vals teleogie,

  2. 2 BEN
    January 3, 2009 at 11:41

    Dit is deel om die eenwereld orde,eenwereld godsdiens,een wereld ekonomie ens,wat God se woord van praat in werking te bring.Dit is alreeds geskryf in God se Woord en dit is besig om in uitvoering te kom.Niemand gaan dit stop nie,dit is reeds geopenbaar.Dit is die era van die vals profete en vals Jesus.Dit is die eindtyd tekens.Dink net,dat hierdie leringe ens.eendag aan ons aspirant predikante,pastore,leraars geleer gaan word,en dat hulle dit van die preekstoele gaan af verkondig.Kyk al die verskillende Bybels.Die jong mense is alreeds besig om teenstrydig te praat van die ouer Bybels en die inhoud daarvan.Oppas watter Bybel jy gebruik in jou kerk.WEES WAAKSAAM.Die vyand loop rond soos ‘n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind.Kyk egter in die grieks en hebreeus konkordansies wat beteken verslind.

  3. 3 jacques
    November 16, 2009 at 07:43

    Dit word genoem: Die tekens van die tye. Jesus het dit so voorspel in die bybel. Die einde is naby as al hierdie dinge gebeur.

  4. November 17, 2009 at 05:34

    Ja dit is beslis so ek glo dat ons lewe in die tyd van die groot afval en Jesus het gese dit gaan in die kerk begin. Dit is presies wat besig is om te gebeur. As jy nie naby die Here Jesus en sy woord lewe nie word jy baie gou meegevoer deur allerhande leringe ek noem n paar wat kop uitsteek;

    Daar is nie n hemel en n hel nie
    People must not return to the Bible or the church advance towards God
    Ons moet ander gelowe “embrace” want hulle het ook waarhede

    So ek bid dat Jesus Christus sy kinders sal bewaar teen al hierdie dwaalleer en dat Hy ons sal leer om te bid vir ons broers en susters wat hulle oopstel vir hierdie gevaar. n Huis wat op die rots (Jesus Christus) gebou is sal nie sommer deur die stormwinde omgewaai word nie maar as jou huis op sand gebou is sal die eerste windjie wat opkom dit vernietig. Geloof is wanneer dit verandering in jou lewe bring wanneer jy n nuwe skepsel in Christus is. Wat interesant is is dat die magtige roomskatolieke kerk tydens reformasie hard probeer het om van die bybels te verbrand en ontslae te raak en vandag is dit die een boek wat die hoogste verkoopsyfer het. Hierdie is maar net n begin van die Satan se vernietigingswerk en net soos die woord se hy doen hom voor soos n engel van die lig. Hierdie nuwe evangelie kan nooit die leerstellings van Jesus Christus vervang nie. Ja Jacques weet jy hoekom glo ek onwrikbaar in die bybel want alles was vooruit vir ons gese. Laat ons bid sonder ophou veral vir die wat swak is in die geloof.


Leave a Reply




Kalender

November 2009
M T W T F S S
« Oct    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

Wie tel nou eintlik?

  • 96,598 hits

 

November 2009
M T W T F S S
« Oct    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

RSS JESUS CREED

RSS DING SE STOEP

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS HEILIGE BRANDBOUD

  • Trap September 9, 2009 roelfopperman

RSS FLIPPIEFANUS

  • Ge … November 2, 2009 flippiefanus